Last update: April 10, 2012 02:04:37 PM E-mail Print

 

Veldbeheer en Voerproduksie in die Noordwestelike Kaap

F. H. Theron

 

DIE reënval van die noordwestelike Kaapprovinsie is betreklik laag en onbetroubaar en die moontlikheid van periodieke droogtes is altyd 'n nagmerrie vir boere. Waar geen voorsorgmaatreëls vir voer getref word nie, word noodwendig veeverliese gely, die weiveld word uitgetrap, en die plaas verminder in waarde. Tog word die noodsaaklikheid vir die opberging van voerreserwes nog nie algemeen besef nie. Dit word bewys deur die ernstige toestand wat daar met die onlangse droogte in die noordwestelike Kaap geheers het. Weereens het groot verliese voorgekom en baie boere moes die toevlug tot die trekpad neem.

Oorkapitalisasie van plase.-AI die oorsake van grondverspoeling en agteruitgang van die weiveld kan nie weer hier genoem word nie, want dit is reeds te goed bekend en in baie gevalle word ook reeds teenmiddels aangewend.

Oorkapitalisasie van plase bly egter nog een van die groot struikelblokke in die pad van herstel. Om sy verpligtinge na te kom, gryp die veeboer maar alte dikwels na die voor die hand liggende redmiddel, naamlik die vermeerdering van die veestapel. Op hierdie wyse, so word gehoop, sal die skulde afgelos word en daarna sal weer na die plaas omgesien word. Die gevolge van so 'n beleid is, soos kan verwag word, gewoonlik noodlottig omdat dit niks anders is as 'n dobbelspel nie. Die eindresultaat is gewoonlik dat die drakrag van die veld verminder as gevolg van oorbeweiding, terwyl veeverliese styg en die inkomste krimp.

 

Die Gesonde Beleid om te Volg

Die enigste veilige boerderybeleid vir hierdie streek is een wat daarop gemik is om die produktiwiteit van die plaas te verhoog. Dit kan geskied op die volgende drie maniere, nl. deur (1) die veestapel te verbeter, (2) die weiveld te verbeter, en (3) voergewasse te kweek en voerreserwes op te bou.

(1) Verbetering van die Veestapel kan geskied deur die gebruik van Goeie Ramme.- Volgens die sensus van 1939 was die gemiddelde wolopbrings vir die Kaapprovinsie slegs 6.8 lb. per skaap. By baie kuddes is die gemiddelde opbrengs selfs so laag as 5pd. Daar is dus nog veel kans vir verbetering. Deur beter ramme te gebruik en net die goeie ooie in die kudde te behou, sal dit moontlik wees om oor 'n paar jaar die produksie te verhoog tot ten minste 10 pond per skaap.

Gestel dan 'n boer hou 2,000 merino's op sy plaas aan waarvan die gemiddelde wolopbrings 6 pond per skaap is en deur goeie ramme te gebruik slaag hy daarin om die wolproduksie na 10 pond per skaap te verhoog. Bereken teen 12 pennies per pond vir die wol, beteken dit 'n verhoogde inkomste van 4s. per skaap, of £400 op die hele kudde.

Die invloed van die ram op die kudde is baie groot omdat daar so 'n groot getal lammers van een ram verkry word. Dit volg dus dat die ekstra kapitaal wat belê word in 'n goeie ram betreklik klein is in verhouding tot die voordeel wat behaal word. Instede van die plaas te oorlaai met 'n groot aantal minderwaardige diere kan 'n kleiner aantal goeie diere aangehou word en die totale wolopbrengs sal dieselfde of selfs hoër wees. Die veld word dan nie aan oorbeweiding blootgestel nie en die gevaar van verliese deur droogte word baie verminder.

(2) Weiveld-verbetering.-Weens die topografiese ligging en grondgeaardheid kom sloot-erosie selde voor in die Noordweste. Die soort verspoelings wat hier aangetref word, is meesal oppervlakte-erosie wat veroorsaak word deur wind of water. Boere is gewoonlik gretig om opgaardamme te bou vir besproeiing, maar dit raak nie die wortel van die kwaad nie. Dit sal op die lange duur meer

voordelig wees om die reënwater op die veld te behou en weer die natuurlike bedekking van die grond terug te kry. Hierdie ideaal kan bereik word deur: (a) die veld te laat rus (b) saad kunsmatig te versprei en (c) contourwalle te bou.

(a) Deur rus van veld word nie verstaan dat die veld oor 'n aantal jare glad nie moet bewei word nie. Die sogenaamde uitgestelde of aflos-beweidingstelsel moet gevolg word. Hierdie stelsel word die beste verduidelik deur prof. A. M. Bosman se beskrywing daarvan in " Cattle Farming in South Africa" t.w.:-

(1) 'n Oorbeweide oppervlakte, groot genoeg om gras te verskaf vanaf die tyd wanneer die saad ryp word tot die end van die weiseisoen, word beskerm teen vee totdat die saadoes ryp is:

(2) As die saadoes ryp is, word die veld afgewei.

(3) Gedurende die tweede seisoen word dieselfde oppervlakte vir dieselfde tydperk beskerm totdat die nuwe plantjies deeglik gevestig is.

(4) As die oppervlakte weer genoegsaam van sterk jong plante voorsien is, word dit vroeër in die seisoen bewei, sodat 'n tweede oppervlakte op dieselfde wyse beskerm kan word.

(5) Deur vol te hou met die beweidingstelsel, selfs nadat die oorbeweide oppervlaktes weer hul normale plantegroei terug gekry het, sal die veld nie alleen groeikragtig bly nie, maar dit sal ook kans kry om af en toe saad te gooi.

(b) Gebruik klein saadkampies om saad te versprei, veral in die Karoo waar die weikampe baie uitgestrek is, sal dit wenslik wees om die verspreiding van saad aan te help deur klein oppervlaktes van ongeveer 'n morg, eweredig versprei oor die groot kampe, toe te kamp. Geskikte grasse en bossies kan dan in sulke klein kampies aangekweek word om vandaar die saad oor die res van die veld te versprei.

(c) Contourwalle.-Op gelyk oppervlaktes waar oppervlakte-erosie gevorderd is en die veld te veel van plantegroei ontbloot is, kan contourwalle gebou word om die water te stuit en ankerplekke vir die saad te vorm. Die contourwalle word min of meer parallel met mekaar en na gelang van omstandighede ongeveer 50 tot 100 tree wyd van mekaar en van 1 vt. tot 2 vt. hoog gebou. Openings word op geskikte plekke in die walle gelaat om die water beter te versprei oor die veld.

 

Kweek Voergewasse en Bou Voerreserwes op

Nie alleen is voer reserwes 'n versekering teen droogte nie, maar op plase waar genoeg voer geproduseer kan word, kan dit ook bydra om die drakrag van die plaas te verhoog.

Die vernaamste voergewasse wat in die streek in aanmerking kom, is wintergraan en lusern, maar selfs ook sudangras en sojaboontjies is met sukses onder die saaidamstelsel as hooigewas gekweek.

In die winterreënstreek van die noordwestelike Kaap is die gebruik nog altyd om wintergraan te saai op droëland of onder die saaidamstelsel. Hoewel daar in sommige jare goeie oeste gewen word, is graanproduksie dikwels 'n mislukking. Dit het nie alleen as gevolg dat voergewasproduksie verwaarloos is nie, maar baie waardevolle veld is vernietig om vir saailande plek te maak. Wintergraan kan op die vlakkere droëlandgrond, met voordeel as weidingsgewas gesaai word. Op die dieper spoelgronde behoort lusern egter die eerste plek in te neem.

Omdat lusern 'n meerjarige plant is en, weens sy diep wortelstelsel kan dit, indien dit nie oorbewei word nie, lang droogtes weerstaan. Ook kan dit beter gebruik maak van een swaar besproeiing as die vlakker-gewortelde graan. In die Calvinia-distrik is dit gevind dat lusern met een swaar winterbesproeiing op diep spoelgronde minstens 1½ vragte hooi sal lewer, terwyl met 'n swaar somerbesproeiing op dieselfde grond tot 2½ vragte hooi verk:ry word. Droëland lusern sal altyd 'n goeie weiding gee en in sommige jare ook 'n hooi-oes.

Saaityd van Lusern.-In dele waar permanente besproeiing toegepas kan word kan lusern met min moeite byna enige tyd van die jaar gesaai word. In dele met 'n lae winterreënval soos die winterreënstreek van die Noordweste skyn die beste saaityd die herfsmaande te wees.

Droëland-lusern ontkiem dan met die eerste reën en ontwikkel gedurende die winter 'n diep wortelstelsel om die droë somer te weerstaan. In die geval van saaidamme is dit beter om te wag vir die eerste water en daarna te ploeg en te saai.

Saaimetode.-Vir droëland-lusern moet die grond die vorige seisoen gebraak en goed fyn geëg word. Skuinsliggende lande moet eers contourwalle kry. Net voor saaityd moet die grond weer geëg word en nadat die saad gesaai is, moet dit liggies toegeëg word.

As lusern in die saaidamme gesaai word moet die grond met die eerste winterwater goed benat word. Sodra die grond droog genoeg vir bewerking is, word dit geploeg en goed fyn geëg. Die saad word dan gesaai en toegeëg of gerol. As die saad gesaai word voor die water, sal die grond te veel bars en die harde kors sal Ontkieming bemoeilik.

Behandeling van Gevestigde Lusern en Bewerking van die Grond.-Lusern is 'n uitstekende weidingsgewas, dog dit is noodsaaklik dat dit met oorleg bewei moet word. Eenjarige lusern moet liefs glad nie of anders baie lig bewei word. Ou gevestigde lusern moet ook matig bewei word. Veral gedurende lang droogte-periodes kan oorbeweiding die plante maklik beskadig. Deur verkeerde bewerking kan veral droëland-lusern beskadig word. Waar lusern dikwels bewei word, is dit nodig om die harde kors van die grond eenkeer in 'n seisoen los te maak, sodat dit die water, beter kan opneem. Hiervoor kan 'n skoffelploeg met smalpunt-tande met goeie gevolg gebruik word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 18