Last update: April 12, 2012 09:25:38 AM E-mail Print

 

Wat die Volstruisveremark verlang

F. C. SMITH

 

GEDURENDE die twee jaar van die Britse Rykstentoonstelling toe die skrywer die belange van die volstruisvere-nywerheid ten behoewe van die Unie Regering verteenwoordig het, is van elke geleentheid om in noue aanraking met die volstruisvere fabrikante in Engeland te kom, en om die behoeftes van die Paryse mark te bestudeer, gebruik gemaak.

Hoewel daar teenswoordig min belang gestel word in volstruisvere, en die aanvraag omtrent so sleg is as wat die ooit gewees het, kan die volgende opmerkings van belang wees en miskien as 'n leidraad vir telers dien, as die aanvraag so groot word dat volstruisboerdery weer betaalbaar sal wees.

Wanneer ons die artikels wat van volstruisvere vervaardig is en wat teenswoordig gedra word deurkyk, blyk dit dat ons in die verlede miskien te veel aandag aan die produksie van lang volstruisvere gegee het.

 

Lang vere word nie meer verlang nie

Met uitsluiting van die waaierhandel in volstruisvere kan ons sê dat heel vere nou nie meer gebruik word nie en prima's wat van 2 tot 2½ voet lang is word vir seker nie meer heel gebruik nie. Oor die algemeen word die vere stukkend gesny en dan word daar versiersels van gemaak vir die aandrokke en hoedjies wat teenswoordig in die mode is. Vir hierdie soort artikels is 'n veer wat 'n goeie kwaliteit dons het nodig en hoe breër dit is des te beter wat die lengte van die veer is maak nie saak nie. In die toekoms moet meer aandag gegee word aan kwaliteit en breedte. Natuurlik sien ons nou en dan 'n "grilmode" waarvoor smal vere vereis word maar hiervoor word kuikenvere gebruik. Oor die algemeen egter is die dag van dertig duim vere verby en wat in die toekoms nodig is, is 'n dig vaste veer wat so breed is as moontlik.

Die aangehaalde opmerkings sal in sekere mate verduidelik waarom die pryse vir gebreekte en beskadigde vere behaal in verhouding so hoog is met die wat vir eersteklas prima's en femina's behaal is.

Soos ons reeds aangestip het word werklik eersteklas vere nog deur die waaierhandel benodig en dis hierdie handel wat teenswoordig al ons "Pronkvere" opkoop. Hierdie aanvraag is egter taamlik klein en wat die nywerheid betref hoef die teler hom nie daarop toe te lê nie.

Selfs die waaier het nie dertig duim prima's nodig nie en ons kan ons maklik voorstel hoe onhanteerbaar 'n waaier met sulke vere sal lyk, veral as dit nog 'n nege duim handvatsel het wat die waaier oor die drie voet lang maak.

Ten slotte kan ons met ‘n taamlike mate van sekerheid vermoed dat die modes van die toekoms nie 'n veer wat langer is as twee voet sal verlang nie, en dat die tyd en moeite wat bestee word om 'n langer veer te produseer, nie eintlik die moeite werd is nie.

 

Oesskattings

DIS 'n kenmerk van baie boere dat hulle 'n natuurlike afkeer het van die hand op papier te sit. Dit het seker sy voordele as ons bedink die groot getal boeke wat vandag gepubliseer word, maar dit het ook sy nadele wanneer gesoek word na bruikbare informasie omtrent die plaaswerksaamhede en die verwagte produksie van die land. Dit sou interessant wees om soms te weet wat die boer werklik dink omtrent al die informasie wat die Regering en ander liggame van hom vra. Die vorms volg mekaar op in 'n nimmer-eindigende ketting. As dit nie die lnkomstebelastingvorm is nie, is dit die Sensusvorm; is dit nie 'n opgawe oor dit nie, dan is dit 'n rapport oor dat; en so meer. 'n Mens kan die boer byna hoor uitroep in sy nood soos die Psalmis van ouds: "Hoe lank; o Heer, hoe lank !" Sommige boere het in werklikheid al gekla dat as dit langer so moet aangaan die Regering nie kan verwag dat hulle die werk kosteloos moet doen nie. Maar wat kan die Regering anders doen? Informasie is noodsaaklik as die landbounywerhede reg moet bestuur word; en die boer is in die beste posisie om daardie informasie te verskaf. Dit moet erken word dat daar gedurende die laaste jare 'n vermeerdering gekom het in die klerikale arbeid wat van die boer verwag word. Dit is egter natuurlik, as ons in die oog hou die vooruitgang van die land en gevolglik die noodsaaklikheid vir beter organisasie.

Die verskaffing van informasie is in belang van die boer self maar hy besef dit nie altoos nie. Hy kan geen direkte voordeel vir homself sien nie en stel nie op prys dat hy indirekte voordeel trek uit die algemene ontwikkeling van die land wat per slot van sake, nie behoorlik kan bestuur word sonder betroubare informasie me.

Soos met ons almal die geval is, word die boer se moeilikhede vererger deur sy eie tekortkomings. As behoorlike rekords gehou word sal die informasie waarvoor gevra word maklik beskikbaar wees. In baie gevalle word te veel vertrou op geheue met die gevolg dat feite maar half onthou word en dit 'n swaar taak is om vorms in te vul. Dit neem nie veel tyd om die hoofbedrywighede van die plaas aan te teken nie en die boer sal die informasie van groot belang vir homself vind, sowel as gerieflik vir die verskaffing van betroubare informasie aan die Regering.

Om 'n begin te maak in hierdie rigting word agter op die oeskalender, gestuur aan almal wat die Departement help as oesverslaggewers, 'n eenvoudige vorm gedruk, wat die boer sal in staat stel om aan te teken die aantal sakke gesaai, bv geskatte opbrings elke maand, die normale opbrings per sak en die werklike opbrings aan die end van die seisoen. Hierdie aantekeninge is slegs van die eenvoudigste aard, maar dit is ten minste 'n begin en dit word gehoop dat alle boere in die loop van tyd die waarde en betekenis daarvan sal leer insien.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 1