Last update: March 26, 2012 03:57:27 PM E-mail Print

 

Die vordering en ontwikkeling van die Nasionale Wolskaapprestasie- en –nageslagtoetsskema

 

A.J. Watermeyer

SA Vagtoetssentrum

Privaatsak X529

MIDDELBURG KP

5900

 

Vanaf die opening van die SA Vagtoetssentrum by die Landboukollege Grootfontein in 1965 was die oogmerk om 'n wolskaapverbeteringskema daar te stel vir die verskillende skaaprasse. Aanvanklik is daar 'n aksie geloods om hierdie nuwe konsep onder die aandag van die betrokke telers te bring. Soos in die geval van enige nuwe ontwikkeling, en omdat die boere oor die algemeen konserwatief teenoor iets nuuts staan, het die idee nie onmiddellik grootskaalse inslag gevind nie.

Om prestasietoetsing bekend te stel, is kursusse en lesings landwyd by elke moontlike geleentheid aangebied en die reaksie het gewissel vanaf aanvaarding tot 'n negatiewe weerstand. Die hoofrede vir hierdie weerstand was dat sommige telers prestasietoetsing net nie verstaan het nie en dit ook as 'n bedreiging vir bul eie vermoëns gesien het.

Nieteenstaande hierdie reaksies, het die gedagte stadig op 'n klein skaal begin posvat en met die amptelike loodsing van die Nasionale Wolskaapprestasie- en -nageslagtoetsskema in 1971 het ongeveer 40 telers deelgeneem. In hierdie stadium het die aantal monsters wat by die sentrum ontleed is, vermeerder tot ongeveer 6 000 per jaar. Vir die volgende 9 tot 10 jaar was daar 'n geleidelike toename in die aantal wolmonsterontledings per jaar, en meer telers het by die skema aangesluit. Ondanks vinnige groei (Fig. 1) het 'n sekere groep telers nog steeds 'n negatiewe houding gebad.

 

Die vroeë tagtigerjare is deur geweldig vinnige groei gekenmerk sodat ongeveer 41 500 monsters ontleed is vir die 12 maande 85/07/01 tot 86/06/30, terwyl die aantal gereelde deelnemers ook tot 390 toegeneem het. Gedurende hierdie tydperk was die verandering in gesindheid, asook aanvaarding dat wetenskaplike metodes sinvol in die praktyk toegepas kan word, opmerklik. Dit word daardeur weerspieël dat die Dohne-merinotelersgenootskap prestasietoetsing verpligtend vir hul telers gemaak het en dat daar by die Jaarvergadering van die Merinostoettelersgenootskap gedurende Augustus 1986 'n ondersoek aangevra is om dit ook by hulle verpligtend te maak. Hierdie moontlikheid asook die moontlike inskakeling van ander groot telersgenootskappe soos die SA Vleismerinotelersgenootskap by die skema, maak die vooruitsig vir 'n sterk en lewenskragtige skema rooskleurig.

In Tabel 1 word 'n uiteensetting gegee van die aantal monsters ontleed vir die verskillende rasse in die verskillende streke vir 1985/1986.

 

Ontleding van die afgelope jaar se data dui op die volgende:

Die Basiese Register se 103 lede wat ± 13 000 monsters vir ontleding ingestuur het, sluit die lede van die ou Telersgenootskap vir Prestasiegetoetste Merino's in en, uit die aard van die saak, is hul betrokkenheid nagenoeg 100%.

In sy geheel gesien, is die invloed wat die ongeveer 19% van die Merinotelers wat aan die skema deelneem nie noemenswaardig ten opsigte van teeltverbetering in die bedryf nie.

Hierdie telers is deur middel van kursusse opgelei in die gebruik van prestasiedata vir die doel van sinvolle seleksie. Dit is ook die enigste genootskap waar stoettelers lede van groepteeltskemas is.

 

VERDERE ONTWIKKELINGS IN DIE SKEMA

Ooiseleksie volgens rouwolontledings

Omdat die rol van die ooi binne 'n kudde ten opsigte van teeltvordering pro rata klein is, word daar by lede aanbeveel dat die seleksie by ooie gebaseer word op liggaamsmassa en rouwolproduksie.

Die rede vir hierdie aanbeveling is eerstens dat daar tydens skeertye 'n groot toevloei van monsters na die Vagtoetssentrum is. Indien ooimonsters dan ook ontleed moet word, sal telers langer moet wag vir resultate. Tweedens is die verwantskap tussen rouwol- en skoonwolproduksie hoog genoeg om so 'n stap te regverdig.

Indien lede die ooie se liggaamsmassas en rouwolmassas op die plaas insamel en versend, kan al die verwerkings by die Vagtoetssentrum gedoen word en die resultate is dan weer binne enkele dae terug by die boer vir seleksiedoeleindes.

 

Ooiproduksierekords

Die moontlikheid is ondersoek om die produktiwiteit van die ooikudde te verhoog. Die seleksiemaatstaf wat uit hierdie ondersoek voortgevloei het, is: 3 x die massa wol plus die totale massa lammers (op 42-dae-ouderdom) wat die ooi geproduseer het.

Die nodige data is van 'n paar telers verkry en 'n rekenaarprogram vir die verwerking ontwikkel. Die resultaat word as 'n indeks binne elke kontemporêre groep uitgedruk. Daaropvolgende jare se data word bygehou. Sodoende word daar vir elke ooi 'n leeftydsproduksierekord daargestel.

Die waarde van die resultate is daarin geleë dat telers hierdie verskille tussen ooie kan gebruik, nie net vir ooiseleksie nie, maar ook vir die seleksie van ramme waar voorkeur gegee kan word aan ramme gebore uit die doeltreffendste ooie.

Hierdie praktyk word tans deur die oorspronklike samewerkers gebruik en belangstelling by ander telers neem sterk toe.

 

Kontroletoetse

Met die oog op tussen-kudde-vergelykings het 33 lede van die Basiese Register van die Merinotelersgenootskap reeds 'n kontroletoets gedoen, sommige vir 'n tweede keer. Al hierdie toetse is gedoen met ramme uit die Tygerhoekkontrolekudde.

'n Uitvloeisel hiervan is dat die Vagtoetssentrum voorsien word van die uitslag van elke toets en daar 'n IPI (lnterkudde Prestasie van die lndividu)-waarde uitgewerk word vir elke skaap van die betrokke lede.

 

Veldmerinoklubs

Die Merinostoettelersgenootskap het alreeds 'n aantal Veldmerinoklubs gestig. Die oogmerk hiermee is om ramme van verskillende telers onder identiese toestande op die veld groot te maak. Die ramme word dan deur prestasietoetsing geëvalueer en per veiling aan die bedryf beskikbaar gestel sonder om die identiteit van die betrokke teler bekend te maak.

Die Hanoverklub asook die Suidoos-Vrystaatklub te Smithfield het al uiters geslaagde veilings gehou.

 

Viskositeit en pH-metings

Apparaat vir die viskositeit- en pH-metings van wol is onlangs van die SA Wolraad bekom en daar word op 'n proefbasis metings gedoen op wolmonsters afkomstig van die nageslagtoetsprojek van die Merinostoettelersgenootskap te Petrusville. lndien daar bruikbare resultate verkry word, sal hierdie toetse op roetinebasis ingeskakel word by die wolontledingsproses. Daar word egter beoog om hierdie metings slegs op uitgesoekte ramme uit te voer vir die doel van finale seleksie.

 

Groepteeltskemas

Groepteeltskemas het in die geval van wolskape vermeerder tot 18. Hiervan is 11 Merinogroepe (een daarvan is 'n elite-kudde wat uit die ander groepe opgebou is), 6 Dohne-merino-groepe en 1 Corriedalegroep.

Die groepteeltskemas voorsien nie net aan hul eie lede meerderwaardige teeltmateriaal nie, maar ook 'n groot aantal ramme aan ander kommersiële produsente.

Hoewel die Nasionale Wolskaapprestasie- en -nageslagtoetsskema tot dusver 'n beperkte invloed op die bedryf in sy geheel gehad het, beskik dit oor die potensiaal om met al die nuwe ontwikkelings en tegnieke uitgebou te word tot die hoeksteen van die bedryf.

 

Published

Karoo Agric, Vol 3, No 8, 1986