Last update: March 26, 2012 12:23:10 PM E-mail Print

 

HOEVEEL VREET EN GROEI 'N DORPERSKAAP?

P.G. Marais en J.A. Roux

Grootfontein Landboukollege, Middelburg 

 

Gesien in die lig van die huidige tydsgewrig waar groot eise aan die doeltreffendheid van produksie gestel word, het dit noodsaaklik geword dat daar sinvol beplan moet word oor die rol van die Dorper as vleisproduseerder. Ten einde uitspraak hieroor te kan lewer asook vir verdere intensifisering van skaap en lamvleisproduksie, het dit nodig geword om die voerverbruik, groeisnelheid en liggaamsamestelling te bestudeer.

'n Proef is aan die Landboukollege Grootfontein uitgevoer ten einde bogenoemde eienskappe te bestudeer, As proefmateriaal is 26 ooi-, 26 ram- en 26 hamellammers vanaf geboorte individueel onder ad libitum voedingstoestande aangehou. Een lam van elke geslag is weekliks geslag tot op 13 weke ouderdom en daarna tweeweekliks tot 39 weke ouderdom, Die liggame van alle lammers is vir droë materiaal, proteïen-, vet-, en energie-inhoud ontleed.

Die proefrantsoen wat in hierdie proef gebruik was, word in Tabel 1 uiteengesit.

 

Vrywillige voerinname

Een van die faktore wat tot dierevariasie binne en tussen rasse bydra is die verskille in voerinname van diere op dieselfde dieet. Daar is egter min gegewens gepubliseer oor die voerinname van Dorpers op 'n hoë kragvoer dieet.

Volgens die resultate in Tabel 2 is dit duidelik dat die voerinname van ramme stadiger as die van ooie en hamels styg. Die voerinname van hamels is tot by 40 kg massa hoër as die van ooie en ram me en hierna is dit konstant hoër as die van ooie. Dit is opmerklik dat die voerinname tot 'n spesifieke liggaamsmassa styg en daarna weer daal. Die stadia wanneer daar 'n afname in voerinname tussen geslagte voorkom varieer vanaf 40 kg by ooie, 50 kg by ramme en 45 kg by hamels. Daar moet gelet word dat hierdie draaipunte slegs vir hierdie spesifieke dieet geldig is, omrede die tipe dieet (kragvoer en ruvoer) die draaipunte beïnvloed.

 

Groeitempo

Groeitempo is vandag sekerlik die belangrikste en mees beredeneerde eienskap in die vleisskaapbedryf.

Groeitempo is vir die Dorperboer belangrik en wel om die volgende redes:

Volgens tabel 3 het ramme tot op 30 kg liggaamsmassa 'n hoër tempo as hamels gehad, maar daarna was daar geen verskil in groeitempo nie. Ooie het die laagste groeitempo getoon. Dit is dus duidelik dat die groeitempo eksponensieel afneem met liggaamsmassa (ouderdom). Hierdie afname word egter beïnvloed deur ras- en geslagsverskille.

 

Voeromsetting

Doeltreffendheid van voerverbruik word tradisioneel aangedui deur die maatstaf voeromsetting, hoeveelheid droë materiaal ingeneem tot liggaamsmassatoename.

Dit is bekend dat die tempo waarteen proteïen en vet in die liggaam neergelê word, verander soos wat die dier in liggaamsmassa toeneem. Hierdie verskille beïnvloed die voeromsetting deurdat energie in die vorm van proteïen en vet nie ewe doeltreffend in die diereliggaam gesintetiseer word nie. Vanaf Fig. 1 is dit duidelik dat die persentasie proteïen in die liggaam van al drie die geslagte afneem soos liggaamsmassa toeneem. Trouens, die hoeveelheid proteïen in die liggaam van ramme is aansienlik meer as die van ooie en hamels. Die verskil tussen ooie en hamels is gering. Wat die persentasie vet in die liggaam betref neem dit by al drie die geslagte toe. Ooie het deurgaans die hoogste persentasie en ramme die laagste persentasie gehad.

 

Na aanleiding van die feit dat die liggaamsamestelling van die dier voortdurend verander met toename in liggaamsmassa, word die voerinname dienooreenkomstig beïnvloed. Gedagtig aan hierdie verskille in voerinname, wat 'n faktor van voeromsetting is, is dit duidelik dat die doeltreffendheid van voerverbruik varieer met liggaamsmassa. Volgens Tabel 4 is die voeromsetting by 'n spesifieke liggaamsmassa van ramme deurgaans beter as die van die ander twee geslagte. Trouens, ooie het die swakste omsetting van al drie die geslagte gehad. Hiervolgens is dit duidelik dat ramme wat minder vet as ooie en hamels in hulle liggame by 'n spesifieke punt het, die beter voeromsetters is. Aangesien 'n hoe tempo van vetneerlegging met swak voeromsetting geassosieer word, volg dit dat 'n hoe voedingspeil nie noodwendig tot maksimum voeromsetting sal lei nie. Die voordelige effek van groei vanaf 'n hoe energie-inname (bo onderhoud) sal deur oormatige vetneerlegging gekanselleer word.

 

Gevolgtrekking

Die Dorper het dus 'n relatiewe hoë voerinname wat dan ook lei tot 'n relatief hoë groeitempo In die algemene taal gestel; Hy groei so lekker want hy eet so lekker.

 

Published

Dorpernuus 38