Last update: April 10, 2012 10:15:57 AM E-mail Print

 

Die Dorper: Sy Eienskappe en Waarde

W. D. Meyer

 

HOEWEL die proses van teling en ontwikkeling van die Dorpervleisskaap alreeds vir 'n periode van omtrent 12 jaar aan die gang is, is kennis omtrent die eienskappe en waarde van die ras skynbaar nog beperk tot 'n baie klein gedeelte van die boerende publiek. Hierdie ras wen egter vinnig veld, en in 'n poging om toe te sien dat vir die regte eienskappe geteel en geselekteer word en om te verhoed dat die skaap uit sy omgewing en dus op ‘n onekonomiese basis aangehou word, word die eienskappe en waarde van die ras kortliks hier bespreek.

Die Dorper (ook voorheen bekend as die "Dorsian"), is 'n tipe skaap wat verkry is uit 'n kruising tussen die Dorset Horn en die Swartkop Persie deur oordeelkundige teling en seleksie van die nageslag op so 'n wyse dat die beste kombinasie van die goeie hoedanighede van die twee moederrasse in die nageslag verkry word.

Wanneer twee rasse met verskillende eienskappe met mekaar gekruis word met die doel om 'n nuwe tipe uit die nageslag te ontwikkel, vind daar 'n segregasie van eienskappe in die nageslag plaas; dit wil sê afwykings van eienskappe na die een of ander moederras. Die verskil in eienskappe of segregasie wat voorkom in die geval van die Dorper, is dus geensins buitengewoon as in .aanmerking geneem word hoeveel die Dorset Horn en die Swartkop Persie van mekaar verskil nie. Namate die geslagte egter verwissel word, word hierdie segregasie uitgeskakel mits noukeurige en streng seleksie vir bepaalde eienskappe en dus vir 'n bepaalde tipe onder alle omstandighede uitgevoer word. Om dus eenvormigheid by die Dorper te verkry, is dit uiters noodsaaklik om alle diere wat afwyk van die ideaal nie as teeldiere te gebruik nie.

Die Dorper toon 'n groot verbetering op die Swartkop Persie wat bouvorm en vetverspreiding betref. Omdat die Dorperkuddes van vandag egter nog maar almal baie jonk is, kon segregasie nog nie doeltreffend uitgeskakel word met behulp van seleksie nie en derhalwe word sekere kenmerkende bouvormfoute nog baie algemeen in kuddes aangetref. Dit is uiters belangrik dat telers spesiale aandag aan bouvorm-eienskappe moet skenk by die seleksie van teeldiere. Voorbeelde van sulke algemene swakhede is skerp skouer, nou bors, gebrek aan diepte, hol rug, duiwelsgreep, hangkruis en swakgevleisde binne- en buitedye. Hoe strenger die seleksie vir bouvorm, hoe gouer sal eenvormigheid in bouvorm bereik word.

Waar met die teel van die Dorper sorg gedra is dat die nageslag teoreties ewe veel bloed van elke moederras bevat, is daarin geslaag om met die opeenhoping van vet op die stuitjie heeltemal weg te doen. Soos in die geval van bouvorm, kom hier egter ook 'n mate van segregasie voor sodat Dorpers gevind word wat in 'n mindere of meerdere mate vet op die stuitjie aansit. Enige opeenhoping van vet op, of in die karkas, is egter ongewens in die ideale vleisskaap, en hierdie eienskap vereis dus streng seleksie.

In die regte omvang is die volwasse Dorper-ooi in staat om 'n gewig van 120 tot 140 pond te bereik; terwyl volbek-ramme maklik van 180 tot 200 pond weeg. Gebrek aan grootte is egter dikwels ook 'n fout as gevolg van segregasie. Grootte is belangrik omdat doeltreffendheid van produksie beïnvloed word deur die grootte van die eenheid.

Die voordeligste vetlam is natuurlik die een wat die vinnigste groei en dus: die gouste van sy moeder en die veld weggeneem kan word. Die Dorperlam is gereed vir slag op 'n gewig van 70 lb. lewende gewig. Dit is die ondervinding van Dorperboere dat, indien hulle wag totdat die lammers bogenoemde gewig bereik het, hulle 'n gemiddelde verhouding van 50 persent super en 50 persent prima gradering kan verwag. Die Dorperlam kan hierdie gewig bereik op 'n ouderdom van½ 4 tot 6 maande. Omdat groeisnelheid die inkomste van die boer grotendeels bepaal, is dit uiters noodsaaklik dat ooie wat swak melk gee, en lammers wat swak groei, uitgegooi moet word. Onder droogtetoestande sal dit gevind word dat die ooi maer word, terwyl die lammers floreer. Dit dui dus aan dat die Dorper 'n goeie melkproduseerder is en melk sal produseer ten koste van haar eie kondisie.

Alhoewel vrugbaarheid sekerlik een van die belangrikste eienskappe van enige ras is, word dit gevind dat dit die eienskap is wat gewoonlik die meeste afgeskeep word in die seleksie van teeldiere. Hoë vrugbaarheid by 'n vleisskaap soos die Dorper is 'n absolute vereiste omdat dit nie alleen die inkomste van die boer beïnvloed nie, maar ook die spoed van ontwikkeling en verbetering van die ras. In die geval van vleisskape, is elke ooi verplig om minstens een lam per jaar te lewer omdat dit haar enigste bydrae tot die inkomste van die boer is. Alhoewel Dorpers oor die algemeen 'n hoë vrugbaarheid het, selfs onder droogtetoestande, is dit nogtans van die grootste belang dat ooie wat nie lam nie, so gou moontlik by die slagter afgelewer moet word. Maak veral seker dat ramme uit bloedlyne van 'n lae vrugbaarheid nie gebruik word nie. By ‘n ras wat nog in sy ontwikkelingstadium is, is hoë vrugbaarheid uiters noodsaaklik omdat die spoed van ontwikkeling en verkryging van eenvormigheid in tipe van die doeltreffendheid van seleksie afhang. Hoe groter die nageslag van ‘n kudde, hoe strenger kan seleksie toegepas word.

Die Swartkop Persie is in werklikheid ‘n swart skaap met ‘n wit lyf. Hierdie eienaardigheid is toe te skryf aan die feit dat ‘n Swartkop Persie oor ‘n kleurlokaliserende faktor beskik wat verantwoordelik is vir die beperking van die pigment tot die kop en nek van die skaap. Wanneer die Swartkop Persie gekruis word met ‘n wit skaap, soos die Dorset Horn, word hierdie faktor skynbaar vernietig, sodat die gepigmenteerde gedeelte oor die hele liggaam versprei. Vandaar die verskynsel dat ‘n Dorperkudde altyd uit ‘n bont mengelmoes van skakeringe van swart en wit bestaan. Dit is egter moontlik om eenvormigheid in kleurpatroon te verkry deur seleksie, en derhalwe het die Dorper-TeIersvereniging van Suid-Afrika se keuse geval op ‘n wit skaap met swart pigment, wat slegs beperk is tot die kop. Hierdie gepigmenteerde gedeelte kan die hele kop bedek of dit kan onderbreek word deur ‘n bles oor die voorkop en neus van die skaap. Hierdie besluit is geneem omdat skape met pigment aan die kop, beter bestand is teen die uitwerking van geeldikkop en ook beter bestand is teen sonbrand as die skaap met geen pigment hoegenaamd nie. 'n Kleurpatroon is egter nie 'n eienskap wat die ekonomiese waarde van die skaap direk beïnvloed nie, en derhalwe moet ander eienskappe soos bouvorm, grootte. vrugbaarheid, melkproduksie en groeisnelheid die eerste aandag geniet by seleksie van teeldiere alvorens kleurpatroon in aanmerking geneem word.

Dieselfde mate van segregasie kom ook voor by die bedekking, sodat enigiets aangetref word - vanaf die growwe wolbedekking van die Dorset Horn tot die steekhaarbedekking van die Swartkop Persie. Die ideaal is 'n bedekking wat bestaan uit 'n mengsel van hare en wol met genoegsame wolvesels vir beskerming teen skielike temperatuurdalinge, maar nie soveel dat die produksie van vleis moontlik nadelig beïnvloed word nie. Die Dorper moet dus beskou word as 'n uitsluitlike vleisskaaptipe en nie as 'n soort van dubbeldoelras wat vleis sowel as wol moet produseer nie.

Van bostaande moet nie afgelei word dat die Dorper onder alle omstandighede die voordeligste vleisskaap is nie. Waar voeding nie 'n beperkende faktor is nie; dit wil. sê, onder intensiewe en half-intensiewe toestande, is daar definitief beter vleisskaaptipes beskikbaar. Die besondere waarde van die Dorper lê egter in sy gehardheid teen droogtetoestande. Hierdie ras moet dus vergelyk word met die ander nie-woI vleistipes soos die Swartkop Persie, die Ronderib Afrikaner en ander, wat onder dieselfde swak weidingstoestande aangehou kan word. In vergelyking met hierdie tipes, lewer die Dorper 'n lam met 'n beter bouvorm, 'n beter karkas en 'n lam wat baie vinniger groei. Die Dorper-ooi is dus in staat om onder dieselfde toestande 'n groter jaarlikse inkomste aan die boer te lewer as die inheemse vetstert- en vetstuitjietipes. Dit is dus 'n skaap wat veral geskik is vir die droë dele van die Unie; dit wil sê, streke met 'n gemiddelde reënval van sowat 10 duim en minder per jaar.

Die Dorper het alreeds op hierdie stadium bewys gelewer van sy waarde as ‘n geskikte vleisskaap vir die droër dele van die Unie, waar wol nie met sukses geproduseer kan word nie. Die groot taak van die Dorperteler is dus nou om deur middel van oordeelkundige seleksie en teling, die ras ten opsigte van die eienskappe hierbo bespreek, te veredel tot 'n eenvormige tipe, wat die term "ras" waardig sal wees.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 26