Last update: April 12, 2012 08:11:30 AM E-mail Print

 

Die Waardevolle Garingboom

JG Marais  

 

Droogtes en Dravermoë van Veld

As die jaarlikse reënval in die streke van ons land wat te droog is vir die produksie van gewone plaasgewasse, hoewel laag, gereeld was, kon die dravermoë van die streke min of meer definitief bepaal word en dit sou dan outomaties die waarde van die land bepaal het. Ongelukkig kry ons sowel slegte as goeie seisoene waarvan laasgenoemde die boer se optimisme tot 'n toppunt laat styg en die prys van land word baie hoog. Om die rente op die kapitaal te kan betaal, word die plaas oorstok en dit lei tot noodlottige gevolge en op die manier word die normale dravermoë van ons veld nog verder verminder.

Die veld wat nodig is vir een skaap word gebaseer op 'n gemiddelde jaar en in party gevalle selfs op goeie jare. Dit is 'n baie verderflike gebruik en moet ontmoedig word. Die regte manier om die dravermoë van die veld te bepaal is deur dit te baseer op die gemiddelde van die slegte jare. Dis egter die toppunt van idealisme om dit te verwag en ons enige hoop is om aandag aan die slegte jare te gee en om te kyk of ons hul dravermoë nie tot die gemiddelde kan bring nie op die volgende maniere :-(1) Deur voer op te bêre gedurende goeie jare; (2) deur voer te koop; (3) deur droogtebestande voersoorte aan te plant.

In sulke streke kan voer alleen opgebêre word as die boer grond onder besproeiing het. Lusern word dan gewoonlik onder besproeiing verbou en kan opgebêre word in die vorm van hooi. Dit sal baie help om die vee aan lewe te hou en miskien sal dit hulle boonop nog goed laat groei gedurende die droogtes, maar selfs dan nog sal daar 'n tekort wees aan een noodsaaklike bestanddeel, n.l. sappigheid. Dit is veral van belang in die geval van aanteelooie. Dieselfde opmerkings is van toepassing op gekoopte voer.

 

Droogtebestande Voersoorte

Om dus te voldoen aan die behoeftes van boere wat nie water vir besproeiingdoeleindes het nie sowel as van die boere wat nie sappige voer vir hul aanteelooie kan voorsien nie, moet ons terugval op droogtebestande gewasse. Onder droogtebestande gewasse kry ons die doringlose turksvy, die soutbossoorte (Ouman- en Kruipsoutbos) en die garingboom (American aloe). Van hierdie soorte is ons van plan om die garingboom hier te bespreek. "

 

Die Garingboom

Die waarde van hierdie plant lê in die feit dat dit baie teen droogte bestand is; dit kan maklik aangekweek word; dit dien as 'n windbreek; en is ook nuttig om erosie te verhoed.

Uit 'n voedingsstandpunt is sy hoë watergehalte en gevolglik die sappigheid van die plant 'n baie belangrike faktor. Hierdie plant lewer 'n opbrings van ongeveer 60 ton per akker en dit verseker 'n goeie opbrings verteerbare voer per akker, hoewel die werklike voedingswaarde van die plant laag is.

 

Voedingswaarde

Die garingboom word in eerste instansie gekweek om sappigheid te voorsien in tye van droogte, maar die werklike voedingswaarde daarvan, hoewel te laag om die diere alleen daarop te onderhou, is hoog genoeg om die voeding van die gewas selfs in goeie seisoene te regverdig. Dis egter noodsaaklik dat die rantsoen ook nog 'n voersoort sal bevat wat ryk is aan proteïen, soos byvoorbeeld lusern, omdat die garingboom baie min van hierdie voedselbestanddeel bevat. Dit word ook beweer dat garingboom alleen, verlamming by die diere veroorsaak maar die byvoeding van lusern of selfs veldgras sal hierdie moeilikheid verhoed. Sorg moet ook gedra word om nie te veel van die nuttelose veselagtige toppe van die blare te voer nie, want dit kan spysverterings-ongesteldhede veroorsaak. Die voeding van garingboomblare gedurende droogtes sal ook baie help om die hoeveelheid water wat die diere nodig het te verminder aangesien die blare van 80 tot 90 persent water bevat.

Die waarde van hierdie plant op 'n plaas kan die beste bepaal word uit die gunstige verslae wat daaroor ontvang is van boere in die distrik van Graaff-Reinet en elders.

 

Planting

Die klein garingboomplantjies, wat naby die ou aanplanting groei, word uitgeplant op plekke wat maklik deur verspoeling sal verweer; of in rye as windbreke; of in plantasies naby die huis of naby die windpompe in die verskillende kampe. Dit is maar selde nodig om die land te ploeg; al wat nodig is, is om die plante ses voet van mekaar te plant in vore wat vyftien voet van mekaar is. Sodoende sal die plante in rye groei wat ver genoeg van mekaar is sodat 'n wa tussen die rye getrek kan word as die blare opgelaai moet word. Met hierdie spasiëring sal omtrent 500 plante nodig wees per akker.

Die planting moet in die voorjaar geskied in grond wat enigsins natterig is. Waar die grond baie droog is, kan dit wenslik wees om 'n stroom water in die voor te keer na planting. Gewoonlik is dit nie nodig om meer aandag aan die plant te gee nie, maar as daar 'n aanhoudende droogte volg op die planttyd sal dit goed wees om die plante so nou en dan water te gee totdat hulle goed aan groei is.

 

Oes

Ongelukkig groei die garingboom maar stadig en dit duur dan ook van vyf tot. ses jaar voordat dit geoes kan word. Na dit kan dit vir nog 'n vyf of ses jaar gebruik word waarna dit 'n lang blommende stam kry en dan doodgaan. Hoewel dit dus 'n deurgroeiende gewas is, lewe dit nie baie lank nie. Dit is egter nie 'n ernstige nadeel nie, want as die oorspronklike plant doodgaan, sal daar baie opslagplante wees om sy plek in te neem sodat die laning met die loop van tyd altyd dikker sal word.

Die blare van die garingboom het baie dorings al langs die rande. Dit beskerm die plante in seker mate teen die vee, maar dis darem nodig om die plante te omhein. Hierdie dorings maak dit ook nodig om die plante te oes want, in teenstelling met die turksvy, kan die garingboom nie op die lande afgewei word nie. As die blare geoes word, moet die onderstes eerste verwyder word en as hulle met 'n graaf teenaan die stam afgesteek word sal dit maklik wees om die blare wat hoër sit te verwyder. Al die blare moet teenaan die stam afgesteek word, want dis die dik vleisagtige gedeelte wat teenaan die stam is wat die smaaklikste en beste voedsel-materiaal bevat. Die dun veselagtige toppe van die blare en die rande moet dan met 'n skerp mes afgesny word en die orige gedeelte van die blaar word dan in vyf of ses stroke gesny en in stukkies gekap met 'n kapper, sekel of suikerrietmes. 'n Gewone mangelwortelsnyer sal ook goeie resultate gee. Hierdie gekapte materiaal kan nou aan die vee gevoer word.

 

Gevolgtrekking

Aangesien die voedingskoste van turksvye laer is as die van garingboom, omdat eersgenoemde afgewei kan word, sal die garingboom veral van diens wees op die plaas as 'n windbreek en om erosie te voorkom. Vir laasgenoemde doel kan die waarde van die plant nouliks oorskat word en omdat dit nie eintlik saak maak op watter grondsoort die plant aangekweek word nie, kan dit feitlik op enige plek geplant word.

Die feit dat dit nie daarop aankom op watter grondsoort dit verbou word nie, gee dit 'n voorsprong op turksvy in die suurveldstreke langs die kus.

As gevolg van die moeilikheid om turksvy aan die groei te kry in die baie koue dele is die garingboom van waarde omdat dit waarskynlik in baie groter mate teen ryp bestand is as turksvye en dus geskikter in sulke dele vir sappige voer vir vee gedurende tye van droogte.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 3