Last update: April 5, 2012 10:05:25 AM E-mail Print

 

Watervaring - Diesolien Roei Dit Uit

 

deur

C. J. OOSTHUIIEN en

dr. M. M. WALTERS

Afdeling Grondkunde en Biochemie

Landboukollege Grootfontein

 

 

DIE Azolla pinnata is 'n plantjie van ongeveer 'n kwartduim hoog wat op die oppervlakte van water in damme en riviere groei (foto A, bak 1). Sy wortels dring ongeveer 'n halfduim diep in die water in sodat dit nie in grond geanker is nie, maar drywend voortbestaan. Die plantjies vermenigvuldig skynbaar geweldig vinnig en heel gou word die ganse oppervlak van die water, op die plekke waar dit stilstaan, met 'n plantemat bedek.

Die varing kom in groot hoeveelhede voor in die Oorlogspoortrivier wat noordoos van Colesberg na die Oranjerivier vloei. Dit kom ook voor in fonteine en damme wat in die omgewing van hierdie rivier geleë is.

Die storie doen die rondte dat die varing 15 tot 20 jaar gelede ingevoer is om as sierplante vir 'n visdam te dien. Aangesien die visse in die dam doodgegaan het, blykbaar as gevolg van die varing, is die dam skoongemaak en die varing weggegooi. Die gevolg was dat die plant versprei en toegeneem het tot die omvang waarin dit vandag as plaag voorkom.

Op die plaas Yardley, 13 myl noordoos van Colesberg, in die wyk Achtertang, het hierdie varing die Oorlogspoortrivier in so 'n mate ingeneem dat dit 'n ernstige vraagstuk geskep het.

Boere in die bogenoemde omgewing beweer dat aIle visse in die water wat deur die varing bedek is, vrek; dat die water 'n onaangename swawelagtige reuk kry; diere nie die besmette water wil drink nie en dat die varing fonteine en pypleidings verstop.

Van die watervaring afkomstig van die plaas Yardley is vir ondersoek na die Landboukollege Grootfontein gebring.

 

PROEF

Die varingplantjies is bo-op reënwater in glasbakkies versprei. 'n Klein hoeveelheid grond is in die bakkies gevoeg om die toestand waaronder die varing in die poele van die rivier groei, so goed moontlik na te boots. Die plantjies is toegelaat om eers goed te vestig waarna hul soos volg behandel is:

Die konsentrasies van twee en vier pond suurekwivalent 2, 4-D het geen uitwerking op die groei van die varing gehad nie. 'n Week na bespuiting met ses en agt pond suurekwivalent het 'n paar dooie kolle in die betrokke varingmat verskyn, maar na ongeveer vier weke het hulle weer heeltemal herstel.

Bespuiting met diesolien, onverdun of gemeng met water in die verhouding van 1:1, het die varingplantjies binne 'n week heeltemal doodgemaak. Die dooie materiaal het afgesak na die bodem en 'n groen slyk het op die oppervlakte begin groei. Hierdie groei is beheer deur behandeling met kopersulfaat (1 deel per miljoen).

 

 

Die bygaande foto's A en B illustreer die uitwerking van bogenoemde behandelings:

Bakkies I, II, III, IV en V in foto A is onderskeidelik met 0, 2, 4, 6 en 8 pond suurekwivalente 2, 4-D en bakkie VI met diesolien behandel. Die foto B dui die uitwerking van die diesolienbehandeling aan teenoor die van die kontrolebehandeling.

Dit wil dus voorkom asof bespuiting met 2, 4-D nie doeltreffend genoeg is vir die bestryding van die varing nie. Die aanduiding is dat hoër konsentrasies as die wat gebruik is, wel daarin kan slaag. Sonder meer kan dit nie aanbeveel word nie uit vrees dat dit bome en struike op die walle van die rivier sal uitroei asook gewasse wat met die betrokke water besproei word.

Slegs waar die moontlikheid bestaan dat die toegediende 2, 4-D, wat regstreeks in die water beland, aansienlik verdun word soos dit met die stroom verder vervoer word, kan die gebruik van hierdie middel miskien oorweeg word.

 

DIESOLIEN

Diesolien, as bestrydingsmiddel, kan doeltreffend teen die varing aangewend word, maar ook nie sonder die gevaar dat dit die water kan besoedel tot nadeel van dier en kultuurplant nie. Gelukkig dryf diesolien bo-op die water sodat water wat vir besproeiing en/of diersuiping gepomp word, nie besoedel behoort te wees nie.

Die gevaar sal ook van geringe omvang wees waar die varing-besmette deel slegs 'n klein gedeelte van die totale wateroppervlakte in 'n rivier beslaan en die toegediende diesolien dus aansienlik verdun sal word waar dit oor die totale oppervlakte versprei. Onder sulke omstandighede kan skoon diesolien of 'n mengsel daarvan dan met water in die verhouding van 1:1 as bestrydingsmiddel aanbeveel word. Sodra slyk daarna begin groei, moet kopersulfaat teen een pond vir elke 100,000 gelling water toegedien word.

Na hierdie behandeling sal 'n aansienlike hoeveelheid dooie materiaal in die water uitsak. Dit kan moeilikheid gee waar die afsaksel saam met die stroom meegesleur word en pompe verstop. Hierteen moet dus gewaak word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (2)