Last update: April 5, 2012 10:23:59 AM E-mail Print

 

Weidingsbestuur is prakties en lonend

 

PHB vd Vyver

Voorligtingsbeampte, De aar

 

 

DIT is die ondervinding dat hoewel baie boere gewoonlik redelik maklik oortuig kan word van die noodsaaklikheid om hulle plase te laat beplan, hulle huiwerig is om 'n beweidingstelsel te volg, en selfs verseg om dit te doen.

Vir hulle beteken plaasbeplanning slegs die bestryding van grondverspoeling, en hulle bly onbewus van die voordele wat die toepassing van 'n doeltreffende beweidingstelsel bied.

Mnr. L. Schoevers van die plaas Pienaarspan in die distrik Hopetown - 'n man wat helder dink en vatbaar is vir oortuiging - het egter die voordele raakgesien en pluk vandag die vrugte van 'n deeglik beplande boerderystelsel. Die feit dat hy reeds twee grondbewaringswedstryde gewen het, getuig van sy welslae.

 

BEPLANNING

Sedert die beplanning van Pienaarspan in 1952 is daar twintig kampe gemaak waarin 41 veesuipingspunte versprei is. Sommige van die kampe beskik teenswoordig oor nie minder nie as vier veesuipings.

Krale vir die deurkyk en doseer van skape is in die veld gebou. Dit het meegebring dat die diere nie meer soos voorheen deur spaarkampe hoef te trek op die lang skof na die enigste kraal by die opstal nie.

Die herwinning van groot nuttelose kaal kolle wat deur winderosie in die veld veroorsaak is, het heelwat hoofbrekens veroorsaak. Die resultaat wat verkry is deurdat 'n ploegvoor toevallig deur so 'n kaal kol getrek is, het aanleiding gegee tot die formulering van 'n herwinningsbeleid wat besonder suksesvol was.

Aanvanklik is ploegvore ongeveer twaalf voet uitmekaar oor die kaal kolle getrek. Na twee jaar is daar 'n verdere voor tussen elke twee van die bestaandes getrek, sodat die kolle in groot akkers verdeel is waarin die reënwater opgevang en die grond deeglik deurweek is.

Die resultate hierdeur bereik, was eenvoudig ongelooflik. Pioniergewasse is opgevolg deur 'n groot verskeidenheid meerjarige plante wat die kaal aarde bedek het. Vandag groei plante soos klappiesbrak, soutganna, vleigras en buffelsgras op die vroeëre kaal kolle.

Maar selfs hierdie resultate was vir die geesdriftige mnr. Schoevers nie genoeg nie. Hy het die ingewing gekry dat indien hy die vrugbaarheid van die grond in die kaal kolle sou verhoog, die resultate steeds beter behoort te wees.

Die ploegvore word gevolglik nou met 'n mengsel van grond en mis gevul. Daar word verwag dat hierdie behandeling die plante 'n beter begin sal gee sodat hulle makliker sal groei en ontwikkel.

Die afkamping en onttrekking aan beweiding van die behandelde kaal kolle is natuurlik noodsaaklike maatreëls, aangesien weidende diere die jong plantjies uittrek. Verder word sulke kampe, nadat hulle herstel het, slegs gedurende die wintermaande bewei.

 

RESULTAAT

Aanvanklik het die toepassing van die weidingstelsel daartoe gelei dat daar 'n groot toename in pionierplante soos steekgras, plaasgevind het. Nadat hierdie kritieke en lastige oorgangstydperk van eenjarige na meerjarige gewasse oorbrug is, het alles vlot verloop en was mnr. Schoevers selfs daartoe in staat om ten spyte van 'n karige reënval van 4.87 duim die afgelope twaalf maande, weiding aan trekboere aan te bied.

Gedurende die kwaai droogte wat die Karoo in 1960 geteister het, moes baie boere in die gebied met hul skape trek of die diere voer. Mnr. Schoevers het egter tot op die dag waarop hierdie stuk geskryf is, geen pennie aan voer bestee nie, en sy vee het in 'n goeie kondisie verkeer.

Waar vee voorheen maandeliks teen inwendige parasiete gedoseer is, word dit teenswoordig slegs na goeie reëns gedoen. Deurdat kampe gespaar word, word die lewenskringloop van parasiete aldaar onderbreek. Hierdie bestrydingsmaatreël het op Pienaarspan tot 'n kleiner veemiddel rekening bygedra.

As gevolg van die toepassing van 'n driekampstelsel word arbeid vandag doeltreffend aangewend omdat slegs een derde van die plaas op 'n gegewe tyd in gebruik is.

Die verbeterde gehalte van die weiding het meegebring dat die wolproduksie op Pienaarspan gestyg het. Omdat die drakrag verhoog is, kon meer skape aangehou word. Daarbenewens het die gemiddelde wolopbrengs per skaap ook gestyg. Mnr. Schoevers het verlede jaar byvoorbeeld 622 skape minder geskeer as die vorige jaar en nogtans 3,000 pond wol meer as die vorige jaar geproduseer.

Aan die kleiner kampe op die plaas is dit te danke dat 'n groter persentasie lammers vandag gespeen word.

Mnr. Schoevers sal nooit weer na die ou metode van boer terugkeer nie. Hy gee sy mede boere die versekering dat weidingsbestuur prakties sowel as lonend is.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (2)