Last update: March 23, 2012 10:11:55 AM E-mail Print

 

Weigewoontes van Merinoskape

 

P Botha & CD Blom

Weidingnavorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

MIDDELBURG K P

5900

 

Soos ander diersoorte, vertoon die Merinoskaap ook sekere kenmerkende gedragspatrone, met ander woorde sekere aktiwiteite word elke dag op ongeveer dieselfde tyd uitgevoer. Hierdie gedragspatrone word hoofsaaklik beïnvloed deur oorerwing en sluit dus ook instinktiewe optrede in.

Die meeste aktiwiteite van diere sentreer om oorlewing of selfonderhoud. SuksesvoIle selfonderhoud is immers die basis van diereproduksie. Die daaglikse aktiwiteite van die diere sluit onder andere die volgende in: wei, herkou, rus, loop, misuitskeiding en urinering (Arnold & Dudzinski, 1978). Vir sommige aktiwiteite bestaan daar 'n definitiewe daaglikse patroon terwyl dit nie die geval is vir ander aktiwiteite nie. AIle aktiwiteite is egter ineengevleg in 'n daaglikse patroon wat uit verskillende aktiwiteite bestaan.

Die tyd per dag deur Merino-ooie aan verskillende aktiwiteite gespandeer word in Tabel 1 weergegee. Die resultate is verkry deur die observasie van Merino-ooie op aangeplante weidings en wat saam met ander rasse geloop het.

 

 

Dit moet egter ingedagte gehou word dat die tydsverdeling per dag grootliks kan varieer na gelang van omstandighede. Die weigewoontes van die dier word onder andere deur veldtoestand, klimaat en veebestuur asook die veeras en geslag beïnvloed.

Soos verwag kan word neem die inneem van voedsel die grootste deel van die dag van 'n skaap in beslag. Skape het gewoonlik tussen vier en sewe weiperiodes per dag. Die totale weityd duur ongeveer 10 – 11 uur per dag. Die belangrikste weiperiode is vroeg in die oggend, ongeveer teen sonsopkoms. 'n Verdere belangrike weiperiode vind laat in die middag tot sonsondergang plaas. Heelwat tyd word egter ook spandeer om te beweeg in die soektog na voedsel. Op Karooveld is byvoorbeeld vasgestel dat Merino-hamels meer as 9 km/dag afgelê het (Roux, 1979). In Australië is bepaal dat die loopfaktor al hoe belangriker word namate Merinoskape nader aan die water wei. By 'n punt tussen 15 en 29 minute vanaf die waterpunt was die spoed van beweging ongeveer 0,6 kph. Namate die skape nader aan die water beweeg het, neem die spoed toe tot ongeveer 4,3 kph. Wanneer skape terugbeweeg vanaf die water na hulle weigebied het die diere teen ongeveer 2,5 kph beweeg (Squires, 1974).

Die enkele aspek van die weigewoontes van Merinoskape met waarskynlik die mees verreikende gevolg is die feit dat die Merino sy kos selekteer uit die beskikbare materiaal. Die selektiewe vreetgewoontes van diere word alreeds vir baie jare beskou as een van die faktore wat verantwoordelik is vir die agteruitgang van die veld. Reeds in 1875 het ene Shaw verklaar dat die natuurlike grasbedekking van die Kaapse Middellande (Karoo) begin verdwyn en deur karoobossies vervang word nadat skape in die gebied ingebring is (Botha, 1984a). Daar bestaan verskeie uiteenlopende verklarings waarom diere een plant bo 'n ander verkies. Dit wil egter voorkom asof die diere plante verkies wat tydens 'n spesifieke periode aktief groei (Botha, 1981). Wanneer na die dieetseleksie van die Merino op gemengde karooveld gekyk word, kom 'n hele aantal interessante punte na vore. Oor 'n twee jaar periode het die gesamentlike dieet van Merinohamels en ooie uit 53,4% karoobossies, ongeveer 22,9% grasse en 19,2% opslagplante bestaan (Tabel 2).

 

 

Oor dieselfde periode was daar 'n oorvleueling van ongeveer 50% in die dieet van die twee geslagte (Tabel 3). Die grootste oorvleueling (72%) was gedurende die somermaande. Tydens hierdie periode het albei geslagte op gras en opslagplante as voedselbron konsentreer. Die kleinste oorvleueling (35%) was gedurende die lente. By hierdie geleenthede het die hamels hoofsaaklik op smaaklike en onsmaaklike karoobossies en opslagplante gekonsentreer. Hierteenoor het die ooie hoofsaaklik op onsmaaklike karoobossies en gras staat gemaak om in hul voedingsbehoeftes te voorsien (Botha, 1984b).

 

 

Die dieet van die diere het verder ook gevarieer tussen die verskillende seisoene van die jaar. Uit die resultate blyk dit dat die diere daardie plante selekteer wat gedurende 'n spesifieke seisoen aktief groei. Gevolglik het die dieet van die skape gedurende die somer uit veral grasse bestaan (ongeveer 40%) terwyl karoobossies gedurende die ander seisoene van die jaar die belangrikste komponent van die dieet was. Die diere het egter ook onderskeid getref tussen wat die mens as smaaklik en onsmaaklik beskou. Gedurende die winter en somermaande is meer smaaklike bossies as onsmaaklike bossies gevreet. Gedurende die lente was die omgekeerde egter waar terwyl bykans gelyke hoeveelhede van die twee groepe gedurende die herfs geselekteer is.

Wat betref die mate waarin die Merino op Karooveld sy voedsel uit die beskikbare plantmateriaal selekteer is die volgende resultate op Grootfontein verkry (Tabel 4). Die Merino's het oor 'n twee jaar periode ongeveer 60% van die beskikbare spesies, grasse uitgesonderd, as 'n bron van voedsel geselekteer.

 

 

Wat egter interessant is, is dat die ooie meer selektief gevreet het as die hamels deur onderskeidelik 42% en 55% van die beskikbare spesies te selekteer. Boerbokkapaters wat dieselfde gemengde karooveld as die Merino's bewei het, het ewe-eens ongeveer 60% van die plantspesies geselekteer. In die geval van Boerbokke was die persentasie opslagplante aansienlik laer as in die geval van die Merino's.

Die omgekeerde was egter waar wat betref die onsmaaklike karoobossies. Die Merino is dus 'n dier wat meer op die sagter tipe plantegroei konsentreer as byvoorbeeld die Boerbok onder soortgelyke omstandighede.

Verskeie persone het al die weigewoontes van skape ondersoek (Bosman, 1948; Louw, Havenga & Hamersma, 1948; Engeland, 1954; Arnold, 1962; Hafez, 1962; Dudzinski, Pahl & Arnold, 1969; Squires 1971, 1974; Arnold & Dudzinski, 1978; Roux, 1979 en Fraser, 1980). Uit ondersoeke deur bogenoemde outeurs het onder andere die volgende interessante gegewens vorendag gekom.

 

LITERATUURVERWYSINGS

ARNOLD G W, 1962. The influence of several factors in determining the grazing behaviour of Border Leicester x Merino sheep. J. Br. Grassl. Soc., 17: 41.51.

ARNOLD G W & DUDZINSKI M L, 1978. Ethology of freeranging domestic animals. Elsevier Scientific Publishing Co. Amsterdam, Oxford, New York.

BOSMAN S W, 1948. Climatological study on sheep in the Karoo. Fmg. in South Africa 23 169 . 182.

BOTHA P, 1981. Die invloed van spesieseleksie deur skape, beeste en bokke op die floristiese samestelling van gemengde Karooveld. D.Sc. proefskrif. PU vir CHO, Potchefstroom.

BOTHA P, 1984a. Meervoudige benutting van veld. Karoostreeknuusbrief, Lente 1984 24 - 26.

BOTHA P, 1984b. The diet of hamels and ewes on mixed Karoo veld. Goue Vag, 14 (5): 32 - 34.

DUDZINSKI M R, PAHL P J & ARNOLD GW, 1969. Quantitative assessment of grazing behaviour patterns of sheep in arid areas. J. Range Mgmt., 22: 230-235.

ENGELAND G J, 1954. Observation of the grazing behaviour of different breeds of sheep at PantYrhuard Farm, Carmenthenshire, Brit. J. Anim. Behav., 2 (2) : 56 -60.

FRASER A W, 1980. Farm animal behaviour. Bailliere Tindall, London.

HAFEZ ESE (Red)., 1962. The behaviour of domestic animals. Bailliere Tindall & Cox, London.

LOUW D J, HAVENGA C J & HAMER SMA J, 1948. The walking habits of sheep. Fmg. in South Africa, 23: 753.755.

ROUX P W, 1979 Elements of the trampling factor in stock. Karoo Agric, 1(3): 9.12.

SQUIRES V R, 1971. Temporal patterns of activity in a small flock of Merino sheep as determined by an automatic recording technique. Anim. Behav., 19:657.660.

SQUIRES V R, 1974. Grazing distribution and activity patterns of Merino sheep on a saltbush community in south-east Australia. Appl. Anim. Ethol., 1:17.30.

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 10-12