Last update: April 3, 2012 07:35:40 AM E-mail Print

 

DIE WEIVELDE VAN DIE KAROO

 

Dr. O.J.H. Bosch

Hoof: Weidingseksie,

Landbounavorsingsinstituut, Grootfontein

 

 

VIR menige reisiger is die dorre voorkoms van die Karoo genoeg om hom te laat besluit dat 'n nagrit deur die Karoo die maklikste uitweg sal wees. Hoe verbaas sal hierdie mense egter nie wees as hulle  die dag ontdek dat die Karoo seker een van die interessantste en mees variërende gedeeltes van ons land is nie. Die mees opvallende variasie wat direk waarneembaar is, is dan ook veral die weelde van plantegroei wat in die Karoo aangetref word. Die bedekking wat as voedselbron vir die meer as 10 miljoen kleinvee dien, het wat die spesiediversiteit en voedingswaarde betref, seker geen gelyke in Suid-Afrika nie.

Die geweldige variasie in die weivelde van die Karoo is hoofsaaklik die gevolg van die klimaat van uiterstes wat hier aangetref word.

Die jaarlikse reënval wissel van minder as 100 mm in die weste tot sowat 400 mm in die ooste, terwyl die berggebiede soveel as 600 mm reën per jaar ontvang. Die Karoo is hoofsaaklik in 'n somerreënvalgebied geleë wat 60 tot 70 persent van sy reën in die maande Oktober tot Maart ontvang. Die verre en suidwestelike gedeelte kry egter tot soveel as 60 persent van sy reën in die wintermaande.

Die groot temperatuur uiterstes wat voorkom, beklemtoon verder die geweldige ekologiese variasie wat in die Karoo aangetref word. So byvoorbeeld word die hoogste temperature in die Republiek in die noordwestelike binneland van die Karoo aangeteken, terwyl Sutherland as die tweede koudste dorp in die land bekend is. Temperatuur uiterstes wissel van 37°C tot -12°C. Matige tot strawwe ryp kom algemeen in die wintermaande voor. Skielike koue weer wat dikwels met swaar kapokneerslae gepaard gaan, is geen seldsame verskynsel nie en kom gemiddeld vanaf 20 tot 30 dae per jaar voor.

Weens hierdie klimaat uiterstes, asook die groot variasie van grondsoorte, geologiese formasies en topografiese kenmerke, bestaan die Karoo uit 'n groot verskeidenheid van weiveldtipes. Hierdie veldtipes varieer van 'n xerofitiese sukkulente veld en woestyngrasveld in die weste, wat geleidelik oorgaan in 'n semi-mesofitiese grasveld in die ooste. Die weivelde is egter voortdurend in 'n toestand van verandering weens onoordeelkundige, sowel as oordeelkundige benuttingspraktyke. Hoewel sekulêre afwykings in die reënvalpatroon klaarblyklik voorkom, staat klimatologiese gegewens nie die algemene opvatting dat die Karoo Ban die opdroog is nie. Weiveldveranderinge soos die sogenaamde woestynindringing, kan in 'n groot mate toegeskryf word aan 'n verminderde doeltreffendheid van die reënval, hoofsaaklik as gevolg van verhoogde gronderosie, hoe verdampingsverliese en die veryling van die plantbedekking, wat deur onoordeelkundige beweidingspraktyke bewerkstellig word.

Dat veranderinge in die afgelope twee eeue in die Karoo plaasgevind het, word gemanifesteer in ou reisverslae waarin die plantegroei en verspreiding van wild aangedui word (Burchell, 1967). So bestaan daar byvoorbeeld duidelike bewyse dat die gebied tussen Aberdeen en Pearston vroeër grasveld was met Setaria neglecta as die dominante spesie (Acocks pers. med.). Hierdie grasveld het ook in die Groot Visriviervallei voorgekom tot êrens noord van Cradock waar dit saamgevloei het met die eertydse Themeda triandra-grasveld van die gebiede rondom die later gestigte dorpe Middelburg, Colesberg, Hofmeyr en Burgersdorp.

Oorblyfsels van grasveld met 'n klimaksspesie naamlik Heteropogon contortus as die dominante komponent, is ook naby Merweville gevind, wat vandag 'n redelik ontblote gebied is. Dit is selfs meer verstommend dat oorblyfsels van veld waarin 'n gras soos Themeda triandra (Rooigras) dominant is, naby Theekloof voorkom. Hierdie gebied is vandag skyn Karoo gebroke veld.

Volgens Acocks (pers. mededeling) bestaan daar ook goeie indikators van die vroeëre plantegroei van die rivieroewers, vleie en leegtes in die Karoo. Fingerhuthia africana en Pennisetum sphacelatum kom genoegsaam vanaf die oostelike Oranje-Vrystaat, tot by die Seekoeirivier en die Kamdebooberge en weer in die Nuweveldberge by Beaufort-Wes en verder weswaarts voor, om aan te dui dat dit vroeër jare die dominante plant in die vleie en leegtes was. In die droër habitats langs vleie het Tetrachne dregei en Panicum maximum geleidelik oorgegaan in die algemene Themeda- Cymbopogon-veld soos ons dit vandag ken.

Die vlaktes by Phillipstown, Britstown en De Aar was in alle waarskynlikheid ook vroeër Themeda- Tetrachne-veld, aangesien Themeda triandra, Tetrachne dregei en Eragrostis bicolor vandag nog op verskeie plekke voorkom.

Soos reeds vermeld, word die huidige weiveldtipes van die Karoo hoofsaaklik bepaal deur topografiese kenmerke en lokale klimaat. Binne hierdie weiveldtipes bestaan daar egter 'n geweldige variasie in plantegroei wat die gevolg is van verskillende weidingspraktyke en boerderystelsels wat sedert die koms van die blankes op verskillende plase toegepas word. Hierdie verskillende beweidingspraktyke tree voortdurend op as 'n modifiserende of onderdrukkende faktor in die ekologie van die weiveld.

Die verskillende weiveldtipes wat in die Karoo voorkom, word vervolgens kortliks aan die hand van Fig. 1 (Acocks, 1975) bespreek.

 

 

1. SKYN HOËR KAROO (36)

Hierdie weiveldtipe vorm die oorgangstipe tussen die Karoobossievelde van die weste en die droë grasveld aan die ooste. Laasgenoemde beslaan slegs 'n beperkte oppervlak van die Karoostreek, naamlik die droë Cymbopogon-Themeda-veldtipe (50) wat in die oostelike gedeelte van Burgersdorpdistrik voorkom.

Oor die grootste gedeelte van die Skyn Hoër Karoo-veldtipe is die bossie- en graskomponente in wisselende verhoudings vermeng. Belangrike grassoorte op die vlaktegebiede is pioniere soos Aristida congesta en A. curvata, asook 'n subklimaks-spesie naamlik Eragrostis lehmanniana.

Die rante bestaan hoofsaaklik uit grasveld met Aristida diffusa, Heteropogon contortus en Themeda triandra as die vernaamste soorte. Rhus erosa is die belangrikste struik wat op die rante groei, blaar is uit 'n weidingsoogpunt relatief onbelangrik.

In die leegtes bestaan die bedekking hoofsaaklik uit grasse waarvan Eragrostis curvula, Sporobolus fimbriatus, Digitaria eriantha en Themeda triandra, beide 'n botaniese sowel as uit 'n weidingsoogpunt, die belangrike soorte is. Chrysocoma tenuifolia, Pentzia spp en Pteronia spp vorm die belangrikste bossiekomponente.

Hierdie veldtipe is ook reeds plek-plek ingeneem deur elemente van die meer dorre Karoogebiede. Die betrokke spesies blyk egter redelik sensitief te wees met betrekking tot die habitat. So byvoorbeeld groei Stipagrostis obtusa, wat waardevol kan wees om ontblote grond te bedek, egter slegs in lokaliteite waar 'n laag sand deur kalk onderlê word.

 

 

2. SENTRALE HOËR KAROO (27)

Hierdie veldtipe is duidelik afgebaken en beslaan die sentrale gedeelte van die boonste plato suid van die Oranjerivier.

Die rante en berge is meer grasryk as die vlaktes. Eragrostis lehmanniana en Aristida congesta is die belangrikste grasse van hierdie veldtipe, terwyl groter struike soos Lycium spp en Rhigozum trichotomum hoofsaaklik op die vloedvlaktes van riviere en op bulle en rante voorkom. Die kenmerkende struik van die rante is Rhus undulata var. tricrenata.

Op die vlaktes is die flora van die klipperige dele ryker as ander dele, terwyl die sanderige lokaliteite tussen die rante bedek is met Aristida diffusa- Eriocephalus ericoides-gemeenskappe.

Die veldtipe as geheel is in 'n groot mate met elemente van die Dorre Karoo ingedring, waarvan die Eriocephalus- en Pentzia-spesies die belangrikste soorte is. Die enigste sukkulent van algemene belang is Ruschia ferox.

Die wye vloedvlaktes bestaan dikwels uit 'n digte grasagtige, laaggroeiende Karooveld. Eragrostis bicolor en Panicum stapfianum is van die belangrikste weidingsgrasse wat hier voorkom, terwyl Pentzia incana, Felicia muricata en SaIsola spp die belangrikste deel van die bossiekomponent uitmaak.

 

3. DORRE KAROO (29)

Hierdie veldtipe is in die droogste gebiede van die Republiek geleë. Die terrein is plat met rante en heuwels, asook bergagtig in die suidelike gedeelte langs die noordelike voet van die Roggeveldberge.

Hoewel die plantegroei van hierdie veldtipe as geheel bekend staan as die Dorre Karoo, word drie variasies onderskei, naamlik:

 

(a) Blomkoolgannaveld

Hierdie veld kom langs die noord-oostelike en noordelike grense van die Dorre Karoo voor, op die granitiese gronde in die Kenhardt-Pofadder streek.

Die veld het 'n relatief digte bedekking met Salsola tuberculata, Stipagrostis obtusa en S. cilliata as die belangrikste spesies. Opslagplante is volop en dien as vername voedselbron van die diere in hierdie gebied. Die belangrikste hiervan is Aizoon canariense, Arctotus staechadifolia, Galenia sarcophylla en Gnaphalium glomeratum.

Die plantegroei van hierdie veld het 'n hoë ekologiese status en verteenwoordig waarskynlik die klimaksstadium van die Dorre Karoo as geheel. Acocks (1975) wys egter daarop dat oorbeweiding van hierdie veldtipe tot gevolg het dat ander Karoobossiesoorte soos onder andere ook die oneetbare Osteospermum armatum, in die toekoms meer belangrik sal raak, ten koste van Salsola tuberculata.

 

(b) Driedoringveld

Hierdie veld is duidelik onderskeibaar en kom meestal op die Duryka skalies en tilliet en die Ecca skalies voor. Die algemene ontblote geaardheid van die veld is nie weens natuurlike toestande nie, maar eerder die gevolg van oorbeweiding en gevolglike uitermatige hoë grondtemperature van die ontblote dele.

Salsola tuberculata word vandag nag in geïsoleerde lokaliteite gevind, maar Pentzia spinescens is die dominante bossies van die Driedoringveld. Die naam van hierdie veldtipe word afgelei van die struik Rhigozum trichototum wat in kolle en nou stroke dwarsdeur die gebied voorkom en sodoende 'n heuningkoek-verspreidingspatroon vorm. Sukkulente soos Ruschia ferox, R. muricata en R. leucanthera kom ook redelik algemeen voor.

Hoewel grasse nie 'n belangrike komponent uitmaak nie, is die dominante soorte die Stipagrostis spp, Enneapogon brachystachyus en Aristida curvata.

 

(c) Die semi-sukkulente Suidelike vorm van die Dorre Karoo

Salsola tuberculata is ook in hierdie geval die dominante bossiesoort, maar is in hierdie veld nie die uitsluitlike dominante nie. Die veld is meer gemeng met ander Karoo-agtige sukkulente soos Salsola glabrescens, Drosanthemum spp en Euphorbia stolonifera. Ander belangrike spesies wat voorkom is Eriocephalus spinescens, E. ericoides, Pentzia spinescens, Pteronia spp, Osteospermum sinuatum en Lycium spp. Stipagrostis obtusa en S. cilliata is die belangrikste grassoorte wat in hierdie vorm van die Dorre Karoo aangetref word.

 

 

4. SKYN DORRE KAROO (35)

Die Skyn Dorre Karoo vorm 'n oorgangstipe tussen die Dorre Karoo en Sentrale Hoër Karoo. Die weiveld was oorspronklik deel van die Sentrale Hoër Karoo, maar weens die hoë mate van indringing van spesies van die Dorre Karoo, verskil hierdie veld min van die Dorre Karooveld. 'n Groot aantal van die komponente van die Sentrale Hoër Karoo het egter behoue gebly.

Waar sandafsettings plaasgevind het, soos tussen Hopetown en Prieska, is grasse nog volop. Stipagrostis obtusa is egter die dominante gras in plaas van Eragrostis lehmanniana.

Die Dorre Karoosoorte wat in hierdie veldtipe vermeerder het, is veral Eriocephalus spinescens, Ruschia ferox, Salsola glabrescens, Monechma incanum en Stipagrostis obtusa.

'n Faktor wat die indringing van Dorre Karoosoorte bevoordeel, is die periodieke dorre klimaatstoestande wat voorkom. Die grasse en karoobossies kom in sulke toestande nie in blom nie en word dormant. Die spesies van die Dorre Karoo daarenteen, wat ingedring het is meer xerofities van aard en is in staat om te blom en saad te strooi. Gevolglik plant hulle meer aktief voort as die spesies van die Sentrale Hoër Karoo.

 

5. SENTRALE LAER KAROO (30)

Hierdie veldtipe is verwant aan die Dorre Karoo en kom ook op die plat en klipperige gebiede tussen Beaufort-Wes en Aberdeen voor. Klimaatstoestande is hier egter minder dor en die bedekking is derhalwe meer dig as in die geval van die Dorre Karoo. Pentzia incana, Salsola tuberculata, Eberlanzia vulnerans, Ruschia ferox en Eriocephalus spinescens is van die mees tipiese spesies van die bossiekomponent. Die hoë belangrikheid van Stipagrostis obtusa en S. cilliata in die graskomponent dui ook op die verwantskap van hierdie veldtipe met die Dorre Karoo.

Die Skyn Sentrale Laer Karoo (38) het 'n beperkte omvang en kom in die laer en platter dele van die vlak valleie onderkant die berge vanaf Aberdeen na Adelaide voor. Hierdie veldtipe het dieselfde spesies, maar is minder dig en nie so laaggroeiend as die Sentrale Laer Karoo nie.

 

6. ORANJERIVIER GEBROKE VELD (32)

Hierdie veldtipe beslaan 'n breë strook al langs die Oranjerivier. Rhigozum trichototum is die mees kenmerkende plant. Ander bome en struike wat hier voorkom, sluit in Acacia melifera var. detinens, Aloe dichotoma, Euphorbia avasmontana en Rhus lancea.

Barteria rigida, Chrysocoma tenuifolia en Felicia muricata is die belangrikste spesies van die bossiekomponent, terwyl Aristida diffusa en Eragrostis lehmanniana nader aan die rivier en Stipagrostis obtusa, S. cilliata en Eragrostis lehmanniana op die wyer sandvlaktes die dominante grasse is.

 

7. KAROOOGTIGE GEBROKEVELD (26)

Hierdie veldtipe word in drie variasies onderverdeel, naamlik die Grootkaroo, Kleinkaroo en die Grasagtige Bergstruikveld.

Sukkulente in hierdie veld is relatief onbelangrik, ten spyte van die feit dat die veld geleë is op die klipperige vlaktes wat feitlik totaal ontbloot is van grond.

Pentzia spinescens, Eriocephalus spinescens, Stipagrostis obtusa, Eneapogon scaber en Oropetium capense is die mees belangrike spesies van die Grootkaroo.

Die Kleinkaroo word onderskei van die vorige, deurdat 'n groter hoeveelheid struike en sukkulente voorkom. Mesembryanthemum-soorte kom volop in hierdie veld voor. Die feit dat min van hierdie vygiesoorte deur diere gevreet word, verklaar ook waarom die minder eetbare soorte tans toeneem, namate die talrykheid van vreetbare soorte weens selektiewe beweiding afneem.

Die mees tipiese struikgewas wat hier voorkom, is Euclea undulata, terwyl Eriocephalus ericoides, Pentzia incana, Galenia africana en Nestlera humilis die belangrikste deel van die bossiekomponent uitmaak. Grasse lewer 'n onbelangrike bydrae tot die bedekking. Eragrostis spinosa, Stipagrostis namaquensis, S. obtusa, S. cilliata en Aristida congesta is van die soorte wat meer algemeen voorkom.

Oorgangsones word tussen die Kleinkaroo en die Berg-Renosterbosveld en Fynbos, asook die Karooogtige Merxmuellera Bergveld gevind wat meer grasagtig is. Die suidelike aspekte is bedek met 'n digte, grasagtige struikveld, terwyl die noordelike aspekte bedek is met 'n struikagtige grasveld wat ingedring word deur Karoo- en Renosterbosveld.

Die Skyn Karoo-agtige Gebrokeveld (37) toon 'n duidelike ooreenkoms met die Grootkaroo, maar kom in 'n minder ariede deel voor. Die weiveld is digter, minder woestynagtig en meer hooggroeiend. Die grootste gebied wat deur hierdie veldtipe beslaan word, naamlik vanaf Aberdeen na Bruintjieshoogte langs die voet van die berge en op met die Groot Visriviervallei tot by Cradock, is waarskynlik die gevolg van die indringing van elemente van die Sentrale Laer Karoo en Karoo Gebrokeveld in 'n oop grasagtige struiksavanna. In dieselfde gebied afwaarts met die valleie van die Groot Visrivier, is hierdie veld die gevolg van die afbreking van Vallei Bosveld en weer eens die indringing van elemente van die Sentrale Laer Karoo.

 

 

8. SUKKULENTE KAROO (31)

Hierdie veldtipe kom in die laagliggende, warm Namakwaland kusstrook, Tanqua Karoo en Steytlerville Karoo voor.

Vygiesoorte soos Ruschia caroli R. bolusiae, R. viridifolia, Mesembryanthemum annuum en ander Mesembryanthemum-soorte is die belangrikste spesies wat op die sanderige kusvlaktes en klipperige rante van die Namakwaland-kusstrook voorkom.

Die gebied tussen die Tanqua- en Doornriviere is huidig geweldig uitgetrap en geërodeer en is feitlik geheel en al 'n woestyngebied. In die meer beskermde en bewaarde gebiede, is die stamlose vygiesoorte die belangrikste spesies wat voorkom.

Die Steytlerville Karoo is ook plat, maar die gronde is meer slikagtig as klipperig, sodat kruipende vygies soos Malephora uitenhagensis en Nycteranthus splendus hier meer algemeen voorkom. Hierdie kruipende soorte word veral belangrik in uitgetrapte en wind-geërodeerde dele. Grasse soos Aristida diffusa en die Stipagrostis spp kom verspreid voor.

In goed bewaarde veld van die Steytlerville Karoo is Pentzia incana, Salsola tuberculata, Eberlanzia vulnerans en Zygophyllum microphyllum van die belangrikste tipiese spesies wat aangetref word.

Die Skyn Sukkulente Karoo (39) kom aan die westekant van die Dorre Karoo en Skyngrasveld voor en word gekenmerk deur 'n yl bedekking van vygies en oorblyfsels van die Dorre Karoo. Ruschia robusta is die belangrikste plantsoort van hierdie veldtipe en kom verspreid oor die groot gruisagtige gebied voor. 'n Verdere belangrike sukkulent wat periodiek voorkom is Augea capensis.

 

9. WEIVElDTIPES VAN DIE BERGAGTIGE GEBIEDE

Die veldtipe met die grootste omvang op die berggebiede in die Karoo, is die Karoo-agtige Merxmuellera Bergveld (60), wat op die berge tussen Murraysburg, Graaff-Reinet, Middelburg, Steynsburg en Burgersdorp voorkom. Merxmuellera distich a is deurgaans die dominante spesie van hierdie veldtipe. Hoewel dit die natuurlike dominante van die rotsagtige sandsteendele mag wees, is Themeda triandra en Tetrachne dregei waarskynlik die natuurlike dominante spesies op doleriet en alle dele met voldoende grond. Elytropappus rhinocerotis, Euryops spp en Passerina montania is die belangrikste struike in hierdie veldtipe. Van die karoobossies is Pentzia globosa die volopste.

'n Gedeelte van die Karoo-agtige Merxmuellera Bergveld is vervang deur Karoo (42) en kom veral voor op die berge noord van Beaufort-Wes. Behalwe vir die enkele Merxmuellera distichapolIe, is hierdie veldtipe bykans nie onderskeibaar van die aangrensende, Skyn Sentrale Laer Karoo, Sentrale Hoër Karoo en Skyn Hoër Karoo nie. Karoo-indringing of vervanging, is die direkte gevolg van oorbeweiding van die Karoo-agtige Merxmuellera Bergveld wat in die droër dele voorkom. Hoewel veldtipes (60) en (42) dus vroeër dieselfde was, het die herstelproses na beweiding in die droër dele stadiger verloop en was die toestande hier dus gunstig vir die indringing van Karoo-elemente. Chrysocoma tenuifolia, Dimorphotheca cuneata, Walafrida saxatilis en Nestlera prostrata is enkele van die belangrikste tipiese spesies wat die Karoo-indringing verteenwoordig.

Die Berg Renosterbosveld (43) kom tussen Calvinia, Sutherland en Fraserburg voor. Elytropappus rhinocerotis is die dominante spesie van hierdie veldtipe. Volgens Acocks (1975) was hierdie veldtipe vroeër meer grasagtig, waarvan Merxmuellera stricta vandag die belangrikste oorblyfsel in die Karoo-verangde veld is.

Die Berg Renosterbosveld word omring deur die Westelike Bergkaroo (28) wat ook verder noordwes verloop tot in die distrik van Loeriesfontein. Laasgenoemde veldtipe kom voor in 'n gebied wat bestaan uit skalie- en sandsteenrante wat afgewissel word deur smal dolorietgange en koppies.

Die yl-bedekking bestaan hoofsaaklik uit bossies waarvan Eriocephalus ericoides, Pteronia spp, Euryops spp, Chrysocoma tenuifolia, Galenia- africana en Nestlera spp die belangrikste is.

Grasse is uiters skaars, dog Stipagrostis obtusa kom gelokaliseerd op waaisand en voorskootpedimente voor. Opslagplante na reëns dien ook as belangrike bron van voedsel vir die weidende dier in hierdie gebied.

Die Sukkulente Bergstruikveld (25) kom veral voor op die steil hange van die berggebiede in die Suidelike gedeelte van die Karoo. In die Jansenville-gebied strek hierdie veldtipe geleidelik afwaarts tot binne die Noorsveld. Dit is 'n tipiese digte struikveld met Portulacaria afra, 'n uiters gewenste weiplant as die dominante spesie. Ander belangrike bome en struike sluit in Crassula portulacia, Lycium austrinum, Euclea undulata en Pappea capensis.

Vir 'n reisiger deur die Karoo moet dit ook verrassend wees om selfs hier in die hart van die Karoo, Kaapse fynbos te sien. Dit kom dan ook veral in die suidelike bergreekse voor as die Skyn Fynbos-veldtipe (70). Belangrike spesies wat hiermee geassosieer word, is soorte soos Othonna spp, Euryops spp en Ursinia spp.

 

 

10. NOORSVELD (24)

Die Noorsveld beslaan die wye, golwende gedeelte van die Sondagsriviervallei, noord van die Suurberge. Euphorbia coerulescens (Noors) is die dominante spesie van hierdie veldtipe, terwyl struike en kleinerige bome soos Rhigozum obovatum, Grewia robusta, Euclea undulata, May tenus polyancantha, Capparis oleoides en Pappea capensis 'n gespikkelde voorkoms aan die veld verleen.

Weens die geweldige hoe mate van interspasiële beweiding tussen die Euphorbia-kolonies, is die grond in hierdie gebiede dikwels erg geërodeer en ontbloot. Pentzia incana, Eriocephalus ericoides, Euphorbia ferox en eenjarige plante soos Psilocaulon absimile is tipiese spesies wat tussen die Noorskolonies in uitgetrapte veld voorkom. Die hoë potensiaal van hierdie veld word egter weerspieël deur die groot hoeveelheid gewenste weiplante wat binne die Noorskolonies beskerm word. Voorbeelde hiervan is Setaria neglecta, Digitaria argyrograpta, Themeda triandra, Cenchrus cilliaris en Panicum maximum.

Die plantegroei van die Karoo en die groot verskeidenheid weiveldtipes wat hier voorkom, is vir die Karooboer vandag seker een van die belangrikste hulpbronne om aan die hoe produksie-eise wat aan ham gestel word, te kan voldoen. Om 'n kontinue produksie te handhaaf, is dit van uiterste belang dat ons die Karooweivelde leer ken, leer verstaan, oordeelkundig benut en bewaar. Hierdeur kan ons verseker dat die ryk verskeidenheid van hoe kwaliteit weiplante in die Karoo, nie slegs tot voordeel sal strek van die huidige grondbesitters nie, maar ook tot voordeel van die nageslagte wat daarvan afhanklik sal wees.

 

LlTERATUUR

ACOCKS, J.P.H., 1975. Veld Types of South Africa. Mem. Of the Bot. Surv. of S.A. No. 40.

BURCHELL, W.J., 1967. Travels in the interior of Southern Africa. C. Struik Pty. Ltd.. Cape Town.

 

Published

Karoo Agric 1 (1)