Last update: August 15, 2011 12:34:40 PM E-mail Print

 

Winsgewendheid van kleinveeboerdery in die Karoo

 

H van Jaarsveld

 

 

Die winsgewendheid van kleinveeboerdery in die Karoo is volgens die 1992/93-resultate van die Finrek-rekordstelsel steeds baie laag. Dit is veroorsaak deur lae produsentepryse, die voortdurende droogte oor die grootste deel van die Karoo, hoë voerkoste, asook laer produksie en reproduksie. Dit is die mening van mnr. Hentie van Jaarsveld, landbou-ekonoom van die Direktoraat Landbou-ekonomie op Grootfontein.

'n Goeie aanduiding van winsgewendheid is die netto boerdery-inkomste (NBI)/R100 kapitaalbelegging wat met boerdery gerealiseer word. Die gemiddelde NBI/R100 kapitaal-belegging van die Finrek-deelnemers in die Karoo het in die 5 jaar tot 1992/93 vanaf 10,1 tot slegs 1,6 % afgeneem. Die grootste daling het tussen 1990/91 en 1991/92 plaasgevind toe dit van 5,8 tot 1,8 % afgeneem het.

Die NBI/R100 kapitaalbelegging is 'n globale maatstaf van winsgewendheid, terwyl die bruto marge 'n aanduiding is van die winsgewendheid van die verskillende vertakkings van die boerdery. Die bruto marge per kleinvee-eenheid (KVE) word beïnvloed deur die kapitaal-inkomste (die resultaat van verkope en aankope, begin- en eindvoorraad), produkinkomste (wol- en bokhaarverkope) en die direk allokeerbare koste vir elke vertakking. Die uitwerking van produsentepryse en van die droogte is ook duidelik waarneembaar. Die Karoo gemiddelde bruto marge/KVE gedurende 1991/92 vir die onderskeie kleinveevertakkings, met die persentuele daling daarvan sedert 1988/89 tussen hakies, is soos volg: wolskape R35,33 (59,7 %), vleisskape R67,78 (24,8 %), en angoras R22,22 (58,5 %).

Gedurende 1992/93 het die Karoo gemiddelde bruto marges/KVE toegeneem, behalwe die van vleisskape wat tot R61,10 gedaal het.

Die grootste styging het by angorabokke voorgekom waar die bruto marge/KVE vanaf R22,22 in 1991/92 tot R71,31 in 1992/93 gestyg het. Die rede vir die styging is hoofsaaklik toe te skryf aan 'n agterskot betaling (ongeveer R18/KVE) deur die Sybokhaarraad aan produsente op vorige seisoene se produksie. Verder het die begin- en eindvoorraad-angorabokke van produsente ook minder verskil as in vorige jare toe die eindvoorraad elke jaar minder was weens vermindering of vervanging met ander soorte vee. Die Karoo gemiddelde bruto marge/KVE vir wolskape het tot R42,82 in 1992/93 gestyg.

In die Noordwes-Karoo het die gemiddelde bruto marge/KVE vir wolskape van 1991/92 tot 1992/93 van R50,92 na R38,04 gedaal en vir vleisskape van R61,74 na R50,43. Boerderytoestande was beter in die Groot-Karoo en die gemiddelde bruto marges/KVE vir wol- en vleisskape het onderskeidelik van R37,68 tot R47,80 en van R78,94 tot R83,77 toegeneem.

Die Karoo gemiddelde totale boerderykoste (uitgesluit rente en huur) het oor die afgelope 4 jaar met gemiddeld 9,3 % per jaar gestyg tot R113 626. In 1992/93 het dit met net meer as 7 % gedaal tot R105 209. Vir die Groot-Karoo het dit met 7% afgeneem terwyl daar in die Noordwes-Karoo 'n styging van 6% was. Dit was hoofsaaklik te wyte aan 'n styging in voerkoste as gevolg van die droogte.

Die vyf grootste koste-items (Karoo gemiddelde), met die persentasie wat dit van die totale boerderykoste uitmaak tussen hakies, is die volgende: depresiasie (24,3 %), voerkoste (17,0 %), brandstof en herstelwerk (15,4 %), voltydse arbeiders (14,3 %), bemarking en vervoer (14,0 %). Ander koste beloop 15,0 %. In die Noordwes-Karoo het voerkoste weens meer ongunstige boerderytoestande gemiddeld 28 % van die totale boerderykoste uitgemaak, teenoor 11 % in die Groot-Karoo.

Die effek van inkomsteverlaging en kostestyging op die ekonomie van kleinveeboerdery word duidelik geïllustreer deur die netto boerderyinkomste (NBI) uit te druk as persentasie van die bruto boerderyinkomste (BBI). In 1988/89 was dit 59,3 %, in 1990/91 41,9 % en in 1992/93 14,3 %. Dit is dus duidelik dat boerderykoste (die verskil tussen BBI en NBI) oor die afgelope 5 jaar baie toegeneem het, maar dat BBI weens genoemde redes nie in dieselfde mate kon styg nie.

Die vraag is nou wat die korttermynvooruitsigte vir kleinveeboerdery in die Karoo is. Met behulp van die vertakkingsbegrotings vir 1993/94 en die Finrek-gegewens, is die volgende drie tipiese boerderymodelle in die Karoo veronderstel en vooruitskouings is daarvolgens gedoen:

    * 'n Merinoboerdery in die Noordwes-Karoo

    * 'n Dorperboerdery in die Noordwes-Karoo

    * 'n Boerdery in die Groot-Karoo wat uit 70 % merino's en 30 % angorabokke bestaan.

Daar is van die veronderstelling uitgegaan dat vir elke boerderymodel drie veldsituasies kan geld, naamlik: (1) dit kan reën, die droogte word gebreek, maar produsente boer steeds met verminderde veegetalle; (2) die rampdroogte duur voort en daar word steeds met verminderde veegetalle geboer; (3) 'n optimistiese situasie waar die droogte gebreek word en boere volgens die aanbevole (departementele) drakragnorm boer.

In die Noordwes-Karoo was die gemiddelde getal KVE per plaas 1 388 vir 1992/93, terwyl daar met 1 797 KVE geboer kan word volgens die aanbevole drakragnorm. Die bruto marge/KVE vir merino's in die Noordwes-Karoo wissel van R27,01 in 'n rampdroogtejaar tot R58, 14 in 'n normale jaar volgens die 1993/94-vertakkingsbegrotings. Die beraamde NBI vir die drie genoemde situasies is onderskeidelik (1) R37 438, (2) -R5 756 en (3) R61 218 vir merinoboerdery in die Noordwes-Karoo. Die oorhoofse koste is op R43 260 geraam (Finrek-resultate, 1992/93). In die tweede situasie waar 'n rampdroogtejaar veronderstel word, beloop subsidies volgens die huidige stelsel R16 142. Indien huishoudelike uitgawes op R36 000 beraam word, is die surplus/tekort vir merino-boerdery in die Noordwes-Karoo (1) R1 438, (2) -R25 614 en (3) R25 218 onderskeidelik. Die merinoboerdery in die Noordwes-Karoo realiseer dus slegs 'n surplus indien met 1 797 KVE (volgetal) in 'n normale jaar geboer word.

Die dorperboerdery in die Noordwes-Karoo genereer teen dieselfde aannames 'n bruto marge/KVE van R85,15 in 'n normale jaar en R50,99 in 'n droogtejaar. Die NBI vir die drie verskillende situasies is onderskeidelik (1) R74 928, (2) R27 514 en (3) R111 192. Die aannames oor subsidies, oorhoofse koste en huishoudelike uitgawes is dieselfde as die van die merinoboerderymodel. Die dorperboerderymodel in die Noordwes-Karoo genereer in al drie situasies 'n surplus van onderskeidelik (1) R38 928, (2) R7 656 en (3) R75 192. Sonder subsidies gedurende 'n rampdroogte sal dit egter 'n tekort toon.

Indien die aanname gemaak word dat die surplus wat die boerderybegrotings oplewer as 'n paaiement op 'n langtermynlening vir 30 jaar teen gemiddeld 17% rente per jaar aangewend word, kan langtermynskuld van maksimum R147 000 deur die merinoboerderymodel in 'n normale jaar aangegaan word. Gemeet aan die huidige bates, is dit 'n skuldverhouding (Iaste/bates x 100) van 16,8 % vir die merinoboerdery. Die dorperboerderymodel in die Noordwes-Karoo Iyk beter met 'n maksimum skuldverhouding van 24,3 % in 'n normale jaar, al word daar met verminderde veegetalle geboer. Dit is belangrik om daarop te let dat die aanname oor skuld in die voorbeeld impliseer dat daar nie van korttermynskuld soos 'n oortrokke bankrekening gebruik gemaak is nie.

Die Groot-Karooboerderymodel het bestaan uit 70 % merino's, 30 % angoras en 'n kleinskaal-gewasvertakking vir voerproduksie. Waar boere met verminderde veegetalle boer, is 2 060 KVE in die begrotings gebruik. Indien hulle teen volle drakrag boer, is 2 688 KVE gebruik. Die totale bruto marge vir elke situasie is dan so os volg: (1) R114 957, (2) R100 209 en (3) R151 450. Die oorhoofse koste beloop R91 365 (Finrek-resultate, 1992/93). Die NBI beloop onderskeidelik (1) R23 592, (2) R8844 en (3) R60 085 vir elke situasie. Die subsidiebedrag is R25 201 in 'n rampdroogtejaar. Huishoudelike uitgawes is beraam op R36 000 en die moontlike surplus/tekort vir elke situasie is: (1) -R12 408, (2) -R1 955 en (3) R24 085 in 'n normale jaar met volgetalle vee. Boerdery in die Groot-Karoo kan dus volgens die begroting slegs in 'n normale jaar, op volle drakrag, vreemde kapitaal aantrek. Gemeet aan die huidige bates en met dieselfde aannames soos reeds by die Noordwes-Karoo beskryf, is 'n maksimum beraamde skuldverhouding van 13,9 % moontlik.

Depresiasiekoste is deel van die totale boerderykoste. Dit is egter 'n niekontantkoste wat as 'n vervangingsreserwe opsygesit of belê moet word. Soos egter blyk uit die surplusse/tekorte en beraamde skuldverhoudings vir die Noordwes-Karoo en die Groot-Karoo, kan daar onder die huidige boerderytoestande min of geen vreemde kapitaal aangetrek word nie. Produsente gebruik tans hierdie vervangingsreserwe (depresiasiekoste) om skuld te delg en in sekere gevalle selfs om huishoudelike uitgawes te dek. Die gemiddelde kleinveeprodusent in die Karoo wat as gevolg van veldbewaring en droogterisiko's amper nooit sy aanbevole (volle) drakrag kan benut nie, se likiditeit raak dus al meer beperk.

Soos vroeër aangedui, speel voerkoste in lye van rampdroogtes 'n groot rol in die verlaging van die netto boerderyinkomste. Indien die droogte in groot dele van die Karoo gebreek word, sal dit 'n positiewe invloed op die winsgewendheid van kleinveeboerdery hê, ten spyte van lae produsentepryse. Produsente moet in die geval nie sonder deeglike voorafbeplanning en begroting, skuld aangaan nie, aangesien dit hul finansiële posisie ernstig kan benadeel.

 

Published

Karoo streeknuusbrief 1