Last update: April 11, 2012 11:25:51 AM E-mail Print

 

Wintergraan-proewe op die Landbouskool Grootfontein

J. G. Marais

 

NIE te lank gelede nie, toe koring nog gereeld in die Unie ingevoer is en pryse nog betreklik hoog was, is dit algemeen erken dat lusern die beste gewas vir besproeiingsboere in die meeste dele van die Kaapprovinsie was. Koringbou is hoofsaaklik as 'n takboerdery beskou, aangesien koring op ou lusernlande goed groei en ook as 'n voorbereidingsgewas vir lusern gebruik is. In die laaste tyd het lusern, soos die meeste ander gewasse, maar lae pryse gehaal, en ten einde kop bo water te hou, het die besproeiingsboere 'n gewas begin verbou waarvan die prys om verskillende redes betreklik bestendig gebly het. Kennis van koringbou koringsoorte, ens., is vinnig opgedoen en koringopbringste het gevolglik in so 'n mate verbeter dat koringboerdery as 'n winsgewende onderneming beskou is.

Die akkerbouseksie van die Landbouskool Grootfontein is reeds vir 'n hele paar jaar met verskillende wintergraanproewe besig, en besproeiingsboere kon inligting verkry in verband met die verskillende aspekte van koringbou.

 

Geskikte soorte vir Verbouing

Aandag is in die eerste plek geskenk aan die vraagstuk van geskikte soorte vir verbouing en gedurende die afgelope 10 jaar is ongeveer 50 verskillende koringsoorte en -ondersoorte op Grootfontein uitgetoets. In die besproeiingstreke van die Kaapprovinsie is opbrings egter nie die enigste faktor wat in aanmerking geneem moet word nie. In die distrikte suid van Middelburg is roes 'n belangrike probleem, terwyl hierdie moeilikheid in die noordelike en noordwestelike Kaapprovinsie weer nie so 'n ernstige faktor is nie.

Waar koring onder 'n permanente besproeiingstelsel hoofsaaklik vir graan verbou word, kan middelmatig-vroeë of vroeë soorte gekweek word en van hulle is Pelgrim, Union 52, Lalkasarwali, Sterling, Beltista en Farrartrou die mees belowende soorte.

In die kouer streke word laat soorte gewoonlik verbou, veral waar daar van die vloedreëns in Maart en April vir ploeg- en saaidoeleindes gebruik gemaak word. Soms kan selfs laat soorte deur laat ryp vernietig word as te vroeg gesaai word; vandaar die gebruik om die koring een- of tweemaal in die winter te laat afvreet. Van die laat soorte kan rooi Egiptiese kleinkoring beskou word as die soort wat die meeste verbou word, hoewel baie boere nog Oubaard as 'n uiters geharde koringsoort beskou. Queen Fan lewer goeie opbringste maar is ongelukkig uiters vatbaar vir roes.

Opgemerk sal word dat hoewel die Stellenbosch-Elsenburgse Landboukollege 'n paar uitstaande nuwe soorte geteel het, hulle hoofsaaklik vroeë of middelmatig-vroeë soorte is, en ons is vandag nog van 'n paar ou soorte afhanklik om vroeg te kan saai. In die oostelike Kaapprovinsie bestaan daar 'n bepaalde behoefte aan verbeterde laat soorte, nie alleen vir die saaiboer nie maar ook vir die veeboer wat sy gesaaide een- of tweemaal wil laat afvreet voordat dit saadskiet.

Die gebruik om koring of enige ander wintergesaaide onder besproeiing net vir graan te verbou, voorspel niks goeds vir die toekoms nie. Daar bestaan klaarblyklik 'n gevaar van oorproduksie. Die plantvoedsel in die grond sal uitgeput raak, bemistingskoste sal toeneem en die wins dienooreenkomstig afneem.

Die gebruik om wintergraan aan diere te voer moet aangemoedig word. Waar dit gedoen word deur die diere die gesaaides te laat afvreet, is die beweidings koste uiters laag, daar die meeste geld aan omheining bestee moet word sodat 'n wisselweidingstelsel toegepas kan word.

Die probleme in verband met die verbouing van wintergraansoorte word hieronder kortliks bespreek.

 

Mededingende Gewasse

Waar permanente water beskikbaar is, kan wintergewasse vir 'n lang tyd met hierdie water natgemaak word wanneer dit nie vir die lusern nodig is nie. In die Karoo val die meeste reën in Maart en gewoonlik mag dit moontlik wees om in die somermaande te ploeg en in die herfs wintergesaaides in te sit sonder om die water te gebruik wat vir die laaste lusernsnysels nodig is.

Tot dusver is oorjarige wintergrassoorte in die kouer distrikte nie met veel sukses verbou nie. Mangelwortels en verwante wortelgewasse het weens insekteplae, hoë arbeidskoste en om verskillende ander redes nie populêr geword nie.

 

Voedingswaarde van Wintergewasse

Dis definitief vasgestel dat lammers daagliks 0,4 tot 0.5 lb. in gewig sal toeneem as hulle op wintergraanweiding loop. Met hierdie groeisnelheid sal kruisgeteelde lammers in ongeveer 4 maande vir die mark geskik wees.

Koeie wat daagliks 51 gallon melk lewer en drie keer per dag gemelk word, het hul melkvloei op wintergraansoorte alleen behou.

Hier kan vermeld word dat wintergraan op 'n groeihoogte van 6 tot 8 duim gemiddeld die volgende ontleding, gegee het: as, 16 persent vet, 4 persent ruproteïen, 22 persent ru-vesel, 22 persent en stikstofvryekstrak, 36 persent.

 

Drakrag van Wintergraan

Soos in die geval van die meeste weidingsgewasse verskil die drakrag aansienlik onder verskillende toestande. Onder proeftoestande is bevind dat wintergraan 10 skape per morg vir 4 wintermaande met 1 beweiding, 16 skape met 2 en 22 skape met 3 beweidings sal dra. Hierdie onderwerp word later in hierdie artikel onder die opskrif " Beweidingstelsels" breedvoeriger bespreek.

 

Die Beste Weidingsgewas

Rooi Egiptiese kleinkoring is 'n nuttige weidingsgewas. Dis vroeër as Algeriese hawer of stoelrog vir beweiding gereed, maar dis 'n bietjie stadiger as Kaapse sesry-gars. Dis smaaklik en herstel goed na beweiding. Daar bestaan ook 'n taamlik goeie mark vir die graan as daar uiteindelik ook nog 'n graanoes verkry word. Gars lewer hoë opbringste eerbare materiaal en het die hoogste drakrag van al vier die graansoorte. Weens die feit dat gars so vinnig groei en herstel, is minder kampe nodig as in die geval van ander graansoorte. Dis ongetwyfeld die beste weidingsgewas op goeie grondsoorte, veral as die boer nie 'n graanoes wil hê nie. Dis egter nie vir skraal grondsoorte geskik nie.

Onder boere is hawer blykbaar die geliefkoosde wintergraangewas vir beweiding, waarskynlik omdat dit op 'n groot verskeidenheid grondsoorte goed groei. Hierdie gesaaide is geskik om laat gesaai te word sodat daar weiding in die lente kan wees, maar dit kan nie vir beweiding in die middel van die winter aanbeveel word nie, omdat die afgevrete plante doodgaan as die temperatuur baie laag daal. Stoelrog is 'n nuttige gesaaide in koue streke, en waar vroeg geplant kan word. Hierdie gewas groei egter stadig en is nie so smaaklik as die ander wintergraansoorte nie.

 

Soorte wat Gekweek kan word

Onder hierdie opskrif kan 'n groot verskeidenheid soorte bespreek word. Dit moet duidelik verstaan word dat die beste soort wat gekweek kan word, sal afhang van die hoofdoel waarvoor die gesaaide verbou word. As die gesaaide, byvoorbeeld net eenmaal afgewei moet word en daarna moet saadskiet, kan die weiding maar as 'n bykomstige faktor beskou word en is die graanoes die vernaamste oorweging. Dis twyfelagtig of dit 'n boer sal betaal om die gewas te laat saadskiet waar dit drie maal bewei is. Die opbringste sal klein wees, die graan miskien nie eerste graad nie, en die koste van besproeiing, oes, ens., sal omtrent dieselfde wees as wanneer die gewas nie bewei is nie, terwyl daar baie minder tyd sal wees om die land vir 'n somergewas voor te berei. Die water wat gebruik word om 'n graanoes te produseer, kan met groter wins vir 'n somer-jaargewas of die eerste snysels lusern gebruik word. Om hierdie redes lyk dit asof dit beter sal wees om die gesaaides na 3 beweidings liewer 'n vierde en 'n vyfde keer te laat bewei as om dit te laat saadskiet.

Met 1 of 2 beweidings is die vermoë van die soort om te herstel en 'n goeie graanopbrings te produseer dus net so belangrik as die eetbare materiaal wat van 1 of 2 beweidings verkry word.

Waar weiding die vernaamste oorweging is, is blaarrykheid en die produksie van weiding, die maatstaf. Ons mag dus vind dat sommige van ons minder bekende soorte baie nuttig kan wees.

In 'n voorlopige proef met koringsoorte in die volgende hoeveelhede lugdroë materiaal in lb. per morg vir 3 beweidings verkry. Geen graanoes is verkry nie:-Oubaard, 9,600; Rooi Egiptiese kleinkoring, 9,200; Darlvan, 9,200; S.E. 872, 9,000; Queen Fan, 8,900; S.E. 873, 8,400; Joffre, 8,400; Gluretty, 8,200; Bobret, 7,700.

'n Betekenisvolle feit is dat die soorte Oubaard, Rooi Egiptiese kleinkoring, Darlvan en S.E. 872 naasteby 1,000 lb. meer graan per morg gelewer het as Gluretty en Bobret, wat albei goeie graanopbringste lewer. Op 'n basis van 2! Ib. lugdroë materiaal per skaap per dag, is dit die weidingsekwiwalent van 400 skaapdae per morg, of 'n verskil in drakrag van 3 skape per morg vir 4 maande.

 

Stadium waarop die Gesaaide Bewei moet word

Op die proefpersele word die gesaaides bewei wanneer hulle 6 tot 8 duim hoog is, hoewel hoër opbringste vir die eerste beweiding verkry word as die opbringste op 'n meer gevorderde stadium geneem word. Gedurende die seisoen 1934 het Rooi Egiptiese kleinkoring 'n opbrings van 960 lb. op die eerste stadium, 1,453 lb. op die tweede stadium en 3,510 lb. op die derde stadium gelewer. Die gesaaide is afgesny op die groeistadium wat dit elke maand bereik, naamlik, eerste stadium, 24/5/34; tweede stadium, 22/6/34 en derde stadium 24/7/34. Dit beteken nie dat die toename en opbrings 'n ooreenkomstige toename in drakrag sal meebring nie, want die ouer materiaal is growwer en baie van die stoppels word nie gevreet nie. Op die later stadiums toon die ontleding ook 'n swakker voedingswaarde aan:-

 

 

As

Vet

Ru-proteïen

Ru-vesel

Koolhidraat

Hawer voor 1ste stadium

Hawer voor 2de stadium

Hawer voor 3de stadium

16.64

15.78

16.07

5.15

5.70

4.88

22.73

22.08

17.96

20.96

18.13

20.68

34.52

38.31

40.41

 

As die winters straf is en die gesaaides stadig herstel, kan materiaal vir beweiding in die middel van die winter versamel word deur die gesaaides vroeg te plant wanneer klimaatstoestande nog warm is. Dan sal 'n groter hoeveelheid reserwe-materiaal beskikbaar wees.

 

Tyd Nodig om 'n Kamp te Bewei

Hierdie vraagstuk hang nou saam met die snelheid waarteen die gesaaide herstel en die aantal kampies wat nodig is. In 'n proef op kwartmorg-persele is bevind dat die afname in graanopbrings waar 16 skape die gesaaide in 12 dae afgevreet het, naasteby net so groot was as waar 8 skape 25 dae geneem het om die koring af te vreet.

Dit blyk egter dat 'n beweidingstydperk van 14 dae per kampie vir die eerste beweiding aangeneem moet word. Vir koeie met 'n hoë produksie, mag intensiewe beweiding wenslik wees om 'n kamp binne 'n week te laat afvreet ten einde die melkvloei op 'n konstante peil te hou.

 

Snelheid van Groei en Herstelling van Wintergraan

Die groeisnelheid van wintergraansoorte word definitief beïnvloed deur die heersende temperature. Ons vind byvoorbeeld dat as gars op 1 Maart gesaai word, dit 8 tot 10 weke later, sê ongeveer 1 Mei, vir beweiding gereed sal wees, en tensy 'n vroeë winter die groei vertraag, sal dit 8 weke later vir 'n tweede beweiding gereed wees. As gars egter op 15 April gesaai word, neem dit naasteby 3 maande om die 6 tot 8 duim stadium te bereik en sal dit gevolglik teen die middel van Julie gereed wees om deur die diere afgevreet te word. Met die koms van die lente kan dit in 5 tot 6 weke vir 'n tweede beweiding gereed wees. As gars, koring, hawer en rog op dieselfde tyd gesaai word, sal hulle in die genoemde volgorde vir beweiding gereed wees.

 

Graanopbrings na Beweiding

Die graanopbringste wat na 1 of 2 beweidings verkry word, kan met die opbringste van onbeweide gesaaides vergelyk word, maar hoewel die wintergraansoorte so vroeg as Maart vir beweiding geplant kan word, moet hulle nie voor April of Mei vir graan gesaai word nie. Al word gesaaides soos gars en koring laat in April gesaai, kan hulle nog deur laat ryp beskadig word as hulle nie afgewei is nie. Gars en koring wat in Maart gesaai is, kan nog deur ryp beskadig word nadat hulle eenmaal afgevreet is. Ten einde die resultate vergelykbaar te maak, moet die gewasse wat nie afgewei moet word nie, op die beste saaityd gesaai word. soos verwag kan word, verskil resultate ooreenkomstig die seisoene. Groter opbringste is dikwels van koring en gars verkry deur die gesaaides een- en selfs tweemaal te laat bewei. Die vernaamste rede vir toenames in opbringste was dat die onbeweide gewasse soms erg gely het deurdat hulle gaan Iê het en ook soms effens deur ryp beskadig is. Oor die algemeen sal een beweiding in gevalle waar die gesaaides normaal groei, net die opbrings effens verminder - 5 persent of so in die geval van koring en gars; met 2 beweidings kan die vermindering 20 persent of meer wees, en met 3 beweidings soveel as 60 persent en die graan wat geproduseer word, kan ook van swak kwaliteit wees: Een beweiding sal hawer- en rog-opbringste met 12 tot 18 persent verminder; 2 beweidings met 30 persent, terwyl 3 beweidings 'n vermindering van 60 tot 70 persent in die geval van hawer mag te weeg bring, maar in die geval van rog is die opbringste nie baie laer met 3 as met 2 beweidings nie.

Graanopbringste na beweiding verskil in so 'n mate van jaar tot jaar dat bogenoemde bevindings slegs beskou kan word as 'n algemene aanduiding van wat verwag kan word. Op goeie grond, waar sorgvuldige en stelselmatige beweiding beoefen word, behoort die verminderings ,egter bostaande persentasies nie veel te oorskry nie.

 

Beweidingstelsels

Voordat reëlings getref kan word om 'n gesaaide te laat bewei, moet mens weet wanneer die weiding nodig sal wees. Neem byvoorbeeld die volgende geval: - 'n Boer wil 500 vetlammers grootmaak en die ooie sal teen die middel van Mei begin lam.

Dit mag raadsaam wees om die ooie van die begin van Mei op goeie weiding te laat loop.

As die boer van die gesaaide ook nog 'n graanopbrings wil hê en dit net eenmaal wil laat bewei sal hy vir 500 skape minstens 50 morg grond nodig he, en as elke kamp 14 dae bewei word, minstens 10 kampe van 5 morg elk. Dit moet egter onthou word dat die lammers ook hul deel vreet, en dat hulle vanaf die derde maand feitlik net soveel as 'n uitgegroeide skaap sal vreet. As die hoeveelheid wat die lammers die eerste maand sal vreet geskat word op 'n kwart, die tweede maand op helfte, die derde maand op drie-kwart en die vierde maand op dieselfde hoeveelheid wat 'n uitgegroeide skaap sal opvreet, sal die trop in terme van uitgegroeide skape 625 vir die eerste, 750 vir die tweede en 875 vir die derde maand wees. Die vierde maand mag dit egter moontlik wees om die lammers te speen en die ooie weg te neem sodat die totale getal skape weer tot 500 verminder word.

Om dit te reël, mag dit nodig wees om kampe van verskillende groottes te maak, sodat die skape 14 dae in elke kamp gehou word; of anders kan die kampe ewe groot gemaak en die beweidingstydperk per kamp ooreenkomstig verander word. In die geval van laasgenoemde stelsel sal meer kampe nodig wees, en in die geval van eersgenoemde sal die volgende reëlings getref moet word: - 2 kampe van 5 morg elk vir Mei; 2 kampe van 5 morg elk vir Junie; 2 kampe van 6 morg elk vir Julie; 2 kampe van 7½ morg elk vir Augustus ; 2 kampe van 5 morg elk vir September. 'n Totaal, dus van 57 morge. Op 'n basis van 15 sakke per morg, sal 855 sakke verkry kan word as die gesaaide nie bewei word nie, terwyl beweiding die opbrings op hierdie oppervlakte met ongeveer 45 sakke sal verminder. Die koste om die 500 lammers groot te maak sal dus 45 sak koring, of 675s. = 1s. 4d., per lam wees.

Dit gebeur maar selde dat 'n boer genoeg grond beskikbaar het om die nodige hoeveelheid voer te kan verskaf waar die gesaaide net eenmaal bewei .word. In die voorbeeld wat hierbo aangehaal is, sal die vyf morg-persele wat in Mei afgevreet is, in Augustus vir 'n tweede beweiding gereed wees, en as die boer die gesaaide weer in Augustus en September wil laat afvreet, kan hy 25 morg minder land en 4 kampe minder gebruik. As al die kampe twee maal bewei word en die graanopbrings is 25 persent minder, sal onbeweide gesaaides 480 sakke lewer en dan sal die ooreenkomstige afname in hierdie geval 120 sakke = 1,800s. = 3s. 7d. per lam wees. Die omheiningskoste sal egter aansienlik laer wees.

Waar kampe agtereenvolgens vir weiding verskaf moet word, sal hulle 1-14 dae na mekaar, na gelang van die tyd van die jaar beplant moet word. Dit kan ook moontlik wees om al die kampe met een slag te beplant en hulle ewe groot te maak. Namate die lammers ouer word, sal sommige van die kampe ook meer gevorder wees en meer weiding verskaf.

Ten slotte kan gesê word dat die beweiding van wintergraansoorte, sommige van die probleme van die besproeiingsboer mag oplos, deur dit vir hom moontlik te maak om van kontantgewasproduksie tot vetlamproduksie oor te gaan. Waardevolle voer sal ook vir melkbeeste gedurende die wintermaande beskikbaar wees, maar dit moet goed besef word dat die resultate wat in verskillende streke verkry sal word, baie van mekaar sal verskil.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 11