Last update: April 4, 2012 07:17:18 AM E-mail Print

 

‘N WITWOL-VLEISSKAAP VIR EKSTENSIEWE SKAAPWEISTREKE


Die doelstelling van die navorsingsprojek wat in Mei 1969 op die Carnarvon-proefstasie begin is, is om deur middel van die voorafbeplande kruising van verskeie witwol- en withaar-skape met die Merino,'n witwol-vleisras te ontwikkel waarin die voortreflike wolkenmerke van die Merino gekombineer word met die hoër aanteelvermoë en goeie vleisbouvorm van bestaande witwol- en withaarskape. Vanselfsprekend sal so 'n skaap aansienlik minder wol as die Merino lewer. Sulke wol moet egter sonder steekhaar wees. Verder is die doelwit ook dat hierdie nuwe ras gehard moet wees om slaglammers onder ekstensiewe toestande te produseer. Die ras sal egter ook die vermoë moet besit om gedurende gunstige seisoene die ekstra energie te benut vir die produksie van wol, sodat daar nie 'n onwenslike vetaanset sal wees nie.

Omdat Merino-ooie volop beskikbaar is, redelik aangepas is by ekstensiewe skaapboerderytoestande en 'n goeie fynwol produseer, word die Merino as moederooi vir hierdie rasontwikkelingsprogram gebruik.

Om die voortreflikheid van vleis-wolrasse in verskillende kombinasies uit te toets, is die Dorset Horn en die Suid-Afrikaanse Vleismerino as vaders gebruik. Om die gehardheid en aangepastheid van inheemse skape in te bring sonder om gekleurde vesels mee te bring, is van blinkhaar-ronderib-Afrikaner-, van Wit Dorper- en van Van Rooyramme gebruik gemaak.

As 'n vergelykingsmaatstaf vir die voortreflikheid van die nuwe rasontwikkelingsgroepe word daar ‘n teelgroep Wit Dorpers sowel as 'n groep Merino’s volgens dieselfde metodes as die kruisgroepe geselekteer.

Die skematiese voorstelling hiernaas toon aan watter raskombinasies almal in die telingsprogram gebruik word.

 

 

Wat die seleksiemetode betref, word die aantal lammers wat 'n ooi produseer en die groeisnelheid van lammers tot op twaalf maande ouderdom by al die afsonderlike teelgroepe as hoofseleksiemaatstawwe gebruik. Waar nodig word teen swak bouvorm en ongewenste vetverspreiding, tipe, kleur en bedekking (wat steekhaar insluit) geselekteer.

Al die skape in hierdie proef word as 'n kudde-eenheid onder veldtoestande op die Carnarvon-proefstasie aangehou. Die voorsiening van lekke, dosering, inenting, verskuiwing na ander kampe ensovoorts geskied volgens standaard aanbevelings vir doeltreffende boerderybestuur AIle skape word indiwidueel met behulp van genommerde oorplaatjies geïdentifiseer.

Handdekking word gedurende die lentemaande toegepas. Die lammers kom dus in die herfs aan en kan die gunstige veldtoestande benut om te wys wat in hulle steek. Lammers word op ongeveer 100 dae ouderdom gespeen en op ses maande ouderdom en jaarliks daarna geskeer. Wolmassa vir elke skaap word bepaal. Laboratorium-ontleding van wolmonsters word ook gedoen.

Van die 900 Merino-ooie wat vanaf Mei 1969 vir paring beskikbaar was, is 763 gedek. Hiervan het 612 ooie gelam, 691 lammers is gebore en 619 hiervan is gespeen.

Soos boere in die Karoo sal onthou, was dit gedurende die lente en somer van 1969 uiters droog en hierdie lammers het redelik swaar grootgeword.

Gedurende die lente van 1971 is die eerste kruisooie (F 1 -nageslag) volgens die program met die onderskeie ramme gepaar.

Om die getalle op te bou, sal hierdie parings jaarliks herhaal word totdat die ooie weens ouderdom uitgeskakel word.

Die eerste groep van die F2 -nageslag wat vroeg in 1972 gebore is, is reeds gedurende die lente van 1973 gepaar. Die eerste F 3-nageslag is dus vroeg in 1974 gebore.

Die beste ramme binne elke groep word jaarliks in die eerste plek op grond van groeitoename uitgesoek. Hierdie groeitoename is 'n samevatting van voorspeense en naspeense groei tot op 'n ouderdom van twaalf maande. Die nodige korreksies vir ouderdom en geboortestatus word speenouderdom aangebring. In die tweede plek word ramme uitgesoek wat nie steekhaar, kleur en onwenslike vetlokalisasie toon nie. Daar word ook so ver moontlik net van poenskopramme gebruik gemaak vir teeldoeleindes.

Alhoewel die proef nog maar in 'n vroeë stadium is, is die volgende waarnemings reeds van belang:

 

In die geheel gesien, is daar dus groepe wat reeds baie goed vertoon en wat met die nodige seleksie oor die volgende paar generasies na aan die vooropgestelde ideaal kan kom.

 

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie 1974