Last update: August 16, 2011 04:02:00 PM E-mail Print

 

Wolmonsterneming  -  die korrekte metode

 

G.J. Delport, A.J. Watermeyer en A.G. Botha

SA Vagtoetssentrum, Irene Diereproduksie-instituut, Middelburg KP, 5900

 

INLEIDING

Die akkuraatheid van prestasietoetsgegewens word bepaal deur die noukeurigheid waarmee praktiese voorskrifte nagevolg word. Die relatief hoë pryse wat in die onlangse verlede ten opsigte van ramme met fyner wol gerealiseer is, het daartoe gelei dat veral die met ode van monsterneming as akkuraatheidsfaktor besondere aandag geniet.

 

TOEPASLlKE METODE

Die wetenskaplik algemeen erkende metode van wolmonsterneming is om aIle monsters op presies dieselfde plek op die midrib van elke skaap te neem. Ten einde moontlike alternatiewe asook die sensitiwiteit van hierdie tegniek te ondersoek, is die volgende ondersoek by die SA Vagtoetssentrum uitgevoer.

 

Daar is ses vagte gebruik om variasie in veseldiktelesings te ondersoek, naamlik een fynwolkampioen ooivag en 'n ramvag uit Australië asook vier vagte van tipiese Merinostoetskape. Wolmonsters is op 26 verskillende plekke (13 monsters simmetries op elke sy, Fig. 1) op elk van die vier tipiese Merinostoetvagte geneem. Daar is ook 26 monsters van die twee "ingevoerde" vagte geneem. Aangesien die monsters nie akkuraat geneem kon word op die twee klaar afgeskeerde vagte nie, word lesings ten opsigte van individuele vagdele nie aangebied nie.

 

RESULTATE

Die resultate in Tabel 1 dui daarop dat daar groot verskille ten opsigte van die variasie in veseldikte tussen verskillende vagte kan voorkom. Die ingevoerde ooivag (vag nr.1 in Tabel1) het die grootste mate van variasie in veseldikte getoon terwyl die ingevoerde ramvag (nr. 2 in Tabel1) die minste variasie (2,1 %) getoon het. Variasie in die metings op die ander vier vagte het binne nou grense rondom 4 % gevarieer. Dit is dus duidelik dat die vooraf uitmerk van die monstememingsplek uiters kritiek is by vagte met 'n hoë mate van variasie.

 

In geval van die twee ingevoerde vagte is twee monsters per vag saamgestel uit stapels wat ewekansig oor die totale vag geneem is. Die lesings van hierdie twee saamgestelde monsters het gemiddeld met 1,32 en 0,05 μ., onderskeidelik, van die algehele gemiddeldes verskil. Dit kom dus voor asof hierdie metode van monsterneming me in aIle gevalle betroubaar is nie.

 

In Tabel2 word afwykings ten opsigte van die lesings op verskillende vagdele vanaf die algehele gemiddelde aangetoon. Hierdie resultaat wat met 208 lesings op vier vagte verkry is, lyk op die oog af nutteloos. Selfs die midribmonster (+ 0,44 μ) verskil van die algehele gemiddeld. Daar moet egter in gedagte gehou word dat hierdie verskil oor slegs ses vagte ver minder is as die variasie wat in 'n tipiese lammeroes voor seleksie voorkom. Die standaardafwyking (maatstaf van variasie) vir 'n kudde Merinoskape is byvoorbeeld deur Erasmus (1988) as 1,21 mikron aangedui. Dit is dus duidelik dat behoorlike monstering akkurate massaseleksie van groot groepe tydgenote tot gevolg kan hê.

Die resultate van hierdie ondersoek (Tabelle 1 en 2) bevestig nie net dat die midrib die geskikste plek van monsterneming is, nie maar ook dat "fyner na voor en na onder" 'n algemene tendens is. Dit is verder duidelik dat klein afwykings vanaf die midribposisie van monstering misleidende resultate tot gevolg kan hê.

Hoewel daar dus nie so iets soos 'n "absoluut korrekte veseldikte" vir elke skaap bestaan nie, is betroubare vergelykings op grond van akkurate prestasietoetsprosedures tog moontlik. Op voorwaarde dat voorskrifte akkuraat gevolg word, is dit dus moontlik om binne 'n groep tydgenote te bepaal watter skaap die fynste, tweede fynste, ens. is.

Met volledige prestasietoetsing wat op die toepassing van BLUP-tegnologie gebaseer is, kan die beperking ten opsigte van groepe wat dieselfde bestuur is, natuurlik oorkom word. Telers wat oor die nodige ouerskap-inligting beskik, behoort die nasionale skema dus in hierdie verband te ondersteun.

 

PRAKTIESE WENKE

Wat plaasprosedures betref, kan die volgende maatreëls dividende lewer wat nie gering geskat kan word nie:

 

OPSOMMEND

Hoewel ander kenmerke soos skoonwolproduksie, liggaamsmassa en plooitelling ook akkuraat bepaal moet word om uiteindelik sinvolle telingsbesluite te neem, kan die genoemde resultate en wenke aansienlik daartoe bydra om die huidige verwarring oor veseldiktemeting uit te skakel.

 

DANKBETUIGING

Die outeurs bedank mnre. J.A. Roux, S.P. Naudé en dr. J.J. Olivier van die Karoostreek vir hulp met die insameling Van die proefmateriaal.

 

VERWYSING

ERASMUS, G.J.., 1988. A mixed analysis of a selection experiment with Merino sheep in an arid environment. Ph.D. dissertation, Univ. Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.

 

Published

Karoo Agric 4 (4) (18-19)