Last update: April 11, 2012 11:52:14 AM E-mail Print

 

Wolklassering en die Nuwe Standaarde van die N.W.K.V.

F. J. Labuscagne

 

DEUR die sterk kompetisie op die wêreld se marke het dit noodsaaklik geword om elke produk te gradeer volgens gehalte alvorens dit op die mark vir verkoop aangebied word. Daar kan dus geen uitsondering gemaak word met ons grootste landbounywerheid nie, nl. wol. Terwille van die goeie naam van Suid-Afrikaanse wol is dit die plig van elke wolskaapboer om nie alleenlik hom toe te Iê op die kweek van wol van goeie gehalte nie, maar ook om dit op die beste manier te verpak vir die mark.

Deur klas van wol word bedoel die verdeling van vliese of dele daarvan in grade of lyne volgens sekere eienskappe sodat daar sover moontlik egaligheid sal wees in elke graad of lyn.

Dit is nadelig en baie slordige werk om alle wol, net soos dit van die skape afkom, in een lyn in die bale te pak.

Die doel van wolklas is om kompetisie uit te lok en daardeur meer geld vir die produsent se produk te verkry. Dis verkeerd om 'n skeersel op te brokkel in te veel en onnodige lyne. Doeltreffende klassifikasie kan uitgevoer word as gehandel word volgens die instruksies en klasstandaarde van die Nasionale Wolkwekersvereniging wat die goedkeuring het van die Departement van Landbou en Bosbou. Hierdie instruksies en verduideliking van die standaarde word gratis aan boere onderrig deur die skaap- en wolbeamptes van die Departement deur middel van 4- tot 5-daagse wolklaskursusse op plekke of plase waar die deur wolkwekers- of boereverenigings gereël kan word.

Daar skyn 'n misverstand te wees by sommige boere omtrent hierdie nuwe wolklasstandaarde. In werklikheid is die verskil tussen die oue en nuwe standaarde baie gering en dan nog ten voordele van die boer self. Die feit dat daar gedurig veranderings, byvoegings en aflatings gemaak was aan die ou standaarde het bewys dat daar 'n leemte of tekortkoming was. In die ou standaarde was daar 'n beperkte aantal klasse gegee en as die boer minder lyne wou maak, moes hy sy toevlug neem tot groepering en, deurdat in baie gevalle 'n sekere mate van kennis vir hierdie werk ontbreek, word die groepering soms verkeerd toegepas en die klassifikasie van die skeersels is 'n mislukking. Die werk van wolklas het dan so ingewikkeld voorgekom vir die gewone boer dat hy hom liefs nie daarmee wou inlaat nie. Die gevolg was dat net sommige boere op die standaarde wou klas en andere het hul eie en enige metode van wolklas gevolg.

Volgens die minimum-vereistes van klassering in die nuwe standaarde is daar alleenlik verskil in beginsel, nl. die manier van toepassing en nie 'n verskil in die maak van lyne nie.

 

Hoofvereistes vir Klassering

Met die opstel van die nuwe standaarde is rekening gehou met twee groot feite: Eerstens, kan die oorgrote meerderheid van elke skeersel in ons land gegroepeer word onder een van die twee klasse van skeersels wat aangetref word, nl. (a) 'n medium sterkwol- en (b) 'n medium fynwolskeersel. Tweedens is daar die korrelasie of verhouding tussen fynheid en lengte van vesel, nl. hoe sterker, hoe langer; en hoe fyner, hoe korter wol. Hierdeur word egaligheid van spintelling grotendeels in die lyne gehandhaaf.

Waar die boer dan eers die klasse wol moes groepeer om minder lyne te maak, word onder die nuwe standaarde vir hom gewys wat die minste is wat hy behoort te doen, en as hy hierdie kennis het en sy skeersel is daarna kan hy daarop uitbrei, soos hy verkies, in net soveel en presies dieselfde lyne as onder die ou standaarde.

Verder word, dit besef dat klassifikasie van wol volgens al sy eienskappe' soos lengte, spintelling, kwaliteit, kondisie en kleur ideaal sou wees, maar totaal onprakties en onmoontlik as ons rekening hou met die grootte van S.A. skeersels waar die gemiddelde maar klein is. In groot skeersels kan volgens meer besonderhede geklas word mits die klasser die nodige kennis daarvoor het.

Die sorteerders in die fabrieke kan wol maklik sorteer vir enige eienskap behalwe vir lengte. Na bale gekragpers is, is sortering vir lengte haas 'n onmoontlikheid geword. Wol kan met die grootste mate van suiwerheid volgens hierdie eienskappe geklas word. Dit is nie die geval met meeste van die ander belangrike eienskappe nie, soos bv. spintelling, ens. Deur sekere noukeurige mikroskopiese metinge is bewys dat die aanduiding van spintelling beoordeel volgens grootte van kartel heelwat foutief is. Daar is groot variasies van spintelling in individuele vliese en selfs in dieselfde stapel van 'n vlies. Boonop is die standaard van vasstelling van spintellings by kopers baie verskillend. Met al hierdie eienskappe kan die wolklasser alleenlik 'n poging aanwend om 'n sekere mate van egaalheid in sy lyne te verkry en laat die sorteerwerk grotendeels aan die fabrikant oor wat sy personeel het om wol, wat hy vir sy doel bymekaar wil hê, uit te sorteer. Volgens die nuwe standaarde word nie net uitsluitlik volgens lengte geklas nie, maar lengte word as die primêre basis vir klas van wol geneem.

 

Hoe om te Klas

As die onderstaande standaarde en instruksies vir die minimum vereistes van klas van wol noukeurig nagegaan word dan vind ons dat die eerste vier punte veral betrekking hot op die bewerking van elke vlies nl., afskeer van die teermerke en die behoorlike afranding van die vliese. Die afrandsels word opgedeel in drie grade, nl., Lox, BKS, en BP. In punt No. 10 word die instruksies omtrent afgerande vliese gegee. Volgens egaligheid of verskil van lengte kan een, twee of drie klasse gemaak word en elke lyn sal wonderlik egalig wees as voldoen word aan die vereiste om van elke lyn vliese te verwyder wat merkbaar sterker of swaarder of minder aantreklik is.

Hierdie uitskot-vliese kan ingewerk word by een of ander van die byklasse waar hulle beste pas. Indien in groot hoeveelhede, kan aparte lyne gemaak word, bv. al die swaar en onaantreklike bymekaar en as sulks 'n swaar lyn. Die sterker vliese kan gewoonlik by XM geklas word, of indien te veel, dan as 'n aparte sterkwollyn. In Nos. 5, 6, 7,8 en 9 word tipes wol behandel wat altyd apart gehou moet word.

Indien die skeersel dit regverdig en die klasser besit die nodige kennis, behoort volgens die uitgebreide standaarde geklas te word. Dit is maar presies soos die ou standaarde was, nl., klas van vliese streng volgens lengte en spintelling, inagnemende kondisie, kwaliteit, ens.

Die simbole vir vlieslyne in die ou standaarde het heelwat te wense oorgelaat. Daar was as 't ware aparte simbole vir Engels en Afrikaans, wat baie verwarring vir die kopers moes veroorsaak. Dit was ook nog boonop baie ingewikkeld. Die nuwe simbole voorsien dus in 'n baie groot behoefte en die boere behoort dit oral toe te juig. Die simbole staan alleenlik vir grade van wol en is baie beskrywend en eenvoudig.

 

N.W.K.V. Wolklasstandaarde

Instruksies wat Minimum Vereistes van Klassering Voorskrywe.

 

 

MERK

1

Teermerke -Knip alle merke van skape af voordat met

skeerdery begin word, en merk bale

 

ABR

2

Lox  - Verwyder sweetwol en urinebevlekte wol van die vag en

pens, ook harige stukkies en pootjiewol. Sien toe dat

urine-bevlekte wol droog is en dat geen miskloste ingesluit is nie. Merk

 

 

LOX

3

Sanderige Rugwol -Verwyder die baie sanderige, tingerige en

verweerde rugwol van die vag. Merk

 

BKS

4

Afrandsels -Verwyder pens- of buikwol, punte, kort stukkies,

Saderige kante, nekvoue en growwe broeke van vagte en merk

 

BP

5

Growwe Wol -Hou alle growwe en swakkerige wol, wat nie van

Merinokwaliteit is nie afsonderlik en merk

 

XM

6

Dooie Wol -Alle wol gepluk of geskeer van gevrekte skape

moet afsonderlik gehou word, want dit kan miskien die

draer wees van gevaarlike siektes; insluiting van dooie

wol met ander wol sal onverbiddelik afgeskeer word. Merk

 

 

 

PLK

7

Vetwol -Hou alle wol, wat geskeer is van geslagte skape afsonderlik

en merk dit

 

VEL

8

Ramwol -As ramwol rammerig is, moet dit afsonderlik gehou word.

(As daar nie genoeg is nie kan dit met XM gemeng word.) Merk dit

 

RAM

9

Lammerwol -Hou alle lammerwol afsonderlik

(Harige lammers behoort verwyder te word voordat geskeer word.) Merk

 

L

10 Vagte -Klas die gesonde vagte van Merino-kwaliteit ten minste

Volgens lengte, sodat soveel moontlik eweredigheid verkry word en dat in ieder geval geen groter lengte-verskil as lam. ingesluit word in enige lyn nie. Die enkele tingerige vagte moet ingesluit word met BKS of BP waar dit die beste pas. Verwyder alle uitsonderlike vagte wat merkbaar sterker (growwer) of swaarder of minder aantreklik is as die gemiddelde van die skeersel. Merk ooreenkomstig die kortste wol in die lyn.

Superkamwol, minimum lengte 2½ duim

Kamwol, minimum lengte 2¼ duim

Kort Kamwol, minimum lengte 1¾ duim

Superkortwol, minimum lengte 1¼ duim

Kortwol

 

 

 

 

A

B

C

D

E

 

Aanbevelings in verband met Uitgebreider Klassering

Eweredigheid is die kardinale vereiste van goeie klassifikasie.-Die instruksies hierbo skrywe absoluut minimum vereistes van klassering voor. In baie gevalle sal strenge nakoming van die minimum-vereistes sommige van die klasse egter onwenslik oneweredig laat. Waar merkbare oneweredigheid in 'n lyn voorkom, moet dit uitgeskakel word deur een of twee addisionele lyne te maak.

  Merk

Afrandsels -Waar die BP oneweredig is wat lengte en

kondisie betref, verwyder die ligste buik- en puntwol

wat 1¾ dm. en meer is, en merk

 

 

CBP

Die orige korter en swaarder buik - en puntwol sal

dan gemerk word

 

BP

As daar enige blykbare voordeel is kan die lang

ligte buikwol van 1¾ dm. en meer afsonderlik gehou en

gemerk word

 

 

CB

So ook mag lang ligte punte van 1¾ dm. en meer

afsonderlik gehou en gemerk word

 

CP

Lammerwol.-As daar genoeg Hoggets en tang lammers

van 2 dm. en meer is, hou afsonderlik en merk 

H

Lang lammers van 1¼ dm. en meer, merk

LL

Die kortste lammers word dan gemerk

L

In 'n groot skeersel kan ook lammerlox afsonderlik gehou

en gemerk word

 

L LOX

 

 

Vagte.-Wanneer daar 'n merkbare oneweredigheid met betrekking tot fynheid voorkom in die vaglyne, behoort die lengte-klasse ook volgens fynheid geklas te word. Daar is voorsiening gemaak vir drie fynheidsklasse vir elke lengteklas (1) fynwol (70's en oor);. letter F; (2) mediumfynwol (64/70's), letter M, en (3) sterkwol (60/64's), letter S. Die volledige lengtefynheid klasse kan dus as volg in tabelvorm opgestel word:-

 

Superkamwol 2¾ dm. en oor         

Kamwol 2¼ dm. en oor                 

Kort Kamwol 1¾ dm. en oor            

Superkortwol 1¼ dm. en oor          

Kortwol onder 1¼ dm.                     

 

Dit moet egter onthou word dat die minimum-lengtes hierbo voorgeskrywe net van toepassing is op medium-fyn wol. Vir 'n sterkwol-skeersel moet die minimum lengte vir elke lengte-klas vermeerder word met ¼ dm. en vir 'n fynwol-skeersel kan dit verminder word met ¼ dm.

Merk ooreenkomstig die kortste en sterkste wol in elke klas wat gemaak word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 10