Last update: March 30, 2012 01:51:32 PM E-mail Print

 

DIE ROL VAN WOLKWALITEIT IN DIE LIG VAN OBJEKTIEWE METING.

G ERASMUS

S A VAGTOETSSENTRUM 

 

 

INLEIDING

Die term "kwaliteit" van wol verwys tradisioneel na die duidelikheid en reëlmatigheid van karteling, die sagtheid van aanvoeling en die aan- of afwesigheid van vreemde vesels. Dit het niks met veseldikte of kartelfrekwensie te doen nie. Fyn en sterk wolle kan derhalwe albei goeie kwaliteit besit. Aanvoeling ken egter ook beïnvloed word deur "lywigheid" wat weer deur veseldikte en kartelfrekwensie en veral deur die kartel : veseldikteverhouding bepaal word. Daar moet dus 'n duidelike onderskeid tussen "sagtheid" en "lywigheid" getref word. By 'n goeie kwaliteit Merinowol, ken "lywigheid", of meer wetenskaplik genoem weerstand teen saampersing of saamdrukbaarheid, redelik akkuraat bepaal word deur die produk nd, waar n = kartelfrekwensie en d = veseldikte. Sagtheid van aanvoeling kan natuurlik ook deur die wololie en die teenwoordigheid van byvoorbeeld sand beïnvloed word.

 

HISTORIESE OORSIG

In 1929 het prof Deurden 'n duidelike verband tussen kartelfrekwensie en veseldikte by Suid-Afrikaanse wol gevind. Dit het gelei tot die opstelling van die nou bekende "Deurden-standaarde". Heelwat ander standaarde waaronder die A S T M-standaarde seker die bekendste is, is opgestel. Dit het daarop neergekom dat kartelfrekwensie gebruik is om veseldikte te beraam wat weer na 'n spintelling omgesit is. Dit moes die spinvermoë van die wol aantoon en is ook na verwys as''quality'' wat terloops niks te make het met die Afrikaanse term "kwaliteit" nie. Die verskillende standaarde het grootliks van mekaar verskil met die gevolg dat daar bitter min eenvormigheid in die wolhandel voorgekom het.

In die begin dertigerjare is die NWKV-klasstandaarde opgestel. Dit was 'n besondere belangrike ontwikkeling want hiermee saam is ook duidelike riglyne neergelê wat die vereistes waaraan wol moes voldoen betref. Een van hierdie vereistes was ten opsigte van kwaliteit wat basies dieselfde definisie gegee is as wat dit vandag nog het. Die byna oordrewe aandag wat aan kwaliteit gegee is, was geheel en al regverdig. 'n Groot deel van die skaapbevolking was nog in die proses van opgradering en heelwat harde, byna reguit vagte het voorgekom waarteen gewaak moes word tydens seleksie en wat in die skeerhuis spesiale behandeling moes ontvang. Om die wol in fynheidsklasse te verdeel, is kartelfrekwensie as maatstaf gebruik gebaseer op die Deurdenstandaarde.

 

HUIDIGE POSISIE

Een van die belangrikste gevolge van objektiewe meting was dat die term spintelling en "quality" (maar nie "kwaliteit" nie) van die toneel verdwyn het. Dit was ‘n logiese stap aangesien wol seIde tot die spintelling waarvoor dit aanvanklik waardeer is, gespin word en omdat verskillende vervaardigers verskillende lengtes garing van dieselfde veseldikte wol spin. Die Babelse verwarring wat die verskillende standaarde meegebring het is derhalwe gelukkig ook iets van die verlede. Dik belangrik is dat boer, wolkoper en fabrikant nou van dieselfde ding praat want die koper het ook ander faktore in ag geneem by die bepaling van "quality". Trouens Mc Donald (1964) beweer dat die kopers glad nie kartels in aanmerking neem by die bepaling van"quality" nie. Werklike veseldikte is egter nie iets wat vir verskillende mense verskillende dinge kan beteken nie.

Dit is vandag ‘n bekende fait dat baie min Suid-Afrikaanse wol nog met die Deurden-standaarde ooreenstem. Merinowol is oor die algemeen ondergekarteld terwyl sommige ander rasse soos die SA Vleismerino weer grootliks oorgekarteld is. Daar is ook groot individuele verskille tussen skape wat die graad van oor- of ondergekarteldheid betref. Hierdie toestand het aanleiding gegee tot twee belangrike implikasies : Eerstens is kartels nie maar, of miskien was dit nooit werklik ‘n goeie aanduiding van veseldikte nie. Tweedens, word die verhouding van kartels tot veseldikte verander, verander die saamdrukbaarheid van die wol vir h spesifieke veseldikte want saamdrukbaarheid (Rc) = nd.

In Tabel 1 word die gevoeligheid van ‘n verandering in die kartel veseldikte verhouding met betrekking tot die weerstand teen uitrekking, soos gevind deur Van Wyk & Venter (1954) ,aangetoon.

 

 

Dit is duidelik dat vir dieselfde dikte wol, die weerstand teen samepersing opmerklik toeneem indien die getal kartels per eenheid lengte toeneem en, omgekeerd, afneem as die kartels per eenheidlengte verminder. Die weerstand teen uitrekking is vir alle praktiese doeleindes dieselfde vir 'n fyn- en sterkwol, mits die karteling in verhouding is met die dikte.

As die boer dan nie kartels kan gebruik om veseldikte (want daarvolgens word dit vandag verkoop) te bepaal nie, wat moet hy gebruik? Die antwoord is eenvoudig: hy het tans niks andere nie. Groter akkuraatheid ken egter verkry word deur saamdrukbaarheid (lywigheid) ook in ag te neem want aangesien Rc = nd is d = . Trouens dit is al bewys dat groter akkuraatheid in sommige gevalle verkry is deur net te voel as net te kyk. Die ouderdom van die skaap ken ook in ag geneem word want ouderdom het 'n groter invloed op d as n.

Wat onder- en oorgekarteldheid betref (en dus ook saamdrukbaarheid) heers daar nag baie verwarring. Volgens Turpie (1981) is ondergekarteldheid nie veel van 'n probleem in verwerking nie en regdeur die verwerkingsproses tot na die garingstadium is dit, binne perke, 'n geval van hoe minder kartels, hoe beter.

Aan die ander kant kla baie vervaardigers volgens Moolman (1982 – persoonlike mededeling) dat Suid-Afrikaanse wol te pap is en dat hulle derhalwe verplig is om 'n steeds kleiner proporsie in mengsels in te sluit. Volgens Venter (1976) kom verwering ook meer by ondergekartelde wol voor omdat die wol makliker op die skaap se rug oopval. Laasgenoemde is 'n belangrike nadeel want verwering beteken verliese vir die fabrikant. Dit mag egter later moontlik wees om verwering chemies of meganies te verhoed net soos dit vandag reeds moontlik (maar duur) is om kartels op die gewensde stadium van die verwerkingsprases (na spin) chemies te verwerk.

Die feit dat die Merinoskeersel ondergekarteld geword het kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat telers vir 'n, op die oog af, sterker wol met ‘n sagte hantering geselekteer het. Hoewel dit as 'n ompad beskou moet word, was dit tog doeltreffend in die verhoging van produksie want daar is 'n positiewe genetiese korrelasie tussen vagmassa en veseldikte en 'n nog hoër negatiewe genetiese korrelasie tussen vagmassa en kartelfrekwensie. Word daar derhalwe slegs vir hoër vagmassa geselekteer, sal veseldikte toeneem en die wol sal ook geneig wees om meer ondergekarteld te word. Watson, Jackson en Whiteley (1977) vind dan ook dat vagmassa en saamdrukbaarheid geneties hoogs negatief gekorreleerd is. Hulle lei af "if textile requirements dictate that resistance to compression as well as fibre diameter must be controlled during Merino breeding, progress in clean wool weight will be severely restricted".

Wat nou van kwaliteit? Vroeër was aangeneem dat kwaliteit die bruikbaarheid van wol as n tekstielvesel aandui. Dit was dan ook so want goeie kwaliteit het aangedui dat daar geen growwe of selfs gemeduleerde vesels teenwoordig was nie. Vandag is ons wol hopelik merendeels van goeie kwaliteit en as dit die geval is, word die bruikbaarheid en derhalwe die waarde daarvan oorwegend deur een eienskap, nl veseldikte bepaal.

Die feit dat veseldikte so belangrik is, het ‘n belangrike praktiese implikasie. Dit bring mee dat hoe fyner die wol is, hoe meer krities word egaligheid van veseldikte en hoe meer belangrik word ander eienskappe soos treksterkte, verwering, plantmateriaal en kwaliteit.

 

BEGINSELS VAN KLASSERING.

Die doel van klassering is om egalige lotte vir verkoop daar te stel. Dit word dikwels geargumenteer dat omdat vervaardigers some wyd uiteenlopende wolle bymekaar voeg, klassering nie nodig is nie. Hierdie sg "blending" is egter ‘n hoogs gespesialiseerde werk en iets wat die vervaardiger nie graag aan die boer wil oorlaat nie.

Dit is vanselfsprekend dat die belangrikste eienskappe die grootste rol in klassering moet speel. Enkele opmerkings in hierdie verband, veral in die lig van objektiewe meting, is die volgende :

( i) Wol word op n skoonwolbasis geëvalueer en verkoop. Dit is derhalwe verbasend dat skoonopbrengs so dikwels in die skeerhuis geïgnoreer word. (ii) Treksterkte moet ook deeglik in ag geneem word aangesien ‘n enkele tenger vag n andersins baie goeie lyn erg ken benadeel.

(iii) Wat veseldikte betref is dit so dat die wolklasser met ‘n skeersel van ‘n goed geteelde kudde baie min kan doen. Die variasie in veseldikte in so n tipiese geval word in Tabel 11 (Whiteley 1974) aangetoon.

 

 

In so ‘n geval sal dit dus geregverdig wees om die NWKV-klasstandaarde die te rek en groter lyne te maak mits ooglopende afwykende vagte verwyder word.

Die hele aangeleentheid van groter lotte moet egter tans nog baie versigtig benader word. Heelwat navorsing is nog aan die gang en totdat duidelike riglyne neergelê is, loop die produsent die gevaar om vir oorklassering te moet betaal.

 

Published

Handleiding Suid-Afrikaanse Vereniging Diereproduksie 3 86 - 90