Last update: April 11, 2012 08:40:40 AM E-mail Print

 

Die Nasionale Wolkwekersvereniging

P. D. Rose

 

WAT het die Nasionale Wolkwekersvereniging vir die wolboer gedoen? Dit is 'n vraag wat 'n mens dikwels hoor. Om dit ten volle te beantwoord is dit nodig om die geskiedenis van die organisasie na te gaan.

Die stigting van die eerste wolkwekersvereniging, wat uiteindelik op die Nasionale organisasie uitgeloop het, voer ons terug na die jaar 1922. Die oorsprong van die idee is ietwat duister, maar die beweging is op tou gesit deur die toenmalige Prinsipaal van die Grootfonteinse Landboukollege, mnr. R. W. Thornton. Deur sy inisiatief en inspanning is twee wolkwekersverenigings in die lewe geroep, een op Graaff-Reinet en die ander in Middelburg, Kaap.

Die hoofdoel van hierdie verenigings was die beter voorbereiding van wolsoorte vir bemarking. Ter bevordering van hierdie doel is kort kursusse in wolklassering aan die Grootfonteinse Landboukollege ingestel en deur baie boere bygewoon wat toe vir 'n eksamen ingeskryf het. Slegs aan die wat die eksaminatore daarvan oortuig het dat hulle wol kon. klasseer ooreenkomstig die standaarde destyds vasgestel, is toegestaan om die verskillende Verenigingstempels op hulle bale aan te bring.

 

Eerste Vrugte

Die eerste besending van hierdie geklasseerde wolsoorte wat Port Elizabeth bereik het, het in die wolhandel 'n klein opskudding verwek. In die volgende jaar, 1923, is 'n baie groot besending goedgeklasseerde wolsoorte in Port Elizabeth te koop aangebied. Die verkoping is wyd en syd geadverteer en was 'n volslae sukses. Ongekende hoë pryse vir die tyd is behaal en die wolsoorte afkomstig van die twee betrokke Verenigings het onmiddellik naam gemaak. Monsters van die verskillende grade of "lyne" is na verskeie lande gestuur en al gou het navrae oor hierdie wolsoorte uit fabriekslande gekom, wat voorheen nie geweet het dat wol van so 'n gehalte in die Unie geproduseer word nie.

 

Groei van die Beweging

Die uitstekende pryse wat die handjievol betrokke boere verkry het, is deur die res van die skaapboergemeenskap beny. Die nuus dat die lede van hierdie verenigings hulle produkte vir bemarking gradeer, het gou versprei en binne korte tyd het ander verenigings oor die hele Kaapprovinsie begin ontstaan. Organisasies is in die ander Provinsies op tou gesit en in 1928 het die nasionale organisasie, waarby die vier provinsies ingelyf is, tot stand gekom. Vandag is die Nasionale Wolkwekersvereniging die grootste landelike organisasie in die Unie, met 'n totale ledetal van ongeveer 23,000 boere. Ongetwyfeld sou hierdie beweging by wolboere nie in so 'n mate in die guns gewees het as daar niks aanbevelenswaardig in was nie. Die feit dat dit tot sy huidige omvang gegroei het, is bewys genoeg dat lidmaatskap die moeite werd is.

 

Voordele vir die Boeregemeenskap

Die nagaan van die voordele wat as regstreekse gevolg van die nasionale poging aan die boeregemeenskap toekom, stel die volgende aan die lig.

 

Verspreiding van Kennis

Die oorspronklike idee om boere te toets ten einde agter te kom of hulle bekwaam is om wol te klasseer, het nou tot onderrigskursusse ontwikkel, na afloop waarvan die kandidate in die onderwerp geëksamineer word.

Afgesien van die hoofdoel van hierdie kursusse, naamlik om boere hulle wol te leer klasseer ooreenkomstig die handelsvereistes, word aan diegene wat die kursusse bywoon die geleentheid gebied om hulle veelvuldige en uiteenlopende vraagstukke te bespreek. Sodanige besprekings is noodwendig van onskatbare waarde. Behalwe in suiwer wolaangeleenthede, word daar ook onderrig gegee betreffende skape en die voorbereiding en verpakking van huide. Hierdie inligting, gepaard met die kennis opgedoen van wolklassering, stel die student in staat om goed te onderskei tussen 'n voordelige en 'n onvoordelige skaap. Na toe passing van die kennis wat by die kursusse vereis word vir die voorbereiding van sy skeersel, is die boer beter in staat om die gebreke te vind waarteen hy in sy kudde moet waak. Onregstreeks verhoog die aandag wat hy aan sy skeersel skenk dus nie alleen die prys wat hy per pond vir sy wol ontvang nie, maar het dit ook die verbetering van die klas dier wat hy aanhou, tot gevolg. Vandag word wolklasseer- en skaap-klasseerkursusse gehou op enige plattelandse sentrum waar 'n boeregemeenskap dit verlang.

Onderstaande syfers toon aan hoe gewild hierdie kursusse, is en hoeveel boere hulle sedert,1928 bygewoon het.

 

 

Elkeen wat hierdie syfers nagaan, sal al dadelik besef dat die Nasionale Wolkwekersvereniging, deur bemiddeling van die Departement van Landbou en Bosbou, die regstreekse verantwoordelikheid op hom geneem het vir die opleiding van 'n baie groot aantal boere, wat weer op hulle beurt veel van die inligting hulle bekom, versprei het. Die groot verbeterings wat oor die afgelope twee dekades aangebring is, lewer beslis 'n sterk aanduiding dat hierdie inligting vrugte gedra het. Produksie het toegeneem, die gehalte van die produk het verbeter, en die voorbereiding van wol vir die mark het onherkenbaar gevorder. Deur hierdie prestasie het Suid-Afrika op die wêreldmark 'n naam verower wat vir geen ander hoef onder te doen nie.

Verbeterde Uitstalmetodes.-Die omwentelings wat teweeggebring is in die verkoops- en uitstalmetodes aan die kus is regstreeks te danke aan die manne wat hulle van hierdie vooruitstrewende metodes bedien het.

Enkele jare gelede was ons wollokale swak gebou en verlig, terwyl die uitstalmetode ver van aantreklik was, maar vandag tel die meeste van ons wollokale onder die beste in die wêreld. Boere wat eer het aan die voorbereiding van hulle wol het die volste reg om te eis dat hulle produk op 'n geskikte wyse en op 'n geskikte plek uitgestal. word, en hulle eis dit dan ook. Hulle is regstreeks verantwoordelik vir die verbetering wat aangebring is. Sou hierdie verbeterings ooit daargestel gewees het as hierdie manne nie georganiseerd was nie?

Afgesien van die reeds genoemde fasiliteite wat die lede van die Nasionale Organisasie geniet in bogenoemde verband, is hulle, omdat hulle georganiseerd is, in staat gestel om baie ander voorregte te geniet, spoorwegfasiliteite, ens. voorregte wat aan alle skaapboere toegestaan word, of hulle lede van die organisasie is of nie.

Gestandardiseerde Wolverpakking.- Maar watter regstreekse voordele het die boere verkry uit die beter voorbereiding van hulle wol? Wol word nie meer op 'n ordelose wyse verkoop nie. Die fabrikant word steeds veeleisender omdat sy klante voortdurend materiaal van beter gehalte verlang. Om hulle te bevredig moet die fabrikant noodwendig die gehalte grondstowwe aankoop wat die beste aan sy doel beantwoord, om sodoende sy bedryfs- en verwerkingskoste te verminder. Hy het wol nodig wat in alle opsigte reëlmatig is, en dis ons plig as produsente om hom ons ware in hul mees aanneembare vorm aan te bied. Die feit dat goed geklasseerde wol vandag altyd die hoogste pryse behaal, is hiervan voldoende bewys.

Twintig jaar gelede kon die fabrikant of wolhandelaar geen reëlmatig geklasseerde skeersel van betekenis op die Suid-Afrikaanse marke koop nie. "Was "- en "spin "-tipes was onverkrygbaar, sodat bestellings vir hierdie wolsoorte dus elders geplaas is. Vandag is hierdie tipes aan ons hawens te kry, ons trek voordeel uit die vermeerderde mededinging wat hulle skep, en gevolglik het pryspeile gestyg. Hierdie tipes word beskikbaar gestel omdat duisende boere volgens die Vereniging se standaarde klasseer. 'n Bepaalde standardisasiemaatstaf is verwesenlik en die koper kan presies kry wat hy wil hê selfs al moet hy slegs sekere " lyne" van 'n aantal skeersels koop om sy bestelling te voltooi.

Baie boere wat nie lid is van die Nasionale Wolkwekersvereniging nie het die Nasionale klasseer- en kentekenstandaarde aanvaar. Party van hulle kan die Nasionale organisasie nie genoeg veroordeel nie, maar hulle maak gebruik van die Nasionale kentekens en klasseer volgens die daargestelde standaarde omdat hulle weet dat dit betaal. Teen hierdie gebruik word geen beswaar geopper nie; inderdaad word hierdie optrede verwelkom aangesien hierdie boere regstreeks help om te weeg te bring wat die Nasionale Wolkwekersvereniging beoog, naamlik, die gestandardiseerde verpakking van die hele Suid-Afrikaanse skeersel.

 

Die Nasionale of Springbokkop-merk

Hierdie merk is die N.W.K.V. se simbool van opregtheid van doel en reëlmatige verpakking. Dit kan slegs gebruik word deur lede van die Nasionale organisasie wat as wolklasseerders gekwalifiseer is. Die goeie naam van die merk word aan die kusstede beskerm deur die Regeringswolinspekteurs wat elke skeersel wat met die Springbokkop-merk te koop aangebied word, deeglik ondersoek. As hulle verslae ongunstige kritiek bevat oor 'n skeersel, maak die Nasionale organisasie die saak onmiddellik aanhangig by die betrokke klasseerder. As 'n skeersel swak voorberei is, hoef die Regeringswolinspekteurs die saak nie na die Vereniging te verwys nie, maar besit die reg om die merk onmiddellik uit te wis.

 

Konstitusie en Verteenwoordiging

Die organisasie is deurgaans demokraties; die hoogste poste staan oop vir selfs die eenvoudigste lid wat die vertroue van sy medelede het. Die organisasie word deur die Regering erken as die mondstuk van die wolkwekers van die Unie en geniet die volgende addisionele voorregte:-

Vaste verteenwoordiging op:-

  1. Die Suid-Afrikaanse Wolraad.

  2. Die Uitvoerende Komitee van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie waarvoor 'n lid van die Nasionale Wolkwekersvereniging, 'n geaffilieerde liggaam as voorsitter verkiesbaar is.

  3. Die Landbou-adviesraad vir die Minister van Landbou en Bosbou. Hierdie raad word geraadpleeg met betrekking tot alle voorgestelde indiening van landbouwetgewing.

  4. Die Suid-Afrikaanse Wolbemarkingskomitee, wat deur die Minister van Landbou en Bosbou aanvaar word as sy adviserende raad in sake rakende die bemarking van wol.

 

Die organisasie verwelkom nuwe lede, omdat sy invloed na gelang van sy ledetal toeneem. Gesonde kritiek en nuwe idees word verwelkom. 'n Individuele wolboer kan sy stem doeltreffend laat hoor slegs as hy lid van die Vereniging is. Dit betaam die elke boer wat sy eie belange en die van sy land op die hart dra, om lid te word van hierdie organisasie. Lidmaatskap is gratis.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 15