Last update: August 18, 2011 04:19:11 PM E-mail Print

 

Watter faktore beïnvloed die prys van wol?

 

 GJ Delport, Verantwoordelike Beampte van die S A Vagtoetssentrum (N I VS) 

 

Kennis omtrent die belangrikheid van die verskillende fisiese eienskappe van wol is tans van kardinale belang vir enige wolskaap boer. Die voor-die-handliggende rede hiervoor is natuurlik die relatief hoë pryse wat tans vir fynwol behaal word.

Die relatiewe belang van woleienskappe is bepalend in die opstelling van teelbeleid, effektiewe wolklassering en bestuurstrategieë. Die rol wat hierdie inligting behoort te speel by die vasstelling van prosedures vir opvoedkundige aksies soos vagkompetisies en die skou vir gemete prestasie, kan natuurlik ook nie oorbeklemtoon word nie.

Huidiglik is die gemiddelde prys van A-lengte vagwol met 'n veseldikte van 20 mikron R35-72. Hierteenoor is die prys van soortgelyke wol met 'n veseldikte van 25 mikron, R16-72.

Die versoeking is dus groot om uitsluitlik te konsentreer op die verlaging van veseldikte. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat 'n groot aantal ander gehalte-eienskappe die prys per kilogram wol beïnvloed indien die eienskappe in 'n abnormale graad aan- of afwesig is. 'n Mens dink hier aan die persentasie plantmateriaal en veral die teenwoordigheid van steekgras en wewenaars.

Ander belangrike eienskappe sluit die teenwoordigheid van vreemde vesels (besoedeling), variasie, tengerheid, hantering en styl in. Soos byvoorbeeld onlangs aangetoon, is daar nie groot prysverskille ten opsigte van die beste stylklasse nie, maar wanneer na minderwaardige kambol-tipes gekyk word, daal die prys per kilogram aansienlik. Klein verskilletjies in hierdie eienskappe is egter onbelangrik in prysbepaling. Die wolboer moet natuurlik daarop let dat sy wolskeersel die aanvaarde norme wat vir die Suid-Afrikaanse skeersel gestel word, bly handhaaf.

Dit is baie maklik om veselfynheid deur middel van voeding te manipuleer. In 'n onlangse eksperiment by die Grootfonteinse Landboukollege is aangetoon dat swak voeding kan lei tot 'n gemiddelde veseldikte van so laag as 19 mikron. 'n Hoë voedingspeil het egter dieselfde groep skare se gemiddelde veseldikte tot so hoog as 26 mikron laat styg. Die probleem is natuurlik dat swak voeding produksie verlaag en boonop nadelig is ten opsigte van reproduksietempo. Daarom is dit meer voordelig om veseldikte geneties te verlaag.

Wat besluitneming oor teelbeleid betref, moet beklemtoon word dat die tang generasie-interval van ons plaasvee 'n lang tydsverloop tussen 'n aksie en gevolg veroorsaak. Dus moet daar by die opstel van 'n teelbeleid deeglik besin word oor die langtermyn ekonomiese verhouding tussen gehalte eienskappe. In die verband het Australiese navorsing reeds in die sestiger jare aangetoon dat veselfynheid vir 80 persent van die variasie in die prys per kilogram verantwoordelik is. Onlangs het Suid-Afrikaanse navorsing hierdie bevinding herbevestig en is die effek van veseldikte, nadat die invloed van aIle ander gehalte eienskappe statisties verwyder is, op 90 c per kilogram gestel. Sedert hierdie ontleding op die 1984/85 wolverkoopseisoen uitgevoer is, het die prys differensiaal van 20- teenoor 21- mikron wol met R4-63 per kilogram vergroot. Dit blyk dus vir die huidige dat 'n hoë mate van seleksie teen dikker vesels met vertroue in die boer se teelbeleid ingebou kan word.

Die mate van seleksie vir fynwol hang natuurlik nou saam met die gemiddelde veseldikte van die betrokke skeersel. In 'n skeersel met 'n gemiddelde veseldikte van 21 mikron, kan 'n verlaging van 1 mikron tans 'n boer soveel as R8-13 vir A-lengte vagwol in die sak bring. Hierteenoor is die ekonomiese implikasie van 'n verlaging in veseldikte vanaf 25 tot 24 mikron slegs RI-23 werd. Hierdie ekonomiese verskynsel bemoeilik natuurlik die opstel van seleksie-indekse ten einde die maksimum teeltvordering in totale inkomste uit 'n skaap te bewerkstellig.

Tans skryf die ekonomie voor dat veseldikte verlaag kan word ten koste van laer wolproduksie. Dit is natuurlik 'n ope vraag of ons moet toelaat dat die produksie van 'n spesialis-wolras soos die Merino, moet daal. Hoe dit ook al sy, ons beleef 'n baie interessante tydperk wat wolskaapteling betref. Dit is net jammer dat dit so lank duur voor ons die langtermyn-resultaat van ons huidige besluitneming kan waarneem.

 

Published

Karoostreeknuusbrief 1