Last update: December 2, 2010 12:23:03 PM E-mail Print

 

Agro-ekologiese gebiede van die voormalige Karoostreek

 

W. van D. Botha en H.R. Becker

Grootfontein Landbou‑ontwikkelingsinstituut,

Privaatsak X529, Middelburg (OK) 5900

 


Agro-ekologiese gebiede (AEG) is geskep om relatief groot gebiede, wat in groot mate ten opsigte van boerderypraktyke, grond, klimaat en plantegroei ooreenstem, saam te groepeer. Die doel van hierdie groepering is om gebiede af te baken waarheen sommige navorsingsresultate en ander aanbevelings ten opsigte van weiveldbestuur geëkstrapoleer kan word.

‘n AEG kan dus gedefinieer word as ' n breë boerderygebied waar die algemene boerderypatroon en boerderypraktyke, grond- en topografiese patrone, klimaat en klimaatpatrone sowel as die breë floristiese patrone in' n redelike mate ooreenstem. Die ligging van die AEGs word in Fig. 1 aangetoon.

 

Bespreking

Oostelike Gemengde Karoo

Die Oostelike Gemengde Karoo (OGK) is in die noordoostelike deel van die Karoostreek geleë. Dit beslaan ongeveer 3,08 miljoen ha (±13 %) van die Karoostreek en lê tussen 1100 en 1 500 m bo seespieël.

Die reënval, hoofsaaklik in die lente en somer, wissel van 275 mm/jaar in die weste tot 500 mm in die ooste. Namate weswaarts beweeg word, neem die lentereën af en verskuif die hoofreënseisoen na die herfs. Koue winters, met min reën en strawwe ryp, kom voor. Die groeiseisoen is redelik kort. Die rypvrye periode is ongeveer 180 dae.

Die moedergesteentes van die gronde is doleriet, sandsteen en modderstene. Gronde afkomstig van basalt kom slegs in klein, hoogliggende gebiede voor. Hierdie gronde is tot die oostelike dele beperk. Dupleksgronde kom veral in die ooste voor. Hierdie gronde wat afkomstig is van die modderstene, is hoogs erodeerbaar.

Die topografie is redelik gelykliggend met vlakte- en bulteveld die dominante veldsoorte. Die landskap is deurspek met dolerietrante. Skalie en moddersteenrante kom in ‘n mindere mate voor. Kenmerkend van die rante is die algemene voorkoms van Rhus erosa (besembos).

Die dominante veldtipes is Skyn Hoër Karoo en Droë Cymbopogon-Themeda-veld (Acocks 1988). Laasgenoemde veldtipe is meer beperk tot die oostelike dele.

Die gebied kan in twee dele verdeel word, naamlik ware grasveld in die ooste en gemengde Karoo in die westelike deel. Die draaipunt tussen die ware grasveld en die gemengde karooveld lê by 'n reënval van ongeveer 400 mm/jaar. Die graskomponent van die oostelike deel bestaan hoofsaaklik uit die klimaksgrasse soos Themeda, Cymbopogon, Sporobolus, Digitaria en subklimaksgrasse van die Eragrostis en Aristida genera.

Namate weswaarts beweeg word, word hierdie grasse deur die sub‑klimaksgrasse Eragrostis en Aristida vervang. In albei gebiede maak Cynodon spp. deel uit van die degradasieproses. Die graskomponent in die noordweste gaan oor na die woestyngras, naamlik Stipagrostis spp. Die bossiekomponent volg dieselfde patroon. Die komponent bestaan hoofsaaklik uit Pentzia, Eriocephalus. Phymaspermum paroiflorum en Pteronia. Pentzia globosa is kenmerkend van die bossiekomponent van die meer oostelike en natter dele. Die meer gewenste spesies soos Felicia, Sutera en Nenax vorm slegs 'n beperkte deel van die bossiekomponent.

Onder wanbestuur breek die plantegroei af en Chrysocoma ciliata dring in. Eenjarige Aristida, Tragus, Cynodon spp. en Enneapogon desvauxii neem aansienlik toe. Kenmerkend van die gebied is die indringing van Lycium, Rhus en Diospyros spp. in die waterbane. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Eragrostis lehmanniana  

E. bicolor

Aristida diffusa

Phymaspermum arvifolium

Cymbopogon plurinodis

Digitaria eriantha

E. chloromelas

Tragus koelerioides

Pentzia incana

Pentzia globosa

Sporobolus fimbriatus

Chrysocoma ciliata

A. congesta

Enneapogon desvauxii

Themeda triandra

Die algemene veebedryfstakke is klein- en grootvee, waarvan veral wolskape en vleisbeeste die belangrikste is. Angorabokke en Dorpers speel ‘n ondergeskikte rol.

 

Oostelike Karoo Berggebiede

Die Oostelike Karoo berggebiede (OKB) vorm deel van die Groot Eskarp en gaan oor in die voetheuwels van die Drakensberge. Die OKB beslaan ongeveer 5,2 % (1,51 miljoen ha) van die Karoostreek en bestaan hoofsaaklik uit die Sneeu-, Renoster-, Kikvors-, Suur- en die Stormberge. Die gebied lê bo 1 500 m bo seespieël.

Die hoofreënseisoen is die lente en somer. Sneeu kom gedurende die winter voor. Die reënval wissel van 550 mm/jaar in die ooste tot ongeveer 350 mm in die weste. Koue winters, met min reën en strawwe ryp kom voor. Die groeiseisoen is redelik kort. Die rypvrye periode is ongeveer 180 dae.

Die gronde is hoofsaaklik afkomstig van doleriet, sandsteen en modderstene met Clarence-sandsteen en basalt in die hoërliggende dele.

Die gebied is bergagtig en bestaan hoofsaaklik uit steil berghange, plato’s en enkele rante in die voetheuwels. Die grond op die berghange in die Dosie is dikwels afkomstig van die modderstene. Hierdie hange is hoogs erodeerbaar.

Die dominante veldtipe is Karooagtige Merxmuellera-bergveld (Acocks 1988).

Die plantegroei bestaan oorwegend uit suurgrasse en daar is dikwels struikverdigting. Dit is veral Merxmuellera wat dominant op die droër en suurder dele voorkom. Themeda, Cymbopogon, Digitaria en Sporobolus vorm die smaakliker of soeter komponent. Eragrostis cloromelas en Aristida diffusa vorm 'n belangrike komponent van die grasspesies. Opvallend is die verskynsel dat die soeter plantegroei meer geredelik op die dolerietgronde voorkom. Die voorkoms van Tetrachné dregei dui op veld in goeie toestand. Die hoe voorkoms van Hyparrhenia hirta is opmerklik, veral op die moddersteenhange. Die struike is hoofsaaklik van die Rhus- en Elytropappus spp. Verdigting van hierdie spesies is kenmerkend van retrogressie. Met oor- en wanbenutting breek hierdie veld af tot ‘n gras/bossieveld waarin subklimaksgrasse en veral Chrysocoma en Walafrida saxatilis dominant is. Die bossiekomponent vermeerder in die laerliggende en droër dele en bestaan uit Pentzia globosa, Walafrida saxatilis, Chrysocoma ciliata en Eriocephalus ericoides. Die brand van veld speel ' n rol in bosbeheer en om oorgroeide suurgrasse weer vir beweiding beskikbaar te maak. Veldbrand is 'n effektiewe hulpmiddel in die veldbestuurspatroon. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Mexmuellera disticha

Walafrlda saxatilis

Eragrostls chloromelas

Tetrachne dregei

Pentzia globosa

Chrysocoma ciliata

Themeda triandra 

Cymbopogon plurinodis

Aristida diffusa

Elytropappus rhinocerotis

E. bicolor

Eragrostls lehmanniana

E. curvula

Cynodon incompletus

Digitaria eriantha

Die algemene veebedryfstakke is veral wolskape en beeste. Angorabokke en Dorpers speel ‘n beperkte rol.

 

Sentrale Hoër Karoo (Bo-Karoo)

Die Sentrale Hoër Karoo vorm 'n oorgang tussen die natter OGK en die droër gebiede. Die gebied beslaan ongeveer 15 % (4,38 miljoen ha) van die streek en lê tussen 1 000 en 1 300 m bo seespieël.

Die reënval, hoofsaaklik in die herfs, wissel tussen 200 mm en 300 mm/jaar. Die wisselvalligheid neem toe namate die reënval weswaarts daal. Koue winters, met min reën en strawwe ryp, kom voor. Die groeiseisoen is redelik kort. Die rypvrye periode is ongeveer 200 dae.

Die gronde is afkomstig van doleriete, sandsteen en skalies. Uitgesonderd die rivierlope is die gronde oor die algemeen redelik vlak, rooi van kleur en kalkryk. Kenmerkend is die hoe pH van die noordelike vloedvlaktes. Salsola geminiflora (soutganna) is tipies van hierdie vloedvlaktes.

Die topografie is platgolwend met vlaktes en bulte die dominante veldsoorte. Die vlaktes het talle dolerietrante en -gange.

Die dominante veldtipes is Skyn Dorre Karoo, Skyn Hoër Karoo en Sentrale Bo-Karoo (Acocks 1988). Die plantegroei bestaan uit bossies, struike, grasse en sukkulente. Die struike is veral Lycium op die dieper gronde en Rhigosum obovatum op die meer klipperige vlakker gronde. Digte stande van Rhigosum trichotomum kom in die noorde voor. Die dominante bossies is spesies van Pentzia, Eriocephalus en Pteronia. Veral die doringagtige variante kom meer algemeen voor. Kenmerkend van die vlak kalkgronde is die digte stande van Rosenia humilis (Nestlera conferta). Die belangrikste grasspesies is Eragrostis lehmanniana, Stipagrostis asook eenjarige Aristida en Enneapogon desvauxii. Op die meer vogtige dele soos dolerietrante en waterbane kom die klimaksgrasse Themeda, Sporobolus en Panicum voor. Namate noord beweeg word, gaan grasse van Eragrostis spp. na die Stipagrostis spp. oor. Die grasse is egter tot voorskootveld en meer sanderige dele beperk.

Soos in die meeste gevalle is die indringing van Chrysocoma ciliata ook tipies van veldagteruitgang. Hierdie indringing gaan met 'n veryling van die plantegroei gepaard. Albei verskynsels is kenmerkend van swak veldbestuur. Struikindringing en verdigting kom veral in die noordelike gedeelte voor. Die indringerstruike is Rhigosum trichotomum (drie-doring), Acacia mellifera subsp. detinens (swarthaak) en veral Prosopis glandulosa (Suidwesdoringboom) in die waterbane.

'n Uitsonderlike gebied binne hierdie breë gebied is die sandveld in die Hopetowndistrik. Die plantegroei is meer grasagtig as gevolg van die sanderige en duinagtige geaardheid. Die plante is tipies woestyn-grasveld met ‘n sterk aanwesigheid van Acacia erioloba enA. haematoxylon. Schmidtia pappophoroides maak deel van die plantegroei uit. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Eragrostis lehmanniana

Eriocephalus ericoides

Pentzia incana  

Chrysocoma ciliata

P. globosa       

Eragrostis bergiana

Stipagrostis obtusa

Panicum stapfianum

Enneapogon desvauxii

S. ciliata

Lycium spp.    

Eriocephalus spinescens

Eragrostis bicolor

Pteronia sordida

Aristida congesta

Kleinveeboerdery veral skape is tipies van hierdie gebied. Merino’s en Dorpers is die hoofrasse. Angora- en Boerbokke word in 'n mindere mate aangetref. VIeisbeesboerdery vorm 'n belangrike komponent van die boerdery.

 

Dorre Karoo

Die Dorre Karoo (DK) Lê bo die Groot Eskarp op 'n hoogte tussen 1 000 en 1 300 m bo seespieël. Die gebied maak omtrent 13% (3,75 miljoen ha) van die Karoostreek uit.

Die gebied kry hoofsaaklik herfsreëns. Die jaarlikse neerslag wissel van 125 tot 250 mm/jaar. Die reënval is uiters wisselvallig. Hierdie verskynsel neem van Oos na wes toe. Koue winters, met min reën en strawwe ryp, kom voor. Die groeiseisoen is redelik kort. Die rypvrye periode is ongeveer 200 dae.

Die gronde is afkomstig van skalies, sandsteen en doleriete. Laasgenoemde se plantegroei is meer grasryk. Kenmerkend van die noordelike deel is die hoë pH van die gronde.

Die gebied is redelik gelykliggend met vlaktes en bulte dominant. Dolerietrante en enkele berge wissel die topografie af. Kenmerkend van die gebied is die skalie-bulte of sogenaamde Koraanplate. Kaal, panagtige kolle sowel as vloedvlaktes met hoe pH en yl plantbedekking kom toenemend voor.

Die dominante veldtipes is Dorre Karoo en Skyn Dorre Karoo (Acocks 1988). Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit bossies, struike, grasse en sukkulente. Doringagtigheid is kenmerkend van ‘n groot deel van die veld. Die plantegroei raak yler en kaalkolle kom

voor. Die dominante bossiespesies is Pentzia, Eriocephalus, Pteronia veral die doringagtige variante, en ander minder gewenste bossies. Die smaakliker komponent bestaande uit spesies van Felicia, Monechma en Salsolavorm 'n klein deel van die bossiekomponent. Eberlanzia ferox kom algemeen op die vlak, skraal bulte en vlaktes voor. Die struike is beperk tot Lycium op die dieper gronde en Rhigosum obovatum op die vlakker en meer klipperige grand. Salsola spp. is 'n belangrike komponent van die plantegroei van die waterbane en vloedvlaktes. Osteosperm um spp. is deel van hierdie plantegroei. Indringing van Lycium spp. kom algemeen op hierdie veldsoorte voor. Kenmerkend van die dolerietrante is die algemene voorkoms van Fingerhuthia Africana. Op die noordelike deel, ongeveer in 'n lyn noord van die Carnarvon. Willistonpad, kom digte stande van Rhigozum trichotomum op die dieper en meer sanderige gronde voor. Hierdie veld word beskryf as ' n onderafdeling van die Skyn Dorre Karoo, naamlik Driedoringveld (Acocks 1988). Die grasse is hoofsaaklik van die Stipagrostis spp. en eenjarige pioniere. Indringing van Prosopis glandulosa in waterbane is algemeen. Opslagplante vorm onder gunstige klimaatstoestande 'n belangrike deel van die weiding. Tribulus terrestris kom onder hierdie toestande in groot hoeveelhede voor. In warm weer gee dit dikwels aanleiding tot dikkop onder klein-vee. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Pentzia globosa

S. ciliata

P. incana         

Eragrostis bicolor

Stipagrostis obtusa

Pteronia sordida

Eriocephalus spinescens

Aristida congesta

E. ericoides     

A. diffusa

Eberlanziaferox

Rosenia humilis

Enneapagon desvauxii

Chrysocoma ciliata

Lycium spp.

In die gebied word uitsluitlik met kleinvee geboer. Die Dorper en Merino is die belangrikste skaaprasse. Angorabokboerdery vind op beperkte skaal plaas.

 

Vloere- en Pannegebied

Die vloere- en pannegebied lê tussen die Dorre Karoo en Boesmanland. Die gebied beslaan ongeveer 11,3 % (3,28 miljoen ha) van die Karoostreek. Dit lê op 'n hoogte tussen 900 en 1100 m bo seespieël.

'n Pan is ‘n laagliggende, gelyk, byna komagtige gebied wat gewoonlik deur hoërliggende topografie omring is. Dikwels is 'n pan sonder ‘n uitlaat vir afloopwater. 'n Vloer is 'n platvlakte wat dikwels onderhewig is aan vloedwater. Dit kan as 'n wye, relatief kaal vloedvlakte beskryf word. Die B‑horisont het in albei gevalle 'n hoë klei‑inhoud en het gewoonlik ‘n sterk struktuur met 'n hoe pH. 'n Kaalkol in teenstelling met panne en vloere kan op enige plek aangetref word. Ontbloting is dikwels die gevolg van strawwe kolseleksie.

Die gebied kry hoofsaaklik herfsreëns. Die neerslag wissel van 100 tot 175 mm/jaar. Die reënval is uiters wisselvallig. Hierdie verskynsel neem van oos na wes toe. 'n Baie warm somer is kenmerkend. Winters gaan gepaard met sporadiese ryp.

Die gronde is afkomstig van skalies en doleriete. Baie tipies is die hoe pH van die gronde en die hoë klei-inhoud van die vloere en panne.

Die gebied is plat, golwend met bulte, vlaktes, vloere en panne. Kenmerkend van veral die bulte is woestyn-plaveisel. Hierdie bulte is algemeen bekend as die Kaiingbulte.

Die dominante veldtipe is Dorre Karoo (Acocks 1988). Die Dorre Karoo kan verder onderverdeel word in Blomkoolgannaveld (29a) (Acocks 1988) wat die kern van hierdie gebied vorm. Die ander variant, Drie-doringveld word in die Dorre Karoo aangetref. Die plantegroei is soortgelyk aan die van die Dorre Karoo en Boesmanland. Die vloere is egter meestal bedek met soutganna (Salsola geminiflora). Die bedekking van die vloere is meestal yl. Hierteenoor kom feitlik geen plantegroei in die panne voor nie. Die dominante

plantegroeitipes is woestyngrasveld wat wissel in digtheid en dominante spesies tot 'n yl bossieveld. Struikindringing en -verdigting kom voor. Die algemene grasse is Stipagrostis spp,. S. ciliata, S. obtusa en S. uniplumis kom die algemeenste voor. Die eenjarige grasse Schmidtia, Enneapogon en in 'n mindere mate Aristida spp. kom ook voor. Die bossies bestaan uit Pentzia, Eriocephalus, veral die doringagtige variante, Pteronia en Salsola spp. Salsola tuberculata (blomkool-ganna) vorm dikwels saam met die Stipagrostis spp. die tipiese plantegroei. Die struik wat dominant voorkom, is Rhigozum trichotomum. Phaeoptilum spinosum (brosdoring) kom wydverspreid voor. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Stipagrostis obtusa

E. lehmanniana

Enneapogon desvauxii

E. nindensis

S. ciliata          

Opslag

Rhigozum trichotomum

Schmidtia kalihariensis

Aristida congesta

Pentzia spinescens

S. uniplumis     

Aptosimum marlothii

Eragrostis virescens

Lycium spp.

Salsola aphyla

Goeie resultate met radikale veldverbeteringstegnieke soos die oprigting van omgekeerde spreikontoere of ploeg in stroke word in hierdie gebied verkry.

Kleinveeboerdery word hoofsaaklik toegepas, met vleisskape die belangrikste boerderyvertakking en wolskape wat ook 'n redelike deel van die patroon uitmaak.

 

Boesmanland

Boesmanland vorm die noordwestelike deel van die Karoostreek. Die Oranjerivier is die noordelike grens terwyl die westelike grens die landdrosdistriksgrens tussen Kenhardt en Namakwaland is. Dit is 'n kunsmatige grens. Die werklike grens is die winterreëngrens wat verder wes Lê. Die suidelike en oostelike grense is nie abrup nie en die Sentrale Bo-Karoo en die vloere- en pannegebied gaan geleidelik oor in Boesmanland.

Die gebied lê op 'n hoogte van 800 tot 1 000 m bo see-spieël en beslaan ongeveer 15,1 % (4,38 miljoen ha) van die streek.

Die wisselvallige reënval kom hoofsaaklik in die herfs voor en wissel van 70 tot 150 mm/jaar. Baie warm somers met relatief gematigde winters kom voor. Die gronde is hoofsaaklik afkomstig van graniet en doleriet. Die gronde is hoog in pH en kalsium en wissel van vlak sand op kalk of kwartsiet tot relatief growwe sande. Op plekke kom duine fyn sand voor.

Die gebied is platgolwend met wye vlaktes en plat bulte. Enkele doleriet- of granietrante kom voor. Nader aan die Oranjerivier raak die gebied meer ranterig. Dit lyk of die rante hier eilande in oop sandvlaktes vorm.

Die dominante veldtipes is Namakwaland Gebroke veld en Dorre Karoo (Acocks 1988,). Die plantegroei is soortgelyk aan die van die Dorre Karoo en Boesmanland. Die dominante plantegroeitipes is woestyngrasveld wat wissel in digtheid en dominante spesies tot ‘n yl bossieveld. Struikindringing en -verdigting kom voor. Die algemene grasse is Eragrostis lehmanniana en Stipagrostis spp. S. obtusa en S. ciliata kom die meeste voor. Die eenjarige grasse Schmidtia, Enneapogon en in mindere mate Aristida spp. kom voor. Die bossies bestaan uit Pentzia, Eriocephalus, veral die doringagtige variante, Pteronia en Salsola spp. Salsola tuberculata (blomkoolganna) vorm dikwels saam met Stipagrostis spp. die tipiese plantegroei. Die dominante struike is Rhigozum trichotomum. Phaeoptilum spinosum (brosdoring) kom wydverspreid voor.

Goeie resultate met radikale veldverbeteringstegnieke soos die ploeg van kaalkolle word in hierdie gebied verkry. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Eragrostis lehmanniana

Opslag

Stipagrostis obtusa

Panicum stapfianum

Enneapogon desvauxii

E. bicolor

S. ciliata          

E. obtusa

Aristida congesta

Cynodon dactylon

Lycium spp.    

S. uniplumis

Rhigozum trichtomum

Eriocephalus spinescens

Eragrostis bergiana

Kleinveeboerdery word hoofsaaklik toegepas.  Vleisskape is die belangrikste boerderyvertakking.

 

Groot Karoo

Die Groot Karoo (GK) is tussen die Groot Eskarp in die noorde en die Swartberge in die suide geleë. In die weste word dit begrens deur die winterreëngebied en in die ooste deur die Bosstruikveld. Die gebied beslaan ongeveer 10,5 % van die Karoostreek (3,7 miljoen ha). Dit lê 700 tot 900 m bo seespieël.

Die reën kom hoofsaaklik gedurende die herfs voor. Winterreën wat uit die weste oorspoel, kom minder gereeld voor. Die jaarliks wisselvallige neerslag is 125 tot 200 mm/jaar.

Dit is ' n relatief gelyk, golwende deel met enkele berge en hoë rante. Kenmerkend van die gebied is die golwende gruisbulte. Die gronde van die gebied bestaan hoofsaaklik uit skalies en modderstene. Die voorkoms van fossiele is kenmerkend van die gebied.

Die dominante veldtipe is Karoo Gebroke veld met sub-veldtipe Groot Karoo en Sentrale Laer Karoo (Acocks 1988). Die yl plantegroei bestaan hoofsaaklik uit bossies, struike, sukkulente en woestyngrasse op die meer sanderige voorskootveld, vlaktes en lopies. Die graskomponent is egter beperk en die veld bestaan hoofsaaklik uit bossies en struike. Langs die rivierlope is Acacia karroo kenmerkend.

Wat die yl struikkomponent betref, is die dominante plante Rhigozum obovatum en Lycium. Die bossie-komponent bestaan uit die Pentzia, Eriocephalus, Pteronia en Salsola spp. Die meer gewenste spesies vorm slegs 'n klein persentasie van die weiding. Die sukkulente bestaan uit Eberlanzia ferox, Aridaria, Drosanthemum en Delosperma spp. Die grasse is hoofsaaklik Stipagrostis spp. en eenjarige pioniere. Langs die rivierlope en die gunstiger dolerietveld kom Cenchrus en ander klimaksgrasse voor. Soos die soetdoring kenmerkend van die waterlope is, word Stipagrostis namaquensis in die sanderige waterlope aangetref. Kenmerkend van veldagteruitgang in die suidelike dele is die indringing van Pteronia pallens. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Pentzia incana  

Drosanthemum lique

Eberlanzia ferox

S. obtusa

Stipagrostis ciliata

Eriocephalus ericoides

Lycium spp.    

Eragrostis obtusa

Aristida diffusa                         

Eriocephalus spinescens

Rhigozum obovatum

Rosenia humilis

Opslag            

Chrysocoma ciliata

A. congesta

Die veebedryf bestaan uit kleinvee, naamlik skape en bokke. Dorpers, Merino’s en Angoras is die belangrikste rasse. Die gebied vorm deel van die tradisionele Angorabokboerderygebied.

 

Bosstruikveld

Die Bosstruikveld beslaan die volgende landdrosdistrikte of gedeeltes daarvan: Somerset-Oos, Pearston, Graaff-Reinet, Jansenville, Steytlerville en Willowmore - dit is ongeveer 7,6 % (2,2 miljoen ha) van die streek.

Die reënval wissel van 200 mm/jaar in die weste tot 500 mm in die ooste. Ooswaarts verskuif die reënseisoen na die lente/somer. Die hoofreënseisoen is die herfs. Die klimaat is gematig met 'n lang rypvrye periode.

Die moedergesteentes is sandsteen, skalies, doleriet en kwartsiete. Die gronde, uitgesonderd langs die rivierlope, is redelik vlak en gruiserig.

Die topografie is golwende bulte met vlaktes en rivierlope. Die bulte raak meer gruiserig namate weswaarts beweeg word. Die landskap word deur enkele berge afgewissel wat van oos na wes loop. Groot plantegroeiverskille kom veral op die noordelike hange voor.

Die veldtipes wat hier voorkom is Valleibosveld, Noorsveld, Karooagtige Gebroke veld, Sukkulente Karoo en Skyn Karooagtige Gebroke veld (Acocks 1988). Hierdie veldtipes is Karooagtige sukkulente bos, 'n onderafdeling van die Subtropiese Oorgangs-bosvorm (Cowling 1984).

Die breë plantegroei-tipes van die gebied is die dwerg Acacia karroo-veld in die ooste met 'n sterk graskomponent, die Bosstruikveld wat wissel van baie digte spekboomveld tot 'n yl struikveld, Noorsveld, Karooveld en Sukkulente veld.

Die plantegroei bestaan uit baie digte struikveld. Die veld breek meestal af na verskillende grade van minder digte struike, Noorsveld, Sukkulente veld en in die ooste dwerg Acacia veld. Die dominante struike is Portulacaria afro (spekboom), Pappea capensis, Rhigozum obovaturn en Lycium spp. Die dominante bossies is Pentzia, Monechma en Eriocephalus spp. Die sukkulente komponent bestaan grootliks uit Aridaria, Delosperma, Drosanthemum en Crassula. Die graskomponent, uitgesonderd die oostelike dele, is swak ontwikkel. Panicum spp. vorm 'n belangrike klimaks graskomponent. Die grasse word aangevul deur Eragrostis en Ehrharta spp, Cenchrus ciliaris en eenjarige pioniere. Kenmerkend van die rivierlope is die digte voorkoms van Acacia karroo. Grasse in die hoër reëngebied is klimaksgrasse soos Themeda, Cymbopogon, Sporobolus en Digitaria spp. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Euphorbia coerulescens

Tragus racemosus

Pentzia incana  

Monechma pseudopatulum

Drosanthemum lique

Aridaria noctiflora

Aristida congesta

Panicum maximum

Opslag            

Aizoon glinoides

Rhigozum obovatum

Rosenia humilis

Lycium spp.    

Atriplex halimoides

Galenia sarcophylla

Die algemene boerdery is kleinvee, veral Angorabokke, skape (vleis en wol) en enkele grootvee. Wild, veral koedoes, kom algemeen voor. Die gebied is in die verlede as die bakermat van die Angorabokboerdery beskryf.

 

Winterreëngebied

Die gebied vorm die suidwestelike deel van die Karoostreek. Dit beslaan ongeveer 7 % (2,02 miljoen ha) van die streek. Die gebied lê 500 tot 2 000 m bo seespieël. Minstens drie gebiede (volgens hoogte bo seespieël) kan geïdentifiseer word, naamlik hoe berge en plato’s van die Roggeveld- en Bokkeveldberge, die laer liggende dele oos van die berge en die ‘Karoo’ wat onder die eskarp geleë is.

Die hoofreënseisoen is in die laatherfs en winter. Die neerslag wissel tussen 50 en 650 mm/jaar. Die gebied se oosgrens verskuif gedurig en vergroot of verklein die oorgangsone byna op 'n jaarlikse basis. Die neerslae is hoofsaaklik sag en dikwels strek dit oor meer as een dag. Sneeu kom op die hoërliggende dele voor. Dit gaan gewoonlik met koue gepaard. Die groot reënvalverskille in die gebied is nou gekoppel aan hoogte bo seespieël. Strawwe winters met ryp kom voor.

Die gronde is afkomstig van die Tafelbergsandstene, doleriet en skalies. Dit wissel van effens suur tot alkalies. Laasgenoemde gronde kom hoofsaaklik in die laerliggende ‘Karoo’- gedeeltes voor.

Die topografie volg ook die hoogtepatroon. Hoogliggende dele is bergagtig met relatief min gelyk dele. Die topografie van die intermediêre deel is meer beperk tot hoë rante, steil bulte en meer gelyk dele. In die Karoo is die topografie gelyk en vlaktes is dominant. Die dominante veldtipes is Westelike bergkaroo, Sukkulente Karoo, Tanquakaroo en Bergrenosterveld (Acocks 1988). Laasgenoemde word met die hoogliggende dele geassosieer. Die Tanquakaroo word weer met die laagliggende dele geassosieer.

Die dominante plantegroei en spesies wat in die gebied voorkom, wissel ook na gelang van die hoogte bo see-spieël en die betrokke veldtipe. Die berge bestaan uit kruidagtige struike waarvan renosterbos, Elytropappus rhinocerotis 'n belangrike komponent is. Die bossie-komponent bestaan uit minder smaaklike Pteronia en Eriocephalus spp. en enkele ander bossies. Die graskomponent is minder algemeen. Merxmuellera stricto (olifantsgras) kom algemeen op die hange voor. Gewenste grasse soos Ehrharta spp. en Chaetobromus dregeanus (roggras) is skaars maar dui op goeie veldtoestande. Die plantegroei op die intermediêr hoogte is soortgelyk aan die hierbo. Die voorkoms van renosterbos neem af en meer gewenste bossies neem toe. Soos hierbo, is indringing van kraalbos (Galenia africana) kenmerkend van veldagteruitgang.

Die plantegroei op die laagliggende dele is yl en bestaan meestal uit sukkulente. Ruschia spp. kom volop voor. Eberlanzia ferox vorm 'n belangrike deel van die weiding. Aridaria en Drosanthemum spp. kom verspreid voor. Die graskomponent is afwesig. Struike word langs die rivierlope aangetref waarvan Acacia karroo ' n belangrike deel vorm. Salsola spp. word ook op hierdie veldsoort aangetref. Die 15 belangrikste spesies soos uit plantopnames bepaal, is:

Opslag            

Helichrysum hamulosum

Eberlanzia ferox

Pentaschistis airoides

Dimorphotheca cuneata

Pteronia sordida

Eriocephalus spinescens

Rosenia oppositifolia

Elytropappus rhinocerotis

Mesembryanthemum nodiflorum

Eriocephalus ericoides

Merxmuellera dura

Bromus japonicus

Aridaria noctiflora

Pentzia incana

Kleinveeboerdery is die hoofboerdery met sowel wolskape as vleisskape. Dit wil voorkom of wolskape in die meerderheid is. Die trekstelsel is algemene praktyk in veral die Sutherlandgebied. 'n Belangrike komponent in die intermediêr en hoogliggende dele is droëlandgewasverbouing. Wintergrane word oor die algemeen vir oes en weiding verbou. Medics begin al meer hierdie wintergrane in die gunstiger dele vervang. Nog ‘n belangrike boerdery komponent is die vloedbesproeiingslande langs die riviere en lope.

 

Suidelike Berggebiede

Die grootste deel van die gebied, 2,8 % (0,82 miljoen ha) is nie 'n boerderygebied nie en bestaan uit die Swartbergreeks en sy verlengings. Bosboubedrywighede en natuurreservate vorm hier die benuttingspatroon. Intensiewe gemengde boerdery word in die valleie tussen die berge beoefen.

Die plantegroei is tipies fynbos- en Renosterbosveld in die berge. Ernstige veldagteruitgang kom op die voorskootveld en hange van die laer rante voor. Pteronia pallens is die belangrikste indringerspesie.

 

Verwysings

ACOCKS, J.RH. 1988. Veld types of South Africa. Memoirs of the Botanical Survey of Southern Africa, 57. Pretoria: Government Printer.

COWLING, R.M. 1984. A syntaxonomic and synecological study in the Humansdorp region of the fynbos biome. Bothalia, 15. Pretoria: Government Printer.

VORSTER, M. 1985. Die ordening van die landtipes in die Karoo-streek in redelike homogene boerderygebiede d.m.v. plantegroei en omgewingsfaktore. D.Sc.‑tesis, RU. vir C.H.O., Potchefstroom.

 

FIG. 1