Last update: November 18, 2010 07:35:19 AM E-mail Print

 

Optimum weidingskapasiteit van kleinvee in die ariede en semi-ariede somerreëngebiede


W. v D. Botha & W. Mellet


Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut,

Privaatsak X529, Middelburg 5900

 


Inleiding

Die verskillende weidende diere, plaasdiere sowel as wild, het elk ’n eie unieke weidingspatroon, weigewoontes en plant voorkeure. Hieruit is dit dus voor-die-hand liggend dat verskillende diere op dieselfde weiding verskillend sal presteer. Om die natuurlike veld volhoubaar te benut is dit gewens  om die optimum weidingkapasiteit vir die spesifieke diersoort toe te pas en nie net slaafs die huidige riglyne te aanvaar nie.

Optimum weidingkapasiteit in hierdie konteks is gelyk aan die maksimum produksie van diere, uitgedruk in kg per hektaar, op ’n spesifieke stuk veld. Geen ekonomiese resultate of implikasies  word in ag geneem nie. Dit gaan hier net oor die getal diere wat op ’n stuk veld aangehou word en die produksie van hierdie diere, verandering in lewendige massa, sonder dat die toestand van die weiveld of verandering daarvan gebruik word.

 

Metode

In ’n langtermyn weidingproef om die optimum weidingkapasiteit vir die Oostelike Gemengde Karoo te probeer bepaal is drie rasse (Merinohamels, Dorperhamels en Angorakapaters)  teen drie verskillende beladings op Grootfontein aangehou. Drie beladings  swaar, medium (huidige norm) en lig word toegepas. Hierdie beladings is 6.7 ha GVE-1, 13.3 ha GVE-1 en 20 ha GVE-1 respektiewelik. Die weidingstelsel is ’n tweekampstelsel met weiperiodes 15 September tot 15 Januarie, 15 Januarie tot 15 Mei en 15 Mei tot 15 September. Die lewendige liggaamsmassa van alle diere word veertiendaagliks gedurende die oggend genoteer. Vir die doel van hierdie artikel is die massas van die 1998/99 seisoen gebruik. Hierdie massas van elke groep is tot ’n gemiddelde verwerk en daarna met behulp van die Jones & Sandland-model (1974) verwerk sodat ’n optimum weidingkapasiteit vir elke ras voorspel kan word.

 

Resultate

Diereproduksie

In Tabel 1 word die verandering in gemiddelde lewendige massa van elke groep van die onderskeie diererasse vir die betrokke proefjaar aangetoon. Eindmassas is net voor slag. Alle diere word na 12 maande geslag en die karkasse gegradeer. Wol- of haarproduksie sowel as die geslagte massa en gradering word nie in Tabel 1 weerspieël nie. Die begin en eindmassas is op ’n kleinvee-basis verder met behulp van die Jones en Sandlandmodel verwerk.

 

TABEL 1        Gemiddelde verandering van lewendige liggaamsmassa (Kg) van elke ras en groep

Ras

Belading

Begin massa

End Massa

Toename

% Toename

Angorabokke

 

 

Swaar

20.4

18.9

-1.5

-7.3

Norm

20.3

28.3

8.0

39.4

Lig

20.7

28.0

7.3

35.2

Merino

 

 

Swaar

31.1

38.8

7.7

24.8

Norm

31.4

40.6

9.2

29.3

Lig

31.3

51.7

20.4

65.2

Dorper

 

 

Swaar

39.5

52.9

13.4

33.9

Norm

39.7

57.4

17.7

44.6

Lig

39.7

66.5

26.8

67.5

 

 

Daar bestaan duidelike verskille in liggaamsmassaveranderinge (uitgedruk as % toename) tussen die skaap groepe en dié van die Angorabokgroepe. Hierdie verskille (swakker prestasie) is heelwaarskynlik tewyte aan die afwesigheid van ’n struikkomponent in die dieet van die Angorabokke.  Ooreentemmende verskille tussen die swaar en medium belading tussen die skaapgroepe kom ook voor. Wanneer die rouwolproduksie van die Merinogroepe in aanmerking geneem word verskil diereprestasie,  gemeet deur liggaamsmassaverandering, nie merkbaar tussen die Merino en Dorpergroepe, nie..  

Hierdie veranderinge in liggaamsmassa is met behulp van die Jones & Sandlandmodel verwerk en die resultate word in Figuur 1 aangetoon.

 

 FIGUUR 1      Optimum weidingkapasiteit vir Merinos, Dorpers en Angorabokke

 

Uit Figuur 1 is dit voor-die-handliggend dat elk van die drie rasse ’n eie unieke optimum weidingkapasiteit het.  Hierdie weidingkapasiteit word deur die omgewing,  dit wil sê die plantegroei van daardie omgewing bepaal. Volgens die dieetseleksie (Botha et al 1983) het beeste besliste ander weivoorkeure as skape en bokke.  Beeste behoort dan ook ’n eiesoortige optimum weidingkapasiteit in dieselfde weiveld te hê.

Dit blyk verder dat die maksimum produksie per hektaar van al drie groepe  tussen die swaar belading en die belading teen die norm van die gebied lê. Die piek van die kromme vir die Dorpers lê die naaste aan die swaar belading terwyl die Angorakromme se piek meer na die belading by die norm neig.

Verder is dit ook duidelik dat elke ras ’n eie produksiepeil handhaaf.  In hierdie geval waar slegs lewendige  liggaamsmassa in ag geneem word is die peile volgens die normale liggaamsmassa van elke ras.

Hierdie model is nie ’n ekonomiese model nie.  Geen waarde vir veselproduksie is in ag geneem nie.

 

Weiveld

By die bepaling van optimum produksie peile is dit uiters noodsaaklik om ook op die volhoubaarheid  van produksie by die betrokke peil te let.  Dit is daarom belangrik om na die verandering in die  toestand van die weiveld al dan nie te kyk.  Die gemiddelde verandering in die toestand van die weiveld sedert die proef begin is, word in Tabel 2 aangetoon. Volgens die uitleg van die proef was die samestelling en toestand van die veld vir al die beladingspeile van al die groepe dieselfde.

 

TABEL 2         Gemiddelde verandering (%) in die samestelling van die weiveld (1988 tot 1999)

Plantegroeitipe

1988

1999

Swaar

Medium

Hoog gewens

12.0

1.0

18.5

Gewens

15.0

20.0

19.0

Minder gewens

2.0

0.3

0.0

Ongewens

7.0

9.0

4.3

Veldtoestandindeks

240

160

369

 

 

Uit Tabel 2 blyk dit dat die toestand van die weiveld vir die groepe met die swaar beladings, met die uitsondering van die gewenste groep plante, verswak het.  Ongewenste plante het toegeneem.  In die geval van die belading gelyk aan die norm het die toestand van die weiveld verbeter en toon die hoog gewenste en gewenste groep plante ’n toename terwyl die minder gewenste en ongewenste groep plante ’n afname toon.  Wanneer die algemene toestand van die veld as veldtoestandindeks uitgedruk word, word dieselfde tendens gevind. By die ligte beladings was die veldverbetering nog opvallender gewees.

 

Riglyn

Wanneer die produksie krommes van die skape, Figuur 2, gekombineer word met die verandering in die toestand van die weiveld by die swaar (1Kve/ha) en medium (0.5 Kve/ha) belading is dit moontlik om ’n riglyn vir die optimum of volhoubare peil van belading by skape vir die veeboer neer te lê 

 

 

FIGUUR 2       Algemene kromme om optimum weidingkapasiteit aan te toon

By die peil van optimum produksie is geen veldverbetering moontlik nie. Die veldtoestand beweeg sywaarts en droogte jare beïnvloed die veldtoestand negatief. Geen volhoubare produksie is dus moontlik nie.  By ’n verlaging van die maksimum produksie van 15 %, wat eintlik beteken dat die belading by hierdie peil gelyk is aan die huidige norm, is  veldverbetering wel moontlik.

 

GEVOLGTREKKING

  1.  Elke ras  het op dieselfde weiding ’n eie unieke weidingkapasiteit wat nie noodwendig die huidige aanbevole norm mag wees nie.
  2.  Kombinering van rasse of tipes diere gee aanleiding tot die beter benutting van veld en ’n beter produksie.
  3.  By ’n ligter as optimum weidingkapasiteit (15% laer produksie per hektaar) is dit moontlik dat die toestand van die weiveld onder normale bestuursbeginsels kan verbeter.

 

VERWYSINGS

BOTHA, P., Blom, C.D., Sykes, E.& BARNHOORN, A.S.J. 1983. A comparison between the diets of small and large stock on mixed KAROO VELD. Proc. Grassld Soc. Sth Afr. 18: 101 - 105:

JONES, R.J. & SANDLAND, R.L., 1974. The relation between animal gain and stocking rate. J. Agic Sci. 83: 335 - 342

 

Published

Grootfontein Agric Vol 3 No 1 (1-3)