Last update: November 24, 2010 11:12:03 AM E-mail Print

 

Blouwildebees “Blue-wildebeest \ Brindled Gnu”

Connochaetes taurinus taurinus  (Burchell, 1823)

 

Deon Furstenburg

LNR-Veld & Weidingsinstituut, Grootfontein



Tussen wildsbok en bees -- inderdaad, dit ìs ’n wilde bees in Afrika.  Anders as vir die swartwildebees het dit die voorlyf van ’n bees en die agterlyf van ’n wildsbok.  Aanvanklik was daar 12 subspesies beskryf waarvan slegs vyf nog erken word.  In die noorde (Kenia, Tanzanië en tot by die Tana-rivier) kom die witbaard- “white-bearded gnu”-wildebees Connochaetus taurinus albojubatus voor; in die suide van Tanzanië, noorde van Mozambiek en Zambië kom C. t. johnstoni die Nyasaland-wildebees (wit streep oor die snoet) voor; in die Luangwa-vallei in Zambië kom C. t. cooksoni voor; en C. t. taurinus die blouwildebees in die suide van Angola, Botswana, Namibië, Zimbabwe, die suide van Mosambiek en die R.S.A.

 

Verspreiding

Die blouwildebees se natuurlike verspreiding was beperk tussen die Zambezirivier in die noorde en die Oranjerivier in die suide, vanaf die Mozambiekse kus in die ooste tot in Namibië (uitgesluit die Namibwoestyn) in die weste.  Enkeles is tot sover suid as Britstown in die Karoo deur R.G. Cumming  in 1843 aangeteken. Die hoogliggende suurveldgebiede in Natal (Drakensberggebied), Lesotho (Hooglande), oostelike Vrystaat en Transvaal (oostelike Hoëveld) was nie deel van die verspreidingsgebied  nie.    Vandag word hulle, behalwe vir gebiede wat binne die sneeulyn is in meeste grasveldhabitatte regoor die R.S.A. aangetref – dit is die gevolg van suksesvolle vestiging in marginale habitatte deur die snelgroeiende wildbedryf in Suid-Afrika.  deur  uitgesluitis endemies aan Suid-Afrika en word nie elders in Afrika aangetref nie.  Honderd-duisende het eens die grasvlaktes van die Oranje-Vrystaat, sentraal-, noord-, en noordoostelike Kaapland, die suide van Transvaal en die noorde van Natal bewoon.  Seisoenale migrasies het plaasgevind tussen die droër suidweste van die R.S.A. en die oostelike hooglande van Lesotho.  Die episentron van historiese voorkoms van die blouwildebees was die sentrale  Kalahari in Botswana -- dit weergee dan ook die optimale habitatsvoorkeure van die spesie.

 

Karakter kenmerke

Die voorlyf is swaarder en stewiger gebou (beesagtig), terwyl die rug skuins na agter afloop na ’n veel swakker ontwikkelde agterlyf (bokagtig).  Die Engelse benaming “Brindled Gnu” verwys na die  donker, parrallelverlopende, vertikale strepe (velvoue) aan weerskante van die nek en blaaie wat dit ’n rimpel voorkoms gee.  Liggaamskleur is donker blougrys of silwergrys en vandaar die Afrikaanse benaming van blouwildebees -- die kleur kan ook varieer tot silwerbruin.  Jong kalwers is opmerklik lig geelbruin en word dus maklik oor afstand onderskei.   Anders as vir die swartwildebees het dit ’n kort (meestal lëende maanhaar) en ’n swart stert.  Dit verskil van die blouwildebees se kort maanhaar (wat altyd platlê) en swart stert.  Opvallend is die swart van die voorkop, gesig en neus.  Die blouwildebees is 30cm hoër en 60kg swaarder as die swartwildebees.  Dit is ook die grootste van al die subspesies.

Volwasse bulle weeg 210-260kg en koeie 170-200kg en met ’n skouerhoogte van 130-150cm vir bulle en 122-135cm vir koeie.  Koeie het 2 spene en die spoor is tipies gesplete 2-kloutjies en skerp gepunt (voor: 8,5-9cm lank by 6cm breed; en agter: 7,5-8 x 5,5cm).  

Soos vir die swartwildebees is blouwildebeeste ook  hoogs weerstanbiedend teen meeste siektes behalwe teen die nasale botvlieg larwe Kirkioestrus minentus en Oestrus variolosus, die uitpeuloog-vlieg Gidoelstia sp., en snotsiekte “malignant catarrhal fever”.  Snotsiekte en uitpeuloog hou ernstige bedreigings in vir makvee.  Wildebeeste en vee kan egter vir etlike jare saamleef sonder enige uitbrake, maar skielik kan dit toeslaan en hele beeskuddes uitwis.  Skeiding tussen vee\bees en wildebeeste moet minstens 1km wees om besmetting te voorkom.

 

Trofee

Albei geslagte dra horings wat ontstan vanuit ’n verdikte basis, horisontaal tot effens afwaarts na buite strek en dan opwaarts oorbuig sodat die punte in die rigting van die skof geprojekteer is.  Dit is baie dieselfde vorm as by die buffel.  Geen riwwe kom voor nie -- die horings is glad oor die totale lengte.  Koeie se horings is swakker ontwikkel, effens dunner en gewoonlik ligter van kleur.   Trofeestatus word relatief vinnig bereik, reeds op 2,5-jarige ouderdom.

 

Blouwildebeesinligtingsblad

                                           Bul                              Koei

Volwasse massa                             210-260 kg                   170-200 kg

Volwasse skouerhoogte                      130-150 cm                   122-135 cm

Seksuele volwassenheid                     36 maande                    18-27 maande

Sosiale volwassenheid-1ste paring          4,5-5,5 jaar                 2,5 jaar

Dragtigheidsperiode                                                     8,5 maande

Eerste kalf gebore                                                      3,5 jaar   

Kalfinterval                                                            10-18 maande

Paarseisoen                                            Mrt-Mei,Aug

Kalfeisoen                                                              Nov-Jan, Mei

Speenouderdom                                                           8 maande

Geslagstruktuur - populasie (natuurlik)                1       :        1,2

Geslagstruktuur volwassenes (Paring)                   1       :        2-3

Geslagstruktuur volwassenes (produksie)                1       :        6-10

Geslagstruktuur populasie (produksie)                  1       :        4

Geslagsverhouding lammers gebore                       1       :        1

Jaarlikse populasie-aanwas                             28-33% (vrektes ingesluit)

Lewensverwagting                           16 jaar                      18 jaar

Loopgebied                                 600-1800 ha                  1000-2500 ha

Territorium                                0,5-1,5ha (nie staties)      geen

Grootvee-eenheid                           0,6 (volw.)                  0,4 (volw.)

Blaarvretereenheid                                           0.00

Maksimum lading                            15ha/dier (300-400 mm reën)

Minimum grootte habitat benodig                              300 ha

 

 

Rowland Ward Trofeerekords

Minimum kwalifiserende lengte:        281/2" (72,3cm)

Maksimum:

1)   337/8" (85,9cm), Messina, N.Tvl., RSA, 1982, Dr. L.C.F. Taljaard

2)   331/2" (84,9cm), Sabie, O. Tvl. RSA, 1898, B. Secretan

3)   331/8" (84cm), N.Tvl, RSA, 1981, H.A. van Vuuren

4)   33" (83,7cm), Zimbabwe, 1983, L. Alberts

5)   33" (83,7cm), O.Tvl, RSA, 1950, A.A. Schoh

6)   327/8" (83,4cm), Beitbridge, Zimbabwe, 1974, J.C. Bouwer

                                                                        

Habitat en Voeding

Blouwildebeeste is kortgras-vreters (korter as 12cm) wat savanne (grasvlaktes met yl-boomveld) habitatte verkies.  Grassamestelling moet grootliks uit soetgras-spesies bestaan.   Suurveld is totaal ongeskik.  Digte bosruigtes en woudagtige plantegroei, berghange, hoogland-bergplatos en woestyne  is ongeskikte habitatte en  word vermy.   Vlaktes, leegtes, vloedvlaktes langs dreineringslyne en ekotone tussen bosveld en grasveld word verkies.  Drinkwater is essensiëel en moet geredelik beskikbaar wees.  Hulle drink 9-12 liter water daagliks of minstens elke tweede dag.  Suipings moet so natuurlik moontlik wees – drink nie maklik uit opgeboude veekrippe nie.   Blouwildebeeste is selektief t.o.v. kortgras habitattte en hulle vreet selektief t.o.v. plantdeel.  Hulle is minder selektief vir plantspesie mits die habitat oorwegend oor soetgrasse beskik.   In marginale habitatte wat gemeng is en meer as 40% suurgrasse insluit word blouwildebeeste hoogs selektief vir die meer smaaklike spesies en gevolglik word hul impak op die omgewing intensief.  By gunstige klimaattoestande in optimale habitat het blouwildebeeste min impak op die omgewing.  Optimale habittate kom voor by ’n jaarlikse reënvalgemiddeld van tussen 250 en 450mm.   Koue ryp- en sneeulyngebiede word nie verdra nie, m.a.w. die klimaat moet of subtropies, of semi-aried wees.is – akkedeer nie by Hooglandklimaat nie   Voeding geskied enige tyd van die dag of nag (maanlig aande), maar gedurende die warmer dagure, word verkies om onder skadu te staan en herkou.  Soms sal hulle ook vir kort tydsdure in die skadu gaan lê.  Natuurlike dieetsamesteling bestaan uit 96% kort-soetgras en 4% dikotiele (houtagtige) kruide.  Geskikte voedselbronne is essensieël en blouwildebeeste is trekdiere wat sal poog om te trek as die habitat en\of voedselbron ongeskik raak t.o.v. hul voorkeur.  Veld moet sporadies gebrand word om die weiding geredelik geskik te hou.  Hulle sal oor groot afstande trek om nuwe uitloop op gebrande veld te bekom.  Belangrike grasspesies is onder andere: Panicum spp, Digitaria spp, Themeda triandra, Cynodon dactylon, Stipagrostis ciliata en S. obtusa.

 

Gedrag    

Blouwildebeeste  is bekend om die teenwoordigheid van ander sosiale dierspesies soos sebras, bobbejane, waterbokke, springbokke, rooibokke en kameelperde te aanvaar.  Voordeel word so verkry deurdat die waaksaamheid en waarnemingsvermoë van die verskillende spesies gedeel word.  Veiligheidsafstand wat tussen potensiële gevaar gehandhaaf word is relatief kort 40 tot 150m, maar vlugafstande kan tot 2 km wees.  Tydens vlug word daar gemoonlik in golwende enkellyn weggegalop om eers weer ’n dag of twee  later terug te keer.  Territoriale bulle sal in ’n sirkel vlug sonder om die territorium geheel te verlaat.

Blouwildebeeste is migreerders wat seisoenaal trek namate die voedselstruktuur en -beskikbaarheid verander.  Gevalle is bekend waar daar in 2dae 90km ver getrek is agter ’n donderbui aan.  In die Serengetti het trekke van tussen 4 en 6 miljoen diere oor ’n sirkelroete van nagenoeg 2 000km tot in die 1980's nog voorgekom.  In Botswana trek blouwildebeeste tussen die Makgadi-kgadi panne en die suidooste van Namibië.  Liversedge het laasgenoemde trek in 1980 waargeneem om ’n kolonne wildebeeste van 16x10km te gevorm het.  Ongelukkig beperk die veartse-ny heinings in Botswana, die weste van die Krugerwildtuin en die suide van die Kahalari Gemsbokpark hul eertydse natuurlike migrasieroetes -- dit het groot produksiebeperkinge van die natuurlike populasies tot gevolg.   Migrasies hou altyd verband met waterbeskikbaarheid.  Blouwildebeeste sal (behalwe waneer in transito) selde verder as 20km van die naaste watersuiping gevind word..

 

Territorium en Loopgebied

Vanweë hul migrerende gedrag speel vaste tuisgebiede of loopgebiede nie ’n pertinente rol van die gedragstruktuur nie.  Gedurende goeie jare (met genoeg voorkeur voedsel en water) migreer hulle egter nie en sal hulle hou binne tydelike loopgebiede van 1 500 tot 2 500ha.  Nie aktief-telende bultroppe hou op die rand van die teeltroppe se loopgebiede en gewoonlik op marginale habitat -- teeltroppe neem meeste optimale habitatte op.  Dominante teelbulle (wanneer nie-migrerend) hou in  tydelike territotiums van 0,5-1,5ha (grootte wissel nagelang van die bevolkingsdigtheid).  Territoriums word aktief verdedig ander bulle van die spesie.  Wanneer daar getrek word, word die territoriums drywende eilande wat saam met die migrasie beweeg.  Dominante bulle verdedig dan ’n 30-50m strook rondom homself en rondom sy aangekeerde koeie, soos wat hulle saam met die migrasie voortbeweeg.    Territoriale gedrag kom net by bulle voor en meestal slegs gedurende die bronstydperk.  Met intensiewe produksiebestuur op ’n wildsplaas kan ’n enkele teeltroppie van ongeveer 15-20 diere saam met ’n bultrop van 5-7 en 2-3 dominante \ teelbulle wel op 300ha aangehou word, mits: a) daar genoeg water is, b) die habitat en voedingsbron geskik is en c) die aanteel jaarliks of 2-jaarliks ge-oes word. 

 

Sosiale struktuur

Drie strukture word onderskei:

I.     Familiegroepe (10 tot 150 diere) bestaande uit koeie, jaaroud kalwers en subvolwasse diere van albei geslagte.

II.    Bultroppe (6 tot 20 diere) wat bestaan uit sosiaal onvolwasse bulle (2 tot 4,5 jaar) en nie-aktiewe dominante volwasse bulle.

III.   Enkellopnede teritoriale dominante teelbulle.

Geen orde van hierargiese dominansie binne die koei-(familie)-troppe of binne die bultroppe nie. Familiebande tussen koeie en verse is swak en lede van troppe ruil gedurig met mekaar uit.   Jong bulletjies word slegs gedurende die bronstydperk deur die territoriale bulle uit die fanmilietroppe verjaag.  Hulle sluit dan aan by die bultroppe.  Op 4,5-jarige ouderdom bereik die bul sosiale volwassenheid -- a) hy verlaat die bultrop en ding mee met die dominante bulle om ’n eie territorium te vestig wat gehandhaaf word solank solank omgewingstoestande gunstig bly, of b) hy hou deur die jaar saam met die bultrop en breek net tydens die bronstydperk weg om territoriaal te wees vir paring, na paring sluit hy weer aan by die bultrop.

 

Voortplanting & Produksie

Blouwildebeeste het ’n bimodale teelseisoen wat beteken dat paring geskied vanaf Maartmaand tot en met Meimaand sowel as in Augustus.   Meeste kalwers word gebore vanaf middel November tot begin Januarie en ’n aantal in Mei.  Paar- en kalfseisoen verskuif na gelang van die heersende klimaattoestande en sal dus nie noodwendig elke jaar dieselfde wees nie.  Koeie beweeg tussen teritoriale bulle en sal met tot drie verskillende bulle paar.  Slegs koeie wat sosiaal volwasse is (ouer as 2 jaar sal paar).   Na ’n dragtigheidsperiode van 8,5 maande word ’n enkele kalf gebore.  Die koei verlaat nie die trop vir geboorte nie.  Na 5-10 minute hardloop die kalf saam met die ma en saam met die trop.   As gevolg van hierdie onmiddelike rondloop, vreet die ma die nageboorte op. Kalfmortaliteite binne die eerste 2 maande kan tot sos hoog as 45% wees.  Jakkalse en ander roofdiere neig om saam met wildebeeste te trek of te beweeg gedurende die kalfseisoen en te maai onder die nuwe aankomelinge.  Blouwildebeeste is nie aggressief nie en selfs ‘n enkele rooijakkals kan ‘n ma van haar kalf af verdryf.  Kalwers begin reeds op 14 dae gras vreet, maar word eers op 8 maande gespeen.  As die volgende seisoen se nuwe kalfie iets sou oorkom, gebeur dit dikwels dat die vorige seisoen se kalf sal aanhou soog tot op 16 maande ouderdom.

Vir produksie behoort die geslagstruktuur vir sosiaal volwasse diere 1 bul (>4 jaar) : 6-10 koeie (>2 jaar) te wees..  Natuurlike volwasse paarverhouding is 1% : 2-3&.   Produksie-aanwas van ’n bevolking wissel van 28 tot 38% na gelang van die predasiedruk ondervind.   Swartwildebeeste kruisteel suksesvol met blouwildebeeste en behoort dus nie saam aangehou te word  binne dieselfde bestuurseenheid nie.  Gelukkig het die twee spesies verskillende habitatsvoorkeure, met die gevolg dat hulle selde saam aangetref sal word.  Tog moet die eienaar bedag wees op die moontlike risiko van kruisteling.

Hoewel ’n volwasse bouwildebees ongeveer 0,4-6 grootvee-eenhede is, moet ’n minimum van 15ha  (in optimale veld – reënval 300-400mm) vir elke dier toegelaat word om voorsiening te maak vir die dier se sosiale gedrag en om te verseker dat hy die verlangde spektrum diversiteit van sy dieet kan bekom.  By laer reënval kan dit gemiddeld met 7ha per dier vir elke 50mm afname verlaag word, m.a.w. by 200mm 29ha/dier, en by hoër reënval met 5ha per 100mm toename verhoog. By 500-700mm reënval op soetveld kan digthede van tot 5ha per dier onderhoubaar bestuur word.

 

Dinamika van Suid-Afrikaanse blouwildebees veilingspryse

Gemiddeld van alle veilings:                                1995 - R1 475                1999 - R2 248

1976 - R0 205                1992 - R0 490                1996 - R1 783                2000 - R2 226

1990 - R0 914                1993 - R1 129                1997 - R2 222                2001 - R2 326

1991 - R0 744                1994 - R1 391                1998 - R2 129               

 

(Vervolgens in die reeks: Die Bontsebra “Burchell’s zebra”)

 

Deon Furstenburg

Natuurlewe Wetenskaplike, Landbounavorsingsraad,

Middelburg, Oos-Kaap,

email : Deon Furstenburg

(Beskikbaar vir professionele konsultasies)