Last update: November 24, 2010 11:43:47 AM E-mail Print

 

Springbok

Antidorcas marsupialis  (Zimmerman, 1780)

 

Deon Furstenburg

LNR-Veld & Weidinginstituut

Grootfontein

 


Springbok -- soos wat die rooibok die mees algemeenste wildsbok in die subtropiese savanne bosveld gebiede is, is die springbok die belangrikste in die suidwestelike halfwoestyn en ariede gebiede.  In die volksmond word dit erken as die “trek”-bok van alle eeue.  Menige stories is bekend aangaande die legendariese massatrekke van ouds.  Trekke deur die Karoo en Namakwaland het sporadies voorgekom waarby miljoene bokke massas gevorm het wat kilometers in deursnit gestrek het.  In 1915 vertel Scully (’n magistraat uit Namakwaland) van een so ’n trek wat oor die berg aan die weskus geëndig het.  Die bokke is deur die see gestuit en het op grootskaal langs die kus gevrek   Verrottende karkasse het vir sowat 30 myl langs die strand op mekaar gelê.  Reeds vanaf die vroegste tye tot en met die hede was springbok nog altyd die belangrikste vleisproduk vir die pot.  Veral in die 1970's is springbokvleis op grootskaal deur die eertydse Kowisco-maatskappy ge-oes en uitgevoer na die buiteland.  Vandaar die Engelse term “venison” wat spesifiek verwys na die fyn vinneure vleis van die springbok.  “Venison” word vandag egter verkeerdelik gebruik om na alle soorte wildsvleis te verwys, terwyl dit spesifiek dui op springbokvleis. 

Die springbok se naam verwys na die unieke eiesoortige pronk(spring)-gedrag.  Die geboë kromrug- houding, met stywe bene en orente hare-pluim op die kruis en rug, waarmee die dier vlugtige spronge van tot 2,6 meter hoog kan uiter is wel bekend.   Die spesienaam mursupialis verwys na marsupium wat sakkie beteken.  Die wit hare-pluim op die rug en kruis wat slegs tydens die pronk waarneembaar is, vou spreekwoordelik toe in ’n sakkie op die rug, teruggevou en verberg deur die bruin bo-hare van die rug wanneer die dier normaal verkeer.

Springbokke het ’n fyn liggaamsbou met ’n skouerhoogte van 75 cm -- die boude is kenmerkend  hoër as die rug.  Volwasse ramme is effens swaarder (41 kg) as ooie (37 kg).   Die helder kaneelbruin rug en donker rooibruin streep langs die flank, wat skerp afge-ets is teen die spierwit onderdele, maak die dier hoogs kleurvol.  Die dowwe Karoo en sandagtige ariede habitatte waarin die springbok hou, veroorsaak dat die kleur nog meer helder vertoon.  Die dorsale maanhaar of hare-pluim (slegs sigbaar tydens pronk) se hare is 10-15 cm lank in vergelyking met die kort rughare van1,5-2 cm lengte.  Kenmerkend is ook die donker streep aan weerskante van die wit gesig wat vanaf die oog tot net bokant die mondhoeke strek en die donker kol op die voorkop.. 

 

Taksonomie & Verspreiding

Aanvanklik is drie subspesies onderskei: A. m. marsupialis vanaf die suidwestelike Kaapland, A. m. hofmeyri vanaf die suide van Namibië en Botswana en A. m. angolensis vanaf noordelike Namibië en Angola.  Professor Terry Robinson het deur kariologiese en elektroforetiese ondersoeke bevind dat daar geen anatomiese of genetiese verskille tussen die springbokke van Namibië, Botswana, die Kalahari of die Karoo bestaan nie, en gevolglik is daar dus slegs een spesie is sonder enige subspesies.  Daar is gewis massa verskille tussen die onderskeie bevolkings – die gevolg van klimaat en voedsel verskille.  Daarom dat menige Karooboer reeds met groot teleurstelling agtergekom het dat die inbring van Namibiese of Kalahari-bloed nie help die Karoobokke se grootte en massa te verhoog nie.  Na 2-3 jaar in die Karoo klimaat en sy voedingsbronne verklein die nuwe ingebringde bokke ook tot dié van die Karoobokke.  Suksesse is wel al behaal deur swartspringbokke in te bring.  Die geteelde swartspringbok is effens groter in bouvorm as die gewone springbok en produseer wel

’n nageslag van ’n groter liggaamsbou.  Die gekruisde nageslag raak nie vermeng nie, maar is of uitsluitlik swart, of uitsluitlik gewoon.  Dan is daar ook die geteelde witspringbok.  Twee variasies kom voor: ’n albinistiese vorm met normale swartgrys horings en ’n ware (nie-albinistiese) witbok met witbruin horings.  Laasgenoemde is van veel groter ekonomiese waarde as die albinistiese vorm.

Springbokke word nou geassosieer met droë klimaat.  Hulle verspreiding is beperk tot Namibië, Botswana, Angola, Botswana en die weste en suidweste van die R.S.A.  Histories was hulle byna uitgeroei in die Vrystaat, wes-Transvaal en suid-Kaapland, maar is weer suksesvol hervestig.Die mees suidelike natuurlike verspreiding was tot by VanRhynsdorp in die Kaap en Port Alfred in die oos-Kaap.  Springbokke het nooit in sentraal Afrika voorgekom nie – die effens kleiner gazelle vul hier dieselfde habitat nis.    

 

Trofee

Albei geslagte dra die swaar gerifelde, liervormige horings wat effens na agter gerig is en eers na buite buig en weer met die punte skerp na binne buig om twee hakke te vorm.  Ooie se horings is duidelik kleiner, dunner en verder uitmekaar by die basis as die ramme sin.  Horings kan tot oor die 40 cm lank word en is geriffel vir die eerste 70-75% van die lengte, terwyl die punte glad is.

 

Springbokinligtingsblad

                                                                                       Ram                                              Ooi

Volwasse massa                             33-48 kg, Gem 41kg         30-44 kg, Gem 37 kg

Volwasse skouerhoogte                      75 cm                      70 cm

Seksuele volwassenheid                     11-12 maande               6-12 maande

Sosiale volwassenheid-1ste paring          30 maande                  10-12 maande

Dragtigheidsperiode                                                   165-180 dae

Eerste lam gebore                                                     16-18 maande       

Laminterval                                                           8-14 maande

Paarseisoen                                            Heel jaar

Lamseisoen                                                            Jul-Jan

Speenouderdom                                                         3 maande

Geslagstruktuur - populasie (natuurlik)    1            :             1,3

Geslagstruktuur volwassenes (Paring)       1            :             3

Geslagstruktuur volwassenes (produksie)    1            :             5-8

Geslagstruktuur populasie (produksie)      1            :             1,6

Geslagsverhouding lammers gebore           1            :             1

Jaarlikse populasie aanwas                 30-45% (vrektes ingesluit)

Lewensverwagting                           8-10 jaar                  8-10 jaar

Loopgebied                                 100 ha                     300-800 ha

Territorium                                2-6 ha                     geen

Grootvee-eenheid                                        0.09 GVE

Blaarvretereenheid                                      0.33 BE

 

 

Rowland Ward Trofeerekords

Minimum kwalifiserende lengte:        14" (35,5cm)

Maksimum:

1)  193/8" (49,1cm), Namibië,  1973, B.L. Steenkamp

2)  191/8" (48,5cm), Beafort Wes, S.Kaap, 1961, W.H. Allhusen

3)  19" (48,2cm), Kalahari, 1895, W.F. Webb

4)  185/8" (47,2cm), Namibië, 1989, F.L.C. Engels

5)  185/8" (47,2cm), Kalahari, 1966, M.F.Bradford   

                                               

                                                       

Springbokgroeitempo in vergelyking met ouderdom

Ouderdom

Massa (kg)

Horinglengte (cm)

Geboorte

3,5

0

8 weeks

6

0

3,5 maande

10-12

3-5

9 maande

18-25

5-9

15 maande

28-35

13-18

18 maande

29-37

17-24

21 maande

30-40

19-26

30 maande

32-42

21-30

3 jaar

33-44

28-35

4 jaar

34-46

30-40

6 jaar

35-48

32-45

                                                                                                                                               

 

Habitat

Voorkeurhabitat assosieer met ariede droë omgewings en droë grasvlaktes, karoobossieveld, brak-panne,duinstrate en halfwoestyn struikgemeenskappe wat meestal tot die westelike gebiede van die R.S.A. beperk is.  Breëblaar kortgrasgebiede rondom panne is veral gesog.  In die Kalahari verkies hulle die droë rivierbeddings bo die duinstrate.  Vernaamste habitatvereistes is die beskikbaarheid van voedsel (meerjarige houtagtige kruide en kort soetgrasse), hoë grondmineraalinhoude, sanderige grond, lae struikdigtheid en ’n jaarlikse reënval van 50-450 mm.  Digte struikgroei en bosruigtes asook klam alluviale\klei gronde, bergagtige gebiede, digte boomveld en langgras word vermy.  Drinkwater is nie ’n habitatvereiste nie, springbokke kan al hul waterbehoeftes vanuit hul dieet bekom, solank as wat die voginhoud nie laer as 10% is nie.  Sukkulente kruide (bv. vygies en kaktusse) en knolplante soos tsammas en gemsbokkomkommers dien as belangrike waterbronne.  In die woestyn word dou in die oggend van plantstingels en klippe afgelek.  Hervestiging in die Vrystaat en Oos-Kaap het getoon dat springbokke geredelik kan aanpas in ’n veel wyer spektrum van marginale habitat.  Let wel dat hul produksievermoë aansienlik verminder in marginale habitte.  Veral in die Oos-Kaap is dit bekend dat springbokpopulasies geweldig kan fluktureer deurdat ’n populasie vir 3-5 jaar sal floreer en dan skielik in duie stort, net om weer van vooraf te begin opbou en herhaaldelik weer in duie te stort.  Die rede is nog onduidelik, alhoewel gesprekke met bekende wildveeartse by Onderstepoort daarop dui dat inwendige parasiete (rondewurm, haarwurm en hartwater) gelydelik in ’n populasie opbou om kritiese vlakke te bereik waarby die populasie dan ineenstort.  

 

Gedrag  

Gedurende droë wintermaande hou springbokke in klein tropies.  In droë woestynagtige habitatte trek troppe agter gelokaliseerde reënbuie aan om die vars plantegroei na die reëns te benut.  So kan tydelike samedrommings van duisende en selfs honderde duisende diere plaasvind.  In 1925 skryf Cronwright-Schreiner van ’n samedromming “groot trek” wat ’n strook land van 100x15 myl met springbokke gevul het.  Soortgelyke maar kleiner trekke is in 1946, 1950, 1957 en 1959 aangeteken.  Toenemende veeboerdery en heiningdrade in die noord-Kaap, saam met jagdruk en die rinderpes van 1896 het die historiese springbokgetalle laat afneem.  Springbokke is hoogs vatbaar vir hartwater, en bokke kan nie van hartwatervrye na besmette areas hervestig word nie.   Springbokke assosieer ook nie so geredlik met ander wildspesies soos vir die rooibok nie.  Veral jong subvolwasse bokke is baie plesierig en geneig tot vermakerigge pronkgedrag.   Volwasse bokke word dikwels gesien om te pronk tydens reënbuie of as hulle senuweeagtig is.  Wanneer gevaar bespied word sal daar eers ernstig weggenael word en na ’n geredelike afstand van 100-200 m oorgegaan word in pronkerige bokspringe.  Vlugsnelhede van tot 88 km/h kan behaal word en in vlug kan hulle tot 2 m hoog en 5 m ver spring.  Hule maak grootliks op sig staat om gevaar te bespied. 

Springbokke tooi “groom” hulself gereeld deur met die snoet teen die lyf te vryf, met die voortande aan die vel te knibbel en met die horings teen die lyf te krap.  Wederkerige tooiing tussen individue  vind nie plaas nie en inter-liggaamskontak soos by die rooibok kom nie voor nie.  Springbokke is veral aktief in vroeë oggend- en laat middagure en ook na donker in die vooraandure.

 

Voeding

Springbokke is gemengde vreters wat beide grass, kruid en takvoermateriaal benut.   Soos ander antilope is dit ook ’n herkouer.  Grasse en kruide geniet voorkeur in die natter somer seisoen, terwyl meer takvoer in die winter gevreet word namate die verteerbaarheid en voedingswaarde van die grasse afneem.  Hulle is hoogs selektief vir beide plantspesies, plantdeel en plantegroeistruktuur – gevolglik is dit ’n konsentraatvoeder (selekteer uitsluitlik vir hoë kwaliteit voedsel).  Die belangrikste faktor vir voedselseleksie is voedingswaarde en smaaklikheid van plantmateriaal.   Kortgrasveld (2-6 cm) van hoofsaaklik soetgrasspesies word verkies.  Gemengde grassoorte bied marginale habitat terwyl suurgrasse ongeskik is.  Springbokke vereis ’n groot plantspesiediversiteit in hul dieet om hul energiebehoeftes in die droë wintermaande te bevredig.   Diverse diete is tipes vir konsentraatvoeders.  Wetenskaplikes het in die Wes-Transvaal tot 68 plantspesies aangeteken wat deel maak van die springbok se dieet en tot 57 spesies in die Kalahari.  Belangrike spesies is, grasse: Themeda triandra, Cynodon dactylon, Panicum, Eragrostis, Brachiaria, Pennisetum, Sporobulus,  Digitaria, Enneapogon en Stipagrostis; en struike & kruide: Monechma, Rhigosum, Psoralea, Grewia, Pentzia incana, Chrysoeoma tenuifolia, Rhus ciliata, Acacia, Boscia albitrunca, Zygophyllum, Ziziphus mucronata, Colophospermum mopane en Solanum.  

Springbokke drink nie geredelik water nie, water word grootliks vanuit die dieet verkry.  ’n Volwasse bok benodig 1-1,5 liter vog per dag.

 

Territorium & Loopgebied

Volwasse ramme is territoriaal gedurende die laat somer en herfs, maar bly nie permanent op hul territoriums dwarsdeur die jaar nie. Ramme verdedig hul territoriums aggressief en poog om ooitroppe daarbinne te hou deur hulle voortdurend aan te keer.  Tydens aankeer is die ooie dikwels geneig om te pronk.  Territoriums word in oop kolle, gewoonlik oorbeweide veld of brakkolle, gevestig en deur latrines gemerk wat herhaaldelik deur die ram gebruik word.  Tydens urinasie word die agterbene wyd uitgesprei sodat die penis so na moontlik aan die grond kan wees.  Alhoewel preorbitaalkliere teenwoordig is speel dit nie ’n defnitiewe rol in territoriale merking nie.  Territoriums wissel van 2 tot 6 ha. 

Ofskoon springbokke van nature trekdiere is wat sporadies agter nuwe weiding aan sal migreer, hou die ooitroppe gewoonlik in ’n loopgebied van 300 tot 800 ha.  Grootte en konstantheid van ’n loopgebied wissel na gelang van voedselbeskikbaarheid.  Tydens die historiese groot trekke is tot ’n paar honderd kilometer per trek afgelê.   

 

Sosiale gedrag & Voortplanting

Springbokke is sosiale diere wat groepvormend is.  Die populasie bestaan uit verskeie familietroppe van 5-100 diere in die winter, maar in die somer verenig die troppe tydelik om groot troppe te vorm. Familietroppe bestaan uit volwasse, subvolwasse en jong diere van beide geslagte.   Territoriale ramme probeer soveel moontlik ooie aankeer en solank moontlik hou.   Met verloop van tyd beweeg ’n familietrop dus deur die territoriums van verskeie ramme. Gedurende die lamseisoen breek die subvolwasse (jaaroue) ramme weg van die familietroppe en vorm tydelike ramtroppe.  Die volwasse ramme bly heeljaar lank enkellopend.   Springbokke teel nie seisoenaal nie.  Ramme toets die estrusstatus van die ooie gedurig deur flehming (die ooi se urine word met die lippe opgevang).  Teling geskied enige tyd van die jaar en word bepaal deur die fisiologiese status van die ooi wat beheer word deur die voedingsgehalte van die dieet.  Meeste lammers word gebore in die piek reënval seisoen van die betrokke omgewing.    Ooie begin reeds na 10 maande ouderdom paar, terwyl ramme eers na 30 maande sosiaal volwasse is en kan meeding om te begin paar.  Lammers vorm kleutergroepe en begin op 3 weke saam met die trop beweeg.  Hulle speen na 3 maande.  By optimale toestande kan ’n ooi een lam elke 8 maande voortbring, d.w.s. 3 lammers in 2 jaar.

 

Produksie

Volwasse grootte word bereik op 18-20 maande en Rowland Ward trofeestatus eers na 5 jaar ouderdom.  Gemiddelde jaarlikse natuurlike produksie-aanwas is 33% en wissel van 28 tot 42% na gelang van die reënval en veldtoestand.  ’n 1 000 ha optimale habitat (reënval 300-400 mm) kan sowat 450 springbokke dra.   Maksimum paringsverhouding vir produksie is 1% : 6-7&.  By ’n groter ooiverhouding sal die ramme in geheel verjonk wat ’n afname in trofeediere tot gevolg sal hê.  Een volwasse springbok diere-eenheid (DE) is 40 kg wat gelyk is aan 0,9 grootvee-eenhede (GVE) en 0,33 blaarvreter-eenhede (BE) – ’n BE is gelyk aan ’n nie-lakterende koedoe van120-140 kg en wat 1500 vreetbare struike benodig.  Elke springbok DE benodig dus ’n minimum van 1,5-3 ha geskikte grasweiding en 454 geskikte vreetbare struike\bossies (kroondeursnit >80 cm) om te oorleef.

 

Suid-Afrikaanse lewendige veiling prysskommelinge vir springbok

Gemiddeld van alle verkope:                        1988 - R312                     1991 - R280

1995 - R303                    1996 - R305         1997 - R403                     1998 - R473

1999 - R410                    2000 - R382         2001 - R501            Rekord = R1200 (2001)

 

 

Deon Furstenburg

Wildlife Scientist, Agricultural Research Council,

Middelburg, Eastern Cape,

email :Deon Furstenburg

(Available for professional consultancies)