Last update: November 24, 2010 11:52:21 AM E-mail Print

 

Swartwildebees “White-tailed Gnu”

Connochaetes gnou  (Zimmermann, 1780)

 

Deon Furstenburg

LNR-Veld & Weidingsinstituut

Grootfontein

 


Met die maanhare en stert van ’n perd, die kop van ’n bees en die delikate bene van ’n wildsbok, is die swartwildebees die mees bisarre skepsel in die diereryk -- ook bekend as die nar van die veld.  W Cornwallis Harris (1840) beskryf dit so: “A more whimsical compound than the Gnoo could scarcely have been thrown together, or a monster imagined of more fantastical and anomalous exterior”.  Geen subspesies word onderskei nie en dit is naverwant aan die blouwildebees “brindled gnu” C. taurinus taurinus en vier ander subspesies waaronder die “White-bearded gnu” C. t. albojubatus en die “Nyasaland gnu” C. t. johnstoni.  Gnu is die Hottentot naam vir die snork-bulk geluide “ge-nu” wat herhaaldelik geuiter word. 

 

Verspreiding

Swartwildebeeste is endemies aan Suid-Afrika en word nie elders in Afrika aangetref nie.  Honderd-duisende het eens die grasvlaktes van die Oranje-Vrystaat, sentraal-, noord-, en noordoostelike Kaapland, die suide van Transvaal en die noorde van Natal bewoon.  Seisoenale migrasies het plaasgevind tussen die droër suidweste van die R.S.A. en die oostelike hooglande van Lesotho.  Dit moes ewe aanskoulik gewees het as die bekende “White bearded gnu”-trekke van die Serengeti vlaktes in Tanzanië.  Die mees suidelike verspreiding was tot by Somerset-Oos (Oos-Kaap) en verder ooswaarts tot by die Keirivier.  In die noorde het hulle tot 80km noord van die Vaalrivier en in die suidelike Kahalari (Gordonia) voorgekom.  Weswaarts is hulle tot in Namakwaland aangeteken.  Swartwildebeeste het nou geassosieer en saam gewei met die uitgestorwe Kaapse kwagga.  Grootskaalse jag, landbouontwikkeling en veeboerdery het die swartwildebees tot op die rand van uitsterwing gedryf.  In die 1890's het hul getalle tot ’n skrale 550 gedaal.  ’n Ernstige brandsiekte-uitbraak in die vroeë 1900's het nog meer laat vrek.  In 1866 alleen is 157 000 swartwildebees- en blesbokvelle deur ’n maatskappy in Kroonstad na die buiteland uitgevoer, terwyl in 1870 sowat 500 000 blesbok-, kwagga-, zebra-, en swartwildebeesvelle in ’n enkele jaar vanaf Durban verskeep is.  Die meeste was afkomstig vanuit die Oranje Vrystaat.  Daarom dan dat dié provinsie die gru naam “Riemland ge-erf het.  So ook die naam Vlekpoort (’n eertydse vleilandgebied naby Hofmeyr in die Oos-Kaapse Midland) wat afgelei is van die menige vars velle wat teen die rante oor rotse oopgesprei is om te droog. 

Danksy die ingryping deur die OVS-Natuurbewaring en die Nasionale Parkeraad is die swartwildebees van uitsterwing gered.  Vandag kom dit weer wydverspreid voor en die getalle het gegroei tot: 1 048 in 1945, 1 808 in 1965, 3 120 in 1970, 6 500 in 1980, 7 680 in 1985 en 17 493 gerigistreerde diere ten 1991 (waarvan 9 498 in die OVS, 4 048 in Kaapland, 3 308 in Transvaal en 659 in Natal).  In 1991 was die swartwildebees reeds wyer verspreid in die R.S.A. as die blouwildebees. 

 

Karakter kenmerke

Kenmerkend is die altyd regopstaande maanhare (lig roomkleurig aan die basis en swart op die punte) en die lang vuil-wit stert.  Dit verskil van die blouwildebees se kort maanhaar (wat altyd platlê) en swart stert.  Volwassenes is donker geelbruin tot swart van kleur (blouwildebees is silwergrys) en die gesig is donkerder as die lyf.  Kalwers is roomkleurig tot ligte geelbruin.  Anders as by die blouwildebees het die swartwildebees ’n rif bors-maanhare wat tot onder die pens strek.  Uniek is die borselagtige haredos op die snoet wat tot net onder die oë strek.  Albei spesies is swaarder en stewiger gebou in die voor- as in die agterlyf, met die gevolg dat die rug skuins afloop vanaf die skof na die kruis.  By die blouwildebees is die rug en boude egalig afgerond, terwyl die die boude van die swartwildebees verhewe knoppe vorm wat by die kruis ver bokant die rug uitstaan.  Die swartwildebees 30cm laer en 60kg ligter as die blouwildebees.

Volwasse swartwildebeesbulle weeg 147-193kg en koeie 120-160kg en met ’n skouerhoogte van 120cm vir bulle en 110cm vir koeie.  Koeie het 2 spene en die spoor is tipies gesplete 2-kloutjies en skerp gepunt (voor: 9cm lank by 6cm breed; en agter: 8 x 5,5cm).  

Swartwildebeeste is hoogs weerstanbiedend teen meeste siektes behalwe teen die nasale botvlieg larwe Kirkioestrus minentus en Oestrus variolosus, die uitpeuloog-vlieg Gidoelstia sp., en snotsiekte “malignant catarrhal fever”.  Snotsiekte en uitpeuloog hou ernstige bedreigings in vir makvee.  Wildebeeste en vee kan egter vir etlike jare saamleef sonder enige uitbrake, maar skielik kan dit toeslaan en hele beeskuddes uitwis.  Skeiding tussen vee\bees en wildebeeste moet minstens 1km wees om besmetting te voorkom.

 

Trofee

Albei geslagte dra horings wat ontstan vanuit ’n verdikte smal basis, dan diep na vore afbuig en weer skerp loodreg opwaarts draai.  Horingpunte neig om effens na binne te buig.  Koeie se horings is ligter en dunner as dié van die bulle.  Trofeestatus word relatief vinnig bereik, reeds op 2,5-jarige ouderdom.

 

Swartwildebeesinligtingsblad

                                          Bul                      Koei

Volwasse massa                            147-193 kg               120-160 kg

Volwasse skouerhoogte                     120 cm                   110 cm

Seksuele volwassenheid                    16 maande                16 maande

Sosiale volwassenheid-1ste paring         36 maande                18 maande

Dragtigheidsperiode                                                8,5 maande

Eerste kalf gebore                                                 26 maande

Kalfinterval                                                       12 maande

Paarseisoen                                          Feb - Apr

Kalfeisoen                                                         Nov - Jan

Speenouderdom                                                      4-5 maande

Geslagstruktuur - populasie (natuurlik)   1           :            1,8

Geslagstruktuur volwassenes (Paring)      1           :            3

Geslagstruktuur volwassenes (produksie)   1           :            6-10

Geslagstruktuur populasie (produksie)     1           :            4

Geslagsverhouding lammers gebore          1           :            1

Jaarlikse populasie-aanwas                28-33% (vrektes ingesluit)

Lewensverwagting                          16 jaar                  18 jaar

Loopgebied                                400 ha                   200-500 ha

Territorium                               2-6 ha                   geen

Grootvee-eenheid                          0,36 (volw.)             0.35 (volw.)

Blaarvretereenheid                                   0.00

Maksimum lading                           10ha/dier (450-550mm reën)

 

  Rowland Ward Trofeerekords

Minimum kwalifiserende lengte:        227/8" (58cm)

Maksimum:

1)  293/8" (74,6cm), OVS,  1977, JL. L’Ecuyer

2)  291/4" (74,3cm), Oos-Kaap, 1997, JL. Palmer

3)  283/4" (73cm), Natal, 1993, BC. Brecher

4)  283/4" (73cm), Standerton, Tvl, 1998, E. O’Kelley

5)  281/4" (71,8cm), OVS, 1991, P. Vilidu   

 

Swartwildebeesgroeikurwe met betrekking tot ouderdom

Ouderdom

Massa (kg)

Horinglengte (cm)

Geboorte

12

0

6 maande

60 - 70

5

12 maande

100 - 120

18

17 maande

130 - 150

35

2 jaar

140 - 160

>55

2,5 jaar

150 - 190

(trofee status)

                                                                                                                                                                                                                                                                   

Habitat en Voeding

Swartwildebeeste is kortgras-vreters wat oop grasvlaktes sonder enige bome of struike verkies. Die grassamestelling kan of soet of gemeng (soet\suur) wees, maar nie uitsluitlik suurveld nie. Hulle is ook hoogs selektiewe vreters, beide vir plantdeel sowel as plantspesie, maar steeds nie ’n konsentraatvoeder nie.  Voorkeur vir hooglande  en bergplatos met ’n jaarlikse reënvalgemiddeld van tussen 400 en 700mm.  Droë semi-ariede of woestynagtige gebiede en warm subtropiese klimaat is ongeskik.  Woude, bosveldgebiede en boomryke waterbane en dreineringslyne word ook vermy.  Hulle maak hofsaaklik op hul goeie sigvermoë staat om vyande van veraf te kan sien aankom en daarom word oop vlaktes verkies.  Dit verskil van die blouwildebees wat oop en gebroke savanne verkies met verspreide bome en struike vir skadu.  Habitatte wat nie volkome na wense is nie sal destruktief hervorm word om aan hul eie behoeftes te voorsien.  Dit geskied deur skoffelaksies met die hoewe en pote en die omdolwe van grond met die horings.  Langgras word glad nie geduld nie, terwyl nuwe uitloop op gebrande veld goeie aanlokking is.  Suipings is noodsaaklik vir daglikse inname.  Voeding geskied in die koeler dagure, terwyl dar in die oop son gedurende die warmer ure gelê en herkou word.  Lekke word nie geredelik benut nie, ’n populasie moet eers gewoond gemaak word aan lekke en konsentraat-byvoeding voordat dit benut sal word.  Lusern sal wel gevreet word, beide in vars en droë vorm.  Natuurlike dieetsamesteling wissel van 63 tot 93% kortgras, 34 tot 3% karoobossies en 3% nie-houtagtige kruide.  Gesogte grasspesies is Sporobulus spp, rooigras Themeda triandra en kweek Cynodon dactylon.  Swartwildebeeste kan redelike koues deurstaan en word tot binne die sneeulyn aangetref, mits die grassamestelling nie oorwegend suur is nie.  Versteuring van veld is onvermydelik veral as die troppies begin toeneem in grootte (meer as15 diere per trop).

 

Gedrag    

Swartwildebeeste is bekend om die teenwoordigheid van ander sosiale dierspesies soos blouwildebeeste, sebras, bobbejane, waterbokke en springbokke te aanvaar.  Voordeel word so verkry deurdat die waaksaamheid en waarnemingsvermoë van die verskillende spesies gedeel word.  Veiligheidsafstand wat tussen potensiële gevaar gehandhaaf word is 100 tot 300m. Vlugafstande is gevolglik (a.g.v. die groot veiligheidsafstand) kort, meestal word daar in konsentriese sirkels met ’n radius van 70-200m gehardloop, afgewissel met tydelike samedrommings.  Swartwildebeeste staan weinig stil – hulle maal gewoonlik en individue uiter gedurig sporadiese bokspringe soos waverse narre.  Hulle is nie besonderse vinnge hardlopers nie (ietwat lomp) en wanneer in vlug sal ’n groep gewoonlik in twee of drie rye opslit, in enkelgelid weghardloop en oor ’n redelike kortafstand weer verenig om oor te gaan ’n maalaksie.

Swartwildebeeste is gebiedsgebonde en sal solank veldtoestande gunstig bly binne dieselfde loopgebied hou en daagliks op dieselfde plekke gesien word.  Daaglikse 24-uur beweging is min, gewoonlik beperk tot 2-4km.

 

Territorium en Loopgebied

Van nature is swartwildebeeste migreerders wat moes aanpas binne omheinde plase en reservate.  Migrasies was voortgedryf deur klimaatskommelinge en gevolglike habitatsveranderinge.  Werklike loopgebiedgroottes is onbekend vanweë die vroeëre migrasies, maar hule presteer goed binne lokale areas van 400 tot 600ha per trop van 40 tot 60 diere. Territoriums van dominante (osiaalvolwasse) bulle word oopgetrap en omgedolwe bloot as deel van ’n gedragsrituel om dominansie te vertoon.  Merking van territoriums geskied deur die krap van gate in die grond waarin daar dan ontlas en geürineer word.  Territoriale gedrag by bulle is nie beperk tot die paarseisoen nie en kan in sommige gevalle heeljaar lank duur.  Territoriums word aggressief verdedig teen manlike indringers van dieselfde spesie -- dit wissel in grootte van 2-6ha afhangende van voedselbeskikbaarheid en dierelading in die gebied.  Koeie is nie territoriaal nie en beweeg deur die hele loopgebied. 

 

Sosiale struktuur

Drie strukture word onderskei:

I.     Familiegroepe (10 tot 60 diere) bestaande uit koeie, jaaroud kalwers en verse.

II.    Bultroppe (10 tot 30 diere) wat bestaan uit sosiaal onvolwasse bulle (1 tot 3 jaar) en nie0dominante volwasse bulle.

III.   Teritoriale alleenlopende dominante bulle.

Volwasse koeie handhaaf ’n hierargiese dominansie volgens ouderdom -- die mees dominante koei tree op as tropleier.  Familiebande tussen koeie en verse is baie heg.  Bulkalwers word op eejarige ouderdom deur die dominante teelbulle uit die trop verjaag soos wat die trop deur die territoriums beweeg.  Verjaagde jong bulletjies sluit dan aan by die bultroppe.  Binne bultroppe is daar geen hierargiestruktuur nie.  Op driejarige ouderdom bereik die bul sosiale volwassenheid, verlaat die bultrop en ding mee met die dominante bulle om ’n eie territorium te vestig.  Territoriale bulle probeer die swerwende koei\familietroppe vir solank moontlik aankeer, veral in die paarseisoen (Maart tot April).  Dominansievertoon deur bulle gaan gepaard met omrolle, kniele, grondkrap en grondgaffel met die horings, bokspringe op stywe bene en herhaaldelike “ge-nu” uitroepe.  Ernstige gevegte breek selde uit en bestaan gewoonlik uit ‘’n reeks kopstampe en stote.  Uitgestote bulle sluit weer by die bultroppe aan.  Troplede van familietroppe is baie samehorig en bondel gewoonlik saam. 

In die afwesigheid van kompetisie deur ontwikkelende bulle, sal ’n enkele territoriale bul die jonger verse en kalwers aanval uit blote aggressie-frustrasie.  Hy soek konfrontasie en daarom moet ’n minimum van drie bulle by enige hervestigings groep ingesluit word.

 

Voortplanting & Produksie

Paring is seisoenaal gedurende middel Februarie tot middel April, maar kan wissel tussen verskillende omgewings.  Die kalfseisoen is einde November tot middel Januarie en duur vir ’n maksimum tydperk van drie weke.  Die kalf word nie versteek nie, dit staan binne minute op en volg die ma waar sy ook al gaan.  As gevolg van hierdie onmiddelike rondloop, vreet die ma die nageboorte op.  Ofskon geen syfers verkry is nie, word beweer dat kalfmortaliteite laer is as by die blouwildebees.  Kalwers speen op 3,5 tot 5 maande afhangende van die heersende omgewingstoestande.  Nataliteit van verse op 16 maande is is 83% en eerste kalwing kan op 24 maande ouderdom geskied.  Bulle is op driejarige ouderdom sosiaalvolwasse, terwyl trofeestatus reeds op 2,5 jaar bereik kan word.  Swartwildebeeste het dus, weens die vroeë sosiale rypheid, die potensiaal om hoë produksie te handhaaf indien dievolwasse bulgetalle relatief laag gehou word (1 bul : 10 volwasse koeie).  Natuurlike volwasse paarverhouding is 1% : 3&.  Dit beteken meer territoriale bulle wat meer habitatskade sal aanrig as hulle nie kan migreer nie.  Produksie-aanwas van ’n bepaalde populasie van 680 diere is gemeet as 38% vir ’n enkele jaar, terwyl ’n ander kudde oor 20 jaar gemiddeld teen 30% per jaar toegeneem het.  Dit is relatief hoog vir wild.  Swartwildebeeste kruisteel suksesvol met blouwildebeeste en behoort dus nie saam aangehou te word  binne dieselfde bestuurseenheid nie.  Gelukkig het die twee spesies verskillende habitatsvoorkeure, met die gevolg dat hulle selde saam aangetref sal word.  Tog moet die eienaar bedag wees op die moontlike risiko van kruisteling.

Hoewel ’n volwasse swartwildebees ongeveer 0,35 grootvee-eenhede is, moet ’n minimum van 10-15ha  (In optimale veld – reënval 450-550mm) vir elke dier toegelaat word om veldbeskadigingn deur sosiale gedrag te verminder.  By laer reënval kan dit gemiddeld met 5ha per dier vir elke 100mm afname verlaag word, m.a.w. by 350mm 20-25ha/dier, en by hoër reënval met 3ha per 100mm toename verhoog. By 600-700mm reënval op soetveld kan digthede van tot 6,5ha per dier onderhoubaar bestuur word.

 

Vir die Jagter

Maksimum trofeegehalte word op 3,5 jaar bereik waarna die horingpunte begin afsluit en bars weens die gronddolwery wat met territoriale gedrag gepaard gaan.  Volwasse massa word reeds op 2 jaar bereik.  Beste ouderdom vir jag en oes is op 2,5 jaar.  Territoriale bulle versteek hulself gewoonlik tussen die koeie en staan nooit stil nie.  Bulle kan gewoonlik uitgeken word aan stukke modder wat aan die horings kleef.  Swartwildebeeste se visie is besonder goed en kan ’n skut kilometers ver sien aankom.  Weens die oopvlakte terreine moet hulle meesal oor lang afstande, sonder waverse beskutting, bekruip word.  ’n Goeie teleskoop en bekwame lanfafstand skote is noodsaaklik.  Beste skootplasing is tweederdes onderkant die maanhaar op die skouer (die maanhaar moet nie ingesluit word in die berekening nie).  Swartwildebeeste vertoon gewonlik groter as werklik weens die regopstaande maanhaar en die oop vlaktes wat geen verwysingsfigure soos bome vir grootte het nie.  Die neiging is om te hoog op op die skof aan te lê en die dier deur die maanhaar te skiet.  ’n Gesoute professionele jagter (A McDonald) skryf: “When I was hunting professionally and came to black wildebeest day, I used to break out in cold sweat” .... ”My faithful tracker often developed severe tothache and took himself off to the dentist”.  Dit is ’n opvlieënde dier wat uiters aggressief kan voorkom en ter enige tyd kan storm uit blote frustrasie omdat die gevaar nie gepeil kan word nie.  In aanhouding is hulle hoogs onbetroubaar.  Moet nooit gerus wees as jy naby ’n bul kom nie.  Onlangs is ’n geval aangeteken waar ’n bul ’n niksvermoedende boer wat sy veld verken het uit die bloute aangeval en erg beseer het.  

 

 

(Vervolgens in die reeks: Die Blouwildebees)

 

Deon Furstenburg

Natuurlewe Wetenskaplike, Landbounavorsingsraad,

Middelburg, Oos-Kaap,  email :

(Beskikbaar vir professionele konsultasies)