Last update: August 16, 2011 01:47:18 PM E-mail Print

 

GEHARDHEID BY KLEINVEE

MJ Herselman

 

SUID-AFRIKA is oor die algemeen 'n droë land met groot gedeeltes wat as halfwoestyn geklassifiseer kan word. Verskillende diersoorte, soos die inheemse rasse, is egter uitstekend by hierdie toestande aangepas, wat dit dus moontlik maak om wel in sulke omgewings te kan boer. Wanneer boerdery en meer spesifiek die seleksie van teeldiere onder sulke toestande bespreek word, is dit noodsaaklik dat die faktore wat gehardheid beïnvloed by die seleksie van toekomstige ouers in ag geneem sal word, se mnr. M.J. Herselman van die Landboukollege Grootfontein.

Wanneer van gehardheid gepraat word, word gewoonlik na uiterlik waarneembare eienskappe van 'n dier, soos vermoë om onder swak toestande te oorleef, te produseer en te reproduseer, verwys. Hierdie eienskappe word na vore gebring deur fisiologiese prosesse wat in die dier self plaasvind. Uit die praktyk, asook werk wat op Grootfontein gedoen is, blyk dit duidelik dat kleinveerasse met hoë veselproduksie gewoonlik die minste gehard is. Uit werk wat in die verlede op Angorabokke en pas op skape gedoen is, word duidelik aangetoon dat die hoë vesel produseerders nie in dieselfde mate as die tipes met 'n laer of geen veselproduksiefunksie nie, in staat is om bloedglukosevlakke tydens spanningstoestande te handhaaf nie. Hierdie resultate dui dus op 'n moontlike wanfunksie van die bynierkorteks by rasse met hoë veselproduksie. Dit is reeds bekend dat die bynier 'n belangrike rol speel in diere se vermoë om spanningstoestande te verwerk, maar dit speel moontlik ook 'n rol in die regulering van wolgroei.

Die ontwikkeling van die sjokolademielies was 'n direkte gevolg van 'n poging om probleme wat ten opsigte van sensitiwiteit van bloedglukosevlakke onder spanningstoestande by Angorabokke geïdentifiseer is, te oorkom. Enige graan bevat groot hoeveelhede stysel wat in die rumen afgebreek word tot propionsuur waaruit bloedglukose ontwikkel. Deur groot hoeveelhede graan, veral onder ongunstige omgewingstoestande aan diere te voer, word bloedglukosevlakke dus maklik kunsmatig in stand gehou word en die probleme ten opsigte van 'n wanfunksie van die bynierkorteks word verberg.

Dit is juis by hierdie laaste aspek waar die groot gevaar by die teling van ramme waarvan die nageslag onder ongunstige toestande moet produseer, Iê. By so 'n teeltbeleid behoort die gehardheid en mate van aanpasbaarheid van die dier by die omgewing die hoogste prioriteit te geniet. Wanneer graan egter aan potensiële teeldiere gevoer word, word die gevolge van 'n fisiologiese wanfunksie ten opsigte van gehardheid kunsmatig uit die weg geruim. Diere wat wel hierdie wanfunksie het, kan gevolglik nie geïdentifiseer word nie. Sodoende bestaan die moontlikheid dat wanaangepaste diere, met 'n fisiologiese gebrek, as teeldiere geselekteer kan word. In natuurlike seleksie sou so 'n dier moontlik nie eens teelouderdom bereik het nie. Dit beteken dus dat wanneer diere wat in ongunstige omgewingstoestande moet produseer, geselekteer word, daarna gestrewe moet word om die diere wat normaalweg deur natuurlike seleksie die meeste nageslag sou lewer, te selekteer.

Onder sulke toestande behoort die volgende beginsels te geld.

Hoewel die presiese meganismes wat die gehardheid van skape bepaal nog nie volledig vasgestel is nie, kan daar wel met die beskikbare inligting, vanuit 'n fisiologiese oogpunt, tot bogenoemde gevolgtrekking gekom word. Werk is tans op Grootfontein aan die gang waarin die rol van die bynierkorteks in die regulering van wolgroei en gehardheid by skape ondersoek word. Daar moet egter onthou word dat die fisiologiese prosesse nie eenvoudig is nie en dat verskeie ander meganismes ook betrokke kan wees.

Ongeag van watter meganismes ter sprake is, is dit reeds duidelik dat dit op die een of ander manier in lae bloedglukosevlakke manifesteer wanneer diere aan spanningstoestande blootgestel word. Dit is dus hierdie spesifieke resultaat wat ons reeds vanaf 'n fisiologiese kant in staat stel om die genoemde voorstelle te maak.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief 1