Last update: November 29, 2010 04:05:42 PM E-mail Print

 

DIE TOEPASLIKHEID VAN HUIDIGE GROOTVEE-EENHEIDEKWIVALENTE

VAN WEIDENDE SKAPE


MJ Herselman

Grootfontein LOI Privaatsak X529, Middelburg, 5900

 


INLEIDING

Die toepaslikheid van Grootvee-eenheidekwivalente (GVE-waardes) wat aan verskillende kleinveerasse deur die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983) (Departement van Landbou-ekonomie en -bemarking, 1985)  toegeken is, word in die praktyk bevraagteken. Die rede hiervoor is waarskynlik toe te skryf aan die kategorisering van skape volgens tipe naamlik, Wolskape, Vleisskape, Dubbeldoelskape en Karakoelskape wat nie liggaamsmassaverskille in die praktyk reflekteer nie. Volgens bogenoemde wet word een stel liggaamsmassas en gevolglik een stel GVE-waardes met elke kategorie geassosieer terwyl liggaamsmassaverskille tussen rasse van dieselfde tipe nie in aanmerking geneem word nie. So byvoorbeeld, word beide Merino’s en Afrino’s as wolskape gekategoriseer (Meissner et al., 1983) en daarom word dieselfde GVE-waarde vir beide rasse gebruik. Die feit dat Afrinoskape onder dieselfde toestande tot 20% swaarder as Merinoskape kan weeg, word dus buite rekening gelaat.

Volgens (Meissner et al., 1983) berus die klassifikasie van vee vir die sinvolle beraming van ‘n biologies-gedefinieerde Grootvee-eenheid op die  energiebehoefte van die dier. Gevolglik word aspekte wat ‘n invloed op die energiebehoeftes van die dier het, soos liggaamsmassa, produksiepeil en reproduksiestatus, gereflekteer in die GVE-waardes. Die GVE-waardes, soos in die Wet vervat, is beraam op grond van energiebehoeftes wat op sy beurt beraam is uit ‘n kombinasie van die metodes van die ARC (1965) en Hofmeyr (1972).

Die doel van hierdie publikasie is om die toepaslikheid van die GVE-waardes, soos in die Wet vervat, vir verskillende skaaprasse en ouderdomsgroepe te evalueer. 

 

PROSEDURE

Die produksiegegewens van Merino-, Afrino- en Dorperskape, wat op twee verskillende lokaliteite, naamlik Vlekpoort Proefstasie naby Hofmeyr in die Oos-Kaap en Carnarvon Proefplaas in die Noord-Kaap vir vier-en-’n-half jaar aangehou is, is vir die doel van hierdie evaluering gebruik.  Op elke lokaliteit is die drie rasse deurgaans as een trop bestuur (Snyman et al., 1991; Snyman et al., 2000). Die energiebehoeftes van die verskillende rasse, vir die verskillende produksiestadia, is volgens die ARC (1980) vanaf hierdie produksiegegewens bereken. Die GVE-waarde is bereken deur die energie behoefte (MJ ME/dag) te deel deur 75. Laasgenoemde faktor verteenwoordig die daaglikse ME-behoefte (MJ/dag) van ‘n Grootvee-eenheid soos gedefinieer deur Meissner et al. (1983). Vir die berekening van daaglikse energiebehoeftes is aanvaar dat droë ooie 50 g/dag in massa toeneem; lakterende ooie 100 g/dag in massa afneem; die metaboliseerbaarheid (q) van energie in die weiding wat skape op die veld selekteer gelyk is aan 0.41.

 

RESULTATE

Die produksiegegewens van die stelselproef, soos beskryf deur Snyman et al. (1991), en soos gerapporteer deur Snyman et al. (2000) word in Tabel 1 aangetoon.

 

Tabel 1  Produksiegegewens van Merino-, Afrino- en Dorperskape wat op Carnarvon Proefplaas en Vlekpoort-proefstasie aangehou is

 

MAATSTAF

 

MERINO

 

AFRINO

 

DORPER

 

Paarmassa van ooie (kg)

 

50

 

65

 

66

 

Voorspeense GDT (g/dag)

 

196

 

278

 

290

 

120 Dae massa (kg)

 

23.7

 

32.2

 

33.4

 

Naspeense groei (g/dag)

 

72

 

89

 

88

 

Jaarmassa (kg)

 

41.3

 

54

 

55

Die spesifieke produksiestelsel wat gevolg is waarvolgens die ooie twee keer per jaar gepaar is, het die gebruik van die reproduksiedata beperk en gevolglik is ‘n waarde van 1.2 as fekunditeit van Merino’s en 1.4 as fekunditeit van die ander twee rasse gebruik. Fekunditeit is gebruik vir die berekening  van die melkproduksie, ME behoefte en GVE-waarde van lakterende ooie (ARC, 1980). Daaglikse melkproduksie, soos volgens die ARC (1980) van fekunditeit en die groei van die lammers af bereken, was onderskeidelik 1.368, 2.336 en 2.452 liter per dag vir Merino-, Afrino- en Dorperooie. Die energiebehoeftes en ooreenstemmende GVE-waardes wat van bostaande produksiegegewens af vir die drie skaaprasse gedurende verskillende produksiestadia bereken is, word in Tabel 2 aangetoon.

 

Tabel 2  Berekende daaglikse energiebehoeftes en GVE-waardes van drie skaaprasse gedurende verskillende produksiestadia

 

 

 

MERINO

 

AFRINO

 

DORPER

 

MJ ME

 

GVE

 

MJ ME

 

GVE

 

MJ ME

 

KVE

 

Droë ooi

 

10.8

 

0.14

 

13.5

 

0.18

 

13.6

 

0.18

 

Dragtige ooi

 

11.8

 

0.16

 

14.2

 

0.19

 

14.3

 

0.19

 

Ooi totaal

 

11

 

0.15

 

13.6

 

0.18

 

13.7

 

0.18

 

Ooi Lakterend

 

14.8

 

0.20

 

25

 

0.33

 

26.1

 

0.35

 

Lam 0 - 4 mnde

 

  3.4

 

0.05

 

  8.2

 

0.11

 

  8.9

 

0.12

 

Speenlam 5 - 14 mnde

 

  9.1

 

0.12

 

12.7

 

0.17

 

12.9

 

0.17

 

Speenlam 5  - 8 mnde

 

  8.5

 

0.11

 

12.3

 

0.16

 

12.5

 

0.17

 

Jong skaap 9 - 14 mnde

 

  9.5

 

0.13

 

13

 

0.17

 

13.1

 

0.17

Die ME-behoeftes en GVE-waardes wat in Tabel 2 vir “ooi totaal” aangedui word, verteenwoordig die waarde van ‘n droë ooi vir 46 weke en ‘n dragtige ooi gedurende die laaste 6 weke van dragtigheid. Dit is dus die waarde wat in ooreenstemming is met huidige wetgewing waar aan ‘n lakterende ooi dieselfde waarde as ‘n droë ooi toegeken word, maar waar die addisionele voedingsbehoefte van die lakterende ooi by die lam ingereken word. Hierteenoor sluit die ME-behoeftes en GVE-waardes wat in Tabel 2 as “ooi lakterend” aangedui word, die waardes van suiplammers in. Met ander woorde indien die “ooi lakterend”-waardes gebruik sou word, moet suiplamwaardes van nul gebruik word. In Tabel 2 word die gemiddelde ME-behoeftes en GVE-waardes oor verskillende intervalle vir groeiende lammers aangetoon. Laasgenoemde dui daarop dat ‘n relatief klein verhoging in akkuraatheid verkry kan word deur meer ouderdomsgroeperings vir  groeiende lammers te gebruik.

Die toepaslikheid van GVE-waardes, soos deur die wet bepaal, vir die drie skaaprasse  wat gesamentlik as een trop bestuur is, word in Tabel 3 aangetoon.

 

Tabel 3 

 Vergelykende GVE-waardes van verkillende skaaprasse soos deur die wet bepaal en in hierdie studie bereken

                                    MERINO                    AFRINO                      DORPER       

Soort dier                   Proef   Wet                 Proef   Wet                 Proef   Wet                

Ongespeende lam       0.05    0.05                0.11    0.05                0.12    0.08               

Gespeende Lam          0.12    0.10                0.17    0.10                0.17    0.11               

Ooi                            0.15    0.14                0.18    0.14                0.18    0.15               

Ram                          0.19    0.19                0.23    0.19                0.23    0.23               

Aantal ooie*                795     863                 673     988                 710     954

* Bereken vir ‘n 3200 ha plaas met ‘n drakrag van 16 ha/GVE

Berekende GVE-waardes vir ongespeende lammers by Dorpers en Afrino’s was aansienlik hoër as dié wat deur huidige wetgewing aangedui  word (Tabel 3). Die relatief lae GVE-waardes vir ongespeende Afrino- en Dorperlammers volgens die Wet is nie in ooreenstemming met die voedingsbehoeftes van lakterende ooie (met ‘n melkproduksie van meer as twee liter per dag) wat volgens die ARC (1980) ongeveer dubbeld dié van droë ooie is nie. Die berekende GVE-waarde vir gespeende lammers was ook deurgaans hoër as wat deur die wet bepaal word, veral by die rasse met relatief hoë speenmassas. Die verskille tussen berekende GVE-waardes van ooie en GVE-waardes van ooie volgens die Wet kan direk toegeskryf word aan verskille tussen liggaamsmassas van ooie in die studie en liggaamsmassas waarop die GVE-waardes in die wet berus. Uit Tabel 3 kan die afleiding ook gemaak word dat Afrinoskape vir die doel van vergelykbaarheid van GVE-waardes eerder by vleisskape as by wolskape ingedeel moet word.

Ooigetalle in Tabel 3 is bereken met behulp van simulasiemodelle (Herselman et al., 1989) wat ook verskille in aanteeltempo, groeitempo en bemarkingsouderdom van surplus aanteel in ag neem. Volgens Tabel 3 word die aantal ooie wat op ‘n plaas met ‘n weidingskapasiteit van 200 GVE aangehou kan word, volgens huidige wetgewing, deurgaans oorberaam, veral by Afrino- en Dorperskape. Die relatiewe verskille in ooigetalle tussen rasse is veral belangrik wanneer boere besluite neem ten opsigte van rasverandering. Gewoonlik verander boere van wolskape af na vleisskape toe en volgens huidige wetgewing kan boere meer vleisskaapooie as wolskaapooie aanhou. Laasgenoemde word egter deur die huidige evaluering (Tabel 3) weerspreek en kan moontlik daarop dui dat verandering van wol- na vleisskaapboerdery, volgens huidige aanbevelings, nadelig op die natuurlike hulpbron kan inwerk. Nieteenstaande hoër GVE-waardes van Dorperskape kan meer Dorperooie as Afrino-ooie aangehou word (Tabel 3) omdat surplus Dorperlammers vinniger groei en op ‘n ligter massa en jonger ouderdom bemark word.

 

GEVOLGTREKKING

Die resultate van hierdie evaluering dui op sekere tekortkominge in die huidige wetgewing ten opsigte van GVE-waardes vir skape wat tot nadeel van die benutting en bewaring van die natuurlike hulpbron kan strek. Die gevare hieraan verbonde noodsaak ‘n omvangryke opname in die praktyk ten opsigte van liggaamsmassa- en produksieverskille tussen verskillende skaaprasse waarvolgens wetgewing aangepas behoort te word. Die massa en produksie van die skape waarmee geboer word is van veel groter belang vir die bepaling van die GVE-waarde as die ras van die diere.

 

LITERATUURVERWYSINGS

AGRICULTURAL RESEARCH COUNCIL, 1965. The nutrient requirements of Farm Livestock. No. 2, Ruminants. London; HMSO.

AGRICULTURAL RESEARCH COUNCIL, 1980. The nutrient requirements of Ruminant Livestock. Commonwealth Agricultural Bureaux, London.

DEPARTEMENT VAN LANDBOU-EKONOMIE EN -BEMARKING, 1985. Wet op die bewaring van landbouhulpbronne, 1983 (Wet 43 van 1983). Staatskoerant No R 2687, 6 Desember, 1985.

HERSELMAN, M.J.,  WENTZEL, D. & OLIVIER, J.J., 1989. Rekenaarbestuursmodelle vir Kleinveeboerdery 1. Beginsels en ontwikkeling. Handelinge van die 28 ste Kongres van die SAVDP, Ermelo, 11 - 13 April 1989.

HOFMEYR, H.S., 1972. Kwantifisering van faktore wat die brutodoeltreffendheid van energie-omsetting van voer by skape beïnvloed. D.Sc (Agric) verhandeling, Universiteit van Pretoria.

MEISSNER, H.H., HOFMEYR, H.S., VAN RENSBURG, W.J.J. & PIENAAR, J.P., 1983. Klassifikasie van vee vir sinvolle beraming van vervangingswaardes in terme van ‘n biologies-gedefinieerde Grootvee-eenheid. Tegniese Mededeling, Departement van Landbou, RSA, No 175.

SNYMAN, M.A., HERSELMAN, M.J., CLOETE, J.A.N. & KING, B.R., 2000. Bruto marge van Afrino-, Dorper- en Merinoskape. Grootfontein Agric (Submitted)

SNYMAN, M.A., OLIVIER, J.J., CLOETE, J.A.N. & KING, B.R., 1991. Evaluasie van drie kleinveerasse in twee verskillende omgewings. Handelinge van die 30 ste Kongres van die SAVDP, Port Elizabeth, 26 - 28 Maart 1991.