Last update: August 16, 2011 08:40:46 AM E-mail Print

 

VEEBOERDERY IN DIE NOORDWES-KAROO

 

A.S.J. van der Walt, J.J. Olivier, J.A.Roux & M.J. Herselman

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg K.P. 5900

 

 

In die ekstensiewe veegebiede van Suid-Afrika is wisselvallige reënval een van die grootste risiko faktore waarmee die veeboer rekening moet hou. Gesien in die lig van moontlike uitfasering van subsidies, is die effek van wisselvallige reënval op die winsgewendheid van 'n verteenwoordigende veeplaas (1 600 kleinvee-eenhede) in die Carnarvon distrik bepaal. Die reënvalindeks vir elke maand is bereken vanaf die reënval van die betrokke maand en die reënval van die voorafgaande vyf maande relatief tot die langtermyn gemiddelde reënval van die betrokke maand. Verskillende produksie- en reproduksienorme verkry vanaf langtermynproewe op Carnarvonproefplaas, is vir goeie, gemiddelde en swak reënvalindekse bepaal en maandeliks in berekening gebring. Winsgewendheid op grond van verskillende beskikbare historiese reënvalpatrone van Carnarvon-proefplaas is met behu1p van die rekenaarprogram RANGE PACK bepaal om sodoende die risiko verbonde aan wisselvallige reënval in die Noordwes-Karoo te kwantifiseer. Die gemiddelde netto boerdery inkomste per jaar vir vier verskillende tien jaar siklusse was onderskeidelik R35 227, R62 928, R23 497 en R45 422. Groot variasie in die netto boerdery inkomste het tussen jare binne dieselfde tien jaar reënvalsiklus voorgekom. Die opeenvolging van reënval het 'n groot invloed op die winsgewendheid van veeboerdery gehad. Tydens bogemiddelde jare het die boerdery genoeg reserwe fondse gegenereer om 'n aantal swak jare te oor1eef. Die boerdery se oorlewingsvermoë was egter baie laag sonder kontantreserwes tydens 'n aantal opeenvolgende swak jare wat kenmerkend van die gebiede is. Hierdie wisselvallige reënval moet gevolglik deeglik in ag geneem word vir strategiese besluitneming.

 

Published

Handelinge SAVV Kongres 1993