Last update: August 16, 2011 12:24:09 PM E-mail Print

 

DIE EFFEK VAN UITHONGERING OP BLOEDGLUKOSEVLAKKE VAN VYF KLEINVEERASSE

 

M J HERSELMAN & B R KING

Lanboukollege Grootfontein, Middelburg, KP, 5900

 

Dit word aanvaar dat hoë veselproduserende kleinveerasse gewoonlik minder gehard is as rasse met 'n laer veselproduksiefunksie. Om hierdie waarneming te verklaar, word hipoteties beweer dat verhoogde veselproduksie die gevolg van 'n verlaagde aktiwiteit van die bynierkorteks is. Die verlaagde afskeiding van kortisol deur die bynierkorteks gee gevolglik aanleiding tot 'n veranderde intermediêre metabolisme, wat veroorsaak dat diere minder gehard is. Een van die hooffunksies van kortisol is die regulering van bloedglukose deur die bevordering van glukoneogenese. Hierdie proses is veral belangrik wanneer 'n dier aan strestoestande onderwerp word. Om te bepaal of die gevolge van lae bynieraktiwiteit in bloedglukosevlakke van hoë veselproduserende kleinveerasse gemanifesteer word, is 'n studie uitgevoer waarin bloedglukosevlakke tydens uithongering gemonitor is. In die studie is vyf kleinveerasse, met verskillende veselproduksiepotensiale, naamlik die Merino, Dohne-merino, Afrino, Dorper en Namakwa-Afrikaner gebruik. Sestien nege-maande-oue diere van elke ras is vir 'n periode van 72 uur gevas. Bloedmonsters is elke 6 uur geneem vir glukosebepalings. Betekenisvolle rasverskille (P<0.01) in bloedglukosevlakke is verkry. 'n Korrelasie van -0.639 (P,0.01) is tussen veselproduksiepotensiaal (kg vesel/W0.75) en bloedglukose (mmol/l) oor die vasperiode waargeneem. Hierdie resultate bevestig dat verhoogde veselproduksie aan 'n veranderde glukosemetabolisme gekoppel is en in ooreenstemming met die gevolge van 'n verlaagde bynieraktiwiteit is.

 

Published

Proc. S.A. Soc. Anim. Prod. 31