Last update: August 15, 2011 02:49:48 PM E-mail Print

 

GARINGBOOM (AGAVE AMERICANA) AS KLEINVEEVOEDING : VERTEERBAARHEID VAN VERSKILLENDE GARINGBOOM  / LUSERNMENGSELS

 

J H Hoon, J N Swart* & B R King

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg , KP, 5900

*Departement Veekunde, U O V S, Bloemfontein, 9300

 

 

Lusern is die mees algemene bron van ruvoer wat gedurende tye van voerskaarste as 'n onderhoudsrantsoen vir skape in die Karoo gebruik word. Die koste en beskikbaarheid van lusern kan egter onderskeidelik 'n ekonomiese en fisiese beperking word, en daarom moet alternatiewe bronne van ruvoer deurgaans ondersoek word. Die maksimum vervangingspeil van lusern met garingboom om in die onderhoudsbehoeftes van skape te voorsien, sowel as die verteerbaarheid van verskillende garingboom/lusernmengsels, is bepaal. Vier-en-twintig volwasse Dorperooie is op 'n gestratifiseerde massabasis in vier groepe van ses diere elk ingedeel. Die energiebehoefte vir onderhoud is op 'n metaboliese massabasis bepaal. Die proef is vir 'n periode van agt weke in metabolismekratte en individuele hokke uitgevoer, terwyl die skape die volgende onderhoudsrantsoene ontvang het: Groep A 100% lusern; Groep B 45% garingboom 55% lusern; Groep C 60% garingboom 40% lusern; Groep D 75% garingboom 25% lusern. Bogenoemde waardes verteenwoordig die persentasie energie afkomstig van die verskillende bronne. Vo1gens die resultate blyk dit dat 'n maksimum van 63.8% van die energiebehoeftes vir onderhoud deur garingboom voorsien kan word. 'n Insluitingspeil van garingboom hoër as bogenoemde persentasie, sal tot onvoldoende DM-inname as gevolg van die hoë voginhoud van garingboom (87.4%) lei. Die DM-verteerbaarheid by Groep A (61.44%) was betekenisvol (P<0.05) laer as die van Groepe B (64.35%), C (65.32%) en D (65.82%), terwyl daar geen bekenisvolle verskille tussen laasgenoemde drie groepe voorgekom het nie. Die verteerbaarheid van neutraalbestande vesel (NBV) was betekenisvol (P<0.O5) laer by Groep A (53.20%) as by Groepe B (57.53%), C (59.60%) en D (59.26%), terwyl laasgenoemde groepe nie betekenisvol van mekaar verskil het nie. Die verteringskoeffisiënt van suurbestande vesel (SBV) by Groep D (63.57%) was betekenisvol (P<0.05) hoër as die van die ander drie groepe, terwyl Groep B (52.71%) ook betekenisvol van Groep A (56.31%) en Groep C (58.86%) verskil het. Die sellulose-verteerbaarheid by Groep A (55.13%) was betekenisvol (P<0.05) laer as die van Groepe B (63.69%), C (67.65%) en D (66.08%), terwyl die lignienverteerbaarheid by Groep A (32.53%) betekenisvol (P<0.05) hoër was as die van die ander drie groepe (20.79%, 23.08% en 25.62% onderskeidelik). Dit wil dus voorkom of die voordelige effek wat met garingboom in kombinasie met lusern verkry is, moontlik toegeskryf kan word aan die hoër verteerbaarhede van DM, NBV, SBV en sellulose wat by die hoë, peile van insluiting van garingboom voorgekom het.

 

 

Published

Handleiding 32ste SAVV-kongres