Last update: August 16, 2011 11:28:04 AM E-mail Print

 

Die bepaling van vrywillige inname van oumansoutbos (Atriplex nummularia) in drie verskillende vorms

 

J.H. Hoon en B.R. King

Landboukollege Grootfontein, Middelburg KP, 5900

 

INLEIDING

As gevolg van die groot variasie in klimaatstoestande in Suid-Afrika, is die voorkoms van periodieke en langtermyndroogtes eerder die reël as die uitsondering en gebeur dit baie min dat daar op 'n sekere tydstip nie êrens in ons land 'n droogtegeteisterde gebied is nie (Myburgh, 1961). Ten einde hierdie probleem te help verlig, sal daar in die toekoms nog meer staatgemaak moet word op die verbouing en gebruik van droogtevoergewasse.

Oumansoutbos is een van die belangrikste droogtevoergewasse en uitstekende resultate is in beheerde proewe, asook in die praktyk behaal. Nogtans blyk dit uit gesprekke met boere dat daar verskille in die aanvaarbaarheid van oumansoutbos vir kleinvee voorkom, en dat hierdie verskille varieer van hoogs aanvaarbaar tot totaal onaanvaarbaar. Hierdie verskille noodsaak dringende ondersoeke om beter aanbevelings oor die aanplanting van oumansoutbos te kan maak, en ook die vestigingskoste daarvan ekonomies te regverdig.

Daar bestaan basies vier faktore wat 'n rol kan speel by die verskille in aanvaarbaarheid van oumansoutbos, naamlik:

'n Moontlike manier om oumansoutbos van verskillende streke doeltreffend met mekaar te vergelyk, is om dit in die verskillende streke af te sny, na 'n sentrale punt te vervoer, te droog en te maal en as 'n droë rantsoen in voedingsproewe te gebruik. Die doel van hierdie proef was dus om te bepaal of die liggaamsmassa, voer‑ en waterinname, en gevolglike prestasie van Dorpers wat soutboslande natuurlik bewei, ooreenstem met die wat droë, gemaalde of vars, gekerfde soutbos in individuele hokke ontvang.

 

PROEFPROSEDURE

Die proef is by die Landboukollege Grootfontein uitgevoer. Agtien volwasse Dorperooie het vir 'n periode van 1 maand op oumansoutboslande aangepas. Die diere is hierna op 'n gestratifiseerde massabasis in drie groepe van ses diere elk ingedeel en het die volgende behandelings ontvang:

Groep A bet droë, gemaalde soutbos ad lib. in individuele hokke ontvang. Dun, vreetbare takkies ( < 5 mm in deursnee) en blare is vooraf met sekels gesny, gekerf, in die son gedroog en vervolgens met 'n hamermeul fyngemaal.

Groep B het vars, gekerfde soutbos ad lib. in individuele hokke ontvang. Dun, vreetbare takkies en blare is elke oggend gesny en gekerf en aan die diere gevoer.

Groep C het 'n soutboskamp waar alle opslag, gras, ensovoorts, verwyder is, bewei. Slegs 'n klein gebied is met geëlektrifiseerde heinings afgekamp en sodra dit voldoende bewei is (80 % ontblaar), is die diere na 'n volgende kampie verskuif.

Gedurende die proef het al die diere reënwater ontvang om die moontlike effek van braksoute in die water op die inname van oumansoutbos uit te skakel. Die behandelings is vir 'n periode van 13 weke toegepas.

Die volgende maatstawwe is gemonitor:

Die chemiese samestelling van droë, gemaalde en vars gekerfde soutbos word in Tabel1 aangetoon. Die hoër ruproteïeninhoud van die vars soutbos kan verkIaar word deur die feit dat dieetseleksie kon plaasvind en die skape dus meer blare en dun takkies met 'n hoër voedingswaarde ingeneem het. Ontledings van die vars, gekerfde soutbos wat in die voerbakke agtergebly het, toon aan dat hierdie reste 'n laer ruproteïen‑ (10,79 %) en hoër ruveseI inhoud (30,94 %) het as die dele wat deur die skaap geselekteer is.

 

RESULTATE

Fig. 1 toon aan dat die gemiddelde liggaamsmassas van Groep B en C deurgaans hoër was as die van Groep A, maar dat hierdie verskille nie betekenisvol was nie (P > 0,05). Aan die einde van die proefperiode was daar 'n verskil van onderskeidelik 5,0 en 4,8 kg tussen die groep wat droë soutbos ontvang het (Groep A), en die twee groepe wat vars soutbos ontvang bet, en die soutbosland natuurlik bewei het (Groep B en C).

Die gemiddelde voerinname (DM-basis) van Groep B (1,27 kg/dier/dag) was betekenisvol hoër (P < 0,05) as die van Groep A (1,04 kg/dier/dag), terwyl die inname van Groep C, soos bepaal met behulp van die chroomoksied merkermetode, as 1,23 kg/dier/dag bereken is (Fig. 2). Die voerinname van Groep B en C was dus feitlik dieselfde, wat ook weerspieël word deur die gemiddelde liggaamsmassas wat bykans dieselfde vir hierdie groepe was.

 

Die voerinname per metaboliese massa (Tabe1 2) van Groep A ( droë soutbos) en Groep B (vars soutbos) was onderskeidelik 61 en 69 g DM/kg W 0,75 wat aansienlik laer is as die waardes van Jacobs (1987) wat onderskeidelik 76 en 99 g DM/kg W 0,75 was en die van Hoon, King & King (1991) wat 79 g DM per kg metaboliese massa op droë, gemaalde soutbos was. Hierdie lae innames kan moontlik verklaar word deur die feit dat die skape in laasgenoemde proewe beter op die soutbosrantsoene aangepas was, aangesien baie lae voerinnames in die huidige proef, veral gedurende die eerste paar weke, voorgekom het.

 

Die volgende vergelyking is gebruik om voerinname volgens die chroomoksied merkermetode te bereken (Smith & Reid, 1955):

 

Mis uitgeskei (g DM/dag)    =   

 

 

 

Voer ingeneem (g DM/dag) =

 

 

 

Die akkuraatheid van die metode is verder gekontroleer deur dit toe te pas op twee diere uit elke groep in die individuele hokke (Groep A en B) waarvan die DM-inname reeds bereken is. Die resultate dui daarop dat die chroomoksied merkertegniek die inname van droë, gemaalde soutbos met gemiddeld 10 % en die van vars, gekerfde soutbos met gemiddeld 11,6 % onderskat het.

Die gemiddelde waterinname van Groep A (8,20 l/dier/dag) was betekenisvol hoër (P < 0,05) as die van Groep C (6,57 l/dier/dag), maar het nie betekenisvol van die van Groep B (7,26 l/dier/dag) verskil nie (Fig. 3). Die waterinname per metaboliese massa (Tabel 2) van Groep A, B en C was onderskeidelik 464, 330 en 329 ml/kgW0,75, Die waterinname van skape wat vars, gekerfde soutbos ontvang het en die wat 'n soutbosland bewei het, was per metaboliese massa dieselfde. Die waterinname van die skape wat droë soutbos ontvang bet, was as gevolg van die laer voginhoud van die voer (8,7% teenoor 70,9 % van vars soutbos), aansienlik hoër. Die waterinname van Groep A (464) stem goed ooreen met die 470 m//kg W 0,75 soos bepaal deur Jacobs (1987), maar die inname van Groep B (330) verskil baie van die waarde van 467 m//kg W 0,75 wat van vars, gesnyde soutbos verkry is. Die laer waterinname wat met vars soutbos voorgekom het, kan moontlik toegeskryf word aan die laer voerinnames wat in hierdie proef voorgekom bet. Die waterinname per kg DM (TabeI2) vir Groep A en B was onderskeidelik 7,52 en 5,25 l/kg DM. Hoewel dit hoër is as die waardes van 6,7 en 4,7 soos bepaal deur Jacobs (1987), stem dit tog verhoudelik ooreen.

 

Die droëmateriaalverteerbaarheidskoeffisient van vars, gekerfde soutbos is deur middel van miskolleksie oor 'n periode van 10 dae bereken. 'n Waarde van 58,35 % is verkry, wat gunstig vergelyk met die waardes van 60,8, 61,7 en 62,2 % soos bepaal deur onderskeidelik Weston, Hogan & Hemsley (1970), Hassan, Abdel‑Aziz & EI- Tabbakh (1979) en Jacobs (1987). Die drakrag van die oumansoutbosland (1250 plante/ ha) wat deur Groep C bewei is, is ook bereken en 'n waarde van 10,48 skape/ha/4 maande is verkry. Dit stem ooreen met die drakrag van 21,74 skape/ha/4 maande (2500 plante/ha), soos bepaal deur De Kock (1980).

 

GEVOLGTREKKING

Volgens hierdie resultate blyk dit dat die prestasie van skape wat droë, gemaalde soutbos ontvang, in terme van voerinname, waterinname en liggaamsmassa, nie ooreenstem met die wat vars, gekerfde soutbos ontvang of die wat soutboslande bewei nie. lndien die aanvaarbaarheid van oumansoutbos in die verskillende streke dus in die praktyk getoets moet word, blyk dit dat betroubare resultate slegs onder natuurlike toestande (beweiding van oumansoutbos) verkry sal kan word.

 

VERWYSINGS

CILLIERS. HJ.. 1990. Inname bepaling van Eragrostis curvula Medicago sativa deur middel van direkte meting en die indirekte chroomoksied merkermetode met behulp van skape. M.Sc. (Agric)-verhandeling, UOVS.

DE KOCK, G.C.. 1980. Drought resistant fodder shrub in South Africa.In: Browse in Africa. Edited by LeHouérou. H.N.. Symp. on Browse in Africa. Addis Ababa, Ethiopia. 399-408.

HASSAN. N.I.. ABDEL‑AZIZ. H.M. & EL‑TABBAKH. A.E.. 1979. Evaluation of some forages introduced to newly‑relaimed areas in Egypt. World Rev. of Animal Prod.  15,31-35.

HOON.J.H., KING. P.R. & KING. B.R.,1991. Die effek van brakwater op die inname van oumansoutbos (Atriplex nummularia). Karoo Agric.4(3), 6-8

JACOBS. G.A.. 1987. Utilization of Atriplex nummularia by sheep. Ph.D.-verhandeling. Univ. Stellenbosch.

MYBURGH. P.E.. 1961. Droogtebestande voergewasse. Merino Breeders JournaI23(1), 23-33.

SMITH. A.M. & REID.J.T..1955. Use of chromic oxide as an indicator of fecal output for the purpose of determining the intake of pasture herbage by grazing cows.J. Dairy Sci. 38(5), 515-524.

WESTON. R.H.. HOGAN. J.P. & HEMSLEY. J .A.. 1970. Some aspects of the digestion of Atriplex nummularia (saltbush) by sheep. Proceedings of the Australian Society of Animal Production. Vol. 8. Brisbane. Queensland, August 1970.

WILLIAMS. C.H.. DAWID, DJ. & liSMAA. 0.,1962. The determination of chromic oxide in faeces samples by atomic absorption spectrophotometry.J. Dairy Sci. 59. 381-385.

 

Published

Karoo Agric, Vol4, No 4, 1992 (4-6)