Last update: December 2, 2010 10:18:40 AM E-mail Print

 

EFFEK VAN DIE TOEDIENING VAN 'N KOMMERSIëLE TANNIEN-INHIBEERDER OP

DIE PRESTASIE VAN ANGORABOKKE OP SPEKBOOMVELD

 

J H HOON, T C MEYER & E J FOURIE1

 

            Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg Oos-Kaap, 5900

1Jansenville Proefstasie, Jansenville, 6265

 


INLEIDING

Struik- en bosblare lewer 'n noodsaaklike bydrae tot veeproduksie in groot dele van Suid Afrika, veral wanneer grasweiding skaars raak. Alhoewel die voedingsamestelling van baie van hierdie blare gelyk is aan goeie kwaliteit voer, is daar dikwels verbindings soos tanniene en terpene in die blare wat vertering belemmer. Twee tipes tanniene, naamlik gekondenseerde en hidroliseerbare tanniene, word aangetref. Gekondenseerde tanniene kombineer met proteïene in die spysverteringstelsel om 'n gekondenseerde tannien/proteïen-kompleks te vorm. Hierdie kompleks beroof die dier van waardevolle proteïene, wat verlore raak aangesien dit onverteer bly en saam met die tannien in die mis uitgeskei word. Hidroliseerbare tanniene is klein molekules wat in staat is om die bloed van die dermkanaal af binne te dring. Hulle word na die lewer vervoer, waar hulle die werking van die ontgiftingsensieme blokkeer. Die metaboliete van hierdie hidroliseerbare tanniene is potensieel giftig en kan selfs die dood veroorsaak. Terpene, soos die olieharse en harse, belemmer die werking van die proteolitiese ensieme wat vir normale proteïenvertering verantwoordelik is. Tanniene bind vinnig met dieet- en speekselproteïene, verteringsensieme, mukusafskeiding en mikro-organismes en beïnvloed rumenmetabolisme nadelig (Mangan, 1988). Die verteringsproses word vertraag, die dier verloor sy eetlus en raak lusteloos, die mis is baie donker, hard en droog en die diere drink groot hoeveelhede water en bly na aan die suipplek. Al hierdie faktore benadeel produktiwiteit en kan selfs veeverliese tot gevolg hê.

Medium konsentrasies van gekondenseerde tanniene, onder toestande waar voere met hoë proteïenkonsentrasies gevoer word, blyk egter uit 'n voedingsoogpunt voordelig vir herkouers te wees. Dit voorkom opblaas by beeste en verskaf hoër tempo's van stikstofretensie as gevolg van verhoogde absorpsie van essensiële aminosure, wat verbeterde wolgroei en minder karkasvet by skape tot gevolg het (Waghorn, 1990). Hierdie voordelige effekte is verkry by tannienkonsentrasies van onderskeidelik minder as 5% (Owen-Smith, 1993), 3.5% (Waghorn et al., 1987), 2 tot 3% (Barry & Manley, 1986) en 1 tot 4% (Waghorn, 1990). Die diversiteit van die invloed van tanniene op vertering, is gedeeltelik toe te skryf aan die fisiologiese aanpassings van diere om tanniene te hanteer en gedeeltelik aan die verskille in chemiese reaktiwiteit van die verskillende tipes tanniene. Anatomiese en fisiologiese aanpassings van diere moet altyd in gedagte gehou word wanneer gevolgtrekkings oor die effek van tanniene op diere gemaak word. Hierdie aanpassings sluit vergrote speekselkliere en die teenwoordigheid van prolienryke glukoproteïene wat tanniene neutraliseer, sowel as groter lewers wat 'n beter ontgiftigingskapasiteit het, in (Owen-Smith, 1993). Tannienbindende speekselproteïene kom voor by wildsbokke, soos takbokke, wat oorwegend struikvreters is, maar nie in skape wat oorwegend grasvreters is nie (Austin et al., 1989). Volgens Robbins et al., (1987) kan mak bokke, wat struik- sowel as grasvreters is, tot 50% van die tanniene wat ingeneem word deur hul speekselproteïene bind en dit sodoende onskadelik maak.

Portulacaria afra (spekboom) is 'n sukkulente struik wat volop voorkom in die Valleibosveld- en Spekboomveld-veldtipes. Die plant speel 'n belangrike rol in die voeding van kleinvee in dié  gebiede. Daar is egter gevind dat spekboom relatief hoë en wisselende konsentrasies tanniene bevat. Volgens Ras (1989) wissel die tannienvlakke van ongeveer 0.4% tot 6.5% in die blare en van 4.3% tot 23.2% in die lote.

Browse Plus is 'n gespesialiseerde formule, as 'n suipingsbymengsel ontwerp, wat die dierlike verteringsprosesse aanhelp en doeltreffende voedingsbenutting tot gevolg het. Die bestanddele van Browse Plus breek die gekondenseerde tannien/proteïen-kompleks af om proteïene vry te stel, wat noodsaaklik is vir die werking van die mikroflora in die rumen, asook vir die vertering van sellulose. Dit verhoed ook die absorpsie van hidroliseerbare tanniene en wysig die struktuur van harse wat dan hul negatiewe uitwerking op proteolitiese ensieme neutraliseer. Dit stel verder die dermkanaal in staat om lewensnoodsaaklike voedingstowwe doeltreffender te absorbeer (Browse Plus Produkhandleiding, Logos Agvet).

Die doel van hierdie studie was dus om die effek van 'n kommersiële tannieninhibeerder (Browse Plus) op die liggaamsmassa van Angorabokke wat oorwegend spekboomveld (Portulacaria afra) bewei, te ondersoek.

 

PROEFPROSEDURE

Die proef is op die Jansenville Proefplaas uitgevoer. Twee ewe groot kampies, waarvan die plantsamestelling baie homogeen is en oorwegend uit spekboom bestaan, is geïdentifiseer. Vier-en-vyftig agt-maande oue Angorabokooitjies is op 'n gestratifiseerde massabasis in twee groepe van 27 diere elk ingedeel. Die een groep het as kontrole gedien, terwyl die behandelingsgroep Browse Plus teen die aanbevole hoeveelheid van 0.2 g/volwasse dier/dag in hulle drinkwater ontvang het. 'n Waterinname van 2.0 l/dier/dag is as die norm geneem om die hoeveelheid Browse Plus wat in die water gevoeg is, te bepaal. Waterinnames van die behandelingsgroep is egter deurgaans gemonitor om te verseker dat die verlangde hoeveelheid Browse Plus wel ingeneem is. Die liggaamsmassas van al die diere is twee-weekliks op 'n ongevaste basis geneem. Die kampe van die kontrole- en behandelingsgroep is elke twee weke omgeruil om 'n moontlike kampeffek uit te skakel. 'n Aantal spekbome wat as monitorplante geïdentifiseer is, is met die aanvang en aan die einde van die studie ondersoek om te bepaal of dit wel deur die diere benut is. Die proef het vanaf die begin van Mei tot aan die einde van September, dit wil sê gedurende die droë wintermaande, oor 'n periode van 20 weke gestrek.

 

RESULTATE

Die gemiddelde verandering in liggaamsmassa van die kontrole- en die behandelingsgroep word in Fig.1 aangetoon.

‘n Geringe massatoename het by beide groepe in die eerste vier tot ses weke voorgekom, waarna die liggaamsmassas gedaal het, moontlik as gevolg van die verswakking van die weiding. Tien weke na die aanvang van die proef het die liggaamsmassas gestabiliseer. Die gemiddelde liggaamsmassa van die kontrolegroep was deurgaans hoër as dié van die behandelingsgroep, maar hierdie verskille was nie betekenisvol nie (P>0.05).  Die gemiddelde liggaamsmassa van die behandelingsgroep het oor die 20 weke proefperiode met 1.64 kg gedaal, teenoor die 1.06 kg van die kontrolegroep.

Fig. 1 Gemiddelde liggaamsmassa van die kontrole- en behandelingsgroepe gedurende die proefperiode

As gevolg van die koue weerstoestande was die gemiddelde daaglikse waterinname van die behandelingsgroep slegs 1.7 l/dier/dag wat laer was as die verwagte 2 l/dier/dag. Die gemiddelde Browse Plus-inname van 0.17 g/dier/dag behoort egter voldoende te gewees het vir die bokkies met 'n gemiddelde liggaamsmassa van minder as 20 kg. Die waarneming van die monitorplante het aangetoon dat benutting van spekboom deur die diere wel tydens die studie plaasgevind het.

 

GEVOLGTREKKING

Alhoewel benutting van spekboom wel plaasgevind het, is dit duidelik dat die toediening van Browse Plus geen betekenisvolle effek op die liggaamsmassa van die jong Angorabokkies gehad het nie. Hierdie resultate is egter moontlik deur twee belangrike faktore beïnvloed. Eerstens het die grootste hoeveelheid plantmateriaal wat vanaf spekbome ingeneem is, moontlik 'n laer persentasie tanniene bevat het as wat nodig is om die verteringsprosesse te benadeel. 'n Tweede faktor wat ‘n rol kon speel,  is dat Angorabokke, wat gemengde vreters (struike en gras) is, moontlik anatomies en fisiologies aangepas is om sekere tanniene te neutraliseer of om die effek daarvan beter te hanteer.

 

LITERATUURVERWYSINGS

AUSTIN, P.J., SUCHAR, L.A., ROBBINS, C.T. & HAGERMAN, A.E., 1989. Tannin-binding  proteins in saliva of deer and their absence in saliva of sheep and cattle. J. Chem. Ecol.,       15, 1335-1347.

BARRY, T.N. & MANLEY, T.R., 1986. Interrelationships between the concentrations of total  condensed tannin, free condensed tannin and lignin in Lotus sp. and their possible consequences in ruminant nutrition. J. Sci. Fd. Agric., 37,  248-254.

MANGAN, J.L., 1988. Nutritional effects of tannins in animal feeds. Nutr. Res. Rev., 1, 209-231

OWEN-SMITH, N., 1993. Woody plants, browsers and tannins in southern African savannes.  S.A. J. Sci., Vol.89, 505-510.

RAS, A.M., 1989. Portulacaria afra (Spekboom) - Beskik dié plant oor 'n chemiese verdedigingsmeganisme? Dohne Agric, Vol.11:2/1989, 1-3.

ROBBINS, C.T., MOLE, S., HAGERMAN, A.E. & HANLEY, T.A., 1987. Role of tannins in defending plants against ruminants: Reduction in dry matter digestion. Ecol. 68(6), 1606- 1615.

WAGHORN, G.C., 1990. Effect of condensed tannins on protein digestion and nutritive value of fresh herbage. Proc. Aust. Soc. Anim. Prod., 18, 412-415.

WAGHORN, G.C., JOHN, A., JONES, W.T. & SHELTON, I.D., 1987.      Nutritive value of  Lotus corniculatus L. containing low and medium concentrations of condensed tannins for sheep. Proc. NZ Soc. Anim. Prod., 47, 25-30.