Last update: December 2, 2010 11:02:55 AM E-mail Print

FLAVOMYCIN® AS GROEIBEVORDERAAR VIR SKAPE ONDER

EKSTENSIEWE VELDTOESTANDE

 

J H HOON, B R KING & M VAN HEERDEN

 

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg, Oos-Kaap, 5900

 


INLEIDING

Met die voeding van herkouers moet in gedagte gehou word dat dit eintlik die mikro-organismes in die rumen is wat gevoer word. Hierdie organismes verteer die voedsel, en die neweprodukte van die proses word deur die dier benut vir onderhoud en die produksie van vleis, wol/haar en melk. Groeibevorderaars wat as voerbyvoegsels in rantsoene of lekke ingesluit word, tree indirek op om die dier te bevoordeel deur die handhawing van ‘n natuurlike balans van die rumenflora in die spysverteringskanaal. Op hierdie manier word die oorproduksie van skadelike mikro-organismes beperk om sodoende die  absorpsie van voedingstowwe vanaf voer te fasiliteer. 

Studies met beeste het aangetoon dat Flavomycin® (Hoechst Roussel Vet (Pty) Ltd), die antibiotiese groeibevorderaar flavofosfolipol, die metaboliese prosesse van die rumen manipuleer deur selektief die groeitempo van sekere groepe rumenflora te beinvloed. Flavomycin® bevorder die groei van amilolitiese en sellulolitiese mikro-organismes, asook die wat beide stysel en sellulose fermenteer.  Die gevolg is ‘n verhoging van ongeveer 15% in die vertering en benutting van sellulose. Flavomycin® vermeerder die vorming van die vlugtige vetsure,  propionsuur en asynsuur, terwyl die produksie van bottersuur verlaag word. Die vetsure word deur die rumenwand geabsorbeer en word geoksideer deur aerobiese metabolisme om energie te produseer (Van den Bergh, 1995).

Flavomycin® verminder die vorming van ongunstige neweprodukte soos koolstofdioksied en metaangas aansienlik. Die vermindering van ammoniak in die rumeninhoud dui ook op meer doeltreffende mikrobiese sintese en as gevolg hiervan word NPN-verbindinge beter benut deur omskakeling na hoë kwaliteit bakteriese proteïen. Flavomycin® bevorder ook die groei van protosoa wat ‘n belangrike rol speel in die afbreek van koolhidrate om sodoende ‘n beter voorsiening van energie aan die herkouer te lewer. Dit stabiliseer verder die pH-vlak in die rumen op die gewenste peil van tussen 6 en 7 vir die optimale afbreek van koolhidrate en proteïensintese. Die feit dat Flavomycin® ‘n besonder vinnige vermeerdering in die bakterieë wat verantwoordelik is vir die afbreek van sellulose tot gevolg het, behoort dit geskik te maak vir gebruik onder ekstensiewe toestande met goeie byvoeding of lekke (Van den Bergh, 1995). Positiewe  resultate is onder ekstensiewe toestande met beeste verkry waar Flavomycin® in lekke ingesluit is (Morris, 1995), terwyl dit ook met sukses ingesluit is in rantsoene vir skape onder ingekraalde toestande (Murray et al., 1992).

Die doel van hierdie proef was dus om te bepaal of die insluiting van Flavomycin® in lekke ‘n positiewe effek op die groei van skape gedurende die droë seisoen (winter) onder ekstensiewe veldtoestande het.

 

PROEFPROSEDURE

Die proef is onder natuurlike veldtoestande by die Grootfontein L.O.I. uitgevoer. Twee naasliggende kampe waarvan die grootte, tipe plantegroei, ens., vergelykbaar is, is gebruik. Ses-en-tagtig jong Merinohamels (6-8 maande ouderdom), afkomstig uit die Grootfontein Merinokudde, is vir ‘n periode van drie weke voor die aanvang van die proef onder veldtoestande op ‘n gekombineerde energie-proteïenlek aangepas. Die insluitingspeil van sout, wat as innamebeheerder ingesluit is, is tydens hierdie periode aangepas om innames van ongeveer 300g/skaap/dag te verkry. Die skape is na die aanpassingsperiode op ‘n gestratifiseerde massabasis in twee groepe van 43 diere elk ingedeel en in die onderskeie kampe geplaas. Een groep diere het as kontrole gedien en ‘n standaard lekmengsel ontvang, terwyl die behandelingsgroep die standaard lekmengsel + Flavomycin® ontvang het. Volgens die vervaardiger blyk die mees effektiewe dosis Flavomycin® ‘n inname van 30mg (aktief) per skaap per dag te wees.  Met ‘n lekinname van 300g/skaap/dag, beteken dit dat ‘n 100kg voermengsel voldoende is vir 333 skape. Die hoeveelheid Flavomycin® wat by ‘n 100kg voermengsel ingesluit moet word, kan dus as volg bereken word: 333 skape x 30mg/skaap/dag = 10000mg/0.008(Flavomycin® is ‘n 0.8% formulasie) = 1.25 kg.

 

Die samestelling van die gekombineerde energie-proteïenlek  wat die kontrolegroep ontvang het, was as volg:

71 kg mieliemeel                                      

18 kg sout                                                

6 kg Kalori3000 (melassepoeier)            

3 kg voergraad ureum

1 kg gebluste kalk (CLC)

1 kg dikalsiumfosfaat

 

By die behandelingsgroep is 1.25kg Flavomycin® by bogenoemde mengsel ingesluit.

Daar is seker gemaak dat die lekbakke nooit leeg raak nie om sodoende ‘n konstante voorsiening van lek te verseker. Verder is gepoog om die lekinnames van die twee groepe deurgaans op min of meer dieselfde peil te hou. Die twee groepe skape is ook elke 14 dae in die onderskeie kampe omgeruil om die moontlikheid van ‘n kampeffek uit te skakel.

Lekinname per groep is weekliks bepaal, terwyl die liggaamsmassas van die individuele diere met die aanvang van die proef en daarna elke twee weke op ‘n ongevaste basis geneem is. Die proef het op 20 Junie 1997 begin en tot 29 September 1997 geduur. Die data is statisties ontleed deur gebruik te maak van die GLM-prosedure van SAS (Littell et al., 1991). Die gemiddelde daaglikse toename (GDT) van individuele diere is beraam deur die regressie van liggaamsmassa op tydsduur (dae) van die proef.

 

RESULTATE

 Die gemiddelde lekinname, liggaamsmassa en gemiddelde daaglikse toenames (GDT) van die twee groepe skape word in Tabel 1 aangetoon.

 

Tabel 1. Gemiddelde  lekinname,  liggaamsmassa  en  GDT  van  die  kontrole-  en behandelingsgroep

 

KONTROLE

FLAVOMYCIN®

P

LEKINNAME (g/dier/dag)

311

286

 

BEGINMASSA (kg)

32.0 ± 0.51

32.0 ± 0.51

1.0000

EINDMASSA (kg)

38.4 ± 0.62

39.5 ± 0.62

0.1857

GDT (g/dier/dag)

62.8 ± 3.43

73.8 ± 3.43

0.0251

 

Beide groepe skape het ‘n gemiddelde lekinname van ongeveer 300 g/dier/dag gehandhaaf,  met die kontrolegroep wat ‘n effens hoër inname as die behandelingsgroep gehad het. Geen betekenisvolle verskille (P>0.05) in liggaamsmassa het tussen die twee groepe voorgekom nie, maar die GDT van die behandelingsgroep was betekenisvol hoër (P<0.05) as dié van die kontrolegroep, ten spyte van die laer lekinnames.

 

GEVOLGTREKKING

Volgens hierdie resultate is dit duidelik dat die insluiting van Flavomycin® teen die aanbevole peile in winterlekke wel ‘n positiewe effek op die groeitempo van jong Merinohamels op droë winterveld gehad het nie. Herhalings van hierdie proef is egter nodig om die ekonomiese voordele wat met die insluiting van Flavomycin® in lekke vir skape verkry kan word, meer akkuraat te kwantifiseer.

 

LITERATUURVERWYSINGS

 

LITTELL, R.C., FREUD, R.J. & SPECTOR, P.C., 1991. SAS System for Linear Models, Third  Edition. SAS Institute Inc. Cary, NC.

MORRIS, S.D., 1995. The use of growth promotors in beefproduction. Pro Agri 6:  34-35.

MURRAY, P.J., WINSLOW, S.J. & ROWE, J.B., 1992. Conditions under which flavomycin  increases wool growth and liveweight gain in sheep. Aust. J. Agric. Res., 1992, 43: 367-387.

VAN DEN BERGH, G., 1995. Flavomycin: Net die ding vir ekstensiewe vleisbeeste. Pro Agri   3:  22-23.