Last update: December 2, 2010 11:08:52 AM E-mail Print

 

DIE BENUTTING VAN AGAVE AMERICANA L. (GARINGBOOM)

AS VOEDINGSBRON VIR SKAPE

 

J H HOON & 1J N SWART & B R KING

 

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg Oos-Kaap , 5900

1Departement Veekunde, U.O.V.S., Bloemfontein, 9300 

 


INLEIDING

Die belangrikste enkele faktor wat plantproduksie in die semi-ariede en ariede gebiede beperk, is ‘n gebrek aan voldoende grondvog.  Verhoogde plantproduksie in hierdie gebiede moet dus gepaard gaan met faktore wat die beskikbare vog beter sal benut.  Omdat besproeiingswater beperk is en praktiese metodes vir die verhoging van reënval nie beskikbaar is nie, is die aanplant van gewasse wat beskikbare vog op die mees doeltreffende wyse kan benut, die beste alternatief (De Kock, 1967).  Gewasse soos oumansoutbos, doringlose turksvye en garingboom is lank reeds bekend vir hul aanpasbaarheid, betreklik hoë produksievermoë en lae waterbehoeftes.

Die droogtevoergewasse Atriplex nummularia (oumansoutbos) en Opuntia sp. (doringlose turksvye) is volledig ondersoek ten opsigte van verbouingsvereistes, voedingswaarde en die effek op diereprestasie.  Daar bestaan relatief min inligting oor die benutting van die genus Agave, en dan meer spesifiek die spesie Agave americana L. (garingboom), as voedingsbron vir skape.  Garingboom is inheems in Sentraal-Amerika en Mexiko en is vermoedelik reeds teen die einde van die 17de eeu in Suid-Afrika ingebring (De Kock, 1980).  Die garingboomplant is meerjarig en beskik na suksesvolle vestiging oor die inherente vermoë om vir lang periodes onder uiters strawwe droogtetoestande te oorleef.  Die habitat van garingboom is grootliks kunsmatig omdat sy variëteite in verskillende klimaatstreke regoor die wêreld verbou word.  Oor die algemeen is dit egter droogtebestand, rypbestand en openbaar dit wye toleransie tot verskillende grondtipes (Gentry, 1982).  Garingboom groei goed in swak, klipperige gronde, maar hou nie van skaduplekke nie (White, 1961).  Dit sal normaalweg ook nie in brakgronde voorkom nie, maar wel op droë, klipperige of gruisagtige hellings waar die NaCl maklik uitgeloog kan word (Nobel & Berry, 1985).  Net soos doringlose turksvye en oumansoutbos, groei garingboom ook in die somermaande.  In die herfs en droë wintermaande kan die blare dan afgesny, verwerk en gevoer word (Myburgh, 1961).  Garingboom het min of meer dieselfde tekortkominge as doringlose turksvye, naamlik ‘n redelike energie-inhoud, maar ‘n wesenlike tekort aan proteïen.  In gevalle waar garingboom as ‘n reserwe voerbron aangewend is, is uitstekende resultate behaal om diere gedurende droogtetye te laat oorleef (Jacobs, 1979).  Verlamming is ‘n probleem wat algemeen voorkom by diere wat groot hoeveelhede garingboom alleen inneem, maar die byvoeding van ‘n klein hoeveelheid gebluste kalk (kalsiumhidroksied) skakel hierdie probleem uit (Wentzel, 1990).

Boere verkry vanaf die vroegste tye beter resultate met garingboom as aanvullende voer as wat volgens chemiese ontledings verwag word.  Alhoewel die garingboomplant dus oor baie jare heen deur boere in die ariede en semi-ariede gebiede as veevoer gebruik word, is baie min inligting oor die werklike waarde van die plant beskikbaar.  Om hierdie redes is garingboom volledig ten opsigte van chemiese samestelling, effek op rumen-pH, moontlikhede vir opberging, voedingswaarde van die verskillende blaardele, inname en verteerbaarheid teen verskillende insluitingspeile by krag- en ruvoerdiëte (onderhoud en ad libitum) en effektiewe rumendegradeerbaarheid ondersoek.

 

RESULTATE

Chemiese samestelling, neutralisering en opberging van garingboom

Garingboomblare is ten opsigte van proteïen, energie, veselfraksies en die belangrikste minerale, ontleed. Die blare  is relatief laag in ruproteïen (3.34 %), hemisellulose (2.08 %), lignien (2.74 %) en Na (0.04 %), hoog in vog (87.54 %), Ca (2.81 %), Mg (1.77 %) en K (0.76 %), en ‘n matige bron van neutraalbestande vesel (24.69 %), suurbestande vesel (22.61 %) en sellulose (18.02 %).  Dit is ook ‘n belangrike koolhidraatbron, soos bepaal vanaf die som van die stikstofvrye ekstrak- (69.71%) en ruveselinhoud (12.97 %). Die hoë vog- en lae ruproteïeninhoud is hoofsaaklik verantwoordelik vir die feit dat garingboom nie in die onderhoudsbehoeftes van skape kan voorsien nie.  Die kenmerkende hoë Ca-, Mg- en K-inhoud van garingboomblare dra ook by tot die lakseerprobleme wat met hoë innames van garingboom geassosieer word (Jacobs, 1979).

As gevolg van die hoë suurinhoud (lae pH) van garingboom, word die aanwending daarvan as voedingsbron beperk.  Deur die effek van garingboominname op die rumen-pH van skape te bepaal, kan die korrekte hoeveelheid alkali wat nodig is om hierdie suurgehalte te neutraliseer, bepaal word.  Die effek van die inname van garingboom teen verskillende insluitingspeile op rumen-pH, is met ses volwasse, gefistuleerde Dorperskape wat twee verskillende diëte met drie byvoegings van kalsiumhidroksied ontvang het, ondersoek. Die pH van garingboomblare is op 4.86 vasgestel, wat daarop dui dat dit baie suur is.  Die rumen-pH van skape op ‘n 45% garingboom : 55% luserndieet met 0%, 0.5% en 1.0% kalsiumhidroksied onderskeidelik, het min verskille getoon, en het slegs tot ‘n laagtepunt van 6.3 gedaal.  By ‘n 60% garingboom : 40 % luserndieet het die rumen-pH, sonder toediening van kalk, ‘n laagtepunt van 5.9 bereik wat totale inhibering van die proses van sellulosevertering (sellulolise) tot gevolg kan hê. Die rumen-pH bepalings het aangetoon dat ten minste 0.5 % kalsiumhidroksied by ‘n dieet waar 60% of meer van die energie deur garingboom voorsien word, gevoeg moet word.  Die byvoeging van kalsiumhidroksied by ‘n dieet waar 45% of minder van die energie van garingboom afkomstig is, blyk egter onnodig te wees.

Gesnyde garingboomblare is vir periodes tot 72 uur in die son en skaduwee geplaas om die effek van die periode van opberging op pH te bepaal. Geen verskil in pH tussen blare wat vars afgesny is en dié wat onderskeidelik vir 24, 48 en 72 uur gestoor is, hetsy in die son of skaduwee, het voorgekom nie.  Die praktyk om garingboomblare vir periodes van tot drie dae nadat dit afgesny is, te stoor om vervoer- en arbeidskoste te beperk, kan dus wel aanbeveel word.

 

Inname en verteerbaarheid van die blaardele

‘n Inname- en verteringstudie is met volwasse Dorperskape uitgevoer om die voedingswaarde van die drie natuurlike blaardele, naamlik die basis, middel en punt te bepaal.

Die punt het die hoogste droëmateriaal- (86.58%) en ruproteïeninhoud (6.63%) gehad, gevolg deur die middel (91.04%; 4.75%) en basis (92.70%;  3.69%).  Die skynbare verteerbaarheid van ruproteïen van die basis was betekenisvol laer (P<0.05) as dié van die ander blaardele, met die hoogste waarde wat by die punt voorgekom het.  Die stikstofretensie van die punt was ook betekenisvol hoër (P<0.05) as dié van die ander blaardele.  Die droëmateriaal- en metaboliseerbare energie-inname van die punt (668 g/dag;  5.92 MJ/dag) was betekenisvol hoër (P<0.05) as dié van die middel (431g/dag; 3.96 MJ/dag) en die basis (276 g/dag; 2.33 MJ/dag).  Die massaverlies van die skape wat die punt ontvang het, was ook minder as dié van die ander twee groepe, maar hierdie verskille was nie betekenisvol (P<0.05) nie.

Hierdie resultate dui daarop dat die punt in terme van voedingswaarde, smaaklikheid en die effek op diereprestasie, die belangrikste deel van die blaar is.  Dit weerlê die bewering dat die basis die smaaklikste en voedsaamste blaardeel is en dat die punt nutteloos is, en toon aan dat die hele blaar suksesvol vir dierevoeding gebruik kan word.

 

Garingboom as aanvullende voerbron

Inname- en verteringstudies is met volwasse Dorperskape wat garingboom aanvullend tot krag- en ruvoere ad libitum ontvang uit, uitgevoer.  ‘n Groeistudie met jong Dorperlammers is ook op die onderskeie diëte uitgevoer.

Garingboom aanvullend tot strooikorrels het die totale droëmateriaalinname van 1.88 (strooikorrels alleen) tot 1.97 kg per dag (P>0.05) vir volwasse skape verhoog en van 1.31 tot 1.26 kg per dag vir lammers verlaag, terwyl die ME-inname van 10.33 tot 13.24 MJ per dag (P<0.05) vir volwasse skape en van 7.22 tot 8.43 MJ per dag vir lammers verhoog is.  By die ruvoerdieet het volwasse skape vrywillig 38.66% van die totale droëmateriaalinname vanaf garingboom geselekteer, teenoor die 31.67% van jong lammers. Die aanvulling van laegraadse ruvoer met garingboom het die gemiddelde daaglikse toename (GDT) van die lammers van 66.0 (strooikorrels alleen) tot 76.8 g per dag verhoog (P>0.05). Garingboom aanvullend tot sjokolademielies het die totale droëmateriaalinname van 1.29 (sjokolademielies alleen) tot 1.31 kg per dag (P>0.05) vir volwasse skape en van 0.75 tot 0.88 kg vir lammers verhoog, maar ME-inname is van 17.66 tot 16.24 MJ per dag (P>0.05) vir volwasse skape verlaag en van 10.29 tot 11.15 MJ per dag vir lammers verhoog.  By die kragvoerdieet het volwasse skape en jong lammers onderskeidelik 25.55% en 20.98% van die totale droëmateriaalinname vanaf garingboom geselekteer.  Garingboom aanvullend tot kragvoer het die GDT van die lammers van 75.8 (sjokolademielies alleen) tot 85.2 g per dag verhoog (P>0.05).

Die lae groeitempo’s wat deurgaans by die lammers voorgekom het, bevestig egter dat die insluiting van garingboom by ruvoer- en kragvoerdiëte vir produksiedoeleindes nie doeltreffend is nie.

 

Garingboom as onderhoudsvoer

Inname- en verteringstudies is met volwasse Dorperskape wat garingboom as onderhoudsvoer teen vier verskillende insluitingspeile saam met krag- en ruvoer ontvang het, uitgevoer.

Die skape wat onderskeidelik die 100% lusern-, 45% garingboom : 55% lusern- en 60% garingboom : 40% luserndieet ontvang het, het geen massaverlies getoon nie, omdat dié diëte presies in die energiebehoeftes vir onderhoud voorsien het.  By die 75% insluitingspeil van garingboom het massaverlies egter voorgekom omdat die skape, as gevolg van die hoë voginhoud van garingboom, nie die volle hoeveelheid garingboom kon inneem nie.  Daar is vasgestel dat volwasse skape fisies instaat was om 64 % van hulle energiebehoeftes vir onderhoud by ruvoerdiëte vanaf garingboom kon bevredig.  Die insluiting van garingboom by ‘n ruvoerdieet (lusern) het die skynbare verteerbaarheid van droë- en organiese materiaal, bruto energie, neutraalbestande vesel, suurbestande vesel en sellulose, betekenisvol verhoog (P<0.05). Die skape wat 45% garingboom : 55% sjokolademielies ontvang het, was instaat om die totale hoeveelheid voer wat voorsien is, in te neem.  By die hoër insluitingspeile van garingboom (55% en 65% garingboom onderskeidelik) kon die skape egter nie die totale hoeveelheid voer inneem nie.  Daar is bereken dat volwasse skape by die kragvoerdiëte instaat was om 54% van hulle energiebehoeftes vir onderhoud vanaf garingboom te bevredig.  Die insluiting van garingboom in kragvoerdiëte het tot ‘n betekenisvolle verlaging (P<0.05) in die verteringskoëffisiënte van die belangrikste komponente soos ruproteïen, droëmateriaal en organiese materiaal, aanleiding gegee.

Ten spyte van die feit dat voldoende energie ingeneem is om in hul onderhoudsbehoeftes te voorsien, het skape wat garingboom aanvullend tot kragvoer ontvang het aanpassingsprobleme ondervind en massa verloor.  Dit wil dus voorkom of die vervanging van veral ruvoer met garingboom in onderhoudsdiëte, groot potensiaal het.

 

Effektiewe degradeerbaarheid

‘n Degradeerbaarheidstudie is met ses volwasse, gefistuleerde Dorperskape wat garingboom teen twee verskillende insluitingspeile saam met ruvoer in onderhoudsdiëte ontvang het, uitgevoer.

Die effektiewe degradeerbaarheid van droë materiaal, suurbestande vesel en lignien van garingboom by ‘n 45% garingboom : 55% luserndieet was betekenisvol hoër (P<0.05) as dié van garingboom by ‘n 60% garingboom : 40% luserndieet.  Die verskille in effektiewe neutraalbestande- en sellulosedegradeerbaarheid van garingboom by die 45% en 60% insluitingspeile was nie betekenisvol nie (P>0.05), maar garingboom by die 45% insluitingspeil het die hoogste waardes getoon.

‘n Matige insluitingpeil van ongeveer 45% garingboom (op ‘n energiebasis) in ‘n luserndieet, blyk dus die mees geskikte peil van insluiting van garingboom in ‘n onderhoudsdieet te wees, ten spyte van die feit dat die skape fisies instaat was om 64% van sy energiebehoeftes vir onderhoud van garingboom te bevredig.

 

GEVOLGTREKKING

Die resultate van die studies toon aan dat garingboom wel ‘n betekenisvolle rol in dierevoeding kan speel en dus suksesvol as droogtevoer in die semi-ariede en ariede dele aangewend kan word.  Dit wil voorkom of die belangrikste toepassing van garingboom as voedingsbron vir skape as ‘n oorlewingsdieet (bv. tydens droogtes), as belangrike komponent van ‘n onderhoudsdieet en teen ‘n lae insluitingspeil as komponent van ‘n produksiedieet, sal wees.  Die relatiewe belangrikheid van garingboom as ‘n voedingsbron vir skape, sal egter deurgaans deur faktore soos die prys en beskikbaarheid van tradisionele voerbronne, beskikbare arbeid vir die verwerkingsproses en klimaatstoestande bepaal word.

 

LITERATUURVERWYSINGS

DE KOCK, G.C., 1967.  Droogtevoergewasse.  Hand. Weidingsveren. S.A. 2:  147-156.

DE KOCK, G.C., 1980.  Drought resistant fodder shrubs in South Africa.  In: Browse in Africa.  Le Houérou, H.N.,  (Ed.) Symp. on Browse in Africa.  Addis Abeba, Ethiopia, 1980, 399-408.

GENTRY, H.S., 1982.  Agaves of Continental North America.  The University of Arizona Press,  Tucsan, Arizona.

JACOBS, G.A., 1979.  Utilisation of drought fodder crops.  In : Feeding and management of small stock in times of drought.  Karoo Region, Dept. Agricultural Technical Services, 14-17.

MYBURGH, P.E., 1961.  Droogtebestande voergewasse.  Merino Breeders Journal, Deel 23, Nr. 1, p. 23-31.

NOBEL, P.S. & BERRY, W.L., 1985.  Element responses in AgavesAmer. J. Bot. 72(5) : 686- 694.

WENTZEL, D., 1990.  The alkalinization of American aloe for the feeding of small stock.  Karoo Region Newsletter, 1, 1990, 1-2.

WHITE, G., 1961.  American aloe for times of drought.  Farmers Weekly, May 1961.