Last update: August 15, 2011 02:53:18 PM E-mail Print

 

GARINGBOOMAANVULLING VIR DORPERS OP OUMANSOUTBOS

 

J.H. Hoon en B.R. King

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg KP, 5900

 

 

Een van die groot probleme wat soms met die beweiding van oumansoutbos (Atriplex nummularia) voorkom, is dat die vrywillige inname van droë materiaal relatief laag is. Gevolglik kan dit nie altyd in die voedingsbehoeftes van veral groeiende diere voorsien nie. Verskeie faktore soos die tipe dier, omgewing, grondtoestande, soutinhoud van die plant, ensovoorts kan moontlik 'n rol speel.

Hoon, Herselman & King (1992) bet gevind dat die voorsiening van garingboom (Agave americana), aanvullend tot ander krag- en ruvoerkomponente, die totale droëmateriaal (DM)- en metaboliseerbare energie (ME)-inname verhoog, en gevolglik ook die diereprestasie verbeter. In 'n poging om die probleem van te lae DM-inname by oumansoutbos te oorkom, sonder die verskaffing van duur byvoeding, is 'n proef uitgevoer om te bepaal of die voordele wat met garingboomaanvulling tot ander voerbronne waargeneem is, ook suksesvol by die beweiding van oumansoutbos toegepas kan word.

 

PROEFPROSEDURE

Vier-en-twintig Dorperrammetjies (4 maande oud) is op 'n gestratifiseerde massabasis in drie groepe van agt diere elk ingedeel. Die volgende behandelings is oor 'n periode van 15 weke toegepas:

Al die diere is eers by 'n garingboom- en soutbosrantsoen aangepas, en daarna in die onderskeie behandelingsgroepe ingedeel. Daar was geen ander vreetbare materiaal op die soutboslande nie en die skape is na 'n volgende kamp verskuif sodra die soutbosplante ongeveer 80 % ontblaar was. Om waterinname te monitor, is 'n verskuifbare 200 l-drom en krip as watervoorsieningsbron gebruik. Die kampe is met elektriese heinings omhein, en bulle was presies ewe groot. 'n Half persent gebluste kalk (kalsiumhidroksied), soos aanbeveel deur Wentzel (1989), is daagliks by die garingboomaanvulling gevoeg om verlamming te voorkom.

Die volgende veranderlikes is gemonitor:

 

RESULTATE EN BESPREKING

Al drie die groepe het 'n gemiddelde aanvangsmassa van 27,7 kg/dier gehad. Uit Fig. 1 is dit duidelik dat Groep A van die begin af 'n massaverlies getoon het, terwyl daar min verskil in liggaamsmassa tussen groepe B en C voorgekom het. Na 1 week was die massa van groep A reeds betekenisvol laer as die van Groepe B en C, terwyl laasgenoemde groepe slegs gedurende week 15 betekenisvol (P<0,05) van mekaar verskil het. Die lammers in groep B het binne 32 dae nadat met die behandeling begin is 'n slagmassa van 38 kg bereik, teenoor die 44 dae van Groep C. Dit verteenwoordig 'n gemiddelde daaglikse toename (GDT) van onderskeidelik 342 en 270 g/dier/dag. Groep A het vanaf week 3 tot aan die einde van die proefperiode 'n negatiewe GDT gehandhaaf. Die eindmassas van die drie groepe was onderskeidelik soos volg: Groep A: 22,5 kg; Groep B: 43,4 kg; Groep C: 38,9 kg. Twee skape van Groep A is gedurende die proefperiode dood.

Die totale voerinname van Groep A was slegs 332 g/dag (DM-basis), terwyl Groep B 243 g garingboom/dag aanvullend tot die soutbos ingeneem het. Volgens Haenlein (1989), benodig 'n 30 ,kg-skaap 11,66 MJ ME vir normale groei. lndien die ME-waarde van garingboom 8,64 MJ/kg is, sat 'n totale DM-inname van 332 g/dag dus 2,87 MJ ME aan die skaap voorsien. Dit verteenwoordig slegs 25 % van die energie wat die dier  per dag nodig het, en verklaar die konstante massaverlies by Groep A. Die 243 g garingboom wat Groep B addisioneel tot die oumansoutbos ingeneem het, verteenwoordig 'n ME-inname van 2,10 MJ. Volgens Haenlein (1989) is 1,51 MJ ME nodig om 'n addisionele 50 g/dag massatoename te verkry. Die 2,10 MJ ME afkomstig van garingboom moet dus teoreties 'n daaglikse toename van 71,9 g/dag tot gevolg hê. Dit stem ooreen met die werklike verskil in GDT wat tussen Groepe B en C waargeneem is, naamlik 72 g/dag. Dit lyk asof die diere in Groepe B en C dieselfde hoeveelheid oumansoutbos ingeneem het, en dat die inname van garingboom by Groep B slegs addisioneel was. Dit stem ooreen met die resultate van Hoon et al. (1992) wat gevind bet dat die voorsiening van garingboom aanvullend tot lusern en sjokolade mielies tot verhoogde DM-innames en gevolglik hoër ME-innames lei.

Uit Fig. 2 is dit duidelik dat daar groot verskille ten opsigte van die waterinname van die verskillende groepe was. Die waterinname van Groep A (1,24 ± 0,77 l/dier/ dag), Groep B (7,69 ± 1,82 l/dier/dag) en Groep C (9,04 ± 1,11 l/dier/dag) verskil betekenisvol van mekaar (P<0,01). As gevolg van die hoë voginhoud van garingboom (87,4 %) het die diere wat slegs garingboom ontvang bet baie min water gedrink, terwyl die groep wat slegs 'n soutbosland bewei het se waterinname baie hoog was. Hierdie hoë waterinnames by skape wat oumansoutbos bewei, stem ooreen met die resultate van Jacobs (1987) en Hoon & King (1992).

 

GEVOLGTREKKING

Dit lyk dus asof die verskaffing van garingboom aanvullend tot oumansoutbos wel voordele inhou ten opsigte van diereprestasie, soos waargeneem in liggaamsmassa. Hierdie voordeel moet egter altyd teen die algemene beskikbaarheid van garingboom en die addisionele koste van die verwerking daarvan (arbeid, masjinerie, brandstof, ens.) opgeweeg word.

 

VERWYSINGS

HAENLEIN, G.F.W., 1989. Dietary nutrient allowances for goats and sheep. Feedstuffs Vol. 61 (31) 67-70.

HOON, J.H., HERSELMAN, M.J. & KING, B.R., 1992. Garingboom (Agave americana) as kleinveevoeding: Supplementêre effek op groei. Handelinge van die 31ste kongres van die SAVDP.

HOON, J.H. & KING, B.R., 1992. Die bepaling van die vrywillige inname van oumansoutbos (Atriplex nummularia) in drie verskillende vorms. Karoo Agric Vol. 4 No.4 1992.

JACOBS, G.A., 1987. Utilization of Atriplex nummularia by sheep. Ph.D.‚ÄĎverhandeling. Universiteit van Stellenbosch.

WENTZEL, D, 1989. Alkalanization of American aloe prevents lameness. Agricultural News, 4 December 1989.

 

Published

Karoo Agric, Vol 5, No 1, 1993 (1-2)