Last update: August 12, 2011 03:24:42 PM E-mail Print

 

Die onttrekkingsperiode van vee vanaf veld nadat prosopispeule ingeneem is

 

J.H. Hoon, B.R. King en G. Jordaan

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg KP 5900

 

Inleiding

Prosopis- ("mesquite") oftewel muskietbome is inheems aan noordoostelike Mexiko en die suidwestelike Verenigde State van Amerika en is vermoedelik aan die einde van die vorige eeu na suidelike Afrika gebring (Harding, 1978). Wêreldwyd is 44 spesies geïdentifiseer, waarvan ses spesies in Suid-Afrika aangetref word (Poynton, 1990). Veral twee prosopis spesies, naamlik Prosopis velutina (fluweelmuskietboom) en P. glandulosa var. torreyana (heuningmuskietboom), en hut hibriede (basters) veroorsaak indringing in Suid-Afrika (Poynton, 1990). Aangesien prosopisbome uiterste temperature, kwaai droogtes en oorbeweiding kan verdra, bly dit aan die lewe onder swak toestande en kan dit spoedig die inheemse plantegroei verdring. Dit produseer groot hoeveelhede saad in peule wat deur wild, vee en voëls gevreet word. Omdat baie saad onbeskadig deur diere se spysverteringskanaal kan gaan, word dit sodoende versprei (Harding, 1978).                       

In die Britstowndistrik alleen was byna 28 000 ha in 1992 reeds so erg besmet dat dit heeltemal waardeloos vir landbougebruik geword het (Meyer, 1993).

Die peule van prosopisbome is egter 'n waardevolle voerbron vir vee aangesien dit 'n hoe voedingswaarde het en baie smaaklik is. 'n Verteerbare energie- en ru-proteïeninhoud van 12,77 MJ/kg en 9,84 % onderskeidelik vir gemaalde peule is deur Kargaard & Van der Merwe (1976) gerapporteer. Die meeste peule word egter onder natuurlike weidingstoestande in die veld benut wat beteken dat die sade onverteer deur die spysverteringskanaal beweeg en verdere besmetting tot gevolg het. Boere volg verskillende praktyke om besmetting te probeer beperk. Van die praktyke is om die peule bymekaar te maak en in voerkrale aan die skape te voer, of meer algemeen om prosopispeule direk vanaf die veld te benut. Sommige boere plaas die skape na onttrekking vanaf die prosopis-besmette veld 'n dag of twee lank in krale met voer soos lusern, of slegs met drinkwater. Die vraag het egter ontstaan of dit doeltreffend is en presies hoe lank dit by elk van die onderskeie metodes duur voordat alle onverteerde saad in die mis uitgeskei is. Die doel van hierdie studie was om sowel die snelheid waarmee prosopissaad deur die spysverteringskanaal van skape beweeg, as die ontkiemingsvermoë daarvan, te bepaal. Op grond van hierdie resultate kan aanbevelings gemaak word oor voorsorgmaatreëls om verdere besmetting deur saaduitskeiding in die mis te beperk of te voorkom.

 

Proefprosedure

Die proef is in individuele hokke op Grootfontein uitgevoer. Twaalf jaaroud- Dorperhamels bet agtereenvolgens vir periodes van 5 dae (5-dae proef), 3 dae (3-dae proef) en 1 dag (l-dag proef) onderskeidelik ongemaalde prosopispeule afkomstig van die Britstowndistrik ad lib. ontvang. Die peule was blootgestel aan die werking van die saadkewer Aigarobius prosopis, maar aangesien jong peule gebruik is, was relatief min van die sade beskadig. Die genoemde drie voerperiodes is gebruik omdat peul-inname in die praktyk dikwels oor 'n periode van tussen 1 tot 5 dae strek. Aan die einde van elk van hierdie voerperiodes is die diere op 'n gestratifiseerde massabasis in twee groepe van ses diere elk ingedeel. Die een groep het gemaalde lusern ad lib. ontvang (luserngroep), terwyl die ander groep slegs toegang tot drinkwater gehad bet (watergroep). Die proefprosedure word skematies in Fig. 1 voorgestel.

 

Al die diere is vanaf die aanvang van die proef met missakke toegerus. Die sakke is elke 4 uur leeggemaak en die mis in plastieksakke in 'n vrieskas geplaas. By die luserngroep is miskolleksies gedoen totdat geen saad meer in die mis voorgekom het me. Miskolleksie by die watergroep is na 7 dae beëindig, aangesien die diere se kondisie in daardie stadium baie verswak het. Die getal onverteerde sade vir elke 4-uur miskolleksie is bepaal deur die mis fyn te maak, dit met water deur 'n sif te spoel en die sade te tel. Die liggaamsmassas van die diere is met die aanvang van elke behandeling, met die verdeling in twee groepe en aan die einde van elke behandeling, op 'n ongevaste basis bepaal. Die inname van die prosopis-peule en die luserninname van die individuele diere is ook bepaal. 'n Ontkiemingstudie is ook tydens die l-dag proef uitgevoer om die invloed op ontkieming van verskillende periodes van blootstelling van die saad aan die rumenwerking te bepaal. Veertig kontrolesade, asook twintig sade elk van sowel die lusern- as die watergroep wat elke oggend om 08:00 vir die duur van die behandeling uit die mis geneem is, is in 'n inkubasie-oond geplaas om te ontkiem. Die tempo van ontkieming asook die totale getal sade van elke groep wat ontkiem het, is bepaal.

 

Resultate en bespreking

Inname

Die gemiddelde peul-  en luserninname van die skape tydens die drie behandelings word in Tabel 1 aangetoon.

 

Die hoër peulinname wat by die 3‑dae, en veral die 1-dag proef, teenoor die 5-dae proef voorgekom het, kan toegeskryf word aan die feit dat laasgenoemde behandeling eerste toegepas is en die skape me aangepas was by die nuwe rantsoen nie. Omdat die presiese uitskeidingstempo van saad in die mis gemonitor is, kon die diere nie vooraf op die prosopispeule aangepas word me. Die gemiddelde peul- en luserninnames het egter verhoog by die 3-dae en l-dag proef namate die diere aangepas het.

 

Liggaamsmassa

Die gemiddelde liggaamsmassa van die diere met die aanvang van elke behandeling, met die verdeling in twee groepe (midmassa) en aan die einde van elke behandeling, word in Tabel 2 aangetoon.

 

By die 3- en 5-dae proef het 'n rnassaverlies van onderskeidelik 0,8 en 1,0 kg voorgekom tydens die periode waar slegs prosopispeule voorsien is. By die l-dag proef was daar 'n verhoging van 1,3 kg, maar dit kan grootliks toegeskryf word aan die onverteerde prosopispeule wat nog in die spysverteringskanaal van die diere was. Die voerperiodes was egter te kort om enige afleiding oor die werklike effek van die inname van prosopispeule op liggaamsmassa te maak. Die diere wat lusern ad lib. ontvang het, het massatoenames van tussen 2,7 en 5,0 kg getoon. Die diere wat slegs drinkwater ontvang het, het gemiddelde massaverliese van tussen 5,0 en 6,8 kg getoon.

 

Deurgang van prosopissaad

Die sade in elke 4-uur miskolleksie van individuele diere is vir 24 uur-periodes verpoel om die uitskeidingstempo van sade in die mis vir elke dag vir die onderskeie groepe te bepaal. Die gemiddelde daaglikse uitskeidingstempo van die saad in die mis van die lusern- en watergroep vir die 5-dae, 3-dae en l-dag proef word in Fig. 2, 3 en 4 onderskeidelik aangetoon. By al drie behandelings het die eerste saad 24 tot 30 uur nadat die eerste peule ingeneem is, in die mis verskyn.

By die 5-dae proef het die maksimum saaduitskeiding in die mis by die water- en luserngroep voorgekom 1 dag nadat die voer van prosopispeule gestaak is. In die geval van die watergroep het die maksimum saaduitskeiding saamgeval met die dag waarop die voer van die peule gestaak is. Toe die behandeling van die watergroep beëindig is, 7 dae nadat peulinname gestaak is, het daar nog steeds gemiddeld 58 sade/dier/dag in die mis voorgekom. By die groep wat lusern ad lib. ontvang het, het dit 11 dae geduur vandat peulinname gestaak is totdat geen saad meer in die mis uitgeskei is nie.

By die 3-dae proef het die die uitskeiding van saad in die mis min of meet dieselfde patroon as by die 5-dae proef gevolg, met die verskil dat die uitskeiding by die luserngroep 1 dag later as by die watergroep voorgekom het, terwyl die die uitskeiding van die luserngroep ook baie hoër was as die van die watergroep. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat die verhoogde lusern-inname 'n hoor verterings- en deurgangstempo tot gevolg gehad het wat tot 'n verhoogde uitskeiding van die sade gelei het. Sewe dae nadat die peulinname van die water-groep beëindig is, het daar steeds gemiddeld 49 sade/dier/dag in die mis voorgekom. Soos by die 5-dae proef het dit hier ook 11 dae geduur voordat die laaste saad in die mis van die luserngroep uitgeskei is.

By die l-dag proef het die tyd van die uitskeiding van saad in die mis effens afgewyk van die van die voorafgaande twee behandelings. Die uitskeiding by sowel die lusern- as die watergroep het 2 dae nadat peulinname     gestaak is, voorgekom. Die algemene uitskeidingspatroon stem egter ooreen met die patroon wat by die 3- en 5-dae proef waargeneem is. Toe die behandeling van die watergroep op dag 8 gestaak is, was daar steeds gemiddeld 80 sade/dier/dag in die mis. Dertien dae nadat peulinname beëindig is, was daar by die luserngroep geen saad in die mis meer me. Die langer uitskeidingsperiode kan moontlik aan die hoër peulinname by hierdie behandeling toegeskryf word.

 

Dit is dus duidelik dat by al drie behandelings waar die diere lusern ad lib. na die inname van prosopispeule ontvang het, dit gemiddeld tussen 11 en 13 dae geduur het voordat alle saad in die mis uitgeskei is. By die watergroepe, waar behandeling na 7 dae beëindig is, kan verwag word dat dit selfs langer sal duur voordat alle saad in die mis uitgeskei sal wees.

In Fig. 5 en Fig. 6 word die uitskeidingstempo's van die saad in die mis van die skape van onderskeidelik die lusern- en watergroepe by die verskillende behandelings aangetoon.

Die stadium wanneer die uitskeiding van saad in die mis voorgekom het, is gekoppel aan die inname van die prosopispeule en lusern. Die l-dag proef, waar die hoogste voerinname voorgekom het, het eerste piekuitskeidings getoon, gevolg deur die 3-dae en die 5-dae proef. Die uitskeidingspatroon van die watergroepe volg min of meer dieselfde patroon as die van die luserngroepe met die verskil dat die piekuitskeidings baie laer is as die van die luserngroepe. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die hoe tempo van vertering en deurgang van lusern by die luserngroepe, wat die uitskeiding van prosopissaad in die mis verhoog het.

 

Ontkieming

Die persentasie prosopissade wat ontkiem bet na verskillende periodes van blootstelling aan die rumenwerking, word in Tabel 3 aangetoon.

Van die 40 kontrolesade wat nie deur die spysverteringskanaal gegaan het nie, het slegs 2,5 % ontkiem, wat 'n baie lae persentasie is. By sowel die lusern- as die watergroep het die grootste persentasie ontkieming voorgekom by sade wat tussen 1 en 5 dae in die rumen was. By die luserngroep bet geen ontkieming voorgekom by die sade wat langer as 5 dae aan die rumenwerking blootgestel is me. Die sade van die watergroep bet deurgaans beter ontkiem as die van die luserngroep,    terwyl ontkieming ook by sade wat vir langer as 5 dae in die rumen was, plaasgevind bet. Geen sade wat langer as 5 dae in die rumen van die luserngroep was, bet ontkiem nie. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat die rumenmikrobes baie aktief was as gevolg van voldoende voer, en dat die sade in daardie stadium reeds sodanig binnegedring en beskadig het dat ontkieming nie meer kon plaasvind me. Dit bevestig dat die inname van lusern wel die verteerbaarheid van die sade verhoog het. By die watergroep waar die diere slegs drinkwater ontvang het, was die nadelige effek op ontkieming baie kleiner. Dit is opmerklik dat maksimum ontkieming saamgeval het met die hoogste uitskeidingstempo van saad in die mis.

 

Gevolgtrekking

Uit hierdie resultate is dit duidelik dat die praktyke wat boere tans volg om saadverspreiding te voorkom of te beperk, naamlik om skape wat prosopispeule ingeneem het vir 'n dag of twee in 'n kraal met of sonder voer te plaas, ontoereikend is. Dit is onprakties om slegs drinkwater aan skape te voorsien omdat die diere in die 7 dae gemiddeld 5,9 kg liggaamsmassa verloor het en daar aan die einde van die periode nog steeds baie saad in die mis aanwesig is. Om skape vir ten minste 10 dae na onttrekking in 'n kraal te voer om herbesmetting te voorkom, is wel doeltreffend maar het addisionele koste tot gevolg en neem baie tyd in beslag. 'n Skaap van ongeveer 50 kg wat gemiddeld 1,2 kg lusern/dag (gemiddeld van die drie behandelings) oor 10 dae vreet, neem altesaam 12 kg voer in. Teen R350/t lusern beteken dit 'n bykomende voerkoste van R4,20/skaap. Indien egter aanvaar word dat baie min of geen sade na 5 dae in die spysverteringskanaal ontkiem Die, kan die voerperiode moontlik verkort en die koste sodoende verlaag word. Dit is egter belangrik dat hierdie bykomende voerkoste vergelyk word met die koste van beheer of bestryding indien die nodige voorsorgmaatreëls nie toegepas word nie.

 

VERWYSINGS

HARDING, G.B. 1978. Muskietboom. In: Indringerplante, Mooi maar Gevaarlik, Red. C.H. Stirton, 128-131.

KARGAARD, J. & VAN DER MERWE, F.J. 1976. Digestibility studies with Prosopis juliflora (mesquite thorn) pods. South African Journal of Animal Science, 6: 35-39.

MEYER, E.M. 1993. Prosopis vervuil Karoo. Landbouweekblad, 5 Februarie 1993,36-39.

POYNTON, R.J. 1990. The Genus Prosopis in South Africa. South African Forestry Journal, No. 152, March 1990,62-66.

 

Published

SASAT Congress in 1995 / Grootfontein Agric, Vol 1, No 1, 1995 (7-12)