Last update: November 29, 2010 03:56:27 PM E-mail Print

 

ONDERSOEK NA DIE PERMANENSIE EN SIGBAARHEID VAN TATOEëERMERKE

BY DONKER GEPIGMENTEERDE DIERE

 

W.J. Olivier, P.J. Griessel & A.P. Pretorius

Grootfontein Landbou-Ontwikkelingsinstituut, Privaatsak X 529

Middelburg O.K., 5900

 


Inleiding

Met die aanvaarding van die Wet op Veebrandmerke (1962) is alle vorige identifikasiemerke herroep en ‘n eenvormige identifikasiestelsel is aanvaar. In die lig van die ernstige afmetings wat veediefstal die laaste paar jaar aangeneem het, het die Wet weer in die kollig gekom. Volgens die Gewysigde Wet op Veebrandmerke (1992) is alle vee-eienaars verplig om hul vee te merk volgens die regulasies wat voorgeskryf word. Die Wet maak eerstens voorsiening vir ‘n eenvormige identifikasiestelsel vir vee en tweedens om ‘n nasionale register van die geregistreerde merke by te hou.

Sommige boere het gevind dat die tatoeëermerke by donker gepigmenteerde kleinvee na slegs ‘n paar maande heeltemal onsigbaar en onleesbaar geword het. Dit het daartoe gelei dat die permanensie en sigbaarheid van tatoeëermerke veral by donker gepigmenteerde kleinvee deur sommige boere bevraagteken is. As gevolg hiervan het daar uit verskeie oorde teenkanting gekom teen die tatoeëring van kleinvee soos deur die Wet (1962) voorgeskryf word. Nadat die probleme geopper is, het die Registrateur van Veebrandmerke, asook verskeie landbouverwante organisasies vir Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut versoek om die permanensie en sigbaarheid van tatoeëermerke by donker gepigmenteerde kleinvee te ondersoek.

 

Materiaal en metodes

‘n Groep van 52 Namakwa-Afrikanerooitjies op Carnarvon Proefplaas is gedurende November 1997 getatoeëer, terwyl ‘n groep van 200 Dorperooie op Koopmansfontein Proefplaas gedurende Augustus 1998 getatoeëer is. Albei groepe is getatoeëer met die Noord-Kaap Departement van Landbou se geregistreerde merk (LNC), soos deur die Wet voorgeskryf. Groen ink (Ketchum7, Ketchum Manufacturing Inc. Ottawa Canada K2A 2G6), wat op die mark beskikbaar is, is gebruik.

Die ore van die diere is vooraf met spiritus skoongemaak. Die tatoeëertang is hierna in die regte posisie geplaas en genoeg druk is uitgeoefen om te verseker dat die tatoeëerpennetjies die oor penetreer. Die inkbottel is ook voortdurend geskud om te verseker dat geen afsaksel gevorm word wat die sigbaarheid van die merke nadelig kon beïnvloed nie. Daar is ook sorg gedra dat genoeg ink gebruik word en dat die ink baie deeglik ingevryf word.

Die Namakwa-Afrikanerooitjies se tatoeëermerke is na drie en agt maande geëvalueer ten opsigte van die permanensie en sigbaarheid daarvan. Die Dorperooie is na ses maande geëvalueer. Tydens die evaluasie van die merke is die ore slegs met ‘n nat lap skoon gevee om die stoflaag te verwyder. Die sigbaarheid en leesbaarheid van die merke is geëvalueer volgens ‘n punteskaal van een (1) tot vyf (5), wat as volg omskryf word:

1  -  Geen merk sigbaar of leesbaar nie

2  -  Die merk is dof en moeilik leesbaar

3  -  Die merk is sigbaar en leesbaar

4  -  Die merk is duidelik sigbaar en leesbaar

5  -  Die merk is baie duidelik sigbaar en leesbaar

 

Resultate en bespreking

Die resultate van die evaluasies van die Namakwa-Afrikanerooitjies en die Dorperooie word onderskeidelik in Fig. 1 en 2 aangetoon. Die evaluasie van die merke is uitgedruk as ‘n persentasie van die totale aantal diere in elke groep wat geëvalueer is.

 

 

 

Figuur 1.  Die sigbaarheid en leesbaarheid (1-5) van die tatoeëermerke na onderskeidelik drie en agt maande van die Namakwa-Afrikanerooitjies

 

Dit is duidelik uit Fig. 1 dat omtrent 76% van die Namakwa-Afrikanerooitjies se tatoeëermerke na drie maande gewissel het van duidelik tot baie duidelik sigbaar en leesbaar, terwyl slegs 24% van die merke dof en moeilik leesbaar was. Tydens die evaluasie na agt maande was omtrent 84% se merke duidelik tot baie duidelik leesbaar gewees, 6% se merke was sigbaar en leesbaar en slegs 10% se merke was dof en onleesbaar gewees.

Uit Fig. 2 is dit duidelik dat meer as 80% van die merke van die Dorperooie na ses maande gewissel het van leesbaar (3) tot baie duidelik sigbaar en leesbaar (5) en dat slegs 16% van die merke óf heeltemal weg was óf dof en moeilik leesbaar was.

 

 

Figuur 2.  Die sigbaarheid en leesbaarheid (1-5) van die tatoeëermerke van die Dorperooie na ses maande.

 

Dit is egter baie belangrik om in ag te neem dat van die merke se sigbaarheid en leesbaarheid beïnvloed is deur ore wat baie harig was en tatoeëermerke wat binne in die kraakbeenriwwe getatoeëer is. Indien die ore skoon geskeer was, kon die leesbaarheid van die merke aansienlik verbeter het.

Dit kan egter ook gebeur dat die merke wel na ‘n tyd heeltemal verdof en wegraak, aangesien daar verskeie faktore is wat die sukses van tatoeëring beïnvloed.

Die volgende maatreëls behoort te verseker dat ‘n hoë suksessyfer met tatoeëring verkry word:

1    Maak die oppervlak waar getatoeëer word deeglik met spiritus skoon om alle stof en vetterigheid te verwyder.

2    Die inkbottel moet voortdurend deeglik geskud word om te verseker dat daar geen afsaksel gevorm word nie

3    Die tang moet so geplaas word dat die tatoeëerletters tussen die kraakbeenriwwe sal wees.

4    Voldoende druk moet op die tatoeëertang uitgeoefen word om te verseker dat die pennetjies die oor penetreer.

5    Daar moet genoeg ink op die tatoeëermerk aangewend word en dit moet deeglik ingevryf word.

 

Gevolgtrekking

Uit die waarnemings wat gemaak is in die studie is dit duidelik dat die tatoeëring van donker gepigmenteerde kleinvee met groen ink duidelik sigbaar en leesbare merke tot gevolg sal hê. Dit is egter baie belangrik om die regte stappe te volg en te verseker dat genoeg ink gebruik word en dat die ink deeglik ingevryf word.

 

Literatuurverwysings

Wet Op Veebrandmerke, 1962. (Wet no. 87 van 1962), Staatskoerant 25 Junie 1962

Wysigings wet Op Veebrandmerke, 1992. (Wet no. 10 van 1992), Staatskoerant 3 Maart 1992