Last update: April 12, 2012 02:01:54 PM E-mail Print

 

PRODUKSIE VAN FYNWOL-MERINOSKAPE UIT VERSKILLENDE STREKE VAN SUID-AFRIKA

 

A.G. Bezuidenhout, A.C. Greyling en J. M. Jansen van Rensburg

Cradock Proefstasie, Cradock 5880

en J.J. Olivier

Grootfontein Landbou‑ontwikkelingsinstituut, Middelburg KP 5900

 

INLEIDING

Sedert 1984/85 het aansienlike prysverskille ten gunste van fynwol by die Suid-Afrikaanse wolskeersel voorgekom. Dit het die vraag na produksienorme vir fynwolskape laat toeneem. As gevolg van hierdie behoefte aan genetiese fynwolmateriaal is 'n fynwolkudde gedurende 1988/89 op Cradock Proefstasie gevestig. Verskillende tipes ooie is vanuit verskillende gebiede in Suid-Afrika aangekoop. Die gebiede kan in vier verskillende geografiese streke ingedeel word, naamlik die Suidwestelike distrikte, Karoo, Oos-Kaap en Oos-Transvaal. In hierdie artikel word die produksie- en reproduksieprestasies van die ooie wat uit die verskillende streke afkomstig is, vergelyk. Die produksie van die nageslag, wat almal onder gekontroleerde toestande aangehou is, is ook ondersoek.

 

PROEFPROSEDURE

Altesaam 471 ooie is van 30 verskillende telers aangekoop. Aanvanklik was die ooie se gemiddelde veseldikte 19,2 ± 1,81 mikron. Groot verskille in liggaamsmassa het voorgekom, naamlik van 30 tot 75 kg. Die ooie is met Australiese fynwolramrne, wat 'n gemiddelde veseldikte van 20 mikron gehad het, gepaar. Ooie is deurgaans op 'n hoë voedingspeil op aangeplante weidings onder besproeiing aangehou. Lusern is gebruik as somerweiding terwyl kleingraan- en raaigrasweidings gedurende die winter bewei is. Die nageslag is op 100-dae-ouderdom gespeen en daarna ook op aangeplante weidings aangehou vir evaluasie op ongeveer 16-maande-ouderdom. Die data van die eerste vier lamseisoene is gegroepeer en verpoel volgens die verskillende streke van herkoms. Hierdie verpoelde data is ontleed met behulp van die kleinste-kwadraat-metodes (Harvey 1990). In die ontleding van die data is voorsiening gemaak vir verskille in ouderdom van die ooie, wat gewissel het van 2 tot 7 jaar, asook die reproduksiestatus van die ooi.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Die gemiddelde produksie-eienskappe van die verskillende groepe ooie word in Tabel 1 aangetoon. Die ooie met die laagste gemiddelde veseldikte (20,84 ± 0,14 mikron) is van telers in die Oos-Kaap aangekoop terwyl die ooie met die hoogste gemiddelde veseldikte (21,69 ± 0,18 mikron) van telers in die Suidwestelike distrikte aangekoop is. Hierdie twee groepe se verskil in veseldikte was slegs 0,85 mikron (4 %). Die ooie wat in die Oos-Kaap aangekoop is, het egter ook die laagste liggaamsmassa, die laagste vagmassa en die laagste skoonopbrengs gehad. Die ooie uit die SWD bet in bogenoemde eienskappe die beste presteer. Die verskille in liggaamsmassa en skoonvagmassa onderskeidelik van die SWD- en Oos-Kaap ooie was 14,22 kg (21,4 %) en 2,97 kg (37,2 %). Die verskil in skoonopbrengs was 12 %. Al hierdie verskille was hoogs betekenisvol (P < 0,01). In vergelyking met die ooie van die Oos-Kaap, was die gemiddelde veseldikte van ooie van die Karoo en Oos-Transvaal onderskeidelik 0,1 (P > 0,05) en 2,2 % (P < 0,01) hoër. Hierdie twee groepe ooie se ander produksie-eienskappe was ooreenstemmend ook hoër as die van die ooie afkomstig van die Oos-Kaap. Die ooie afkomstig van Oos- Transvaal het egter die hoogste massa lammers op speenouderdom gelewer, naamlik 27,16 ± 1,63 kg, wat 17,3 % hoër was as vir ooie van die Oos-Kaap.

 


Volgens die resultate in Tabel l het daar dus duidelike verskille in produksie-eienskappe voorgekom tussen die ooie vanuit die verskillende streke. Dit is opmerklik dat die ooie vanaf Suidwestelike distrikte aansienlik meer wol geproduseer het as die ooie afkomstig van die ander streke en tog was bulle gemiddelde veseldikte vergelykbaar met die van die ander streke. Die belangrike effek van die omgewing waarin die diere uitgegroei het op hul latere produksie, kom ook duidelik te voorskyn uit die data. So was daar selfs na 4 jaar onder dieselfde voedingstoestande steeds verskille tussen ooie wat van verskillende streke afkomstig was. Die verskillende groepe ooie het moontlik nie onder dieselfde voedingstoestande uitgegroei nie en dus kon produksieresultate daardeur beïnvloed word.

As gevolg van die moontlike omgewingsverskille waarin die ooie uitgegroei het, is die data van die nageslag gedurende die verskillende lamseisoene ook ooreenstemmend verpoel en volgens die streke van herkoms van die ooie, gegroepeer en ontleed. Die gemiddelde produksie-eienskappe van die verskillende groepe ooie se nageslag op ongeveer 16-maande-ouderdom, word in Tabel 2 aangedui. Ooreenstemmend met die resultate van die ooie, het die ooie uit die Oos-Kaap se nageslag die laagste gemiddelde liggaamsmassas tydens geboorte, speen en op 16-maande-ouderdom asook die laagste skoonopbrengs en skoonvagmassa gehad. Die ooie uit die ander drie streke se nageslag het geen betekenisvolle verskille getoon ten opsigte van liggaamsmassa tydens geboorte en op speenouderdom nie.

 


Op 16-maande-ouderdom was die nageslag van ooie uit Oos- Transvaal se gemiddelde liggaarnsmassa betekenisvol (2,2 - 8,4 % -P < 0,05) hoër as die van die nageslag van ooie afkomstig van die ander drie streke. Die laagste gemiddelde veseldikte (19,84 ± 0,07 Fm) het by nageslag van ooie uit die Oos-Kaap voorgekom en was 1,4 % laer as die van Oos- Transvaal wat die hoogste was. Betekenisvolle verskille van 4 tot 19 % bet voorgekom by die gemiddelde skoonvagmassa geproduseer deur die verskillende streke se nageslag. Hierdie resultate stem ooreen met die bevindinge van Grové (1987) wat aangetoon bet dat groot verskille wat by ooie uit verskillende streke voorgekom bet, nie by die nageslag voorkom nie.

Die verskillende groepe ooie se nageslag is op ongeveer 16-maande-ouderdom ook beoordeel vir nie meetbare subjektiewe wol- en bouvormeienskappe. Die verskillende eienskappe is volgens 'n lineêre punteskaal beoordeel soos beskryf deur Olivier (1991). Die resultate word in Tabel3 aangetoon. Geen noemenswaardige verskil het tussen die onderskeie groepe voorgekom nie en die meeste wol- en bouvormeienskappe was binne die grense van gemiddeld (21 tot 30) tot bogemiddeld (31 tot 40). Ten opsigte van woleienskappe bet die beste kwaliteit by die nageslag van ooie afkomstig van die Suid-westelike distrikte voorgekom, terwyl die Oos-Kaap-nageslag die minste variasie ten opsigte van die vag getoon bet. Die nageslag van die Oos-Transvaalse en Oos-Kaapse ooie bet die swakste onderlyne gehad.

 

 

Wat bouvormeienskappe betref, het die nageslag van Oos-Kaap ooie die swakste koppe gehad terwyl die Oos-Transvaal nageslag se voorkwarte die beste was. Die nageslag van ooie afkomstig van die Oos- Transvaal, Suid-westelike distrikte en die Karoo se bouvormvoortreflikheid was betekenisvol (P < 0,01) beter as die van die Oos-Kaap ooie se nageslag.

 

GEVOLGTREKKING

Hierdie resultate het weereens die belangrikheid van die omgewing waarin diere uitgroei, op hul latere produksie-eienskappe beklemtoon. Dit is verder ook duidelik dat die verskille nie na die nageslag oorgedra word nie. Hoewel die ooie van 'n wye spektrum omgewingstoestande afkomstig was, het relatief min variasie by die nageslag, wat onder dieselfde voedingstoestande uitgegroei het, voorgekom.

 

VERWYSINGS

GROVÉ, A.C. 1987. Die evaluasie van Merino's uit verskillende stoeterye in 'n gestandaardiseerde omgewing. M.Sc.(Agric.)-verhandeling, UOVS.                       

HARVEY, W.R. 1990. Mixed Model Least‑Squares and Maximum Likelihood Computer Programme. Walter R. Harvey.

OLIVIER, J.J. 1991. Quantifying type traits in Merinos. KarooAgric 4(3): 3-5.

 

Published

unknown