Last update: December 1, 2010 03:46:28 PM E-mail Print

 

DIE TATOEËRING VAN KLEINVEE

 

 W.J. Olivier, A.P. Pretorius, P.J. Griessel

Grootfontein Landbou Ontwikkelingsinstituut, Privaat Sak X529,

Middelburg OK, 5900

 


Die probleme wat vandag ondervind word om diere, veral kleinvee, te identifiseer en om eienaarskap te bewys, is niks nuuts nie. Dit is probleme wat reeds in die Bybel deur Jacob ondervind is toe hy vee van Laban ontvang het (Gen. 30:33). Hy het van kleurpatrone gebruik gemaak om sy vee te identifiseer. Uit ou geskrifte blyk dit dat die Egiptenare, Grieke en Romeine reeds sowat 2000 v.C. hul vee gebrandmerk het om eienaarskap te kan bewys.

Friesbeestelers maak ook gebruik van ‘n soortgelyke kleurpatroon identifikasie tegniek as wat Jakob gebruik het. Dit is moontlik vir hulle om hierdie metode te gebruik aangesien elke Friesbees sy of haar eie unieke kleurpatroon het. Dit kan egter nie by skape of bokke  of ook by ander beesrasse gebruik word nie en moet hierdie diere deur middel van tatoeëring en brandmerke gemerk word.

In Suid Afrika kom die identifikasie van vee ook al ‘n lang pad. Met die aanvaarding van die Wet op Veebrandmerke (Wet no. 62 van 1962) is alle vorige merke herroep en is ‘n eenvormige identifikasiestelsel aanvaar. In die lig van die ernstige afmetings wat veediefstal die laaste paar jaar aangeneem het, het die Wet weer in die kollig gekom. Volgens die  gewysigde Wet is alle vee-eienaars in Suid Afrika verplig om hul vee te merk volgens die regulasies wat die Wet voorskryf. Die Wet maak eerstens voorsiening vir ‘n eenvormige identifikasiestelsel vir vee en tweedens om ‘n nasionale register van die geregistreerde merke by te hou.

Daar is egter uit verskeie oorde teenkanting teen die Wet geopper. Dit was die gevolg van probleme wat sekere boere ondervind het met die permanensie en sigbaarheid van die tatoeëermerke. Sekere van die beskikbare soorte ink en toerusting se kwaliteit is ook deur deur boere bevraagteken. As gevolg van hierdie probleme wat boere ondervind het, is besluit om die donker gepigmenteerde skaaprasse van die Instituut te merk en die merke te evalueer.

In teenstelling met die aannames van die boere rakende die sigbaarheid en permanensie van tatoeëermerke, word die tatoeëring van kleinvee die afgelope twee dekades met groot sukses toegepas in die Merino-, Dorper- en Afrinokuddes van die Grootfontein Landbou Ontwikkelingsinstituut. Die diere in hierdie kuddes word van ‘n identiteitsnommer voorsien vir uitkenning vir navorsingsdoeleindes en die merke is baie duidelik sigbaar in die ore van die reproduserende ooie vir hulle volle produksie leeftyd.

Vroeg in 1995 is ‘n trop kruisbokke, wat bruin- en donker pigment in die ore het ook vir navorsingsdoeleindes getatoeëer. Teen die einde van 1997, toe die navrae rondom tatoeëring begin instroom het, is die groep van 130 bokke beoordeel vir die sigbaarheid en permanensie van die merke. Van die groep bokke was 96% se tatoeëermerke baie duidelik leesbaar en sigbaar. Die paar bokke waarvan die merke moeilik leesbaar was, was nie as gevolg van onleesbare merke nie, maar as gevolg van donker spikkels en vlekke in die ore van die bokke waaroor die merke getatoeëer was.

In November 1997 is ‘n groep van 60 bruin- en swartkop Namakwa Afrikaner ooie getatoeëer met die groen ink wat op die mark is. Die ooitjies is gedurende Februarie, Julie en September 1998 geëvalueer ten opsigte van die leesbaarheid en sigbaarheid van die merke. Die oorgrote meerderheid van die ooie se tatoeëermerke was duidelik sigbaar en leesbaar. By die meeste van die merke wat onleesbaar was, was die probleem dat die merke weereens in die haarlyn getatoeëer is.

Gedurende Augustus 1998 is die Dorperkudde op die Koopmansfontein Proefplaas getatoeëer met die Noord Kaap Departement van Landbou se geregistreerde merk (LNC) volgens wetgewing. ‘n Groep van 200 ooie is ses maande later (Februarie 1999) volgens die volgende punte skaal van een tot vyf geëvalueer en die punte is as volg omskryf:

1 -  Geen merk sigbaar of leesbaar nie

2 -  Die merk is dof en moeilik leesbaar

3 -  Die merk is sigbaar en leesbaar

4 -  Die merk is duidelik sigbaar en leesbaar

5 -  Die merk is baie duidelik sigbaar en leesbaar

Die resultate van die evaluering van hierdie groep ooie word in figuur 1 aangetoon. Dit is duidelik uit die grafiek dat 84 % van die merke na ses maande duidelik leesbaar en sigbaar was. Sommige van die merke wat nie leesbaar of sigbaar was nie, was egter in die haarlyn van die ore getatoeëer en sommige van die ore was ook baie harig.

 

Figuur 1: Die resultate van die evaluasie van die tatoeëermerke van Dorperooie op die Koopmansfontein Proefplaas

 

Uit die waarnemings wat gemaak is deur beamptes van Grootfontein Landbou Ontwikkelingsinstituut van die diere wat getatoeëer is, is dit duidelik dat die tatoeëermerk permanent en sigbaar van aard kan wees op beide ligte en donker gepigmenteerde diere, indien die tegniek korrek toegepas word. Hier is ‘n uiteensetting van die tatoeëertegniek wat met groot sukses op al die kuddes van die Instituut toegepas word.

1) Die oppervlak waar gemerk gaan word, word eerstens met spiritus skoon gemaak. Dit het ‘n tweeledige funksie, nl. eerstens om alle stof en vetterigheid te verwyder en tweedens dien dit as ‘n ontsmettingsmiddel om ‘n kliniese werksvlak voor te berei. Wanneer in die ore getatoeëer word, moet daar gepoog word om tussen die kraakbeenriwwe (haarlyne) te tatoeëer; dit sal voorkom dat te veel bloeding plaasvind. In die lies of oksel, moet die tatoeëermerk op ‘n plek geplaas word waar daar so min as moontlik wrywing plaasvind, dit wil sê agter die blad op die kant van die wol- en haarlyn. Dit geld ook vir die tatoeëring in die lies.

2) Die tang word voorberei deur seker te maak dat die letters wat gebruik word in die korrekte volgorde in die tang geplaas is en dat dit stewig vassit. Die volgorde van die letters kan gekontroleer word deur die tang op ‘n stukkie karton te knip. Dit is belangrik dat die volgorde van die letters in die tang ooreenstem met die volgorde wat  op die registrasie sertifikaat aangedui is.

3) Die inkbottel moet baie goed geskud word om te verseker dat daar geen afsaksel is nie en om die beste resultate te verseker. Van die ink kan op ‘n stukkie watte of wol in ‘n leë politoerblikkie gegooi word. Die tang word dan in die watte gedruk om die pennetjies van die letters vol ink te kry. Ink kan ook op die skoongemaakte oppervlak waar getatoeëer gaan word, aangewend word met behulp van die aanrolballetjies of met die vinger.

4) Die tang word nou in die regte posisie geplaas. Wanneer in die oksels of lieste getatoeëer word, moet die vel deur ‘n tweede persoon mooi oopgetrek word. Die tang word dan op die oopgetrekte oppervlak geplaas. Genoeg druk moet op die tang uitgeoefen word om te verseker dat die pennetjies deur die oor- of veloppervlak gedruk word. Indien te min druk uitgeoefen word, penetreer die pennetjies nie diep genoeg nie en word die eindresultaat nadelig beïnvloed.

 

5) Die belangrikste stap van hierdie metode is die invryf van die ink. Die ink moet met die duim en voorvinger of met ‘n tandeborsel in die wondjies ingevryf word. Indien daar enige bloeding voorkom, moet meer ink gebruik word en die ink ook meer deeglik ingevryf word.

Dit kan egter nie genoeg beklemtoon word dat daar genoeg ink gebruik moet word en dat die inkbottel baie goed geskud moet word voor en tydens die hele tatoeëringsproses nie om te verhoed dat enige afsaksel vorm wat die sukses van merke nadelig kan beïnvloed.