Last update: December 2, 2010 08:45:55 AM E-mail Print

 

WETENSKAPLIKE TELING VAN AANGEPASTE ANGORABOKKE

 

 M.A. Snyman, J.J. Olivier & M.J. Herselman

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, P/sak X529, Middelburg (O.K.), 5900



1.  Inleiding

Weens die feit dat die Angorabok by uitstek ‘n veselproduseerder is, was rasverbetering in die verlede hoofsaaklik op veselproduksie-eienskappe toegespits. Alhoewel seleksie hoofsaaklik gebaseer was op visuele beoordeling, was die telers uiters suksesvol in hul doelwitte om ‘n kempvrye, hoë veselproduserende dier te teel. In die jarelange seleksieproses is reproduksie- en groei-eienskappe egter as van minder belang beskou en dit het daartoe aanleiding gegee dat ‘n bok geteel is wat nie noodwendig by ekstensiewe toestande aangepas is nie. Die belangrikheid van aanpasbaarheid van Angorabokke by ekstensiewe gebiede het egter in die onlangse verlede ‘n redelik aktuele onderwerp van bespreking geword.

 

2.  Wat is aanpasbaarheid en gehardheid ?

Aanpasbaarheid kan gedefinieer word as die vermoë van diere om in ‘n spesifieke omgewing te  oorleef, te reproduseer en te produseer. Gehardheid verwys spesifiek na die aanpasbaarheid van diere by ekstensiewe voedingsomgewings, soos byvoorbeeld die tradisionele Angorabokareas.

 

3.  Relatiewe belangrikheid van aanpasbaarheid by Angorabokke

Aangesien die Angorabok primêr ‘n veselproduseerder is, kan aanvaar word dat aanpasbaarheid van groter belang by vleisproduserende bokrasse sal wees. Dit beteken egter nie dat aanpasbaarheid van Angorabokke  by ekstensiewe gebiede nie belangrik is nie. Inteendeel, dit is juis dié aspek wat indirek die meeste bydra tot  verhoogde inkomste van Angorabokke. Reproduksie is die belangrikste maatstaf van aanpasbaarheid onder ekstensiewe toestande. Reproduksie is ook die belangrikste eienskap wat inkomste beïnvloed. Die duurste haar word deur die klein- en jongbokke geproduseer, en ‘n hoë lampersentasie verseker ‘n groter proporsie klein- en jongbokke in die kudde. Hoë reproduksie maak ook ‘n hoër seleksie-intensiteit moontlik, m.a.w. hoe meer jongbokke beskikbaar is tydens seleksie-ouderdom, hoe strenger kan daar geselekteer word en hoe vinniger kan daar genetiese vordering gemaak word.

 

4.  Die omgewing waarin seleksie plaasvind

Die vermoë van spesifieke diere om onder swak weidingstoestande aan te pas, is  'n eienskap wat in die verlede tot 'n groot mate in seleksieprogramme geïgnoreer is. Inteendeel, seleksie is hoofsaaklik op produksie onder optimale toestande toegespits, terwyl die belangrikste maatstaf van aanpasbaarheid, naamlik produksie onder natuurlike toestande, nooit werklik in ag geneem is nie. Die vraag ontstaan dus of produksie wat in ‘n spesifieke omgewing gemeet is, sondermeer na ‘n ander omgewing geëkstrapoleer kan word. Met ander woorde, sal ‘n individu wat in een omgewing die beste geproduseer het, ook in ‘n ander omgewing die beste produseer? Al hoe meer getuienis kom egter na vore dat genotipe x omgewingsinteraksies ten opsigte van produksie-eienskappe wel voorkom. In een so 'n studie waarin drie verskillende bokrasse met mekaar vergelyk is (Hart et al., 1993), is bevind dat Angorabokke die hoogste GDT op aangeplante weidings, maar die laagste op droë wintergrasweidings, gehad het. Hierdie resultate word in Figuur 1 geïllustreer.

Figuur 1. Groeitempo van verskillende bokrasse op aangeplante wintergraanweiding en droë wintergras (Hart et al., 1993)

 

‘n Verdere bewys vir die bestaan van genotipe x omgewingsinteraksies het na vore gekom in 'n nageslagstoets van Tygerhoek Merinokontroleramme (TK) en Grootfontein Merinostoetramme (GS) op kommersiële Merino-ooie op Karooveld. In hierdie toets was die wolproduksie van TK-ramme, wat sedert 1968 glad nie geselekteer is nie, se nageslag hoër as dié van GS-ramme (Cloete & Olivier, 1995). In die voerkraal het GS-ramme se nageslag egter, soos wat verwag is, meer wol as TK-ramme se nageslag geproduseer (Tabel 1).

 

Tabel 1. Wolproduksie van nageslag van Grootfontein stoetramme in vergelyking met Tygerhoek kontroleramme by kommersiële Merino-ooie (Cloete & Olivier, 1995)

 

Veld Voerkraal
Grootfontein stoetramme
3.4 kg 8.4 kg
Tygerhoek kontroleramme 
3.5 kg
7.9 kg

 

Na aanleiding van bogenoemde resultate blyk dit dat genotipe x omgewingsinteraksies nie sondermeer buite rekening gelaat kan word nie. Dit bring dus mee dat seleksie onder optimale voedingstoestande, soos in die verlede in die tradisionele stoetbedryf toegepas is, moontlik nie die gehardheidsaspek ondersteun het nie.

 

5.  Versoenbaarheid van stoetteling met kommersiële produksie

Dit is belangrik om te besef watter eienskappe vir die kommersiële produsent en watter eienskappe vir die stoettelers van belang is. Die kommersiële produsent se inkomste is afhanklik van die produkte wat verkoop word en daarom is die volgende eienskappe vir kommersiële produsente van ekonomiese belang :

 

Hierteenoor word inkomste van stoettelers tot ‘n groot mate deur ramverkope bepaal en is die volgende eienskappe vir stoettelers van meer belang :

 

Uit bostaande is dit duidelik dat die ideale dier waarna die teler streef nie noodwendig dieselfde is as dié wat die kommersiële produsent benodig nie. Verder  vind stoetteling meestal onder baie gunstiger toestande plaas as dié waaronder kommersiële produksie moet geskied. Dit bring mee dat diere geteel word wat nie noodwendig vir ekstensiewe kommersiële produksie aangepas is nie.

 

6.  Stoetteling vir kommersiële produksie

Dit is belangrik om te meld dat die stoettelers nie geblameer kan word vir die huidige situasie waar die seleksiepraktyke in die stoetbedryf nie tot maksimum voordeel van kommersiële Angorabokboerdery strek nie. Solank as wat kommersiële produsente nie bereid is om ‘n premie te betaal vir teelmateriaal wat vir hulle spesifieke behoeftes geteel is nie, sal hierdie situasie nie verbeter nie. Uit die bespreking tot dusver is dit duidelik dat dit dringend noodsaaklik geword het om ‘n strategie daar te stel om stoetteling meer in lyn met die behoeftes van kommersiële produsente te bring.

Daar kan met reg die stelling gemaak word dat daar in die verlede bitter min vir aanteeltempo by die Angorabok geselekteer is. Een voordeel hiervan is dat daar dus nog geweldig baie genetiese variasie in reproduksie bestaan wat oordeelkundig tot voordeel van die bedryf aangewend kan word. Dit is ‘n bewese feit dat ‘n jongooi wat oorslaan geneig sal wees om later in haar leeftyd weer oor te slaan (Tabel 2). Deur ooie wat na hul eerste lamkans nie ‘n lam gespeen het nie uit te skot, kan daar dus ‘n groot bydrae gemaak word om die produktiwiteit van die huidige kudde te verbeter. Die groot verskille t.o.v. reproduksie wat binne kuddes voorkom, blyk duidelik uit die gegewens wat in Tabel 3 aangetoon word.

 

Tabel 2. Aantal lammers gebore oor die leeftyd van ooie wat geen of een bokkies tydens hul eerste lamkans gehad het

Aantal bokkies tydens eerste lamkans

Aantal bokkies oor 4 lamkanse

0

1.47

1

3.17

 

Tabel 3. Reproduksie gegewens van die 10 beste en 10 swakste ooie oor drie lamkanse (n=92)

 

Swakste 10 

Beste 10

Bokkies gebore

1.6

4.4

Bokkies gespeen

0.7

4.4

Massa gespeen (kg)

9.5

78.3

 

Navorsingsresultate het verder getoon dat daar aanduidings is van ‘n negatiewe verwantskap tussen reproduksie en die hoeveelheid haar wat per liggaamsmassa geproduseer word. M.a.w., kleiner ooie wat baie haar produseer, reproduseer swakker as groter ooie wat minder haar produseer. Hierdie verwantskap word in Figuur 2 geïllustreer en moet in aanmerking geneem word by die opstel van teelplanne vir Angorabokke.

 

Figuur 2. Verwantskap tussen ooiproduktiwiteit en haarproduksiepotensiaal

 

By skape is ‘n baie hoë genetiese korrelasie tussen reproduksie prestasie en liggaamsmassa gevind. Dit impliseer dat groter diere daartoe instaat is om geneties beter te reproduseer oor hulle leeftyd. Dit kan aanvaar word dat dieselfde situasie by die Angorabok geld. Liggaamsmassa behoort dus een van die belangrikste seleksiemaatstawwe in die teelprogram te wees.

 

 

6.1.  Wat moet die stoetteler doen ?

Die belangrikste aspek van teling vir kommersiële produksie is die verbetering van aanpasbaarheid by ekstensiewe toestande. Deur diere op die veld, met die minimum hoeveelheid byvoeding, aan te hou tot en met seleksie-ouderdom is ‘n minimum voorvereiste.

Die rede waarom dit belangrik is dat seleksie onder dieselfde toestande as waarin die diere moet produseer en reproduseer moet plaasvind, is dat seleksie van diere onder ekstensiewe toestande nie noodwendig seleksie vir produksie per se is nie, maar eerder vir aangepastheid. Aangepastheid lei dan weer op sy beurt tot hoër produksie. Seleksie vir produksie in ‘n optimum omgewing is egter direk vir produksie en dit volg nie noodwendig dat diere dan aangepas is nie.

Seleksie vir reproduksie (prul van ooie wat nie lam nie of ooie wat swak bokkies speen, d.i. ooiproduktiwiteit) is uiters belangrik in die teel van aangepaste diere, aangesien reproduksie die sensitiefste eienskap is vir  omgewingstoestande. Deur ooie wat na hul eerste lamkans nie ‘n lam gespeen het nie uit te skot, dra verder grootliks by om die produktiwiteit van die huidige kudde te verbeter.

 

6.1.1     Neem van rekords

Om te verseker dat die doeltreffendheid van produksie in kommersiële kuddes verhoog, moet die stoetteler daarop ingestel wees om die doeltreffendheid van sy diere onder kommersiële toestande te verbeter. Seleksie vir verhoogde doeltreffendheid kan alleenlik plaasvind indien voldoende rekords gehou word en dié rekords reg gebruik word. Die voorgestelde rekordsisteem moet deur die stoetteler gesien word as ‘n hulpmiddel om sy eie seleksie meer akkuraat te maak, eerder as om kommersiële produsente mee te probeer beïndruk. Die volgende minimum rekords moet verkieslik gehou word sodat reproduksie en produksie met behulp daarvan verbeter of gemonitor kan word :

6.1.2     Seleksie gebaseer op rekords

Nadat bogenoemde rekords ingesamel is, kan seleksie van teelouers gebaseer word op ‘n seleksie-indeks waarin dié eienskappe geïnkorporeer is. Sien Snyman et al., (1996) vir voorgestelde seleksie-indekse of kontak :

            Dr. Gretha Snyman                                Dr. Buks Olivier

            Grootfontein LOI                                    Diereverbeteringsinstituut

            Privaatsak X529                                     P/a Privaatsak X529

            Middelburg                                of          Middelburg

            5900                                                     5900

            Tel: 04924 21113                                   Tel: 04924 22563

 

6.2.  Wat moet die kommersiële produsent doen ?

Die huidige situasie waar die seleksiepraktyke in die stoetteelbedryf nie voldoen  aan die vereiste om aangepaste diere vir ekstensiewe gebiede te teel nie, kan grootliks toegeskryf word aan kommersiële produsente wat nog steeds ‘n premie vir gevoerde ramme betaal. Meeste van hierdie produsente is egter ongelukkig met die feit dat hierdie ramme baie keer nie na wense op sy plaas presteer nie. Met ander woorde, kommersiële produsente is besig om ‘n stelsel te kritiseer wat hulle self ondersteun. Om bogenoemde strategie wat aan stoettelers voorgestel word in die praktyk te laat posvat en te laat slaag, moet kommersiële produsente :

 

7.  Evaluasie tussen stoeterye

In die toekoms sal ‘n praktiese metode in werking gestel moet word om die genetiese meriete van individuele diere in verskillende stoeterye te evalueer. Die rol van tradisionele skoue in hierdie verband is baie beperk en van min waarde, terwyl veldramprojekte ‘n goeie idee is, maar in die huidige vorm nie voldoen aan bogenoemde vereiste nie. Die inwerkingstelling van ‘n nageslagtoetsskema, asook geheelrasontledings behoort die oplossing te bied. Dit sal egter gepaard moet gaan met ‘n opleidingsveldtog aan telers ten opsigte van rekordhoudings- en ander vereistes wat vir so ‘n stelsel benodig sal word.

 

8.  Samevatting

Aanpasbaarheid van Angorabokke by veral ekstensiewe gebiede sal in die toekoms van al groter belang vir ekonomiese oorlewing van produsente word. In hierdie verband sal kommersiële produsente moet begin aandring op teelmateriaal wat vir hulle doel geskik en deeglik geëvalueer is. Verder is die oorlewing van die Angorabokbedryf in die hande van die stoettelers en daarom sal hulle moet teel om in die behoeftes van die kommersiële produsente te voldoen.

 

9.  Literatuurverwysings

CLOETE, S.W.P. & OLIVIER, J.J., 1995. The effect of selection for fibre production on fitness of woolled sheep from a breeding perspective. Grootfontein Agric. 1(1) : 1

HART, S.P., SAHLU, T. & FERNANDEZ, J.M., 1993. Efficiency of utilization of high and low quality forage by three goat breeds. Small Ruminant Research, 10 : 293

 SNYMAN, M.A., OLIVIER, J.J. & WENTZEL, D., 1996. Teelplanne vir Suid-Afrikaanse Angorabokke / Breeding plans for South African Angora goats. Angorabok- en sybokhaarblad, 38(1) : 23