Last update: April 12, 2012 02:30:09 PM E-mail Print

 

GROEPTELING HOU BROOD AAN TWEE KANTE GEBOTTER

 

Gretha Snyman & Theuns Botha

 

Groepteling verseker nie net as’t ware dat die brood van deelnemers aan twee kante gebotter word nie. Kenners meen dit kan ook ‘n wesentlike bydrae lewer om die kwynende produksie wat die sybokhaarbedryf striem, teen te werk deur die lewering van aanpasbare genetika onder ekstensiewe  boerdery omstandighede.

Angorabok kuddeboere in Suid-Afrika bevind hulle in ‘n onbenydenswaardige posisie. Hoewel daar goeie teelmateriaal met volledige stambome is, is daar baie min inligting beskikbaar oor stoetkuddes se produksie-eienskappe. Dit beteken dat ‘n kuddeboer wat op soek na ramme is, (wat byvoorbeeld groter bokkies met fyner haar onder veldtoestande sal oplewer), nie altyd weet na watter teler hy hom moet wend nie.

Sou hy egter wel só ‘n teler raakloop, sal hy nie weet watter ramme wat dié teler aanbied, geneties die beste is, wanneer daar nie produksierekords beskikbaar is nie. In die omgewing van Murraysburg, het ‘n paar Angorabokboere wat met die probleem geworstel het van onaangepaste diere onder veldtoestande en ook nie bereid was om hoë pryse vir onbeproefde ramme op veilings te betaal nie, besluit om kragte saam te snoer en die Boksfontein Angorabokverbeteringsgroep te stig.

Mnr. Theron van der Merwe, wat pas as voorsitter van die groep uitgetree het, sê hulle kon daarin slaag om met die toepassing van groepteling en ‘n groot genepoel (meer as 7 000 bokke) tot hulle beskikking, binne tien jaar fenomenale vordering op genetiese gebied maak. “In die beginjare het ons baie ooie gehad wat sommer net met ‘n skrikmaak droogte bokkies lammers sou weggooi. Die eerste ramme wat geteel is, het harde ore en sterk nekke gehad. Vandag is die besondere egaligheid van die kernkudde kenmerkend, beide wat hulle grootte en haar betref en sien ons kans om met dié Angoras onder selfs moeilike weidingstoestande te boer.” Hy sê die sukses wat behaal is spreek duidelik uit die feit, dat daar tans ‘n waglys van medeboere is wat by die groep wil inskakel.

Dr. Gretha Snyman ‘n diereproduksienavorser van die Grootfontein LOI wat gehelp om ‘n seleksie-indeks vir die Bokfontein kernkudde uit te werk en baie nou met dié groep skakel stem saam dat die kudde oor die jare in vele opsigte verbeter het.

Deelnemers aan só ‘n skema  geniet eintlik die beste van twee wêrelde en daar is bewys dat die genetiese vordering in groepteelsisteme 2.5 keer meer effektief en vinniger is, as waar die kuddeboer ramme by ‘n stoetteler sou aankoop. Met groepteling is dit moontlik om te ramme teel wat onder ekstensiewe veldtoestande beter sal doen as wat die geval is waar vaars aangekoop word wat gepamperlang is. Daar kan ook tot groter mate voorspel word hoe die nageslag van die ramme onder die veldtoestande in diesélfde omgewingstoestande sal produseer en reproduseer aangesien prestasietoetsing ingespan word.”

Nog ‘n voordeel om aan ‘n groepteelskema te behoort, is die sinergisme wat daaruit voortspruit. “Die deelnemers het ‘n wil én plan om diere te teel wat by hulle omgewing aangepas. Hulle gesamentlike insette verseker dat daar binne ‘n relatiewe kort tydperk, vinnige genetiese vordering gemaak kan word.”   

Sy sê in die Angorabokbedryf is daar min stoettelers wat oor gemete produksiegegewens beskik en volgens ‘n  voorafbepaalde teelplan, doelgerigte seleksie toepas. “Niks verhoed egter ‘n groep stoettelers om saam ‘n groepteelsisteem te stig en sodoende die goeie genetiese materiaal wat in hulle besit is, verder doeltreffend te verbeter nie.” 

Al meer kuddeboere besef die belangrikheid dat ramme onder dieselfde toestande geteel word, as waaronder die nageslag, moet produseer en reproduseer. Die groeitempo of liggaamsmassa is een van die belangrikste seleksiemaatstawwe by al die kleinveerasse, insluitende Angoras.  Dr. Snyman benadruk dat daar reeds voldoende bewyse is dat indien daar vir groei onder intensiewe toestande geselekteer word, dit nie noodwendig sal lei tot ‘n verhoogde groeitempo, wanneer die diere aan ekstensiewe veldtoestande blootgestel word nie.

“Met die seleksie vir groei onder intensiewe toestande word gene selekteer wat die voerinname en groeitempo beïnvloed. Onder veldtoestande is die seleksieresponsie  tot groot mate indirek, omdat die gene wat eienskappe beheer soos voerdoeltreffendheid, hittebeheer, aanpasbaarheid en loopvermoë, beïnvloed word.”

Die vraag is dus nie nét of die ram onder veldtoestande goed sal  werk en oorleef nie, maar óf sy nageslag dit óók sal doen. “Indien die ram dus oor goeie gene beskik met betrekking tot groeitempo en voerinname, maar swak gene vir eienskappe wat met aanpasbaarheid en gehardheid te make het, sal dit nie baat om sy nageslag onder veldtoestande aan te hou nie,” benadruk sy.

Mnr. van der Merwe sê hoewel die klimaat ‘n groot rol speel in die veseldikte (droë jare is die skeersel fyner en andersom) is die Boksfontein kudde nou minstens geneties 2 mikron fyner, as toe hulle die groep gestig het. Dit beteken dat die ramme selfs onder goeie veldtoestande hulle fynheid sal behou en die eienskap ook aan die nageslag sal oordra, as die ooie ook geneties fyn is.

Hy betreur die feit dat daar stoettelers is wat groepteling nog met ‘n groot mate van agterdog bejeën. “Daar is steeds plek vir die stoetbedryf in die land. Daar moet net opgehou word om die ramme te oorvoer en só indruk op voornemende kopers te maak.”

Hy meen dat veldramklubs ‘n stap in die regte rigting is om te verseker dat aangepaste genetika aan die bedryf beskikbaar gestel word. Hy is egter bekommerd oor die feit dat ofskoon die ramme onder veldtoestande grootgemaak word, hulle voor veilings afgerond word.

In teenstelling hiermee word ramme wat deur groeptelers aan lede en medeboere beskikbaar gestel word glad nie gevoer nie omdat die deelnemers daarop aandring dat daar nie met die omgewing ingemeng word nie. Om hierdie rede is daar ál meer kuddeboere wat die waarde van groepteling insien. “Dit word bevestig deur die feit dat die vyfde groepskema vir Angoras onlangs op Pearston tot stand gekom het.”

Mnr. Kobus Crause, landbouraadgewer van Eerste Nasionale Bank in Port Elizabeth, sê die skuld vir opgevoerde diere kan nie net voor die deur van die telers gelê word nie. “Dis kopers wat hulle dwing om diere spesiaal vir die veilings af te rond omdat hulle maar té geneig is, om hulle rug te keer op daardie ramme wat nie baie mooi vertoon nie.”

Hy meen ook dat ramme wat deur groeptelers onderling en aan hulle medeboere beskikbaar gestel word, reeds ‘n invloed op die bedryf gehad het. “Dit word weerspieël deur die feit dat pryse op die jongste sybokramveilings, nieteenstaande die opbloeifase in die bedryf, sywaarts beweeg het.”

Mnr. Willie Pienaar van Walplaas, Aberdeen, sê omdat die lede van hulle groepteelskema ‘n wetenskaplike telingsbenadering volg, daar in die toekoms waar prakties moontlik meer op BLUP gesteun gaan word.

Die Top Tier groep (wat saamgestel is uit groeptelers van verskillende distrikte om die genepoel te verbreed) het reeds twee jaar gelede met BLUP begin. Die resultate het reeds ‘n klein opskudding veroorsaak toe ‘n sekere ram wat reeds aan ‘n lid toegeken was, uitstekend presteer het . Daar gaan nou gepoog word om die ram weer na die kerngroep terug te bring. 

Hy sê die sukses van ‘n groepteelskema staan en val by die bestuurder. “Ons is gelukkig om waarskynlik die beste bestuurder in die land, in mnr. Roelof Retief te kan hê, wie se taak dit is om toe te sien dat die reëls van die skema streng nagekom word.”

Waar daar nie genoeg belangstelling in ‘n distrik is om ‘n groepteelskema te vorm nie, moet diegene wat daarin belangstel hul naam op ‘n waglys plaas en voort te gaan om ramme by die groep aan te koop totdat daar ‘n opening kom.

Mnr. Geoff Kingwill, voorsitter van die Federasie vir Groepteelskemas, wat ook lid van die Boksfontein teelvebeteringsgroep is, sê groepteling hou baie groot voordele vir die bedryf in. Waar dit voorheen hoofsaaklik beperk was tot die Cathcart-distrik in Oos-Kaapland, het die belangstelling nou ook na die Karoo en Noordkaap uitgebrei.

Hy meen die pogings wat daar tans van stapel laat loop word om boere wat spesialiteitstipes wol produseer saam te snoer in sogenaamde ‘selle’, ‘n katalisator kan wees om opnuut belangstelling in wolgroepteelskemas te prikkel. “Hoewel groepteling nie kitsresep vir die skep van meerwaardige genetika is nie, is dit ‘n stap in die regte rigting vir meer winsgewende boerdery.”

Mnr. Harold Steward-Jennings van die plaas Oudedrift, Aberdeen sê die grootste waarde wat hy uit groepteling put, lê in die feit dat die genetiese waarde van die ramme wat verkry word, altyd beter is as die van die deelnemer se eie kommersiële kudde. Die prys van die ramme bly egter konstant aangesien ‘n vaste hoeveelheid ooie jaarliks daarvoor ingeruil word.

Die feit dat die Bokfonteinse teelverbeteringsgroep nie net ramme met die hand-en-oog  uitsoek nie, maar ook prestasietoetsing doen, het verder bygedra het om meerderwaardige diere wat goed onder veldtoetstande sal vaar na vore te bring.

Dr. Snyman sê hoewel ‘n groepteelstelsel besliste voordele (sien tabel) bó die konvensionele stelsel het, daar nie vir te veel eienskappe gelyktydig selekteer moet word nie. “Indien ‘n ram benewens ‘n hoë liggaamsmassa ook ‘n hoë vagmassa, lae veseldikte, goeie styl en karkater, mooi horings, goeie gesigsbedekking en reguit stert moet hê, voor dit gekeur gaan word sal dit uiteindelik daartoe lei dat die uitgesoekte ramme se liggaamsmassa baie nader aan die gemiddeld van die groep sal wees, as wat daar net op grond van liggaamsmassa geselekteer sou word.”

Die goue reël sou wees om eerder vir minder eienskappe en óók net dié wat van werklike ekonomiese belang is en ook meetbaar is, te mik.

Boere wat hieraan deelneem hoef nie self die risiko te neem om ramme groot te maak en prestasietoetsing te doen nie. Fekunditeit of vrugbaarheid kan ook baie vinniger verhoog word in ‘n groepteelsisteem.

 

Published

unknown