Last update: November 25, 2010 03:09:06 PM E-mail Print

 

‘N KUDDEBOER KAN SY KUDDE GENETIES VERBETER

DEUR DIE REGTE RAMME TE GEBRUIK

 

M.A. Snyman

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, P/sak X529, Middelburg (OK), 5900

 


Deesdae is daar al hoe meer kuddeboere wat kla oor die ramme wat hulle by stoettelers of op ramveilings aankoop. Sodra die ramme onder veldtoestande moet werk, verloor hulle kondisie en sommige ramme oorleef nie eens nie. Die nageslag van hierdie ramme presteer in baie gevalle ook nie na wense nie.

 

TEKORTKOMINGE IN DIE HUIDIGE STOETTEELBEDRYF UIT DIE OOGPUNT VAN DIE KUDDEBOER

Angorabok kuddeboere in Suid-Afrika is in ‘n onbenydenswaardige posisie. Daar is baie goeie, suiwer teelmateriaal met volledige stambome wat tot die hoeveelste geslag teruggevolg kan word, beskikbaar. Daar is egter feitlik geen inligting oor produksie-eienskappe beskikbaar nie, en indien ‘n Angorabok kuddeboer ‘n ram benodig wat groter bokkies met fyner haar onder veldtoestande sal teel, waar gaan hy so ‘n ram soek ? In die eerste plek weet hy nie watter teler se ramme die beste aan sy vereistes (i.t.v. produksie) voldoen nie, en tweedens, as die regte teler gevind is, hoe weet hy watter van die ramme wat die teler aanbied, is geneties die beste as hy geen rekords het om op te oordeel nie ?

 

Die hoof oorsaak van die klagtes van kuddeboere is dat stoetramme onder relatief goeie toestande grootword en dan moet hulle onder ekstensiewe veldtoestande werk en oorleef. Hulle nageslag moet ook onder hierdie veldtoestande produseer en reproduseer.

 

Hoekom is dit belangrik dat ramme onder dieselfde toestande geteel moet word as waaronder hulle nageslag moet produseer en reproduseer ?

Groeitempo of liggaamsmassa is een van die belangrikste seleksiemaatstawwe by al ons kleinveerasse, insluitend die Angorabok. Daar bestaan reeds genoeg bewyse dat indien daar vir groei onder intensiewe toestande geselekteer word, dit nie noodwendig lei tot ‘n verhoogde groeitempo onder veldtoestande nie.

Die rede hiervoor is dat met seleksie vir groei onder intensiewe toestande, daar vir gene wat voerinname en groeitempo beïnvloed, geselekteer word. Tydens seleksie vir groeitempo of liggaamsmassa onder veldtoestande, is die seleksieresponsie tot ‘n groot mate indirek, a.g.v. die feit dat in hierdie geval die gene wat eienskappe soos voerdoeltreffendheid, hittebeheer, loopvermoë en aanpasbaarheid beheer, eerder beïnvloed word. Die resultate van ‘n proef waar bulle onder intensiewe toestande geselekteer is en hulle nageslag dan onder òf intensiewe, òf veldtoestande vir groeitempo geëvalueer is, word in Figuur 1 aangetoon.

 

 Figuur 1. Vordering in GDT van nageslag van bulle wat intensief ofop die veld geselekteer is

Hieruit blyk dit duidelik dat die nageslag van bulle wat intensief geselekteer is, geen vordering in groeitempo onder veldtoestande getoon het nie, terwyl diè nageslag wat ook onder intensiewe toestande geëvalueer is, ‘n vordering in GDT van 66 tot 154 g/dag getoon het.

Dit is dus duidelik dat diere onder dieselfde toestande geselekteer moet word as waaronder hulle nageslag moet produseer en reproduseer. Dit gaan nie net om die aangekoopte ram alleen nie (of hy instaat is om onder veldtoestande te werk en oorleef nie), maar veral oor die nageslag wat hy produseer en sy gene wat hy aan hulle oordra. Indien die ram goeie gene vir groeitempo en voerinname het, maar swak gene vir diè eienskappe wat met aanpasbaarheid en gehardheid te make het, sal dit sy nageslag nie veel baat as hulle onder veldtoestande moet produseer en reproduseer nie.

 

Maak stoettelers wel genetiese vordering in produksie en reproduksie-eienskappe?

Daar is verskeie faktore wat die tempo van genetiese vordering in enige stoet of kudde bepaal. Die vinnigste genetiese vordering kan gemaak word indien die volgende gedoen word :

 

* Selekteer ramme onder dieselfde toetsande as waaronder die ooikudde moet produseer

* Selekteer so akkuraat as moontlik

* Selekteer so 'n klein moontlike proporsie vervangingsdiere

* Hou so 'n jong moontlike kudde aan

* Daar moet genetiese variasie wees in die eienskappe waarvoor geselekteer word

* Selekteer slegs vir daardie eienskappe met ‘n kommersiële waarde

 

Na aanleiding van hierdie faktore, is dit duidelik dat daar sekere tekortkominge in die huidige stoetbedryf is wat doeltreffende genetiese vordering teëwerk. Die belangrikstes is die volgende:

 

‘n Goeie voorbeeld van waar die gebruik van ramme vanuit die stoetbedryf nie gelei het tot genetiese vordering in die kudde nie, kan in die Adelaide proefplaas se Boerbokkudde gesien word. Vir ‘n periode van 14 jaar is daar elke jaar ramme vanuit die stoetbedryf in die kudde gebruik. Gedurende hierdie tydperk was daar geen genetiese vordering in speenmassa nie. Die rede hiervoor is dat die telers waarby die ramme verkry is, geen doelgerigte seleksie vir produksie doen nie, en die ramme ook nie volgens prestasierekords geselekteer kon word nie, maar slegs volgens rasstandaarde.

 

IS GENETIESE VORDERING OOIT MOONTLIK ?

Die vraag kan egter gevra word of genetiese vordering in die praktyk werklik moontlik is en of dit enige ekonomiese voordeel vir die boer inhou ?

 

Enkele voorbeelde van wat bereik kan word met die toepassing van wetenskaplike seleksiemetodes kan gesien word uit die genetiese tendense wat oor die afgelope 20 jaar in die Carnarvonse Afrinokudde plaasgevind het. Hierdie tendense word in Figuur 2 geïllustreer. Hieruit is dit duidelik dat liggaamsmassa en die totale massa lam gespeen per ooi per jaar, geneties verhoog het. Veseldikte het aanvanklik effens toegeneem, maar nadat daar in 1987 begin is om op grond van BLUP-teelwaardes vir veseldikte te selekteer, het veseldikte dramaties afgeneem. Daar is nooit enige klem op vagmassa geplaas nie en skoonvagmassa het gevolglik deurentyd konstant gebly. Die gemiddelde produksie van diere in die kudde gedurende 1980-1983 is vergelyk met diere van 1992-1996. Hierdie gegewens word in Tabel 1 aangetoon. Die inkomste gegenereer vir die twee groepe vir ‘n plaas van 5400 ha en drakrag van 24 ha/GVE is bereken deur van huidige pryse gebruik te maak (Tabel 2). Seleksievordering het tot gevolg gehad dat daar huidiglik ± R29-00 meer per KVE gemaak word as wat 20 jaar terug die geval was.

 

Uit bogenoemde voorbeelde is dit dus duidelik dat genetiese vordering in die praktyk wel moontlik is. Die redes vir hierdie vordering is dat seleksie gebaseer is op gemete waardes,  ‘n doelgerigte teelplan is gevolg en daar is nie elke jaar vir ‘n ander eienskap geselekteer nie.

 

 

Figuur 2. Genetiese vordering in produksie- en reproduksie-eienskappe in die Carnarvonse Afrinokudde

 

Tabel 1. Prestasie van diere in die Carnarvonse Afrinokudde

 

1980 - 1983

1992 - 1996

Geboortemassa (kg)

4.5

4.7

100-dae speenmassa (kg)

26.1

28.0

9-maande massa (kg)

37.3

46.0

12-maande massa (kg)

46.7

56.7

18-maande massa (kg)

50.4

60.4

18-maande rouwolmassa (kg)

3.36

3.56

18-maande skoonwolmassa (kg)

1.87

2.09

18-maande veseldikte (Fm)

21.6

20.6

18-maande skoonopbrengs (%)

56.2

58.7

OOIKUDDE

 

 

Liggaamsmassa (kg)

47.5

65.3

Rouwolmassa (kg)

2.8

2.7

Skoonwolmassa (kg)

1.7

1.7

Veseldikte (Fm)

21.6

20.8

Skoonopbrengs (%)

59.9

63.2

Lammers gebore per ooi gepaar (%)

149

148

Lammers gespeen per ooi gepaar (%)

141

141

Totale kg lam gespeen / ooi / jaar (kg)

36.0

43.6

 

 

Tabel 2. Winsgewendheid van Afrinoskape

 

1980 - 1983

1992 - 1996

Verskil

Gemiddelde aantal diere per maand

1912

1887

- 25

Bruto marge ( R / KVE )

R 160-18

R 189-02

R 28-84

Bruto marge ( R / ha)

R   44-49

 R    52-51

R   8-02

Bruto marge Totaal

R 240 246-00

R 283 554-00

R 43 308-00

 

 

WAT MOET DIE KUDDEBOER DOEN OM GENETIES TE VORDER ?

 

Opsies vir die kuddeboer om ramme te bekom

In die praktyk is daar verskeie opsies vir ‘n kuddeboer om ramme te bekom om sodoende te poog om genetiese vordering in sy kudde te maak. Hierdie opsies sal bespreek word met die genoemde probleme van die kuddeboer m.b.t. stoetramme, in gedagte.

 

Koop ramme by telers in die stoetbedryf

Hierdie metode is die mees algemene hoe kuddeboere ramme bekom. In hierdie geval is die genetiese vordering wat in die kudde gemaak word, afhanklik van die genetiese vordering wat daar in die stoet gemaak word. Dit geld ook net indien die teler vir dieselfde eienskappe as die kuddeboer selekteer en as ‘n doelgerigte teelplan met duidelik gedefiniëerde doelwitte gevolg word en daar nie elke jaar vir iets anders geselekteer word nie.

 

Die tempo van genetiese vordering is afhanklik van die verskil in genetiese samestelling van die kudde en dié van die stoet waarin die ramme wat in die kudde gebruik word, geteel word. Indien die kudde ver agter die stoet is, sal die kudde aanvanklik vinnig verbeter totdat hy teen dieselfde tempo vorder as die stoet. Sien Figuur 3 vir ‘n voorbeeld. Hieruit volg ook dat indien daar geen genetiese vordering in die stoet gemaak word nie, daar ook geen vordering in die kudde kan wees nie.

 

In geval waar die kudde geneties op ‘n hoër vlak as die stoet is, sal die kudde verswak indien ramme vanuit daardie stoet in die kudde gebruik word. Hierdie is wel moontlik en dit kom wel in die praktyk voor dat kuddes op ‘n beter genetiese vlak is wat produksie en reproduksie-eienskappe aanbetref.

 

Figuur 3. Genetiese vordering in twee kuddes wat ramme by stoettelers aankoop

 

Teel eie ramme binne ‘n geslote kudde sisteem

Indien die kuddeboer nie tevrede is met ramme wat hy vanuit die stoetbedryf kry nie, kan hy self sy eie ramme teel. In kuddes met minder as 500 ooie, moet die gevaar van intelingsverval in gedagte gehou word. Inteling werk basies teen genetiese vordering en die gevaar bestaan verder dat skadelike gene wat in die kudde voorkom, al hoe meer en meer tot uiting kan kom.

 

Teel eie ramme binne ‘n groepteelsisteem

‘n Groepteelsisteem bestaan uit ‘n aantal kuddes wat saamspan om geneties meerderwaardige ramme vir gebruik in deelnemerkuddes te teel onder dieselfde toestande as waaronder die ooikuddes moet produseer en reproduseer en dit behels kortliks die volgende :

 

Alle ooie van die verskillende deelnemerkuddes staan gesamentlik bekend as die basiskudde. Met die stigting van ‘n groepteelskema, word al hierdie ooie deurgegaan en die top ooie vanuit die deelnemerkuddes word dan oorgeplaas na ‘n sentrale kernkudde. Uit hierdie ooie word dan ramme geteel. Ramnageslag wat in die kernkudde gebore word, word prestasiegetoets en die top ramme word geselekteer vir gebruik in die kernkudde. Die bestes van die oorblywende ramme word deur die deelnemers “gekoop” vir gebruik in die deelnemerkuddes. Die prys van ramme word jaarliks op die Algemene jaarvergadering vasgestel. Oor die algemeen kan elke deelnemer een ram ontvang vir elke vier jongooitjies wat hy tot die kernkudde bydra.

 

Alle jongooitjies (van die kernkudde sowel as die deelnemerkuddes) word ook jaarliks getoets en die beste ooitjies vanuit die deelnemerkuddes word dan ook in die kernkudde opgeneem. ‘n Riglyn is dat ongeveer 50% van die vervangingsooitjies benodig vir vervanging in die kernkudde, vanuit die deelnemerkuddes moet kom. Hierdeur word die effektiewe aantal ooie in die kernkudde vergroot en inteling tot ‘n minimum beperk of dit kan selfs geheel uitgeskakel word.

 

Genetiese vordering in ‘n Groepteelsisteem

Genetiese vordering wat in die kernkudde gemaak word, word na die deelnemende kuddes oorgedra deur middel van prestasiegetoetste ramme wat in die kernkudde geteel is. Vereenvouding kan dus gesê word dat die deelnemerkuddes op ‘n normale kudde basis opereer, terwyl die kernkudde as die “stoet” bedryf word. Die voordele van ‘n groepteelsisteem i.t.v. genetiese vordering in die kernkudde, en gevolglik al die deelnemerkuddes, sal kortliks bespreek word.

 

 

 

 

 

Neem bv. ‘n groep jong ramme met ‘n gemiddelde liggaamsmassa van 30 kg. Die meerderwaardigheid van die geselekteerde groep indien daar verskillende persentasies geselekteer word, word in Tabel 3 aangetoon. Hieruit is dit duidelik dat hoe kleiner die proporsie is wat geselekteer word, hoe groter is die verskil in liggaamsmassa tussen die geselekteerde ramme en die hele groep. Hoe groter hierdie verskil, hoe vinniger sal die genetiese vordering wees.

 

Die aantal jong ramme en ooie wat jaarliks vir vervanging benodig word, bly min of meer konstant.  Die persentasie/proporsie wat benodig word, kan egter verklein word deur die aantal jong diere wat vir seleksiedoeleindes beskikbaar is, te vergroot. Dit kan gedoen word deur die lampersentasie van die kudde te verhoog en te verseker dat genoeg aanteel seleksie-ouderdom bereik. Volgens verskeie bronne kan reproduksie en fekunditeit vinniger verbeter word in ‘n groepteelsisteem as in ‘n konvensionele sisteem.

 

Tabel 3. Invloed van proporsie ramme geselekteer

Persentasie van beskikbare jong ramme benodig vir vervanging

Gemiddelde massa van die geselekteerde groep

Meerderwaardigheid van die geselekteerde groep

50 %

34.5 kg

4.5 kg

40 %

35.6 kg

5.6 kg

20 %

38.4 kg

8.4 kg

10 %

40.6 kg

10.6 kg

 5 %

42.5 kg

12.5 kg

 

‘n Kort generasie-interval kan in die kernkudde gehandhaaf word, wat genetiese vordering versnel. Optimum vordering kan gemaak word waar 3 - 4 ooi- en 2 ram-ouderdomsgroepe aangehou word. Nuutste navorsing dui daarop dat 75 % van ramme elke jaar met jong ramme vervang moet word. Indien seleksie op grond van BLUP-teelwaardes gedoen word, kan die twee groepe ramme direk met mekaar vergelyk word, en die geneties top ramme maklik geïdentifiseer word.

 

 

Dit moet dus beklemtoon word dat die eienskappe wat met seleksie in aanmerking geneem word, slegs dié moet wees wat werklik van ekonomiese belang is. In die kernkudde word seleksie gedoen op grond van ‘n voorafopgestelde teelplan wat slegs daardie eienskappe wat van kommersiële en ekonomiese belang is, insluit en seleksie word gedoen op grond van gemete produksie.

 

 

 

 

 

VERGELYKING VAN RAMTEELSISTEME UIT DIE KUDDEBOER SE OOGPUNT

Verskillende sisteme waardeur kuddeboere ramme kan bekom word i.t.v. genetiese vordering vergelyk.

 

Vergelyking van ‘n Groepteelsisteem met die aankoop van ramme by ‘n stoetteler

Genetiese vordering in ‘n groepteelsisteem is 2.5 maal meer effektief en vinniger as waar ‘n kuddeboer ramme by ‘n stoetteler sou aankoop. Hier word aanvaar dat die stoetteler ‘n spesifieke teelplan het en dit doelgerig uitvoer. Die rede vir die vinniger vordering in die groepteelsisteem is die groter ooigetalle en die feit dat goeie genetiese materiaal in die vorm van jong vervangingsooitjies vanuit die basiskuddes in die kernkudde opgeneem kan word. Daar bestaan dus ‘n tweerigting beweging van gene, waar gene in die konvensionele sisteem slegs vanaf stoeterye na kuddes beweeg.

 

Indien die stoetteler geen teelplan gerig op die verbetering van ekonomies belangrike eienskappe volg nie, is die voordeel van ‘n groepteelsisteem nog baie groter.

 

Vergelyking van ‘n Groepteelsisteem met die teel van eie ramme

Indien die kudde uit minder as 500 ooie bestaan, is die voordeel van deelname aan ‘n groepteelsisteem aansienlik. Die hoofrede hiervoor is die gevaar van inteling in die klein kudde.

 

In die geval van kuddegroottes groter as 500 ooie, is die gevaar van inteling baie geringer. Die teler kan egter nog steeds baat vind by deelname aan ‘n groepteelsisteem, en wel om die volgende redes:

 

In Figuur 4 kan gesien word dat genetiese vordering in ‘n groepteelsisteem meer doeltreffend is as waar ramme in ‘n geslote kudde sisteem geteel word. Die effek van seleksie gegrond op meting vs. hand-en-oog metode, is die enkele grootste bydraende faktor tot die meer doeltreffende genetiese vordering wat met ‘n groepteelsisteem gemaak kan word.

Figuur 4. Vergelyking van genetiese vordering tussen groepteelsisteem en teel van eie ramme binne ‘n geslote sisteem.

 

In Tabel 4 word ‘n vergelyking getref tussen ‘n groepteelsisteem en vordering wat in ‘n kudde gemaak word wat ramme by ‘n stoetteler aankoop. Die twee sisteme word vergelyk t.o.v. die verskillende faktore wat die tempo van genetiese vordering bepaal. Hiervolgens is dit duidelik dat, sover dit genetiese vordering in produksie- en reproduksie-eienskappe aanbetref, die groepteelsisteem beter is as die stoetteelsisteem waar geen meting gedoen word nie.

 

Tabel 4. Vergelyking tussen Groepteelsisteem en huidige Stoetteelopset i.t.v. teel van ramme vir gebruik in kommersiële kuddes

 

Eienskap wat genetiese vordering beïnvloed

Groepteelsisteem

Stoetteling

Akkurate seleksie

(Meet eienskappe,

dieselfde omgewing)

Seleksie gebaseer op gemete produksie in dieselfde omgewing

Seleksie-omgewing verskil van produksie-omgewing;

Meet nie

Selekteer klein proporsie

Is moontlik a.g.v. groot getalle

Getalle kan beperkend wees; groot proporsie van beskikbare ramme word jaarliks verkoop

Hou jong kudde aan

(min ooi- en ram ouderdomsgroepe)

Kernkudde het 3-4 ooi- en 2 ram-ouderdomsgroepe

Generasie-interval vergroot a.g.v ou stoetramme en -ooie wat lank gebruik word

Aantal eienskappe

(net diè van ekonomiese belang)

Seleksie geskied volgens ‘n teelplan gerig op verbetering van ekonomies belangrike eienskappe

Klem word gelê op ‘n groot aantal voorkoms eienskappe, wat seleksiedruk op produksie-eienskappe verlaag

Genetiese variasie tussen diere

Vergroot a.g.v. groot getalle

Kan beperkend wees

Selekteer doelgerig volgens ‘n wetenskaplike teelplan

Word gedoen - een van die voorvereistes van ‘n suksesvolle groepteelsisteem

????

Selekteer ramme in dieselfde omgewing as die produksie-omgewing

Word gedoen - Hoofdoelwit van ‘n groepteelsisteem

Omgewings verskil

 

GEVOLGTREKKING

Uit die bespreking kan die gevolgtrekking gemaak word dat in vergelyking met die huidige opset van stoetteling, daar baie meer doeltreffende genetiese vordering in kommersiële kuddes gemaak kan word indien ramme eerder in ‘n groepteelsisteem geteel word, as waar dit by stoettelers aangekoop sou word. Daar is natuurlik niks wat ‘n groep stoettelers verhoed om self ‘n groepteelsisteem te stig nie om sodoende die goeie genetiese materiaal wat in hulle besit is, verder doeltreffend te verbeter. Sodoende kan surplus prestasiegetoetste ramme aan die kuddeboer beskikbaar gestel word.

Vordering wat reeds in bestaande groepteelsisteme gemaak is, is voldoende bewys daarvoor dat genetese vordering d.m.v. ‘n groepteelsisteem in die praktyk haalbaar is. ‘n Voorbeeld is die vordering wat oor 21 jaar in die Driehoeksfontein skaapverbeteringsgroep t.o.v. produksie-eienskappe gemaak is.