Last update: September 2, 2011 01:29:22 PM E-mail Print

 

Die invloed van seleksie op tweetand-ouderdom op latere produksie by Merino-ooie

Margaretha A Badenhorst, J J Olivier & S L Vorster

Landboukollege Grootfontein

 

INLEIDING

Met die seleksie van teeldiere word daar gepoog om die diere wat geneties beter is te behou, sodat produksie in die latere generasies verhoog kan word. In die geval van ooie wat ongeveer vyf jaar in die kudde bly, het seleksie ook 'n gunstige korttermyn effek in die sin dat produksie in die ooikudde, wat gewoonlik die grootste trop op die plaas is, ook verhoog word.

Tydens seleksie by Merinoskape word verskeie subjektiewe en objektiewe eienskappe in ag geneem. Hiervan is die aanteeltempo, liggaamsgrootte en die kwaliteit en hoeveelheid van die wol van die belangrikste. Poggenpoel en Van del Merwe (1975) gee 'n volledige uiteensetting oor die belangrike rol wat bogenoemde eienskappe in wolskaapproduksie speel, terwyl Jordaan (1966) die belangrikheid van subjektiewe eienskappe tydens seleksie bespreek. Roux (1961) en Nel (1970), daarenteen, vind geen verband tussen produksiekenmerke en eienskappe wat subjektief beoordeel is nie.

Ooiproduktiwiteit is 'n objektiewe maatstaf waaraan produksie gemeet kan word. In hierdie ondersoek is daar gekyk na sowel totale ooiproduktiwiteit as na die onderskeie komponente daarvan.

Die totale ooiproduktiwiteit is bereken as die som van kg lam + kg wol (geweeg volgens die ekonomiese waarde van die eienskappe) (Erasmus, De Lange & Delport, 1984).

In hierdie geval is die ooiproduktiwiteit as volg bereken:

(3 x kg wol) + totale kg lam/lammers gespeen

 

Die verskille in die volgende komponente van ooiproduksie is tussen geselekteerde en geprulde ooie ondersoek, naamlik aanteeltempo, wolproduksie, veseldikte en plooitelling.

 

PROEFMATERlAAL EN PROSEDURE

Honderd-vyf-en-negentig geselekteerde en geprulde ooie uit drie ouderdomsgroepe (12-, 18- en 24-maande) van die Grootfonteinse Merinostoetery, is vir die ondersoek gebruik. Die verdeling van die ooie in die onderskeie groepe was as volg :

 

12 maande    (geselekteer)     -    16

12 maande    (prul)               -    13

18 maande    (geselekteer)     -    91

18 maande    (prul)               -    43

24 maande    (geselekteer)    -    19

24 maande    (prul)               -   13

 

Die ooie is in die herfs van 1985 gepaar en paringsmassas, 18 maande ru- en skoonwolmassas, veseldiktes en plooitellings vir die 18- en 24-maande-oud-groepe en die 12-maande ru- en skoonvagmassas, veseldiktes en plooitellings vir die 12-maande-oud-groep is bepaal. Die totale massa lammers gespeen en die ruwolmassa van die ooi nadat die lam/lammers gespeen is, is vir elke ooi bepaal, ten einde die ooiproduktiwiteit te bereken.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Die persentasie diere wat vir 'n spesifieke subjektiewe eienskap geprul is, word in Tabel 1 aangetoon.

 

TABEL 1 : Die persentasie diere wat vir 'n spesifieke subjektiewe eienskap geprul is

Eienskap     Persentasie

Bene                44

Grootte            51

Wol                 23

Ander              10

 

Soos uit Tabel 1 afgelei kan word, is van die diere vir meer as een eienskap geprul. Die grootste aantal diere is egter as gevolg van te klein liggaamsgrootte geprul, terwyl beenfoute, hoofsaaklik hakke en voorbene, die tweede grootste bydrae gelewer het. Wolfoute waarvoor daar op grond van subjektiewe beoordeling geprul is, is onder andere swak kwaliteit, te min wololie en oorsterk wol. Die ander eienskappe waarvoor geprul is, sluit in bekfoute, tipe, wangplooie en ander funksionele route.

Die aanteeltempo van die geselekteerde en geprulde ooie in elke ouderdomsgroep (12-, 18- en 24-maande) word in Tabel 2 aangetoon.

TABEL 2: Die aanteeltempo van die geselekteerde en geprulde ooie in eike ouderdomsgroep afsonderlik

                                   24S*    24P      18S    18P      12S      12P

AantaI ooie gelam           18        10        88      35        9          6

Ooie gelam/

ooie gepaar   (%)           95        83        97      81        82        75

Lammers gebore/

ooie gepaar   (%)          121     117      122      88        82        88

Lammers gebore/

ooie gelam    (%)          128      140     126     109     100       117

Lammers gespeen/

Iammers gebore  (%)      83       86        85      87        67        86

 

*24S   =          24 maande    (geselekteer)

24P     =          24 maande    (geprul)

188     =          18 maande    (geselekteer)

18P     =          18 maande    (geprul)

128     =          12 maande    (geselekteer)

12P     =          12 maande    (geprul)

 

As die aantal lammers gebore per ooie gepaar as maatstaf vir aanteeltempo geneem word, is dit uit Tabel 2 duidelik dat die geselekteerde 18-maande-oud-ooie heelwat beter as die 18-maande-oud-geprulde ooie presteer het, terwyl die 24-maande-oud-geselekteerde ooie ook beter as die geprulde ooie presteer het. Dieselfde kan egter nie van die 12-maande-oud-geselekteerde ooie gesê word nie. By die prulgroep van hierdie ouderdom was die groter aantal meerlinggeboortes en die laer lamverliese vanaf geboorte tot speen belangrike bydraende faktore tot hul betel prestasie. Die relatief min waarnemings wat veral by die 12-maande-oud-groep betrokke is, moet egter in gedagte gehou word by die interpretasie van hierdie data.

Die gemiddelde paringsmassas en skoonwolproduksie vir die ses groepe word in Tabel 3 aangetoon.

 

TABEL 3 : Gemiddelde paringsmassa en skoonwolproduksie van die ses groepe

Groep   Paringsmassa    Skoonwolmassa

                 (kg)                    (kg)

24S           52.3                   4.9

24P           48.6                    4.7

18S           49.0                    5.0

18P           43.0                   4.3

12S          40.5                    4.1

12P           34.1                   3.2

 

Die paringsmassas van die geprulde ooie was deurgaans betekenisvol laer as die van die geselekteerde ooie. Dit kan daaraan toegeskryf word dat daar tydens seleksie voorkeur aan swaarder ooie gegee is. Die skoonwolproduksie van die geselekteerde ooie was ook deurgaans hoër as die van die geprulde ooie, met die verskille by die 12- en 18-maande-oud-groepe hoogs betekenisvol (P < 0,01). Ten opsigte van veseldikte en plooitelling is geen betekenisvolle verskille tussen die geselekteerde en geprulde ooie gevind nie.

Die ruwolproduksie van die ooi na die speen van die lam/lammers, totaIe massa lammers gespeen en die ooiproduktiwiteit word in Tabel 4 aangetoon.

TABEL 4: Ooiproduktiwiteitsgegewens van die geselekteerde en geprulde ooie

                                Geselekteerde       Geprulde

                                       ooie                 ooie

Ruwolproduksie (kg)           7.5                 6.9

Totale kg lam gespeen        23.1              20.4

Ooiproduktiwiteit               99.9               89.0

 

Aangesien daar 'n hoogs betekenisvolle verskil ten opsigte van hoeveelheid wol en totaIe massa lam/lammers geproduseer (P < 0,01) tussen die geselekteerde en geprulde ooie is, is die betekenisvolle hoër ooiproduktiwiteit by eersgenoemde ooie dus te wagte.

 

GEVOLGTREKKING

Ten opsigte van die aanteeltempo van geselekteerde en geprulde ooie word teenstrydige resultate verkry. Die verskille behoort egter oor 3 of meer lamseisoene meer duidelik te wees. Tydens seleksie op tweetand-ouderdom is die swaarder ooie en die met die hoër skoonwolmassas geselekteer en dit verklaar die betekenisvolle verskille tussen die geselekteerde en geprulde groepe ten opsigte van liggaamsmassa en skoonwolmassa.

Die hoër ooiproduktiwiteit van die geselekteerde ooie kan ook aan bogenoemde seleksie toegeskryf word. Die wolproduksie komponent spreek vanself, terwyl die hoer liggaamsmassa van die geselekteerde ooie bygedra het tot die hoër massa lammers gespeen by hierdie groep (Poggenpoel & Van der Merwe, 1975).

Volgens Erasmus en Delport (1985) is dit moontlik om positiewe seleksiedifferensiaIe vir totale speenmassa van die lammers en vagmassa van die ooi na speen van die lam te verkry indien hierdie eienskappe gekombineer sou word as 'n maatstaf van totale ooiproduktiwiteit. Uit hierdie resultate blyk dit dat seleksie op tweetand-ouderdom vir liggaamsmassa en skoonwolmassa gunstige effekte op ooiproduktiwiteit tydens die eerste reproduksiejaar het.

Dit blyk verder asof die subjektiewe eienskappe waarvoor die diere geprul is, wel die werklike prestasie van die diere beïnvloed het, want die geselekteerde diere het in alle opsigte beter as die geprulde diere presteer. Hierdie resultate dui ook daarop dat indien daar vir totale ooiproduktiwiteit deur middel van objektiewe meting van liggaamsmassa en skoonwolmassa geselekteer word, dit nie die voorkoms van funksionele foute sal  verhoog nie.

Dit wil dus voorkom asof seleksie op tweetand-ouderdom op grond van subjektiewe en objektiewe eienskappe by Merino-ooie geen nadelige gevolge op latere produksie het nie.

 

LITERATUURVERWYSINGS

ERASMUS, G.J. & DELPORT, G.J., 1985. 'n Kritiese beskouing van seleksiedoelwitte by wolskape. Simposium oor skaap- en vleisbeesteling. Universiteit van Pretoria, 1985.

ERASMUS, G.J., DE LANGE, A.O. & DELPORT, G.J., 1984. Selecting Merino ewe replacements. Proc. 2nd World Congress on Sheep and Cattle Breeding.

JORDAAN, T.B., 1966. Merinoteling. In: Die skaap en sy vag. Red. J.C. Swart. Nasionale Boekhandel Beperk. Kaapstad.

NEL, J.E., 1970. Subjektiewe beoordeling en die afleiding van teelwaarde by Merinoskape. Agroanimalia 2, 145.

POGGENPOEL, D.G. & VAN DER MERWE, C.A., 1975. Die gebruik van seleksie indekse by Merinoskape. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Veekunde, 5, 249.

ROUX, C.Z., 1961. Oorwegings by die opstel en uitvoer van geskikte teelplanne vir wolskape. M.Sc.-tesis. Universiteit van Stellenbosch.

 

Published

Karoo Agric 3 (10) : 1-3