Last update: November 30, 2010 04:06:22 PM E-mail Print

 

JOHNE SE SIEKTE BY KLEINVEE

 

Dr Giel van Aardt

PVL-Middelburg



Johne se siekte is ‘n kroniese aansteeklike dermontsteking wat by beeste, skape en bokke asook sekere wilde diere voor kom.

Oorsaak 

Johne se siekte word veroorsaak deur ‘n baterium genaamd Mycobacterium paratuberculosis. Dit is ‘n klein staafvormige organisme wat sterk suurvas kleur en tipies in gebondelde groepe voorkom in smere.

M. paratuberculosis kan kunsmatig gekweek word, maar die groei baie stadig - 16 weke en langer en dit is afhanklik van spesifieke byvoegings. Die skaapstam groei baie moeiliker as die beesstam. Mycobacterium sluit ook die familie bakterieë in wat tuberkulose veroorsaak, maar M. Paratuberculosis is nouer verwant aan Mycobacterium avium of die Voël-tering groep. ‘n Bees en ‘n skaap stam word onderskei, maar dit is nie bewys dat die siekte in die natuur van een gasheerspesie na ‘n ander oorgedra word nie.

M. paratuberculosis is baie weerstandig teen omgewingstoestande en kan maande en moontlik langer buite ‘n gasheer oorleef.

Verloop, simptome en verspreiding 

Die siekte het ‘n stadige verloop en besmette diere wat geen simptome toon nie, word in ‘n kudde ingebring. Die organismes word in die mis uitgeskei en omdat hulle weerstandig is, raak weidings swaar besmet. Veral lammers is baie vatbaar vir die infeksie wanneer hulle oor ‘n tydperk langdurig blootgestel is aan ‘n besmette omgewing.

Hierdie lammers loop dan vir ‘n tydperk van 2 jaar en langer terwyl die organisme vermenigvuldig in die wande van hul dermkanaal. Later ontwikkel ‘n kroniese dermontsteking en die dermwand verdik so dat dit die absorpsie van voedingstowwe belemmer. Die skape begin dan vermaer alhoewel hulle aanhou vreet.

Diaree word slegs soms gesien - dikwels net ‘n slap pasta mis. Swellings onder die keel kom ook net in enkele gevalle voor. Die enigste konstante simptoom is dat skape uitteer ten spyte van herhaalde doserings vir inwendige parasiete en goeie voeding. In hierdie stadium word groot hoeveelhede bakterieë in die mis uitgeskei, wat die omgewing verder besmet. Omgewingsstremming kan ook die uitskeiding van die kieme verhoog.

By beeste kan melk en semen besmet wees en kan kalwers in die baarmoeder besmet raak. By skape kon oordrag op hierdie wyses nog nie bewys word nie, veral omdat die skaapstam van M. paratuberculosis so moeilik gekweek kan word.

Belang 

Tot 12% vrektes kan per jaar in ‘n besmette trop voorkom. Verlies in kondisie en produksie kan aansienlik wees. Die waarde van stoetskape kan gereduseer word tot slagwaarde. Ramklubs, embriosentrums en stoetveilings kan riskant word.

In alle ander skaapproduserende lande is Johne se siekte ‘n ernstige probleem wat selfs as die ernstigste bedreiging vir hul kuddes beskryf word. In die afgelope jare het die siekte vinnig versprei en toegeneem in die Verenigde koninkryk, Australië en Nieu Zeeland.

Diagnose 

‘n Nadoodse ondersoek moet deur ‘n veearts op vermaerde skape gedoen word. Kroniese dermonsteking met uitgeproke verdikking van die laer dunderm word gesien. Monsters word in formalien geneem van jejenum, ileum en caecum dele van die dermkanaal asook van die ooreenstemmende limfkliere van die dermkanaal. Die aansluiting van die ileum by die caecum word op ys versend vir bakteriese isolasie. Tipiese mikroskopiese letsels bevestig die diagnose van Johne se siekte.

Die diagnose van besmetting met Mycobacterium paratuberculosis in ‘n vroeë stadium voordat simptome sigbaar is, lewer groot probleme op. Die Agar gel immunodifusie toets (AGID) is die sensitiefste bloedtoets tans beskikbaar, maar is slegs sowat 50% effektief. ‘n Verteenwoordigende monster van ‘n kudde moet dus getoets word in ‘n trop waar geen duidelike simptome gesien word nie. Ouer skape moet geselekteer word. Smere van mismonsters moet ondersoek word nadat dit gekleur is met die Ziehl Neelson metode. Bondels rooi stafies in die mis is tipies van Mycobacterium paratubercolusis. ‘n Kombinasie van mis en bloedtoetse sal ‘n redelike aanduiding gee, maar vroeë gevalle kan nog vals negatiewe resultate gee.

Beheer 

Stappe is onlangs geneem om Johne se siekte in die afsienbare toekoms weer as ‘n beheerde siekte te verklaar. Alle bekende positiewe kuddes is onder kwarantyn geplaas en voortaan mag skape van hierdie plase slegs direk geslag word. Geen aanteel skape mag die plase verlaat nie.

‘n Opname is geloods in die Wes-Kaap, waar die meeste besmetting voorkom, om monsters van alle skaapkuddes te toets om te bepaal hoe wyd verspreid die siekte is. In ander provinsies sal ‘n aanvang gemaak word met die toets van stoetkuddes. Wanneer vasgestel is hoe groot die probleem is, sal verdere besluite geneem word oor beheermaatreëls. Die landswye uitslagting van die siekte of beheermaatreëls om met die siekte saam te leef sal afhang van hoe wyd die siekte voorkom. Die wenslikheid van die gebruik van entstowwe sal eers dan oorweeg kan word, aangesien inenting die toetse kan belemmer. Navorsing sal verskerp word om diagnostiese metodes te verbeter.

Boere kan die siekte bekamp deur aan te dring dat alle diere getoets word voordat hulle in die kudde ingebring word. Navraag moet gedoen word oor moontlike besmetting op die plaas van herkoms en verkieslik moet ‘n verteenwoordigende monster ouer diere op die plaas getoets wees. Waar gevalle van kroniese vermaering in ‘n kudde voorkom moet die naaste staatsveearts ingelig word en alles moontlik moet gedoen word om ‘n spesifieke diagnose te maak. Wanneer Johne se siekte bevestig is, berus die besluit by die boer, maar sou dit raadsaam wees om alle positiewe diere te laat slag indien die omstandighede dit toelaat. So kan die verdere besmetting van die plaas voorkom word.

Die uitslag van totale besmette kuddes waarna die plaas vir 2 jaar geen vee dra nie, kan in uiterste gevalle oorweeg word. Indien die praktyk om ooie op ou besproeide weidings te laat lam, vir ‘n paar jaar uitgeskakel kan word, sou dit moontlik wees om die besmetting van lammers drasties te verminder.

Die afgelope dekades was slegs 2 positiewe kuddes in Suid Afrika bekend, waarna die toestand in die Wes-Kaap in 12 kuddes waargeneem is sedert 1994 en 2 kuddes is in die Oos-Kaap gediagnoseer. In 1 geval was ‘n bloedmonster van ‘n boerbok positief bevind, maar die diagnose is nie bevestig nie. Tydens die opname in die Wes-Kaap is sover na 22 000 monsters getoets is, 17 uit 110 troppe serologies positief gevind, maar die diagnose moet nog bevestig word deur nadoodse ondersoeke. Slegs Merinokuddes is sover bevestig, maar Dohne en Dorperkuddes is ook tydens die opname serologies positief gevind. Die Judasbok by die Maitland slagplae is die mees onlangse geval van tipeese Johne se siekte.

Veeartsenykunde was nog altyd op ‘n hoë peil in Suid Afrika en daar is rede om te glo dat Johne se siekte doeltreffend beheer sal kan word.