Last update: August 16, 2011 02:45:49 PM E-mail Print

 

Produksie- en reproduksienorme vir Dorperskape in twee verskillende omgewings

 

Margaretha A. Badenhorst, J.J. Olivier, JAN. Cloete* en B.R. King

Landboukollege Grootfontein, Middelburg KP, 5900

 

INLEIDING

Die Dorper is, wat getalle betref, die tweede grootste skaapras in Suid-Afrika (Terblanche, 1979). Hoewel die Dorper 'n ekstensiewe kleinveeras is, is daar min werk oor die ras in ekstensiewe gebiede gedoen. Cloete & De Villiers (1987) het oor sowel reproduksiegegewens as voorspeense groeiparameters vir 'n kommersiële Dorperkudde onder ekstensiewe toestande op die Nortier‑proefstasie wat net noord van Lambertsbaai geleë is, gerapporteer. Die meeste van die ander werk wat op Dorperskape gedoen is, is in intensiewe stelsels uitgevoer (Campbell & Erasmus, 1976; Marais, 1984; Marais & Roux, 1986; Marais, 1988).

Volgens Marais & Schoeman (1990) was daar in 1987 6,635 miljoen Dorperskape in die RSA. Agt-en-tagtig persent van die skape kom in die ekstensiewe dele van die Kaapprovinsie (veral die Karoostreek) en die westelike en suidwestelike dele van die Vrystaat voor. Die proef is uitgevoer met die doel om betroubare produksie‑ en reproduksienorme vir Dorperskape onder ekstensiewe toestande in sowel 'n lae- as 'n hoëpotensiaalgebied van die Karoostreek in te samel.

 

PROEFPROSEDURE

Die proef is onder natuurlike veldtoestande op Carnarvon-proefplaas (CP) in die Noordwes-Karoo en in die Tarka-bewaringsgebied (TB) naby Hofmeyr in Noordoos-Karoo uitgevoer. Twee Dorperkuddes van 50 ooie elk is vir 'n periode van 5 jaar, wat van Maart 1986 tot en met Maart 1991 gestrek bet, op die twee lokaliteite aangehou.

'n Stelsel van twee lamseisoene per jaar is gevolg, waar aIle ooie elke 6 maande, naamlik gedurende April en Oktober, gepaar is. Tydens die paarseisoen is deurgaans twee ramme per trop gebruik. Geen byvoeding is aan die diere gegee nie en albei ooitroppe was deurgaans slegs van veldweiding afhanklik. Jong ooie is op 12-maande-ouderdom vir die eerste keel gepaar. Alle ramlammers en surplus ooilammers is geslag sodra bulle 'n lewende massa van ongeveer 40 kg bereik het.

Die Carnarvon-proefstasie val in die RHB 21.13 en is verteenwoordigend van die ekstensiewe laepotensiaalgebiede van die Karoostreek. Kenmerkend van die gebied is dat die veldtipe hoofsaaklik uit bossieveld bestaan en die gemiddelde jaarlikse reënval van 185 mm hoofsaaklik gedurende die herfsmaande voorkom. Die Tarka-bewaringsgebied, aan die ander kant, val in RHB 2.5 en is verteenwoordigend van die hoërpotensiaalgebiede van die Karoostreek, met 'n veldtipe wat uit gemengde gras- en bossieveld bestaan. Hierdie gebied het 'n gemiddelde reënval van 350 mm per jaar wat hoofsaaklik gedurende die lentemaande voorkom.

Alle reproduksie- en slaggegewens is aangeteken en die slagdata is met behulp van kleinste-kwadrate-metodes ontleed (Harvey, 1990). Vir ontledingsdoeleindes is die volgende vaste effekte in die model ingesluit: jaar, seisoen, omgewing, geslag en geboortestatus van die lam, asook aIle betekenisvolle tweefaktorinteraksies. Aangesien die lammers op CP op gemiddeld 42,1 kg lewende massa geslag is teenoor die 40,7 kg van die op TB, is slagmassa as 'n kovariant in die model ingesluit.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Reproduksie

Die gemiddelde fekunditeit (aantal lammers gebore per ooie gelam) en speenpersentasie (aantal lammers gespeen per 100 ooie gepaar) op TB en CP word vir die herfs- en lentelamseisoene, saam met die gemiddeldes per jaar, in Tabel1 aangegee.

 

Volgens die resultate wat in Tabel1 aangetoon word, was die gemiddelde fekunditeit op TB tydens die lentelamseisoen 23 % hoër as in die herfslamseisoen, terwyl hierdie verskil op CP 39 % was. Wat die verskil in fekunditeit tussen die twee omgewings betref, was die gemiddelde fekunditeit op TB 20 % hoër is as die op CP. Hierdie verskil kan waarskynlik aan die beter weidingstoestande op TB toegeskryf word.

Uit Tabel1 volg dit ook dat die gemiddelde speenpersentasie in die lente op TB 12 % hoër was as die ooreenstemmende persentasie in die herfs, terwyl hierdie verskil op CP 64 % was. Die gemiddelde speenpersentasie in die lente op CP was 25 % hoër as op TB, terwyl die situasie in die herfs omgekeerd was en die gemiddelde speenpersentasie op TB 27 % hoër was as op CP.

In Fig. 1 en 2 word die fekunditeit en speenpersentasie, onderskeidelik, vir die opeenvolgende lamseisoene op TB en CP aangetoon.

 

Uit Fig. 1 is dit duidelik dat die aantal meerlinggeboortes op CP deurgaans hoër was gedurende die lentelamseisoen as gedurende die herfslamseisoen. Dieselfde situasie het in 'n mindere mate op TB voorgekom, met die uitsondering van September 1989, toe die fekunditeit laer was as die van die voorafgaande herfslamseisoen. Hierdie seisoensverskil in fekunditeit kan verklaar word deur die feit dat die natuurlike teeltseisoen gedurende die herfsmaande voorkom, met die gevolg dat die ooie wat gedurende hierdie tyd gepaar is, meer meervoudige ovulasies sal hê as ooie wat gedurende die "afseisoen" in Oktober gepaar word. Die feit dat die verskil in fekunditeit tussen die lente‑ en herfslamseisoene kleiner is op TB as op CP, kan aan die beter weidingstoestande op TB gedurende die Oktoberparing in die lentemaande toegeskryf word.

In Fig. 2 kom 'n duidelike seisoenale tendens ten opsigte van speenpersentasie op CP voor, waar die speenpersentasie aansienlik hoer was gedurende die lentelamseisoene. 'n Soortgelyke tendens is egter nie op TB gevind nie.

Bogenoemde resultate kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat heelwat van die ooie op TB, weens die beter weidingstoestande daar, geneig was om twee lamseisoene na mekaar te lam en dan die volgende lamseisoen oor te slaan. Die meeste ooie op CP het egter net een maal per jaar gelam, en wel oorwegend in die lente. Ten spyte van die feit dat van die ooie op TB twee maal per jaar gelam het, was daar slegs 2 % verskil in die gemiddelde jaarlikse speenpersentasies tussen die twee lokaliteite. Hierdie resultaat kan moontlik aan lammerverliese as gevolg van ongediertes op TB toegeskryf word.

 

Groei- en slagdata

Die groei- en slagdata van die herfs- en lentegebore lammers op TB en CP word in Tabel2 aangetoon.

 

Uit Tabel 2 blyk dit dat daar geen betekenisvolle verskille in die gemiddelde karkasmassa of -uitslagpersentasie tussen die lammers op TB en die op CP voorgekom het nie. Op TB was daar ook geen betekenisvolle verskille in die twee eienskappe tussen die herfs- en lentegebore lammers nie. Die herfsgebore lammers op CP daarenteen, het 'n betekenisvol hoër karkasmassa sowel as uitslagpersentasie as die lentegebore lammers gehad. Hierdie resultaat kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat die herfslammers op 'n jonger ouderdom as die lentelammers geslag is (168 vs. 218-dae-ouderdom).

Wat die voorspeense groeitempo beter, bet die lammers op TB gemiddeld 42,2 g/dag vinniger gegroei as die op CP. Gevoeglik bet bulle gemiddeld 38 dae (± 1 maand) vroeër as die lammers op CP bemarkingsmassa bereik. Die lentegebore lammers op TB het hul bemarkingsmassa nie-betekenisvol vroeër as die herfsgebore lammers bereik. In teenstelling hiermee bet die herfslammers op CP betekenisvol vroeër (1,5 maande vroeër) as die lentegebore lammers bemarkingsmassa bereik.

Die vroegste wat herfs- en lentelammers op TB bemarkingsmassa bereik bet, was op 2,7 en 2,8 maande onderskeidelik. Die eerste lammers wat op CP bemarkingsmassa bereik bet, was daarenteen onderskeidelik 3,5 en 3,3 maande oud. Op TB was aIle herfs- sowel as lentelammers op 8-maande-ouderdom reeds geslag, terwyl die laaste herfslammers op CP op 9-maande- ouderdom en die lentelammers eers op 12-maande-ouderdom geslag is.

 

GEVOLGTREKKING

Die ooie op TB het gemiddeld 20 % meer meerlinge per jaar as die ooie op CP gehad. Hierdie verskil kan waarskynlik aan die beter weidingstoestande op TB toegeskryf word. Ten spyte van die hoer fekunditeit van die ooie op TB, was daar slegs 2 % verskil in die gemiddelde jaarlikse speenpersentasies tussen die twee omgewings. Uit die resultate blyk dit ook dat die groeitempo van lammers direk van die reënval afhanklik was. Die hoër groeitempo van die lammers op TB teenoor die op CP, sowel as die van die herfslammers op CP teenoor die lentelammers daar, toon duidelik dat die hoogste groeitempo deurgaans onder hoër reënvaltoestande gehandhaaf is. Hierdie omgewings- en seisoensverskille in produksie en reproduksie sal noodwendig in aanmerking geneem moet word met die keuse van 'n produksiestelsel vir 'n spesifieke plaas.

 

* Carnarvon Proefplaas, Posbus 98, Carnarvon, 7060

 

VERWYSINGS

CAMPBELL. Q.P. & ERASMUS, L.S, 1976. Early estimation of postweaning weight gaining potential of Dorper ram Iambs. Proc. S. Afr. Soc. Anim. Prod, 6: 129.

CLOETE, S.W.P. & DE Vll.LIERS, T. T., 1987. Production parameters for a commercial Dorper flock on extensive pasture. S. Afr. J. Anim. Sci, 17(3): 121.

HARVEY, W.R., 1990. Mixed Model Least-Squares and Maximum Likelihood Computer Program. Walter R. Harvey.

MARAIS, P.G., 1984. Die doeltreffendheid van voerverbruik met betrekking tot groei en liggaamsamestelling by Dorperskape. M.Sc.- tesis, Univ. Pretoria.

MARAIS, P.G., 1988. The description of growth and feed efficiency of Dorper lambs. Dorper News 42: 37.

MARAIS. P.G. & ROUX, JA., 1986. Hoeveel vreet en groei 'n Dorperskaap. Dorper Nuus 38: 37.

MARAIS, P.G. & SCHOEMAN, A., 1990. Geographic distribution of Dorper sheep in the Republic. Dorper News 46: 4.

TERBLANCHE, E. Ie F., 1979. Ken oos Kleinveerasse. Human & Rousseau Uitgewers (Edms.) Bpk., Kaapstad

 

Published

Karoo Agric 4 (4) : 9-11