Last update: August 16, 2011 07:36:01 AM E-mail Print

 

PRODUKSIENORME VI R AFRINO'S IN TWEE OMGEWINGS

 

Margaretha A. Snyman, J.J. Olivier, J.A.N. Cloete* en B.R. King

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg KP, 5900

 

 

Die Afrino is 'n witwolvleisskaap wat oorspronklik ontwikkel is om as vaderras vir slaglamproduksie op Merino-ooie gebruik te word (Olivier et al., 1984; Badenhorst, 1989). Die ras bet homself egter as 'n suiwer ras bewys en 'n Afrinotelersgenootskap is in 1980 gestig. Die Afrino is bekend vir sy gehardheid en aanpasbaarheid in ekstensiewe toestande. Gevolglik word daar feitlik uitsluitlik onder ekstensiewe toestande met die ras geboer.

Die meeste Afrinoskape kom in die ekstensiewe dele van die Kaapprovinsie, en die westelike en suidwestelike dele van die Vrystaat voor. As gevolg van die diversiteit van die verskillende produksiegebiede, word die produksienorrne van Afrino's vir die verskillende potensiaalgebiede bevraagteken. 'n Proef is gevolglik uitgevoer met die doel om betroubare produksie- en reproduksienorme vir Afrinoskape onder ekstensiewe toestande ten opsigte van 'n relatief lae, en 'n relatief hoë potensiaalgebied van die Karoostreek te bepaal.

 

PROEFPROSEDURE

Die proef is onder veldtoestande op die Carnarvonproefplaas in die Noordwes-Karoo en by die Tarkabewaringsgebied naby Hofmeyr in die Noordoos Karoo uitgevoer. Twee Afrinokuddes bestaande uit 50 ooie elk, is vir 5 jaar, vanaf Maart 1986 tot Maart 1991 op die twee lokaliteite aangehou. Die ooie van albei kuddes was afkomstig van die Afrinokudde op die Carnarvonproefplaas. Die ouderdomstruktuur van albei ooikuddes het uit vyf ouderdomsgroepe bestaan.

'n Stelsel van twee lamseisoene per jaar is gevolg, waartydens al die ooie elke 6 maande, naamlik gedurende April en Oktober, gepaar is. Daar is deurgaans twee ramme per trop tydens die paarseisoen gebruik. AI die lammers is op 4-maande-ouderdom gespeen. Geen byvoeding is voorsien nie en die ooitroppe was deurgaans slegs van veldweiding afhanklik. AI die lammers is op 5-maande-ouderdom geskeer. Die ooie is jaarliks in Februarie op Tarka en in Augustus op Carnarvon geskeer. Jong ooie is op 12-maande-ouderdom vir die eerste keer gepaar. Ramlammers en surplus ooilammers is geslag sodra bulle 'n lewende massa van ongeveer 40 kg bereik bet.

Carnarvon is verteenwoordigend van 'n relatief lae potensiaalgebied met 'n langtermyn gemiddelde reënval van 211 mm per jaar. Die gemiddelde reënval op Tarka,  is 360 mm per jaar. Hoewel die reënval in albei omgewings hoofsaaklik in die herfs voorkom, is die lentereënval op Tarka betroubaarder as die op Carnarvon.

Die gemiddelde jaarlikse reënval tydens die proefperiode op Tarka en Carnarvon word in Tabel 1 aangetoon. Dit is egter duidelik dat 'n bogemiddelde reënval in die tydperk voorgekom het.

Uit Fig. 1 blyk dit dat die reënval in die Tarkagebied, veral die lentereënval, beter verspreid en meer betroubaar was as die van die Carnarvongebied.

Bossieveld kom hoofsaaklik op Carnarvon voor, terwyl Tarka gekenmerk word deur gemengde gras- en bossieveld. Die potensiaal van Tarka is hoër as die van Carnarvon omdat die totale beskikbare voerproduksie hoër is. Die verspreiding van die produksie deur die jaar is ook betroubaarder as op Carnarvon. Die drakrag op Tarka en Carnarvon is onderskeidelik 12 en 32 ha/GVE.

Reproduksie-, wolproduksie- en slaggegewens is aangeteken. Die slagdata is met behulp van kleinste-kwadraat-metodes ontleed (Harvey, 1990). Die volgende vaste effekte is vir ontledingsdoeleindes in die model ingesluit: jaar, seisoen, omgewing, geslag en geboortestatus van die lam, asook aIle betekenisvolle tweefaktor interaksies. Aangesien die lammers op Carnarvon op gemiddeld 42,0 kg lewende massa, teenoor 40,8 kg op Tarka geslag is, is die slagmassa as 'n kovariant in die model ingesluit.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Reproduksie

Die gemiddelde fekunditeit (getal lammers gebore per ooie gelam) en speenpersentasie (getal lammers gespeen per 100 ooie gepaar) op Tarka en op Carnarvon vir die herfs- en lente lamseisoene, asook die gemiddeldes per jaar, word in Tabel 2 aangegee.

Die gemiddelde fekunditeit van 156 % op Carnarvon en 174 % op Tarka beklemtoon die vrugbaarheid van hierdie Suid-Afrikaans-ontwikkelde ras. Hoewel die getalle klein was, vergelyk die syfers goed met die fekunditeit van 136 en 156 % wat onderskeidelik vir Dorpers onder soortgelyke toestande op Carnarvon en Tarka aangeteken is (Badenhorst et al., 1992).

Die gemiddelde fekunditeit op Tarka tydens die lente lamseisoen was 10 % laer as die van die herfs lamseisoen. Die teenoorgestelde is op Carnarvon waargeneem; tydens die lente lamseisoen was die fekunditeit 35 % hoër as die van die herfs lamseisoen.

Die seisoenverskil ten opsigte van fekunditeit kan verklaar word deur die feit dat die natuurlike teelseisoen gedurende die herfs voorkom. Ooie wat gevolglik gedurende hierdie tyd gepaar is, toon meer meervoudige ovulasies as ooie wat gedurende die "afseisoen" in Oktober gepaar is. Geen seisoenale tendens kon egter ten opsigte van fekunditeit op Tarka waargeneem word nie. Die verskil in fekunditeit tussen die lente- en die herfs lamseisoene is waarskynlik kleiner op Tarka as op Carnarvon, aangesien weidingstoestande op Tarka gedurende die lente tydens die Oktober paring, beter is.

Die gemiddelde fekunditeit op Tarka was 18 % hoër as die op Carnarvon. Hierdie verskil kan weer eens aan die beter weidingstoestande op Tarka toegeskryf word. Dit lyk dus asof fekunditeit eerder deur die seisoen as die produksiegebied beïnvloed word.

Die gemiddelde speenpersentasie op Tarka (156 %) en op Carnarvon (148 %) vergelyk goed met die langtermyn gemiddelde van 140 % wat oor die afgelope 10 jaar met Afrino's op Carnarvon gevind is. Hierdie syfers vergelyk ook gunstig met die wat vir Dorpers op Tarka (154 %) en Carnarvon (152 %) onder vergelykbare toestande aangeteken is.

Uit Tabel 2 word afgelei dat die gemiddelde speenpersentasie in die lente op Tarka 14 % hoër was as die in die herfs. Op Carnarvon was die gemiddelde speenpersentasie in die lente 100 % hoër as in die herfs. Die gemiddelde speenpersentasie in die lente op Carnarvon was 39 % hoer as op Tarka. Die teenoorgestelde toestand bet in die herfs gegeld, naamlik die gemiddelde speenpersentasie op Tarka was 47 % hoër as die op Carnarvon.

Fig. 2 dui die speenpersentasies vir die opeenvolgende lamseisoene op Tarka en Carnarvon aan.

 

Volgens Fig. 2 was daar 'n duidelike seisoenale tendens ten opsigte van speenpersentasie op Carnarvon, aangesien die speenpersentasie deurgaans aansienlik hoër was gedurende die lente lamseisoene. 'n Soortgelyke tendens is nie op Tarka gevind nie.

Bogenoemde resultate is moontlik die gevolg van die beter weidingstoestande op Tarka wat daartoe gelei het dat die ooie vir  twee opeenvolgende lamseisoene lam en dan die volgende lamseisoen oorslaan. Die meeste ooie op Carnarvon het egter net een maal per jaar, gewoonlik in die lente, gelam. Ten spyte daarvan dat van die ooie op Tarka twee maal per jaar gelam het, het die gemiddelde jaarlikse speenpersentasies van die twee lokaliteite net met 8 % verskil. Dit kan moontlik aan lammerverliese as gevolg van ongediertes, veral rooikatte, op Tarka toegeskryf word.

 

Groei- en slagdata

Die groei- en slagdata van die herfs- en lente gebore lammers op Tarka en Carnarvon word in Tabel 3 aangetoon.

 

Uit Tabel 3 blyk dit dat daar geen betekenisvolle verskille in die gemiddelde karkasmassa of uitslagpersentasie van die lammers op Tarka en die op Carnarvon was nie. Op Tarka was daar ook geen betekenisvolle verskille wat die eienskappe betref tussen die herfs- en lente gebore lammers nie. Die herfsgebore lammers op Carnarvon daarenteen, het 'n betekenisvol hoër karkasmassa en uitslagpersentasie as die lente gebore lammers gehad, waarskynlik omdat die herfslammers op 'n jonger ouderdom as die lentelammers geslag is (184-vs. 240-dae‑ouderdom).

Wat die voorspeense groeitempo betref, het die lammers op Tarka gemiddeld 28,9 g/dag vinniger gegroei as die op Carnarvon. Hulle het gevolglik gemiddeld 29 dae (ongeveer 1 maand) vroeër as die lammers op Carnarvon bemarkingsmassa bereik.

Op Tarka was daar geen betekenisvolle verskil in bemarkingsouderdom tussen die herfs- en lente gebore lammers Die. In teenstelling hiermee het die herfslammers op Carnarvon betekenisvol vroeër (1,8 maande vroeër) as die lente gebore lammers bemarkingsmassa bereik. Dit kan aan die hoër en gereelder reënval op Tarka toegeskryf word. Op Carnarvon word 60 % van die reënval in die herfs aangeteken; dit is waarskynlik waarom die herfsgebore lammers daar beter presteer.

Die vroegste wat herfs- en lentelammers op Tarka bemarkingsmassa bereik het, was op 3,0- en 2,5-maande ouderdom onderskeidelik. Die eerste lammers wat op Carnarvon bemarkingsmassa bereik bet, was daarenteen onderskeidelik 3,6 en 3,3 maande oud. Op Tarka was aIle herfslammers op 10‑maande‑ouderdom en die lentelammers op 11-maande-ouderdom reeds geslag, terwyl die laaste herfslammers op Carnarvon op 9-maande-ouderdom en die lentelammers eers op 15-maande-ouderdom geslag is. Die feit dat daar slegs data van 50 herfslammers op Carnarvon beskikbaar is, teenoor die van 125 herfslammers op Tarka en 117 en ; 182 lentelammers op Tarka en Carnarvon onderskeidelik, kan moontlik die rede wees waarom al die lammers , reeds op 9-maande-ouderdom geslag is.

 

Wolproduksie

Die wolproduksie gegewens vir die Afrino-ooie op Tarka en Carnarvon word in Tabel 4 aangetoon.

Hierdie gegewens is in ooreenstemming met die wat vir Afrino-ooie op Carnarvon aangeteken is (Badenhorst, 1989). Uit Tabel 4 word afgelei dat daar geen betekenisvolle verskille in die rouwolproduksie en veseldikte tussen Tarka en Carnarvon voorgekom het nie. As gevolg van die betekenisvol laer skoonopbrengs persentasie op Tarka (55,1 vs. 62,2), is die skoonvagmassa daar gevolglik ook laer as op Carnarvon. Die gemiddelde liggaamsmassa van die ooie op Tarka was 5 kg hoër as die van die ooie op Carnarvon.

Dit is interessant dat sommige ooie op Tarka wat twee of meer lamseisoene agtermekaar gelam het, geneig was om bulle vag af te gooi ten einde 'n beter lammers te kon speen.

 

GEVOLGTREKKING

Soos verwag is, bet die Afrino-ooie op Tarka meer gereeld gelam en was bulle ook geneig om meer tweelinge te hê. Dit kan toegeskryf word aan hoër en betroubaarder reënval en die beter verspreiding daarvan met die gevolglike groter beskikbaarheid van weiding dwarsdeur die jaar. As gevolg van die hoër verliese op Tarka was die verskil in speenpersentasie tussen Tarka en Carnarvon slegs 8 %. Daar was groot seisoenverskille ten opsigte van die aanteeltempo en die groeiprestasie van lammers, veral in die relatief stiller omgewing (Carnarvon).

Hierdie navorsingsresultate bied produksienorme vir Afrinoskape in twee verskillende omgewings en kan met vrug in voervloeibeplanning aangewend word.

* Carnarvon Proefplaas, Carnarvon, 7060

 

VERWYSINGS

BADENHORST, M.A., 1989. Ondersoek na seleksiemaatstawwe by Afrinoskape. M.Sc. Agric-tesis, Universiteit van Pretoria.

BADENHORST, M.A., OLIVIER, J.J., CLOETE, J.A.N. & KING, B.R., 1992. Produksie- en reproduksienorme vir Dorperskape in twee verskillende omgewings. Karoo Agric 4(4): 9-11.

HARVEY. W.R.. 1990. Mixed Model Least‑Squares and Maximum Likelihood Computer Program. Walter R. Harvey.

OLIVIER, J.J., MARAIS, P.G. & CLOETE, J.A.N., 1984. Evaluering van verskillende raskruisings in die ontwikkeling van 'n witwolvleisras: Die Afrino. S. Afr. Tydskr. Veek. 14: 105-109.

 

Published

Karoo Agric 5 (1) : 25-28