Last update: November 29, 2010 02:16:14 PM

E-mail

Print

 

BRUTO INKOMSTE VAN AFRINO-, DORPER- EN MERINOSKAPE

 

MA Snyman, MJ Herselman, JAN Cloete & BR King

Grootfontein LOI, P/Sak X529, Middelburg, 5900

 


Inleiding

Boere oorweeg dikwels om na ander rasse oor te skakel omdat die ras waarmee hulle boer nie na wense produseer nie. Verder hou dit ook dikwels verband met periodes waarin die prys van sy produk onder druk verkeer. Wanneer wolpryse laag is, oorweeg sommige boere dit baie keer om na vleisskape oor te skakel wanneer die vleisprys op daardie tydstip hoog is. In ander gevalle waar vleispryse onder druk is, word rasse soos Angorabokke of vetstertrasse soms oorweeg. Die feit is egter dat daar al baie oor die ekonomie van verskillende rasse geargumenteer is, maar nog nooit tot ‘n gevolgtrekking gekom kon word nie. ‘n Proef is deur Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut uitgevoer waar Afrino-, Dorper- en Merinoskape in twee omgewings geëvalueer is.

 

Proefuitleg

Die proef is vir ‘n periode van vyf jaar (Maart 1986 tot en met Maart 1991) onder veldtoestande op Carnarvon Proefplaas in die Noord‑Wes Karoo en Tarka Bewaringsgebied naby Hofmeyr in Noord‑Oos Karoo, uitgevoer. Op elke proefplaas is 50 Afrino-, 50 Dorper- en 50 Merino-ooie in een trop aangehou, behalwe gedurende paartyd, wanneer elke trop afsonderlik aangehou is.

Carnarvon, 'n relatief lae potensiaalgebied, het 'n langtermyn gemiddelde reënval van 211 mm per jaar, terwyl die gemiddelde reënval op Tarka 360 mm per jaar is. Hoewel die reënval in beide omgewings hoofsaaklik in die herfs voorkom, is die lente reënval op Tarka baie meer betroubaar as dié op Carnarvon. Die gemiddelde jaarlikse reënval oor die proefperiode op Tarka sowel as Carnarvon was hoër as die langtermyn gemiddelde.

Die veldtipe op Carnarvon is hoofsaaklik bossieveld, terwyl Tarka gekenmerk word deur gemengde gras en bossieveld. Die hoër potensiaal van Tarka lê daarin dat die totale beskikbare voerproduksie hoër is, terwyl die verspreiding van die produksie deur die jaar ook meer betroubaar is as dié op Carnarvon. Die drakrag op Tarka en Carnarvon is 12 en 37 ha/GVE onderskeidelik.

'n Stelsel van twee lamseisoene per jaar is gevolg, waar alle ooie elke ses maande, naamlik gedurende April en Oktobermaand, gepaar is. Daar is deurgaans van twee ramme per ras tydens die paarseisoen gebruik gemaak. Jong ooie is op twaalf‑maande ouderdom vir die eerste keer gepaar.  Alle lammers is op vier maande ouderdom gespeen. Geen byvoeding is aan die diere gegee nie en beide ooitroppe was deurgaans slegs van veldweiding afhanklik.

Volledige reproduksie-gegewens is aangeteken. Die volgende liggaamsmassas is geweeg : ooie maandeliks, geboorte- en speenmassa van lammers, twee-weeklikse massa van lammers na speen, slagmassa en vasmassa van lammers voor slagting. Alle ramlammers en surplus ooilammers is geslag sodra hulle 'n lewende massa van ongeveer 40 kg bereik het. Volledige karkasmates is geneem (Bruwer & Botha, 1986a,b). Karkasse is volgens die vorige graderingstelsel beoordeel. Hierdie stelsel was gebaseer op hoofsaaklik ouderdom (A = ongewisselde lam; B twee- tot viertand; C = ouer as viertand) en vetbedekking (Ideale vetdikte : 4 - 7 mm = Superlam; vetdikte : 2 - 4 mm = A1; oorvet = A2; brandmaer = A3).

Afrino- en Merinolammers is op vyf maande ouderdom geskeer, terwyl die ooie jaarliks in Februarie op Tarka en in Augustus op Carnarvon geskeer is. Wolmassa is tydens skeer geweeg en ‘n midribwolmonster is geneem vir bepaling van veseldikte, stapellengte en skoonopbrengs.

 

Resultate en bespreking

Alle groei-, slag- en karkasdata is d.m.v. kleinste-kwadrate-metodes (Harvey, 1990) ontleed. Die gemiddelde produksie van die drie rasse op die twee proefplase word in Tabel 1 tot Tabel 3 aangegee.


Tabel 1.  Reproduksieprestasie van Afrino-, Dorper- en Merino-ooie

 

AFRINO

DORPER

MERINO

% Lammers gebore / jaar / aantal ooie in die kudde

176

180

126

% Lammers gebore / ooie gelam

170

150

131

Oorlewing vanaf geboorte tot speen (%)

87

89

78

% Lammers gespeen / jaar / aantal ooie in die kudde

147

155

93

% Doodgebore lammers

4.7

3.2

3.9

Totale kg lam gespeen / ooi / jaar

43.2

48.0

22.3

 

Die hoë lam- en speenpersentasies kan toegeskryf word aan die feit dat alle ooie twee maal per jaar gepaar is en heelwat van hulle het ook twee maal per jaar gelam. Op Tarka was daar geen duidelike tendens vir Afrino en Dorperooie om óf in die herfs óf in die lente te lam nie, terwyl Merino-ooie oorwegend in die lente gelam het. Op Carnarvon was daar ‘n duidelike tendens by al drie rasse om oorwegend in die lente te lam (herfs paarseisoen).

Dorper- en Afrinolammers is gemiddeld onderskeidelik op 6 en 6.5 maande ouderdom geslag, terwyl Merinolammers gemiddeld op 12.5 maande ouderdom geslag is (Tabel 2). Lammers van aldrie rasse het op Tarka vroeër slagmassa bereik as op Carnarvon. Op Carnarvon het die herfsgebore lammers van aldrie rasse ‘n hoër GDT en speenmassa as die lentegebore lammers gehad. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die herfslammers ongeveer twee maande vroeër as die lentelammers bemarkingsmassa bereik het. Die beter prestasie van die herfsgebore lammers stem ooreen met die maandelikse verspreiding van reënval op Carnarvon, wat ‘n oorwegend herfsreënval het. Op Tarka het daar geen betekenisvolle verskille in slagouderdom tussen herfs- en lentegebore lammers voorgekom nie.

Daar was geen betekenisvolle verskille t.o.v.  karkaseienskappe tussen herfs- en lentegebore lammers op enige van die twee proefplase by enige van die drie rasse nie (Tabel 2 en Figuur 1).

 

Tabel 2. Groei- en slageienskappe van Afrino-, Dorper- en Merinolammers

 

AFRINO

DORPER

MERINO

Geboortemassa (kg)

4.4

4.3

4.1

120-dae Speenmassa (kg)

32.2

33.4

23.7

Slagmassa (kg)

41.7

41.4

43.6

GDT:geboorte tot slag (g/dag)

196

215

102

Slagouderdom (dae)

207

191

379

Karkasmassa (kg)

17.6

18.7

16.1

Uitslagpersentasie

46.6

49.1

43.2

Karkaslengte (cm)

103.6

103.2

106.3

Boudomtrek (cm)

69.1

70.2

68.6

V1-vetdikte (mm  - op Kruis)

5.6

5.7

3.0

V3-vetdikte (mm  - tussen 3de & 4de lendewerwels)

3.6

4.2

2.4

 

 

Figuur 1. Karkasgradering van Afrino-, Dorper- en Merinolammers

 

Byna 90 % van Afrino en Dorper lamkarkasse het as A1 of Superlam gegradeer, terwyl 10% Afrino- en 6 % Dorperkarkasse te maer was (A3). Ses persent van die Dorperkarkasse was oorvet (A2). Bykans die helfte van die Merinokarkasse is as B-ouderdom gegradeer. Tien persent Merinokarkasse is as Superlam gegradeer, terwyl 65 % A1/B1 en 25 % A3/B3 behaal het.

 

Tabel 3. Liggaamsmassa en wolproduksie van Afrino-, Dorper- en Merino-ooie

 

AFRINO

DORPER

MERINO

Liggaamsmassa (kg)

64.7

66.4

50.1

Rouwolmassa (kg)

2.89

 

6.16

Skoonopbrengs (%)

59.5

 

72.1

Skoonwolmassa (kg)

1.71

 

4.43

Veseldikte (Fm)

22.4

 

23.9

Die aanhoudende stres van elke ses maande lam, het by Afrino-ooie op veral Tarka, veroorsaak dat die hoogsproduserende ooie t.o.v. reproduksie, minder wol geproduseer het. Merino-ooie daarenteen, het nie minder wol geproduseer nie, maar heelwat breekwol en tenger vagte het voorgekom.

 

Bruto inkomste van die drie rasse

Produksienorme wat met hierdie studie ingesamel is, is gebruik om die bruto inkomste per ras op ‘n plaas van 5000 ha en ’n drakrag van 37 ha/GVE te beraam (Tabel 4). ‘n Gemiddelde vleisprys van R12-00 / kg en die huidige wolpryse (Oktober 1999) vir Merino- en Afrinowol is gebruik. Velpryse van R25-00 vir Dorpers en R5-00 vir Merino’s en Afrino’s is gebruik.

 

Hieruit blyk dit dat die Dorper die hoogste bruto inkomste gehad het, gevolg deur die Afrino en dan die Merino. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die relatiewe inkomste van die rasse afhang van die produksie-norme wat in die ontledings gebruik word.

 

Tabel 4.  Bruto inkomste van Afrino-, Dorper- en Merino-ooie

 

AFRINO

DORPER

MERINO

Aantal ooie op plaas

600

619

699

Aantal diere bemark

966

982

657

Vleisinkomste (R/ha)

R 49-07

R 59-36

R 32-87

Wolinkomste (R/ha)

R 7-41

 

R 19-44

Bruto inkomste (R/ha)

R 56-48

R 59-36

R 52-35

Bruto inkomste (R/KVE)

R 313-47

R 329-44

R 290-57

 

Langtermyn bruto inkomste van Afrino-, Dorper- en Merinoskape

Die gemiddelde produksie-norme  van Afrino-, Dorper- en Merinoskape wat vanaf Maart 1986 tot Augustus 1991 op Carnarvon Proefplaas en Tarka Bewaringsgebied ingesamel is, is gebruik om die langtermyn bruto inkomste sedert 1956 (Afrino sedert 1975) per ras op ‘n plaas van 5000 ha en ’n drakrag van 37 ha/GVE te beraam. Die bruto inkomste word in Figuur 2 aangetoon.

 

 

 Figuur 2. Langtermyn Bruto Inkomste van Afrino-, Dorper- en Merinoskape

 Uit die grafiek blyk dit dat daar min verskil in bruto inkomste tussen die drie rasse oor die jare heen voorgekom het. Jaarverskille kan verklaar word deur verskille in die wol : vleisprysverhouding. So byvoorbeeld is wolskape en vleisskape ongeveer ewe winsgewend wanneer die skoonwolprys twee keer hoër is as die vleisprys. Oor die langtermyn is hierdie wol:vleisprysverhouding ongeveer 2:1, wat meebring dat die twee tipes oor die langtermyn ongeveer ewe winsgewend is.

 

 Gevolgtrekking

Volgens die resultate van hierdie studie was die winsgewendheid van geeneen van die rasse oor die langtermyn noemenswaardig beter as enige van die ander rasse  nie. Verskille tussen kuddes binne dieselfde ras kan moontlik groter wees as verskille tussen rasse. In plaas daarvan om van een ras na ‘n ander rond te spring, moet daar eerder gepoog word om die produktiwiteit van die bestaande ras/kudde te verbeter.

 

Literatuurverwysings

BRUWER, G.G. & BOTHA, M.J., 1986a. Beginsels van die Nasionale Lamkarkaskompetisie : Deel I. Rooivleis. April 1986.

BRUWER, G.G. & BOTHA, M.J., 1986b. Beginsels van die Nasionale Lamkarkaskompetisie : Deel II. Rooivleis. May 1986.

HARVEY, W.R., 1990. Mixed Model Least‑Squares and Maximum Likelihood Computer Program. Walter R Harvey