Last update: November 29, 2010 03:17:32 PM E-mail Print

 

KOKSIDIOSE EN PASTEURELLA VANJAAR GROOT OORSAAK

VAN VREKTES BY ANGORABOKKIES

 

Dr. Gretha Snyman en Dr. Eddie Snyman

Grootfontein LOI, P/sak X529, Middelburg (OK), 5900

PVL, P/sak X528, Middelburg (OK), 5900

 


Die hoë vrektes onder kleinbokkies bly maar ‘n wesenlike probleem in die Angorabokbedryf. Met die heersende hoë pryse wat daar vir kleinbokkiehaar betaal word, het dié verlies aan kleinbokkies ‘n groot invloed op inkomste. Die afgelope jaar was gekenmerk deur bogemiddelde reënval in meeste van die Angorabokgebiede. Hiermee gepaardgaande het daar ook ongekende hoë vrektes onder kleinbokkies in sommige gebiede voorgekom.

 

WAT IS DIE REDE/S VIR HIERDIE VREKTES ?

Soos ons almal weet, is die Angorabok uiters gevoelig vir enige strestoestand, hetsy voedingstress, koue, reën of wind. Enige van hierdie genoemde toestande kan weer op hul beurt lei tot siektetoestande en vrektes. Pasteurellose en koksidiose is twee voorbeelde van sulke siektetoestande. Volgens statistieke van kliniese ondersoeke en post mortems wat vanaf September 1999 tot April 2000 by die Provinsiale Veterinêre Streekslaboratorium (PVL) op Middelburg gedoen is, was hierdie twee siektetoestande vir die grootste aantal vrektes onder Angorabokkies verantwoordelik. Hier volg dus ‘n kortlikse beskrywing van die twee siektes, sowel as enkele voorkomende maatreëls. Van die inligting is aangehaal uit “Kleinveesiektes” deur Jan de Wet & Gareth Bath.

 

KOKSIDIOSE

Koksidiose word veroorsaak deur die Eimeria spesies, wat protosoïese parasiete is. Daar kom heelwat van dié spesies voor. Sommige van die spesies is hoogs gevaarlik, terwyl ander blykbaar geen uitwerking op hulle gasheer het nie. Die organismes kom natuurlik voor in die spysverteringskanaal van veral ouer diere, wat al deur geleidelike blootstelling ‘n natuurlike weerstand teen die siekte opgebou het. Die eiers of öosiste van die organismes word in die dier se mis uitgeskei. Öosiste is baie vatbaar vir uitdroging, maar onder gunstige toestande (genoeg vog, suurstof en temperatuur tussen 28 <C en 30 <C) kan hulle tot 18 maande lank oorleef. Om besmetlik te kan wees, moet die öosist ‘n proses wat sporulasie genoem word, ondergaan. Dit geskied buite die dier onder bogenoemde gunstige toestande. Die gesporuleerde öosist word dan deur ander vatbare (jong) diere deur die bek ingeneem.

 

Faktore wat bydra tot die voorkoms van die siekte

 

Simptome van die siekte

Die inkubasietyd vir koksidiose is 14 tot 18 dae. Die siekte veroorsaak ontsteking van die maagdermkanaal, sodat die mis waterig, en soms bloederig kan wees. Die belangrikste simptome is swak eetlus, diaree en vermaering. Diere vrek gewoonlik weens ontwatering, vanaf ‘n paar dae tot selfs 3 weke na die uitbraak van die siekte. Angorabokke vrek dikwels terwyl hulle nog in ‘n redelike goeie kondisie is, en ook sonder enige tekens van diaree. Die moontlike rede hiervoor is dat die swak eetlus ‘n skerp daling in bloedglukose veroorsaak. Diere wat subklinies besmet is, asook dié wat van kliniese besmetting herstel, groei gewoonlik swak.

 

Diagnose

In die siek dier kan ‘n diagnose op die simptome gemaak word, naamlik diaree, abdominale pyn en ontwatering. Laboratoriumondersoeke van die rektale mis kan die diagnose bevestig.

 

Nadoodse tekens

Diere wat aan koksidiose gevrek het, kan tekens van algemene ontwatering en uithongering toon. Kenmerkende letsels kan gewoonlik in die middelste en agterste dele van die dunderm gesien word. Die letsels is verhewe wit vlekkies van 1 tot 7 mm in deursnee.

 

Behandeling

Die verskillende middels beskikbaar vir die behandeling van koksidiose word in die Tabel uiteengesit. Benewens toediening van hierdie middels, moet aangetaste diere gewoonlik ook teen ontwatering behandel word.

 

Middels vir die behandeling van Koksidiose

Middel

Voorskrif behandeling

Amprolium R

Doseer daagliks 4 g per 20 kg liggaamsmassa vir 4 dae

Amprol 20%

Meng 30 g met 90 ml water en doseer 1 ml per 3 kg liggaamsmassa daagliks vir 4 dae

Sulphamethazine 16 %

Sulphazine 16%

Doseer 14 ml per 10 kg liggaamsmassa op Dag 1, en herhaal teen 7 ml per 10 kg vir Dag 2 en Dag 3

Vecoxan (Janssen)

Doseer 2 ml per 5 kg liggaamsmassa en herhaal na 5 dae indien nodig

 

Voorkoming

Algemene maatreëls is die volgende :

 

PASTEURELLOSE

Pasteurellose is ‘n dodelike siekte wat sporadies by diere voorkom en gewoonlik deur een of ander strestoestand veroorsaak word. Die siekte word gewoonlik met longontsteking en vrektes geassosieer. Die siekte word deur die bakterieë Pasteurella haemolytica en Pasteurella multocida veroorsaak. Hierdie organismes kom natuurlik in diere se asemhalingstelsels voor, bv. neus, keelholte, lugpyp en longe. Wanner die diere in ‘n swak kondisie is en aan strestoestande blootgestel word, vermenigvuldig die bakterieë en breek die siekte uit.

 

Die volgende faktore speel ‘n belangrike rol in die oorsaak van die siekte :

 

Simptome van die siekte

Jong bokkies / lammers is die vatbaarste vir die siekte. Soms kan skielike vrektes voorkom, sonder dat enige simptome waarneembaar is. Die volgende simptome kom voor by diere wat die siekte onder lede het :

 

Diagnose

Dooie diere moet na ‘n veterinêre laboratorium geneem word waar die siekte m.b.v. bakteriese toetse bevestig kan word.

 

Nadoodse tekens

As die skedel oopgesaag word, vertoon die neuskraakbene opvallend donkerrooi tot pers. In akute gevalle is daar duidelike rooi vlekke op die longe en ‘n rooi verkleuring wat solied voel, gewoonlik die onderste deel van die voorste lobbe van die longe. Die longe is ook dikwels aan die ribbes vasgegroei. In chroniese gevalle is die longe meer valerig, wat met jaagsiekte verwar kan word. Bloeding kan binne en buite die hart voorkom. Die lewer en niere is vergroot en lyk rooi.

 

Voorkoming

Van Pasteurella haemolytica is daar al vyftien tipes en van Pasteurella multocida al vier tipes bekend. Die beskikbare Onderstepoort Pasteurella-entstof vir skape en bokke sluit slegs die volgende tipes in :

Pasteurella haemolytica, tipe 1, 2 en 6

Pasteurella multocida, tipe A en D

 

Dit is om hierdie rede dat vrektes aan pasteurellose tog nog kan voorkom al ent die boer elke ses maande sy diere met die Onderstepoort entstof. In sulke gevalle kan daar ‘n spesifieke entstof vir jou plaas vervaardig word. Kontak die Onderstepoort Biologiese Produkte Instituut in hierdie verband (Tel no. : 012-529 9111 of Faks no. : 012-546 0216).

 

Waar die siekte ‘n probleem is, kan alle bokke elke ses maande geënt word. Bokkies waarvan die moeders wel geënt is, kan op twee maande ouderdom geënt word. Gee twee inentings vier weke uitmekaar - 2 ml onderhuids, en herhaal na ses maande. Ent ouer diere twee maal per jaar 2 ml onderhuids.

 

Onthou dat pasteurella-longontsteking gewoonlik die gevolg van voedings- of bestuursprobleme is. Maak eerder hierdie probleme reg as om net op die entstof staat te maak.

 

BEOOGDE NAVORSINGSPROJEK

Hierdie twee siektetoestande is maar enkele van talle oorsake van vrektes by kleinbokkies. Hierdie probleem van hoë bokkievrektes kom al jare saam met die Angorabokboer. Daar is verlede jaar op die Angorabokskakelkomiteevergadering wat op die Jansenville proefplaas gehou is, ‘n versoek vanaf die telers tot Grootfontein gerig om navorsing te doen rondom die aspek van swak reproduksie by Angora-ooie en hoë mortaliteite onder kleinbokkies.

 

Dit word beoog om die projek in samewerking met Angorabokboere te doen. Dit sal hoofsaaklik ‘n intensiewe opname by ongeveer 10 boere behels. Vraelyste wat op reproduksie en vrektes konsentreer, sal waarskynlik ook na heelwat meer boere uitgestuur word. Die sukses, al dan nie van hierdie projek sal uitsluitlik afhang van die samewerking wat daar vanaf die boere se kant verkry word, aangesien dit onmoontlik sal wees om hierdie projek slegs op die navorsingskuddes te Jansenville proefplaas uit te voer. Die lootsfase van die projek het reeds hierdie jaar op die Jansenville proefkuddes begin, sodat die verskeie proefprosedures gefinaliseer kan word alvorens dit by die boere geïmplimenteer word.