Last update: December 2, 2010 02:24:24 PM E-mail Print

 

Die weidingsindekswaardetegniek van weikapasiteitberaming:

(2) lndekswaardes van sommige plante

 

P.C.V. du Toit

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut,

Privaatsak X529, Middelburg (OK) 5900

 


Inleiding

Die weikapasiteit van karooveld word sedert die tagtiger-jare met behulp van die ekologiese indeksmetode (EIM) van Vorster (1982) beraam. Die uitgangspunt van hierdie tegniek is dat weikapasiteit afgelei kan word van die grootte van die plante, die hoeveelheid plante per eenheidsoppervlakte, asook die ekologiese waarde van die grasse en die relatiewe aanvaarbaarheid van die karoobossies vir herkouers. Vir hierdie doel is alle karooplante in een van 4 groepe ingedeel, naamlik 10, 7, 4 of 1. 'n Plant in groep 10 maak sodoende 'n tien maal groter bydrae tot die berekende weikapasiteit, as 'n plant van dieselfde grootte in groep 1.

Mettertyd is bevind dat hierdie diskontinue waarde-toekennings aan die plante (10,7,4 en 1) nie altyd die korrekte weikapasiteitberamings tot gevolg het nie. Gevolglik het Du Toit et al. (1955), op 'n subjektiewe basis, aaneenlopende waardes (tussen 0, 1 en 10) aan alle karooplante toegeken, wat meer akkurate weikapasiteitberamings tot gevolg gehad het. Omdat hierdie waardes steeds subjektief van aard was, is besluit om 'n rekenaarmodel te ontwikkel waarmee die waarde van plante objektief van hulle grootte, weibare voerproduksie en kwaliteit (Ca, K, Mg, N, vesel en eterekstrak) beraam kan word.

In hierdie artikel word die objektiewe weidingsindeks-waardes van verskeie plante vergelyk met hulle ooreenstemmende subjektiewe weidings- en ekologiese indekswaardes.

 

Metode en bespreking

Ekologiese indekswaardes

Vorster (1982) het soos volg indekswaardes aan die karooplante toegeken op grand van die ekologiese belangrikheid van die grasse en die relatiewe smaaklikheid van die karoobossies.

Die ekologiese indekswaardes (EIW) bereken nie 'n betroubare agronomiese veldtoestandindeks nie, as gevolg van die feit dat die grasse volgens ekologiese maatstawwe (byvoorbeeld hulle plek in die suksessie-leer) beoordeel is, terwyl die karoobossies volgens hulle relatiewe smaaklikheid vir herkouers beoordeel is.

Verder het die waardes wat aan party klimaksgrasse toegeken is (10), 'n te hoë veldtoestandindeks in sommige veldtipes bereken, byvoorbeeld in Boesmanland met sy Stipagrostis spp. (Botha 1991). Uit hierdie hoe veldtoestandindeks is daar dan 'n buite verhouding hoe huidige weikapasiteit vir die gebied bereken, wat nie ondersteun is deur die langtermyn-mediane reënval nie (Du Toit et al. 1995).

 

Subjektiewe weidingsindekswaardes

‘n Aantal navorsers en voorligters verbonde aan Grootfontein het die karooplante subjektief beoordeel volgens ses sogenaamde agronomiese eienskappe (Du Toit et al. 1995):

Op die wyse is daar 'n aaneenlopende reeks indeks-waardes opgestel wat varieer van minder as 1 tot 10. Die gebruik van hierdie subjektiewe weidingsindeks-waardes (SWIW) het 'n meer betroubare beeld van veldtoestandindekse en gevolglik van die huidige weikapasiteite gegee waar die veldtoestandindekse met die langtermynmediane reënval gekorreleer is (Botha et of. 1993; Du Toit et of. 1995).

Daar sal opgemerk word dat al die indekswaardes tussen minder as 1 en 10 lê in navolging van die algemene gebruik in ekologiese werke om waardes van 1 tot 10 aan die plante toe te ken (Curtis & McIntosh 1951; Brown & Curtis 1952; Vorster 1982). Indien die subjektiewe weidingsindekswaardes met die objektiewe weidingsindekswaardes vergelyk word, blyk dit dat smaaklikheid onbewustelik 'n groot rol gespeel het by die beraming van die subjektiewe weidings-indekswaardes.

 

Objektiewe weidingsindekswaardes

Du Toit (1996) gebruik die plante se grootte, weibare voerproduksie, chemiese eienskappe, stikstof, suur-oplosbare vesel en eterekstrak in 'n model om die weidingsindekswaardes van die plante sogenaamd objektief te bereken. Die voorgestelde modelle lyk soos volg:

Weidingsindekswaarde van die karoograsse = ((kroonuitgestrektheidsbedekking weibare voer TVV [K ÷ (Ca Mg)]) x eterekstrak) ÷ 100       ... 1

Weidingsindekswaarde van die karoobossies = ((kroonuitgestrektheidsbedekking weibare voer TVV [K ÷ (Ca Mg)]) x eterekstrak) 100       ... 2

Met behulp van die modelle is objektiewe weidingsindeks-waardes (OWIW) vir 'n aantal karoobossies en -grasse uit vier agro‑ekologiese gebiede beraam, die Oostelike Gemengde Karoo, die Karoo Berggebiede, die Ariede Karoo en die Groot‑Karoo (Du Toit 1996) (Tabelle 1- 4). Met behulp van hierdie indekswaardes is veldtoestandindekse en huidige weikapasiteite bereken wat nader aan die huidig aanvaarbaarde norme lê as wat met die ekologiese of die subjektiewe weidingsindekswaardes bereken is

 

Gevolgtrekking

Uit Tabelle 1 tot 4 kan gesien word dat die objektiewe weidingsindekswaardes vir dieselfde spesies van jaar tot jaar, tussen seisoene verskil en beïnvloed word deur verskillende grondsoorte, reënval en temperatuur. Die feit dat die weidingsindekswaardes seisoensverskille toon, het 'n groot impak op die tyd wanneer die huidige weikapasiteit vir 'n besondere streek beraam word. So sal ook opgemerk word dat daar verskillende indekswaardes vir dieselfde spesie en verwante spesies in die verskillende agro-ekologiese gebiede van die Karoo is. Uit Tabelle 1 tot 4 blyk dat die rekenaarmodel oor die algemeen laer indekswaardes vir die plante bereken as hulle ooreenstemmende subjektief beraamde weidingsindekswaardes.

 

Verwysings

ACOCKS, H.P.H. 1988. Veld Types of South Africa. Memoirs van die Botaniese Opname van Suid-Afrika, 57:1-146.

BOTHA,W. VAN D. 1991. Bepaling van veeebeladingsverwysingspunte in die Oostelike Gemengde Karoo. Middelburg, Kaapprovinsie: Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut. (Ongepubliseerde vorderingsverslag; KS5136/36/1/1).

BOTHA, W. VAN D., DU Toit, P.C.V., BLOM, C.D., BECKER, H.R., OLIVIER, D.J., MEYER, E.M. & BARNARD, G.Z.J. 1993. A technique for estimating the grazing index values of Karoo plants. Karoo Agric, 5(2):10-14.

BROWN, R.T. & CURTIS, J.T. 1952. The upland conifer-hardwood forests of northern Wisconsin. Ecological Monographs, 22:217-234.

DU Toit, P.C.V. 1996. Development of a model to estimate grazing index values for Karoo plant species. Ph.D.-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

DU Toit, P.C.V., BOTHA, W. VAN D., BLOM, C.D., BECKER, H.R., OLIVIER,D.J., MEYER, E.M. & BARNARD, G.Z.J. 1995. Beraming van weidingsindekswaardes vir Karooplante. (Tegniese Mededeling; no. 239). Pretoria: Staatsdrukker.

VORSTER, M. 1982. The development of the Ecological-Index Method for assessing range condition in the Karoo. Handelinge van die Weidingsvereniging van Suidelike Afrika, 17:84-89.