Last update: November 25, 2010 04:02:57 PM E-mail Print

 

Voorlopige weidings-indekswaardes van plante in die Kalahari

wat saam met plantopnames gebruik kan word om huidige weidingskapasiteite te beraam

 

P C V du Toit

Nasionale Departement van Landbou,

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Privaatsak X 529, 5900 MIDDELBURG



INLEIDING

Elke homogene stuk veld het sy eie inherente weidingskapasiteit, met ander woorde, die stuk veld het ’n sekere vermoë om diere van weiding te voorsien. Dit beteken dat die drakrag wat toegepas word, aangepas moet word by die vermoë van die veld om weiding aan herkouers te voorsien. Vir baie jare al word daar plant-opnames in die Nama Karoo gemaak met die oog op die beraming van huidige weidingskapasiteite. Die huidige weidingskapasiteit is niks anders as die vermoë van die veld om op hierdie oomblik, ’n gegewe aantal vee te kan dra nie. Hierdie huidige vermoë is die uitvloeisel van die direk voorafgaande klimaats-omstandighede. Tydens die verwerking van die opname data, word daar van sg. Indekswaardes gebruik gemaak om elke spesie se bydrae tot die veldtoestands-indeks van ’n perseel te beraam. Hierdie indeks-waardes verwys na die weidingswaarde wat hierdie spesies vir die weidende diere het. Die veldtoestands-indekse, wat dan gebruik word om die weidingskapasiteite van die betrokke persele te beraam, beskryf dus die waarde van die plantegroei om in die voedingsbehoeftes van die weidende diere te voorsien. Daar kan nou gesien word dat die beraming van die weidingskapasiteit van ’n stuk veld uit twee baie belangrike komponente bestaan. Eerstens die plantopname en tweedens die weidings-indekswaardes. Die plantopnames moet ’n getroue beeld van die veld waar die opname gemaak word weergee. Dit is ook baie belangrik dat die weidings-indekswaardes so getrou moontlik die werklike waarde van hierdie plante vir herkouers moet weerspieël, andersinds kan daar nie ’n realistiese veldtoestands-indeks uitgewerk word vir die betrokke stuk veld nie. Om hierdie rede is daar al baie tyd en navorsing aan die onderwerp spandeer.

Op die oomblik kan daar na drie groepe indekswaardes verwys word; die ekologiese indekswaardes, die subjektiewe weidings-indekswaardes en die objektiewe weidings-indekswaardes.Nie een van hierdie groepe indekswaardes is sonder tekortkominge nie.Die hoofrede is dat diere ’n eie voorkeur en plantseleksie het, terwyl hierdie waardes die mens se mening is.Daarby beïnvloed die klimaat, grond en veldtipe ook nog hierdie seleksie, wat op sy beurt meebring dat daar in der waarheid meer as een stel waardes behoort te wees.

DIE EKOLOGIESE INDEKSMETODE (EIM)

Sedert die vroëe 1980's word daar alreeds van die ekologiese indekswaardes saam met plant-opnames gebruik gemaak om weidingskapasiteite in die dorre gedeeltes van die land te beraam, deur die gebruik van die sg. EIM (Vorster 1982, kyk ook Fourie & Visagie 1985).Daar is toe slegs van vier waardes gebruik gemaak; 10, 7, 4 en 1, wat die verskillende plante soos volg verteenwoordig het:

1. Klimaksgrasse (afnemers) met ’n waarde van 10,

2. Sub-klimaksgrasse en smaaklike bossies (toenemers II a) met ’n waarde van 7,

3. Meerjarige pioniergrasse en minder smaaklike bossies (toenemers II b) met ’n waarde van 4, en

4. Eenjarige pioniergrasse, onsmaaklike bossies (toenemers II c) en indringerplante (toenemers III) met ’n waarde van 1.

Daar sal onmiddelik opgemerk word dat alhoewel daar net een stel indekswaardes is, twee uiteenlopende waardesisteme saamgegroepeer word. In die eerste plek die ekologiese belangrikheid (posisie) van die graskomponent en in die tweede plek die smaaklikheid (aanvaarbaarheid) van die bossiekomponent. Op sigself sou dit waarskynlik nie probleme met die beraming van aanvaarbare huidige weidingskapasiteite veroorsaak het nie. Die hoë waarde wat aan die klimaksgrasse gekoppel is, daar sal opgemerk word dat geen bossies in die groep val nie, het egter veroorsaak dat daar oor groot dele van die dorre dele van die land, veral in die Boesmanland met sy digte bedekking van boesmangrasse, veral kortbeenboesmangras, onaanvaarbaar hoë huidige weidings-kapasiteite beraam is.

Hierdie toedrag van sake het daartoe gelei dat daar aan ’n metode begin werk is om weidings-indekswaardes so objektief moontlik te beraam volgens ’n gegewe stel gemete waardes, wat van toepassing was op elke soort. Hierdie navorsing het oor ’n hele paar jaar gestrek en omdat dit dringend noodsaaklik was om die ekologiese indekswaardes so gou moontlik aan te pas, is waardes op ’n subjektiewe grondslag beraam vir daardie plante wat die meeste in plantopnames in die Nama Karoo aangeteken is.

DIE SUBJEKTIEWE WEIDINGSINDEKSWAARDES (SWIW)

Subjektiewe weidings-indekswaardes van die spesies is op grond van die volgende faktore beraam (Du Toit et al. 1995):

1. Die vermoë om voer (weibare droëmateriaal) te produseer,

2. Die voedingswaarde van die voer tydens die groeiseisoen,

3. Die voedingswaarde van die voer tydens die dormante seisoen,

4. Die gemak waarmee die plant bewei kan word (teenwoordigheid van dorings),

5. Die graad van meerjarigheid en

6. Die vermoë om grond teen erosie te beskerm.

Hierdie faktore is gekies in ’n poging om al die plante op grond van dieselfde norme te beoordeel, om sodoende bevooroordeeldheid sover moontlik uit te skakel. Die proses het tot ’n aaneenlopende stel weidings-indekswaardes, van minder as 1 tot 10, aanleiding gegee. ’n Baie belangrike aspek van die reeks weidings-indekswaardes is die feit dat na-verwante soorte, wat vantevore, of dieselfde waarde gehad het, of grootliks van mekaar verskil het, nou in feitlik aaneenlopende reekse inpas wat hulle onderlinge verwantskappe duidelik beklemtoon. As voorbeeld by die Karoo bossies word die geslag Pentzia geneem:

 

                                     EIW        SWIW 

Pentzia albida       1        0.9     stink kruid

P. annua             1        1.2     stink pentzia

P. cooperi           1        2.9     skaapkaroo

P. tortuosa          4        2.9     klein berg-gansieskaroo

P. punctata          1        3.4     beeskaroo

P. calcarea          1        3.5     bewerasiekaroo

P. elegans           4        3.8     kalk-ankerkaroo

P. dentata           4        4.2     grootkaroo

P. globosa           4        4.8     vaalkaroo

P. spinescens        4        4.8     doringkaroo

P. pinnatisecta      4        5.0     witstamkaroo

P. incana            4        5.7     ankerkaroo

P. lanata            4        5.7     langsteelkaroo

P. sphaerocephala    7        6.9     berg-gansieskaroo

 

By Pentzia is daar nou ’n aaneenlopende reeks van omtrent 1 tot omtrent 7, wat duidelik uitwys hoe naverwant die soorte aan mekaar is en wat die nou ooreenkomstes in die onderlinge weidingswaardes vir herkouers beklemtoon. Dit beklemtoon dat die groot verskille wat daar aanvanklik met die ekologiese indekswaardes tussen die verskillende soorte gemaak was, nie geregverdig was nie.

As voorbeeld by die grasse word die geslag Stipagrostis geneem wat veral volop in die droër, woestynagtige westelike dele van die land (soos die Boesmanland en die Kalahari) voorkom:

 

                                        EIW    SWIW

Stipagrostis anomala   4     3.4     skobbejakgras

S. namaquensis         7     3.8     kalaharikweek

S. uniplumis           7     5.4     blinkaarboesmangras

S. brevifolia          7     5.8     “Ghagras”

S. obtusa             10     6.6     kortbeenboesmangras

S. amabilis           10     7.0     duinekweek

S. ciliata            10     7.2     langbeenboesmangras

Ook by Stipagrostis wys die reeks duidelik die noue ooreenkomste in weidingswaarde vir herkouers tussen die verskillende soorte uit. As daar aangeneem word dat hierdie reeks indekswaardes die regte toestand van sake beskryf, kan daar gesien word in hoeverre die ekologiese indekswaardes van die kol was om die weidingswaarde van die grasse te beskryf.

Die gebruik van hierdie subjektiewe weidings-indekswaardes het aanleiding gegee tot die beraming van huidige weidingskapasiteite nader aan die weidingskapasiteitsnorme wat in die verskillende gebiede geld; as wat die geval was met die gebruik van die ekologiese indekswaardes. Omdat hierdie waardes egter op konsensus-basis en uit die verskillende paneellede se ondervinding beraam is, bestaan die gevaar steeds dat nie al die waardes regtig toepaslik is nie en, in sommige gevalle nog te hoog mag wees. Hierdie waardes bly dus steeds die paneel se persepsie van hoe die weidende dier ’n spesifieke plant sal benut.

DIE OBJEKTIEWE WEIDINGS-INDEKSWAARDES (OWIW)

Hierdie studie is ’n meer uitgebreide studie. As gevolg van die omvang van die studie kon daar by die aanvang daarvan, slegs op ’n paar verwante soorte wat op die verskillende lokaliteite voorkom gekonsentreer word om, in die eerste plek te kyk of die metode wat voorgestel is werk, om in die tweede plek te kyk hoe die beraamde waardes van plek tot plek, en tydens verskillende seisoene verskil an in die derde plek of daar meer aanvaarbare huidige weidingskapasiteite vir die verskillende agro-ekologiese streke beraam kan word, deur van hierdie objektiewe indekswaardes gebruik te maak, as wat die geval was met of die ekologiese indekswaardes of met die subjektiewe weidings-indekswaardes.

PLANTBESKRYWENDE FAKTORE

Die volgende faktore is in ’n vergelyking opgeneem, hier moes spesifieke metings van die verskillende faktore van die spesies gebruik word om al die plante, op ’n eenvormige wyse te beskryf; sodat persoonlike voorkeure of afkeure uitgeskakel word (Du Toit 1996 & 1997):

  1. Die gemiddelde grootte van die betrokke plant spesie (die kroonuitgestrektheidsbedekking van 50 individue per spesie is fisies gemeet), hierdie faktor word onmiddelik in verband gebring met die plantopname tegniek, hoe wyer die kroon uitgestrek is, hoe geredeliker word die plant tydens die opname aangeteken, dit hou ook verband met die digtheid van die plantegroei,

  2. Die gemiddelde weibare droëmateriaalproduksie van die betrokke plant spesie (weereens, die totale bogrondse produksie asook die weibare fraksie van 50 individue per spesie is bepaal), ’n plant met baie droëmateriaal maar van gemiddelde “waarde” is meer werd as ’n plant van hoë “waarde” maar met ’n lae produksie,

  3. Die totale verteerbare voedingstofwaarde van die plant is beraam, dit sluit onder andere die proteïen en vesel ontledings van die plant in,

  4. Volledige chemiese ontledings van die verskillende spesies is gemaak om veral die (K÷[Ca+Mg]) verhouding te kan bereken, dit verskaf ’n aanduiding van die plant se geneigdheid om tetanus by herkouers te veroorsaak na beweiding,

  5. Die eter-ekstrak-inhoud van die plante is bepaal; by bossies dui ’n hoë eter-ekstrak-inhoud gewoonlik op die teenwoordigheid van harse en vlugtige olies wat metaboliese stoornisse by weidende diere kan veroorsaak, bv. die harse veroorsaak dat daar ’n groot hoeveelheid esters, eters en aldehiedes wat belangrik is by die dier se voeding, in die uriene van die diere uitgeskei word, dit beïnvloed die groei van die diere nadelig. By grasse dui die eter-ekstrak-inhoud gewoonlik op ’n hoë karoteen-inhoud wat die vitamienes A, B, E en moontlik ook D insluit wat noodsaaklik is vir die algemene gesondheid en metabolisme van die weidende dier.

By daardie plante met ’n hoë hars-inhoud, word die eter-ekstrak-inhoud as ’n deler gebruik, dit penaliseer dan hierdie plante, omdat hulle weidingswaarde vir herkouers relatief laag is. By plante waar daar nie hars aanwesig is nie, word die eter-ekstrak-inhoud gebruik om die vergelyking mee te vermenigvuldig, om sodoende die relatiewe hoër weidingswaarde van hierdie plante vir die herkouer, te beklemtoon.

DIE WEIDINGSINDEKSWAARDE MODEL

Die model waarin al hierdie gemete waardes gevoer word, lyk soos volg: 

 

Die weidings-indekswaarde van die karoobossies en grasse is dus:  {(die gemiddelde kroonuitgestrektheidsbedekking + die gemiddelde weibare voerproduksie

                                                                                                                                 + TVV + [K ÷ (Ca + Mg)]) X of ÷ eter-ekstrak-inhoud} ÷ 100

 

Omdat daar spesifieke gemete waardes vir elke faktor ingesluit word in die model en daar geen subjektiwiteit by die metings van die kroon en totale droëmateriaalproduksie, of by die chemiese ontledings betrokke is nie, kan die model as redelik objektief beskou word. Die weidings-indekswaardes wat met behulp van die model beraam is, word dus Objektiewe Weidings-IndeksWaardes genoem, om hulle van vorige indekswaarde reekse te onderskei. Alhoewel die indekswaardes objektief genoem word, kan die oes van die plante lei tot anomalieë omdat die weidende dier, veral kleinvee, baie selektief wei.

 

WEIDINGS-INDEKSWAARDES VIR SOMMIGE PLANTE VAN DIE KALAHARI

Voorlopige waardes wat vir ’n aantal plante van die Kalahari uitgewerk is, word hieronder getabelleer (Tabel 1), hulle onderskeie ekologiese indekswaardes asook hulle subjektiewe weidings-indekswaardes word aangetoon ter vergelyking, waar van toepassing. Die plante is middel April 2000, plaaslik ondersoek. Slegs 10 individue per spesie is ondersoek. Hierdie lae getal van bestudeerde individue kan moontlik aanleiding gee tot gemiddelde waardes wat bo of onder die werklike gemiddelde waarde per spesie is. ’n Verdere probleem is die groeiwyse van Stipagrostis amabilis, waar dit veral moeilik is om individue te herken, asook die onsekerheid oor die hoeveelheid van die bogrondse fitomassa wat onder normale omstandighede by Centropodia glauca en Stipagostis amabilis bewei word.

ALGEMEEN

Die waardes tussen hakies in Tabel 1, dui op die gemiddelde OWIW’s wat vantevore vir die betrokke spesies op verskillende lokaliteite en tydens verskillende seisoene regoor die Nama Karoo beraam is. Oor die algemeen is daar ’n goeie ooreenstemming, behalwe in die geval van Stipagrostis ciliata (langbeenboesmangras). Die objektiewe weidings-indekswaardes wat hierbo in Tabel 1 uitgelig is, dui op die neiging dat die plante van die duinegebied van die Kalahari oor die algemeen lae weidingswaardes het. Hierdie neiging is in ’n breë mate in ooreenstemming met wat daar by ander persele in die Nama Karoo ondervind is, grasse en bossies op rooi Kalaharisand het oor die algemeen laer indekswaardes as dieselfde spesies op skaliegronde.

Schmidtia kalihariensis  (kalahari suurgras) het ’n waarde min of meer in ooreenstemming met die verwagte; omdat die gras in die groen stadium so onaanvaarbaar is, as gevolg van die hoë suurinhoud daarvan, is die eter-ekstrak-inhoud gebruik as deler om die gras te penaliseer en sodoende sy indekswaarde te verlaag. Wanneer die gras uitdroog en die suur uitgewas is, word die gras goed bewei, die vermoede bestaan dan egter dat die TVV waarde baie laag sal wees en suurgras se indekswaarde dan steeds baie laag mag wees. Alvorens hierdie indekswaardes vir die beraming van huidige weidingskapasiteite in die Kalahari gebruik kan word, moet daar nog meer spesies en meer individue van bogenoemde spesies ondersoek word.

Daardie soorte met ’n asterisk na die EIW in Tabel 1, se indekswaardes kom uit Fourie en Visagie (1985). Daar sal opgemerk word dat twee Karoobossies, indekswaardes van 10 het, wat nie saamstem met die indeling van Vorster (1982) nie.

Stipagrostis obtusa  AS INDIKATOR VAN WEIDINGS-INDEKSWAARDES EN VOORSPELDE HUIDIGE WEIDINGSKAPASITEITE

Die indekswaarde van Stipagrostis obtusa verdien spesiale vermelding (Du Toit 1999 & 2000). Indien Stipagrostis obtusa se beraamde weidings-indekswaardes wat by verskeie lokaliteite en op verskillende grondsoorte in die Nama Karoo beraam is (Tabel 2), bestudeer word, dan mag van die ander plante se weidings-indekswaardes wat met behulp van die model beraam is, baie na aan die ware waarde van die plante lê. Die ekologiese indekswaarde van kortbeenboesmangras was 10. Dit het in die verlede daartoe aanleiding gegee dat huidige weidingskapasiteite van omtrent 10 ha GVE-1 oor groot dele van die Boesmanland beraam is. Hierdie toedrag van sake was totaal onaanvaarbaar en was gladnie in ooreenstemming met die weidingskapasiteitsnorms van die betrokke streek en die langtermyn reënval nie. Die gemiddelde objektief beraamde weidings-indekswaarde van kortbeenboesmangras is op die oomblik ongeveer 4 keer laer as die ou EIW. Dit lei op die oomblik daartoe dat afhangende van die digtheid van die plantegroei, weidingskapasiteite van ongeveer 40 ha GVE-1 vir die Boesmanland beraam word. Hierdie voorspelde huidige weidings-kapasiteite is in lyn met beide die weidingskapasiteitsnorms (35 tot 45 ha GVE-1) wat in die gebiede geld, asook met die gemiddelde langtermyn reënval wat in hierdie gebied verwag word, wat bydra tot die jaarlikse droëmateriaal produksie, waarop konserwatiewe boere hulle drakragte bereken.

 

SAMEVATTING

Uit die voorlopige ondersoek van die weidings-indekswaardes van die Kalahari se plantegroei in April 2000, blyk dit dat aanvaarbare indekswaardes vir die verskillende spesies uitgewerk kan word deur gebruik te maak van die voorgestelde model. Hierdie indekswaardes behoort aanvaarbare weidingskapasiteite in die Kalaharigebied te beraam wat in ooreenstemming met die weidingskapasiteitnorms vir die gebied is.

LITERATUURVERWYSINGS

Du Toit PCV, Botha WvD, Blom CD, Becker HR, Olivier DJ, Meyer EM & Barnard GZJ 1995. Estimating grazing index values for Karoo plants. Technical Communication 239:1-15. Government Printer, Pretoria.

Du Toit PCV 1996. Development of a model to estimate grazing index values for Karoo plant species. Ongepubliseerde Ph.D. proefskrif. Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Du Toit PCV 1997. A model to estimate grazing index values for Karoo plants. South African Journal of Science 93:337-340.

Du Toit 1999. Distribution and grazing index value of Stipagrostis obtusa in the Nama Karoo. Abstracts of the Proceedings of the Arid Zone Ecology Forum 1999:25-26.

Du Toit PCV 2000. Weidingswaarde en verspreiding van Stipagrostis obtusa en die voorspelling van weidingskapasiteite in die Nama-karoo. Grootfontein Agric 2(2):14-16.

Fourie JH & Visagie AFJ 1985. Weidingswaarde en ekologiese status van grasse en Karoobossies in die Vrystaatstreek. Glen Agric 14:14-18.

Vorster M 1982. The development of the Ecological Index Method for assessing range condition in the Karoo. Proceedings of the Grassland Society of southern Africa 17:84-89.

 

Tabel 1 Objektief beraamde weidingsindekswaardes van sommige van die Kalahari plante vergelyk met hulle subjektief beraamde indekswaardes asook hulle ouer ekologiese indekswaardes 

 

 

OWIW

X(EE) ÷(EE)

SWIW

EIW

Brachiaria glomerata

(soetgras, amper-suurgras)

2.20   0.36

-

1.0*

Centropodia glauca

(ghagras)

4.12   1.03

7.3

7.0

Eragrostis lehmanniana

(knietjiesgras

   2.28(2.7)   0.34

5.4

7.0

Hermannia tomentosa

(lusernbos)

5.99   0.77

-

10.0*

Monechma divaricatum

(gensbokhemel, netvet, bloubos)

3.36  0.78

4.3

7.0

Plinthus sericeus

(sandganna)

4.90   0.72

-

10.0*

Schmidtia kalihariensis

(kalahari suurgras)

2.65   0.48

3.2

7.0

Stipagrostis amabilis

(duinekweek)

5.29   1.04

7.0

10.0

Stipagrostis ciliata

(langbeenboesmangras)

2.90(5.8)   0.53

7.2

10.0

Stipagrostis obtusa

(kortbeenboesmangras)

2.25(2.4)   0.28

6.6

10.0

Stipagrostis uniplumis

(blinkaarboesmangras)

4.59   0.94

5.4

7.0

 

Tabel 2 Gemiddelde beraamde weidings-indekswaardes vir Kortbeen Boesmangras op skalie, leem- en Kalaharisand in die verskillende verspreidingsgebiede

 

Nama Karoo lokaliteit

Apr

Jul

Okt

Jan

Carnarvon (droë, kernverspreidingsgebied)

grysbruin skalie

rooi Kalaharisand

2.01 

1.26

3.94

3.64

1.06

3.02

2.49

2.26

2 Beaufort-Wes (droë, sekondêre verspreidingsgebied)

swart slikagtige skalie

 

2.89

 

2.85

 

0.97

 

2.45

3 Middelburg (gematigde, sporadiese verspreidingsgebied)

rooibruin leemsand

 

3.49

 

4.46

 

1.01

 

2.34

 

Groot gemiddeld van die waardes in die tabel, 2.50

 

Published

Grootfontein Agric Vol 3 No 1 (17-21)