Last update: August 16, 2011 03:55:23 PM E-mail Print

 

Waarom presteer kleinvee swak op oumansoutbos in die Karoo?

P.C.V. du Toit, Landboukollege Grootfontein

 

In die Karoostreek is daar in die verlede algemeen aanbeveel dat soutbos aangeplant moet word in 'n poging om korttermyndroogteperiodes te help oorbrug. Onlangs is aanbeveel dat vee van die veld onttrek moet word na goeie reënbuie om die veld kans te gee om te herstel en groeikragtigheid te bevorder. Tydens die onttrekkingsperiode bewei die vee dan soutbos. Daar is bevind dat diere swak presteer wanneer oumansoutbos (Atriplex nummularia) by die weistelsel ingeskakel word.

Daar is 'n aantal redes vir hierdie swak veeprestasie. Nie alle kleinveerasse presteer ewe goed op oumansoutbos nie. Vleisskape presteer goed, terwyl wol- en haarproduseerders nie geredelik oumansoutbos bewei nie. Wanneer die skape vir 'n kort rukkie soutbos bewei, is die aanpassingsperiode te kort vir die skape om gewoond te raak aan die soutbos. Hulle presteer dan nie goed nie.

Daar is bevind dat skape tydens die periode direk na goeie reën nie goed presteer nie. Hierdie swak veeprestasie word gekoppel aan twee reaksies van oumansoutbos ten opsigte van die klimaat in die Karoo. Oumansoutbos is vir 'n periode van ongeveer 6 maande dormant. Die kwaliteit is dan laag. Na reën buie neem oumansoutbos baie soute soos natrium, kalium en chloor op. Hierdie soute maak dit onaanvaarbaar vir die vee.

 

Resultate

Nie alle kleinveerasse presteer ewe goed op soutbos nie. In 'n proef waar die voorkeure van kleinveerasse vir verskillende soutbosse getoets is, het dorpers die soutbos beter aanvaar as merino's of angoras. In 'n ander proef waar dorperooie op soutbos gelam het, het die ooie oor twee seisoene 'n toename in lewende massa getoon. Die lammers het na speen teen 170 tot 180 g per dag gegroei.

Die ooie het van ongeveer Julie tot September van die tweede seisoen massa verloor. Hierdie periode van massaverlies stem ooreen met die dormante periode van die veld soos uit die berekende produksiekurwe (Fig. 1) gesien kan word.

 

Die skape moet gewoond wees aan die soutbos. Tydens kort periodes van beweiding, soos tydens onttrekking na reën, presteer selfs vleisskape nie goed op soutbos nie. Die lewendemassa veranderingskurwes van dorperooie op Grootfontein en afrino-ooie op Carnarvon, toon duidelike periodes van massaverlies (Fig. 2). Hierdie massaverlies kom by troppe voor wat veld, veld en soutbos en net soutbos bewei het. Die hoogste massaverlies kom tydens die dormante periodes voor, soos uit die berekende veldproduksiekurwes gesien kan word.

 

 

Die omvang van die massaverlies by die skape wat veld en soutbos bewei het, is groter as waar die skape slegs veld bewei het. Die massaverlies kom telkens voor wanneer die skape 'n kort periode op die soutbos wei. Hierdie periodes het elke keer saamgeval met goeie reënbuie.

Tydens kort periodes van beweiding, diskrimineer skape teen sommige soutbosspesies en verloor massa. Die massaverlies by skape val gewoonlik saam met goeie reënbuie, waartydens vee volgens aanbeveling van die veld onttrek moet word.

Die diskriminasie teen soutbos en die massaverlies war tydens die periodes by skape voorkom, het moontlik twee oorsake – die dormante plantegroeifase, en die hoë soutinhoud van oumansoutbos en joodse soutbos (Atriplex halimus).

 

Daar kan aangeneem word dat diereproduksie nadelig beïnvloed sal word wanneer die plante in die dormante fase bewei word omdat die kwaliteit in die dormante fase laer is. Die grootste massaverlies by proefdiere op soutbos was tydens die dormante fase net voor aanvangsgroei in die lente.

 

 

 

 

 

 

Gevolgtrekkings

Die meeste soutbosaanplantings in die Karoostreek bestaan uit oumansoutbos. Gevolglik lei beweiding tydens die dormante fase en na goeie reënbuie tot diskriminasie teen die soutbos weens die hoë soutinhoud en die laer kwaliteit weiding tydens die dormante fase. Hierdie faktore is waarskynlik verantwoordelik vir swak veeprestasie.

Soutbos moet dus oordeelkundig benut word. Daar is bevind dat skape wat gereeld deur die jaar toegang tot soutbos het beter presteer as wanneer hulle periodiek van die veld onttrek word en dan slegs soutbos bewei. Dit is duidelik dat die veld nie sonder meer met soutbos vervang kan word nie, omdat veld beter in die voedingsbehoeftes van skape kan voorsien.

Waar veldherstel 'n belangrike oorweging is en soutbos by die weistelsel ingeskakel word, moet soutbos gereeld bewei word om sodoende die nadelige invloed van die aanpassingsperiode uit te skakel. Die skape bly dan gewoond aan die soutbos.

Die voorafgaande inligting het 'n belangrike invloed op die keuse wat die boer moet maak ten opsigte van soutbosbeweiding. Indien die veld in 'n goeie toestand is, die veebelading konserwatief is en die weistelsel op wisselweiding en wisselrus berus, is veldherstel nie nodig nie. Indien hierdie toestande nie geld nie, sal diereproduksie op lang termyn ingeboet word as gevolg van 'n langsame, maar seker agteruitgang in die veldtoestand (klimaat speel ook hier 'n rol).

Indien die keuse op veld herstel val, met die inskakeling van soutbosweiding by die weistelsel, sal diereproduksie op kort termyn ingeboet word. Die langtermynverwagting is dat die skape beter sal presteer as die toestand van die veld verbeter. Die tydelike afname in produksie wanneer skape soutbos vir relatief kort periodes bewei, sal dan in hoe mate genegeer kan word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief, 92 nr 2 p. 7-9 / Dorpernuus, No 60, 2001