Last update: November 24, 2010 08:53:28 AM E-mail Print

 

Die seisoenale dieet wat deur Dorperskape in die bossieveld

van die ariede Karoo geselekteer word

 

PCV du Toit

Grootfontein Landbou-ontwikkelinginstituut. Privaatsak X 529 . MIDDELBURG 5900

 


Inleiding:

 

In 'n poging om die drakrag van die ariede Karoo te beraam, is dorperskape met keelfistels toegerus. Die plante wat hulle op 'n spesifieke tyd selekteer, word dan versamel deurdat die prop wat die fistel blokkeer, by tye uitgehaal word om die plantmateriaal te bekom wat die skaap gevreet het. Die plantmateriaal val eenvoudig deur die gat in die skaap se keel en word in 'n sak opgevang. Nadat die plantmonster versamel is, word die prop weer teruggeplaas en die skaap wei normaalweg voort. AI die materiaal wat hy op hierdie stadium vreet, beland in die skaap se pens. Hierdie versameling van plantmateriaal is oor 'n tydperk van drie jaar, met elke seisoen herhaal. So was dit dus moontlik om vas te stel wat die skape in die lente, somer, herfs en winter vreet. Hierdie operasie, die maak van 'n fistel in die kele van die skape is duur, gevolglik is die proefdiere oor 'n tydperk van drie jaar gehou. Omdat die diere deurmekaar geloop het, is die rammetjies gekastreer sodat hulle nie die ooie sou lastig val nie, maar dat 'n idee verkry sou word van hoe die dieet van die manlike en vroulike diere verskil.

 

Metode:

 

Die waarnemings is in die bossieveld van die ariede Karoo, veldtipe 29 van Acocks (1988), by die Carnarvon proefstasie gedoen. Die bevindings kan dan na die skyn ariede Karoo na die noord-ooste en die sentrale bo-Karoo na die ooste ge-ekstrapoleer word. Die ooie en gekastreerde ramme is volgens die metode van Bredon, Torell & Marshall (1967) gefistuleer. Na afloop van die fistulering is die skape toegelaat om normaalweg te wei om gewoond te raak aan die plantegroei. Die plante het goed uitgegroei as gevolg van die goeie reëns wat gedurende die versameltyd geval het (Tabel 1), slegs een uit die drie jare het reënval van onder die gemiddeld gehad.

 

Monstering deur die keelfistel het in die winter (Junie, Julie of Augustus), lente (September, Oktober of November), somer (Desember, Januarie of Februarie) en herfs (Maart, April of Mei) plaasgevind. Monsterneming het oor 'n tydperk van vier dae tydens elke seisoen plaasgevind. Monsternemingstyd het gevarieer tussen 20 en 30 minute. Vyf diere per seks is gebruik nadat hulle uitgehonger is vir 'n tydperk van 16 uur. Die monsters is direk na monsterneming in kraanwater gewas volgens Dugmore, Du Toit & Morning (1991). Die monsters is elke tweede dag vir elke seks saamgevoeg en in 'n mengsel van formaseetalkohol gefikseer. Die monsters is vervolgens ondersoek en 'n mikroskopiese puntopname is op die materiaal uitgevoer soos beskryf deur Heady & Torell (1959). 500 punte is afgelees en al die materiaal wat by die punt gelê het is tot op spesiesvlak geïdentifiseer, behalwe by die grasse waar identifikasie van die gemastiseerde materiaal baie moeilik is. In elke monster was daar omtrent 40 tot 80 spesies aanwesig.

Die spesies is in funksionele groepe gerangskik: smaaklike bossies, minder smaaklike bossies, onsmaaklike bossies, grasse en eenjarige opslag plante. Die persentasie bydrae van elke funksionele groep het verwerking en vergelyking baie vergemaklik.

In elke seisoen is daar ook volledige plantopnames van die proefperseel gemaak (Heady & Torell 1959). Hierdie opnames maak die vergelyking van wat die diere geselekteer het uit dit wat in die veld beskikbaar was baie maklik. Die data vir elk van die seisoene is gepoel en 'n gemiddelde seleksie waarde bereken om die twee sekse met mekaar en met dit wat beskikbaar was te vergelyk.

'n D-indeks van ooreenstemming (Willmott 1981) is gebruik om die diëte van die verskillende seisoene met mekaar te vergelyk. Hoe nader die d-indeks aan een Iê, hoe beter is die ooreenkoms.

 

Plantkundige opnames

 

Die plantkundige opnames het oor die drie jaar en tussen seisoene met ongeveer drie persent gevarieer, wat 'n aanduiding is dat die veld baie stabiel gebly het oor die tydperk van monsterneming.

 

 

Seisoenale dieetseleksie:

 

Die verskillende diëte wat deur die dorpers geselekteer is, is met die plantopnames vergelyk.

Gedurende die winter kan gesê word dat die diëte soos deur die hamels en die ooitjies gesekteer baie dieselfde was as wat aan hulle gebied is om te vreet. Die d-indeks van ooreenkoms tussen die dieet en die opname is by beide die hamels en ooitjies 0.96, wat 'n groot mate van ooreenstemming aandui. Dit is egter opmerklik dat die skape nie soveel gras gevreet het as wat daar beskikbaar was nie. In teenstelling hiermee het hulle op doringvygie en doringkaroo gekonsentreer, albei plante behoort aan die minder smaaklike groep bossies (Fig 1 en aanhangsel 1).

 

 

In die lente konsentreer die skape op eenjarige opslag plante met die gevolg dat die d-indeks van ooreenstemming heelwat verskil tussen die dieet en die opname. Die hamels se d-indeks is slegs 0.18, terwyl die ooitjies 'n d-indeks van 0.40 het. Hier is ook weer heelwat van die minder smaaklike bossies gevreet (Fig 2 en aanhangsel 2).

 

In die somer styg die d-indeks van ooreenstemming weer, met die hamels se d-indeks wat 0.58 is, terwyl die ooitjie se d-indeks 0.70 is. In die somer het diedorpers op gras gekonsentreer, en in 'n mindere mate op minder smaaklike bossies. Meeste van die grasse was eenjarige pioniergrasse (Fig 3 en aanhangsel 3).

 

In die herfs begin die plantegroei verdroog en dan Iyk die seleksie patroon as volg: die hamels se d-indeks is 0.75 terwyl die ooitjies se d-indeks 0.71 is. Die hoofkomponent in die dieet is dan die minder smaaklike bossies soos bv. doringkaroo (Fig 4 en aanhangsel 4).

 

 

 

Opsomming

 

Uit die figure is dit duidelik dat die dorperskape, minder smaaklike bossies in die winter selekteer, terwyl hulle op opslag wei in die lente en op gras in die somer. In die herfs wei dorpers uitsluitlik op minder smaaklike bossies.

 

Verwysings:

 

Acocks JPH 1988. Veld types of South Africa. Memoirs of the Botanical Survey of South Africa 57.

Bredon RM, Torell DT & Marshall B 1967. Measurement of selesctive grazing of tropical pastures using oesophageally fistulated steers. Journal of Range Management 20:317-320.

Dugmore T J, Du Toit PCV & Morning SallyJ 1991. Dietary selection by steers grazing kikuyu. South African Journal of Animal Science 21:194-197.

Heady HF & Torell DT 1959. Forage preferences exhibited by sheep with oesophageal fistulas. Journal of Range Management 12:28-34.

Willmott CJ 1981. On the validation of models. Physical Geography 2:184 - 94.